Saturday, June 27, 2009

Spiritualiteit as transformasie. Wat maak die verskil?




Wat ‘n los, niks-doen Saterdag het ek nie agter die rug nie. Ek kan amper nie onthou wanneer dit my laas oorgekom het nie.

Ons het die afdag voluit benut en gaan nou heerlik die nagrus tegemoet – ek gaan myself in ‘n beswyming inslaap.

Ons het onsself bederf vroegoggend met ‘n vars gebak, op s’n Hollands gesê. Toe het ons vanmiddag rugby gekyk en vanaand Slumdog Millionaire in die Labia gaan fliek, bibberend in die koue Kaap saam met net drie ander mense in die teater.

Ek kyk nie lekker na die fliek nie. Dit onstel my. Ek kan my nie verlustig aan die sogenaamde “sukses” van die “underdog” nie – dit was volgens die media die rede waarom die fliek das so ‘n sukses was. Hoe vlak tog, as dit die boodskap van die fliek sou wees – so iets soos “from rags to riches.”

Die beelde van die armoede in Indië bly by my agter en laat my maar morbied voel. Ek verteer nie lekker aan beelde van kindertjies wat deur ‘n oënskynlike Samaritaan huisvesting kry, maar dan blyk dit hy is ‘n bedrieër wat hulle oë uitbrand om uit hulle bedelary dubbel meer te verdien (blindes kry meer geld van omstanders). En die meisies laat hy in prostitusie beland en maak so ook geld uit hulle. En die eindelose moeras van ontbering, van onmenslike slums, van kriminaliteit, van miljoene mense wat aan die agterste speen suig.

As ek so ‘n fliek sien, flits die gedagte keer op keer by my op dat ek kan verstaan waarom Jesus vir die kwesbaarstes onder die kwesbares opgekom het. En iets roep in my uit: God kan tog nie dat hierdie aarde so bly bestaan nie.

Wat in hierdie fliek fiksie is, het ek vroeër vanmiddag as harde realiteit beleef met ‘n film oor History Channel. Daarin word die verhaal van die vervolging van die Mafia in Palermo aan die einde van die vorige eeu vertel. Dit gaan oor twee dapper regsluit wat teen alle teenstand in die mag van die Mafia wil breek. Dit is skrikwekkend om te dink dat in ‘n eerste wêreld land soos Italië so ‘n totale korrupsie voorkom, verdra word en deur politici onder hul vleuels geneem word. Die beelde is mistroostig, krimineel en ontstellend. Die twee regsmense word deur sluipmoorde uitgeskakel. Die weduwee van een van hulle praat met ‘n groot skare-massa wat uit protes teen die moord in Palermo op die strate bymekaar kom: “Ek sal hulle vergewe,” roep sy uit oor die luidspreker. “As hulle maar net sal verander.” En dan die rou slot van die begrafnis as sy aanmekaar in ‘n skor stem roep: “Maar hulle sal nie verander nie.... Hulle sal nie verander nie.... Hulle sal nie verander nie....”


Teen vanaand, terwyl ek Slumdog Millionaire kyk, kom daar oor my hierdie gevoel wat ek die laaste jaar of wat soms kry: dit is asof ek my inleef in hoe God hierdie spul beskou en die intensiteit van smart wat daar in die goddelike Vaderhart moet leef oor wat ons met die wêreld aanvang.

Wat my laat dink het, vanaand na ons lekker klein, ordentlike biefstuk in die braairestaurant hier op ons dorpie terwyl ek terugry huis toe: ek het vanmiddag die rugby gekyk. Vasgenael gesit dwarsdeur die spannende wedstryd, selfs toe dit maar goorderig met ons spannetjie gegaan het. En wat bly my by? Die laaste twintig minute staan vir my uit oor een enkele gedagte: watter verskil kan een persoon tog maak in die lewens van baie, baie ander mense. Heinrich Brussouw en Morne Steyn se verskyning op die veld het ‘n vuur aangesteek wat tot daardie ongelooflik spannende ommekeer en oorwinning gelei het. Watter transformasie kan twee mense nie aan ‘n span en die verloop van ‘n wedstryd bring nie.

Brussouw kan ‘n bal selfs deur ‘n sleutelgat gaan haal, sê die kommentator en ons sien dit voor ons oë gebeur. En Steyn was die top puntemaker in die Super 14 vanjaar. En ons sien in die wedstryd dit was nie maar net gelukkies nie.

Twee mense wat ‘n verskil maak. Radikaal. Wat ‘n verloor-span meesterlik in ‘n wenspan omkeer. Twee jong, nat-agter-die-ore mannetjies as ‘n mens hulle vergelyk met die ou, senior manne in die span. Maar sterk soos staal en onverskrokke.

Dikwels dink ons – wat kan ons tog doen aan al die ellende in die wêreld? Hoe sal ons die verloor-span omkeer?

Die antwoord is duidelik: deur verwoed aan die wedstryd deel te neem. Al ons kragte, na siel, gees en liggaam. Soos daardie twee bokke. Die uitkoms kan verbysterend wees.

Die mistiek was nog nooit wêreldvreemd nie. Om in ‘n verhouding met God verenig te word, transformeer jou ook in jou lewensstyl in hierdie wêreld.

Jesus het net 12 apostels gehad. En saam met Paulus het hulle, minnerig, maar begeesterd, die verskil gemaak.

Daardie twee manne het nie die wedstryd gewen nie. Hulle kon nie. Hulle het egter hulle span saam met hulle geneem om met nuwe, verwoede toewyding die stryd voort te sit. Almal was nodig, selfs Schalk Burger wat darem nie homself ‘n guns gedoen het met sy vuil spel nie. Twee manne kon die span help omdraai.

Ons moet só inspring, só deel word van God se stryd in die wêreld dat ons mense rondom ons kan inspireer, met hulle hande kan vat en in hierdie siek wêreld goddelike hoop indra.

Ons geestelike reis loop dikwels deur dale. Ons ervaar die tye dat dinge begin skeefloop. Dit kos net die enkeling om ‘n hele klomp gelowiges te inspireer tot transformasie, tot omvorming, tot nuwe lewe.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive