Ons “weet” soveel “feite” van God uit die Ou Testament. Ons het almal geleer van Josef, Dawid, Samuel, die uittog en die intog, die ballingskap en baie ander historiese gebeure. En selfs al is dit wonderlike boeiende verhale, het ons daarvan droeë geskiedenis gemaak: wat het wanneer gebeur en wie is almal daarby betrokke, vra ons in ons Bybelwetenskappe en in ons Bybellees ook maar dikwels.
Ek lees Psalm 105 wat die hele storie van Abraham tot die uittog as ‘n lied sing. Dit val my op met hoeveel passie hierdie lied gesing word. Tussen al die gebeurtenisse is daar soveel emosies wat vertel word: God het sy volk “juigend” laat voorttrek (vers 43). Die Egiptenaars is hatig (vers 25) op die volk en “was bly” toe hulle vertrek het (vers 38) want hulle was “skrikbevange.”
Maar meer nog val dit my op hoe hoog die Here hier vereer word. Uit die hele verhaal word duidelik hoedat die Here gedurig aan die roer van sake staan. Elke tweede vers vertel hoedat God al hierdie dinge deur die eeue heen met God se volk laat gebeur het. God neem die inisiatief, is beskermend daar en bly getrou aan alle beloftes. Die Psalm is ‘n wonderlike viering van vertroue dat niks in die geskiedenis sommer net plaasgevind het nie. God is in die posisie van die heerser, die beskikker, die beskermer, die getroue, die behoeder.
Dit laat my amper dink aan vroeëre geslagte wat steeds weeer gelewe het “so die Here wil”. Alles, alles hang af van wat God doen. My oupa, ‘n sendeling op George vir dertig jaar, het byna nooit oor sy toekoms of oor dinge wat hy wil doen, gepraat sonder om “so die Here wil” by te voeg nie. Dit het my kindergemoed altyd wonderlik geboei.
En wat nou, wat nou gedoen met die lang, “boring” geskiedenis van Israel? Kyk maar wat gebeur wanneer die Psalm hierdie geskiedenis bid: die Psalm vertel die ou ou geskiedenis oor, maar met emosie, met vertroue, met gedurige beklemtoning van : U, Here, U doen dit alles. Hoe kan ek nie U hand in alles raaksien nie?
Hier word met God gepraat oor wat God gedoen het. Die eeue, o Here, is ‘n spieël van U goedgunstige dade, U bestiering, U bemoeienis met ons. Dit is nie droeë feite wat ek leer om meer van God te weet nie. Dit is die verlede wat my inspireer en bring tot lof van U. U handskrif staan oor die geskiedenis geskryf.
‘n Mens kan baie oor God praat, maar sonder veel besieling (preke!). Hoe word hier nou met God gepraat? In Psalm 105 is dit sommer aartsvrolik. Die noot word so ingesit in vers 1: “Loof die Here! Prys sy Naam!” Klink amper na ‘n charismatiese diens. Hier word gesing en gedans. Here, U wat deur die eeue heen alles vir ons gedoen het, vir U sing ons liedere, tot U eer sing ons, ons vertel van U magtige dade (vers 2). En ons doen dit terwyl ons U roem (vers 3). En dan die sleutelvers: “Laat dié wat die teenwoordigheid van die Here soek, bly wees.”
Wie het gesê: as ‘n mens sing, doen jy nie kwaad nie. En om met soveel oorgawe te sing, moet jou gemoed lig, jou hart op God rig. Jou lied word ‘n vreugdegebed en die geskiedenis die woorde wat die Gees op jou tong lê om bly van God en met God te praat.
‘n Mens kan die geskiedenis, die droeë feite wel tog met blydskap vier, God se doen en late van die vroegste tye af roemend besing. Wanneer ons dink aan wat God gedoen het, kan ons nie ons lippe saampers en mor nie. Ons mond roep uit in lof. Ons bid feite vrolik. Ons harte roer in ons by die gedagtenis aan wie God is (is, soos God was).
Natuurlik is die gebed daarmee nie klaar nie: want die gebed wat God se grootheid besing, is ook ‘n gebed dat God in ons eie lewe ook groot sal wees. Dit is ‘n gebed vir mense wat God se teenwoordigheid soek! (vers 3). Mense wat in diepe eenheid met hierdie God van die geskiedenis wil verkeer. Hoe groter God deur die eeue heen gewerk het, hoe meer begryp ek dat my lewe vaal sal wees sonder God se teenwoordigheid. Deur te bid, kry ek deel aan hierdie roemryke God se teenwoordigheid. Grote God, aan U die eer. Deur U te eer, begeer ek om by U te wees. U, die heerlike, redder, beskermer, leier, U sal dit ook vir my wees. Laat ek biddend, oratief sing van U grote rol in die lewe van U volk oor eeue heen, laat ek sing, laat ek U roem, laat ek oratief uitjubel dat U aan wie ek my posisie in die lewe te danke het, U wat so magtig is, dat ek aan U behoort, dat ek in U teenwoordigheid mag wees. Hoe ontsaglik is God, hoe onbereikbaar groot in sy posisie. En tog, as ek bid, kom ek naby aan God in sy grootheid.
Dit is nou oratiwiteit binne ‘n posisionele verskil. Só moet ons die Bybel lees. As ‘n boek vol van God se oorstelpende reddingdade. En as ‘n boek waarin mense by tye biddend oor hierdie reddingsdade uitgejubel het. En iewers op ‘n dag het iemand die psalm gaan neerskryf sodat ons ook, eeue later, dieselfde kan doen – en merkwaardigerwyse, asook eg mistiek – nog nader aan God kan kom. Want ons, wat amper 2500 jaar na hierdie psalm leef, kan vandag, 2500 jaar later – nog meer as ooit te vore bid: God is groot in reddingsdade en my hart wil dit uitsing. Wie na God verlang, word deur so ‘n gebed in die teenwoordigheid van die ewige God ingelei.
En nou die belangrike: daar is groot afstande tussen ons en God. God doen merkwaardige dinge en ons kan maar alleen daaroor biddend sing. En tog, en tog: op een of ander mistieke wyse, wanneer ons bid, word die afstand tussen ons en God oorbrug en ervaar ons hierdie God se werking in ons hart.
Friday, June 05, 2009
Subscribe to:
Post Comments (Atom)
Blog Archive
-
▼
2009
(275)
-
▼
June
(31)
- Vroomheid en godsaligheid
- In afwagting op God se aanraking: oor die erediens...
- Jeanne Goosen se gedig oor Christus
- Spiritualiteit as transformasie. Wat maak die vers...
- Transformasie in die goddelike natuur
- Jesus se opstandingskrag
- Ons wag stil, roerloos op God om ons met liefde te...
- Spiritualiteit as liefde: oor transendensie
- Wat is mistiek? Oor die liefde as die diepste verb...
- Egte menslikheid
- Die Heilige Gees sal vir julle intree...
- ‘n Mens kan dit geniet om te verlang!
- Om jou in te leef. Oor bewuswording
- My siel is aan U verkleef - om oor God te peins (P...
- Psalm 63: God se ooweldigende teenwoordigheid in m...
- Ontferming en geregtigheid: oor die Bybel in ons lewe
- Om God in liefde te aanskou
- Boelies en bullebakke
- Die onderskeiding van God se wil
- Sekulêre ekstase.....
- Waarvoor bid ons? Oor die ontmoeting met God.
- Trane van blydskap: Oor die aanskouing van God (ko...
- Hy het sy arms om die kindertjies gesit. 'n Mymeri...
- Aanskouing van God as oneindige verlange. Oor kont...
- God se afwesigheid vertel van God se teenwoordigheid
- Kan 'n gelowige twyfel? 'n Geloof vol verwyte - ...
- In gebed by die God van die geskiedenis.
- Oor stilte, inkering en 'n wêreld wat tot inkeer kom
- Die Ab Praat. Oor Sheila Cussons en die mistiek
- Sielloosheid. Oor innerlike vrede.
- Oor die geestelike lees van die Bybel: ons houding...
-
▼
June
(31)
No comments:
Post a Comment
Note: Only a member of this blog may post a comment.