Tuesday, June 02, 2009

Sielloosheid. Oor innerlike vrede.



Ons sit in die woelige, besige sentrum, net ons twee eenkant, half afgesonder, terwyl mense rondom ons aan die gang bly met allerhande woelighede van die dag. Twee vreemdelinge wat in ‘n kleinerig, gedeelde spasie so bietjie uitgelewer is aan mekaar weens onvermydelike wag-op-ander. Dis een van daardie situasies waar jy nie erg het aan baie praat nie, maar jou tog verplig voel tot ‘n hoflikheid of twee. Ek vra die onvermydelike vraag oor herkoms: Bloemfontein, vertel hy, en voor ek ‘n woord verder kan sê, voeg hy by sy aksent kom van sy ses jaar in Manhattan.

Ek is dadelik gemaklik: Manhatten was nog altyd vir ons die lekker kuier-stad. Destyds ons vyf – pa, ma, drie dogters, met studieverlof by Yale en naweke met ons slap, tweedehandse Yellow Banana, ‘n geel stasiewa, vyftien jaar oud, drie silinders sterk, elke wegtrek feitlik ‘n lansering, sit ons Saterdae of Sondae uit New Haven af om na ‘n goeie uurtjie of twee daar aan te kom en iewers te parkeer vir die groot rondloop. Besoeke aan die oorweldigende Metropolitan Museum of Modern Art met sy roerende Monet’s, reuse doeke waarvoor ‘n mens in oewerlose verwondering ure kan deurbring. Die Guggenheim met sy spiraaltrappe. Grand Central, ikoon in baie flieks. Die Metropolitan Opera-huis vir Joan Sutherland se afskeidsopera en Placido Domingo as tenoor. Norman Vincent Peale (!) se gloedrooi Presbeteriaanse kerk met sy warm atmosfeer. Of sommer lekker, lae, common kultuur. Lekker roomys by Macy’s. ‘n Vinnige indraf vir ‘n dirt cheap junior burger van 55 Amerikaanse sent. (Hoe laag kan ‘n mens daal?) Central Park met sy koetse en omring deur sy rye spog-woonstelle. Filafel by ‘n sypaadjie-handelaar in 5th Ave (aangeprys in die New York Times as die eet van die week). Die Deli by die V.V.O. met bakke en bakke vol verskillende olywe. Bolle skitterende vuurwerke hoog oor die Standbeeld vir Vryheid op die 4e Julie. Outentieke seilskepe vanoor die hele wêreld in die Hudson. Ons piepklein, gesellige woonstel in 124e straat. Ons is Manhattan-fans. En ons is altyd reg om ons entoesiasme weer op te kikker en te deel met mede-bewonderaars.

Ek word afgechoke, behoorlik, deur my hoflike gespreksgenoot. Hy knyp my piep morsaf sodat daar nie eers ‘n homp oor is nie. Hy het niks tyd vir Manhattan nie. Dit is ‘n siellose plek waar hy jare gemors het. Die mense deel niks nie. Dit is ‘n gejaag na self-bevoordeling.

Die groot stad. Sielloos.

Ek dink aan 11 September en hoedat ek vir weke daarna in die New York Times die berigte oor die slagoffers gelees het. Die grotes en vernames wat miljoene verdien het en deur hulle families gemis word. En dan die gewones, die skoonmakers, die bodes, die operateurs. Ewe skielik het elkeen van hulle ‘n gesig, ‘n siel gekry. Mense wat met groot drome na die groot stad gegaan het – uit Mexico, Vietnam, van oor die hele wêreld op soek na ‘n menswaardige bestaan. Bedags in die sentrum van die wêreld vloere gevee, tee gemaak, kantore afgestof. Saans huis toe om te studeer, om ‘n kind te versorg, ‘n ma te verpleeg, ‘n kerkdiens by te woon. Die mikro-verhale van die mens, elkeen met afgronde van ryk dieptes in hulle, elkeen met ‘n gelaat wat hulle gedeel het met mense naby aan hulle. Die siel van ‘n stad is deur twee vliegtuie dodelik verwond. Ek onthou hoe ek kort daarna na die rampgebied gaan kyk het. Die verskriklike swart wond met ‘n ystervinger wat skeef hemel toe probeer wys het, in ‘n swak protes teen die afgryslikheid wat daar gebeur het. Die briefies teen die tralies, vol duisende boodskappe, te veel om te lees, van mense wat desperaat iets wil wys van hul oorlewingspoging en hanteringsmeganismes. Die wond aan die siel van ‘n stad het ryk gebloei.

Sielloos? Ek bly wonder oor die een sin van my gespreksgenoot. Ja, die groot wurggreep van geld-maak, seker. Is dit dan hoe dit voel om daar te bly?

Ek praat nie verder nie. Die gesprek sterf ‘n vroeë dood. Voor my siel reis ek egter innerlik terug, ongeduldig, haastig deur die strate van Manhattan op pad Met toe om Monet se waterlelies te gaan bekyk. Om elke keer die aanraking in my siel te voel as ek tot stilstand kom, na die groot, groot doek opkyk en wegraak in die vol blou, die uitgespreide, oopgevoude hemel-blou en lowergroen skakerings – met iewers die waterlelies wat tydloos oor waters van vrede dryf. Ruimtes wat voor my oopsprei, verby die sielloosheid van klinkende munt en brommende rekenaars, hier in die stil plek binne in my, waar toeterende geel taxi’s nie meer gehoor word nie en die vaal geure van goedkoop hamburgers jou nie bykom nie. Selfs in die siellose stad kan ‘n mens, met die regte reisgenoot, sielerus vind.

Vreugde, vervulling en sielstevredenheid kom van binne af. Maar dan moet ‘n mens in goeie geselskap wees. Jy moet in die regte Gees wees.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive