Thursday, January 31, 2013

Om in liefde te groei

Geseend, sou sommige ons konferensie van vandag noem. Ek sou, stemmig, hierop amen roep.

Ek is dankbaar. Dit was goeie oomblikke.

'n Klomp mense waaarvan sommige oor jare heen met spiritualiteit besig is. Maar dit is ook in die grein van hul bestaan ingegraveer.

Jy hoor hulle praat - met insig, met soveel sinnige bydraes en soveel wysheid. Egte wysheid.

Daar is 'n gemeenskaplike band wat tussen ons ontwikkel het oor die afgelope paar jaar wat kollegialiteit en 'n fokus op Spiritualiteit transendeer.

Iewers, sou 'n mens dit miskien kon beskryf, is dit mense wat steeds weer gefokus is op die Verborge, op die Een wat al ons denke dryf en dra, maar wat dit ook bevraagteken en dikwels ook te bowe gaan.

Die wete is : die wetenskap is maar net nog 'n manier om in jou 'n ruimte oop te maak sodat God, genadiglik, op die regte tyd en op die regte manier 'n mens se hart kan aanraak.

Dit, hierdie aanraking, dit is wat tel, dit is die verlange wat teenwoordig stel, wat vrymaak.

Dan was daaar die jongetjies, die manne en die susters wat nog bietjie vra en vingerwys en rondtas.

Mooi mense.

Kom ek dus terug, hier op die lughawe, op pad huis toe, na vyf dae op die pad, met 'n woord van Paul vandag so tussenin al ons gesels uitgestrooi, soos die spreekwoordelike saadjie wat sommer summier in my hart ontkiem.

Wat is liefde?, vra hy. Wanneer 'n mens onderskei, soek na hoe 'n mens in God se teenwoordigheid met jou lewe bly, moet 'n mens natuurlik steeds toets of dit werklik God is met wie 'n mens op weg is. Ons idee van God kan soms lelike skeef en krom wees. Dit kan soms 'n afgod word. 

Dus moet ons gedurig weet wie God is oor wie ons praat en tot wie ons bid.

Maar ons moet ook nadink oor so iets soos die liefde, voeg hy by. Die liefde is 'n woord wat ons maklik praat. Maar wat bedoel ons daarmee? En hoe bedink 'n mens die groot koms van die liefde in 'n mens se lewe? Hoekom gebeur dit dat 'n seker teken van geloofsgroei gevind kan word daarin of 'n mens 'n liefdevoller mens word?

'n Seker teken van God in 'n mens se lewe dus: of die liefde steeds weer meer en dieper en groter word in jou innerlike.

Ja bedink ek : dit is sekerlik waar. Sekerlik is dit 'n teken dat God inwoon as die liefde meer en meer word.

Maar hoe mooi is dit, hoe oorweldigend om ook te besef dat daar sommige mense is, onbekende, ongerekende mense, in die wereld maar ook tuis wat vroeg-vroeg in hulle lewens deurdrenk is met die liefde. Hulle leer nie liefde nie. Hulle groei nie in die liefde nie. Vroeg reeds woon hulle voluit in die liefde.

Daar is sulke mense. Daar is.

En, genadiglik, as gawe, is dat hulle vir jou, wanneer jy vra wat liefde is, antwoord. Hulle roep jou toe, sonder woorde, sonder praat, as jy maar net daarop ingestel is: die liefde is hier. Kyk net. Dit woon naby jou. 

.

Wednesday, January 30, 2013

Hoe sal gewone mense dan nou tog God se wil onderskei?


Onderskeiding as ‘n geestelike oefening is deur die eeue heen veral vebind met ‘n spirituele begeleier wat ‘n ander persoon “begelei” om die wil van God vir sy of haar lewe te ontdek.

Daar is ook belangrike tradisies in die geskiedenis van Spiritualiteit wat allerhande “tegnieke” ontwikkel het waaardeur ‘n mens God se wil kan onderskei. ‘n Mens het “insig” nodig om te kan onderskei en jy moet dit “wyslik” doen.

In die proses is neergesien op “laer” vorme van spiritualiteit waar mense op ander, minder “ingeligte” maniere die wil van God vir hul lewens gesoek het. Hierdie groepe is as minderwaardig beskou en gesien as oningeligtes wat nie van beter weet nie.

Hoe vind ‘n “gewone” mens antwoorde op vrae oor God se wil?  Op watter maniere onderskei oom Fanie en Tant Salie wat God van hulle vra?

Onopgeleid in die dieper dinge van spiritualiteit en mistiek, “eenkant” en bietjie “minderwaardig” word hulle geïgnoreer. Hulle antwoorde is nie “hoë” spiritualiteit nie.

Dink ons.

Hoe het die armes, die skaapwagters by Bethlehem, die blinders in Jesus se tyd God se wil gesoek?

Tuesday, January 29, 2013

Ewige skoonheid

Seuntjie se kersvakansie breek aan, weer eens, by die geliefde strand. Hy kom ver vir die kuiertjie, van verre lande af.

Hy is eintlik al 'n seun. Seuntjie-tyd begin verdwyn. 

En hierdie jaar ontdek hy die branderplank. 

Dieperig, verder as vantevore, kan hy al inswem. 

Hy is ouer, vaster op die voet, meer durfdadig. Hy sukkel-sukkel om die ritme van brander-ry te vind. Maar met die gawe van jeug se vindingrykheid en spoed, kom dit gou, byna vanself. 

En spoedig is hy die jaagduiwel op pad strand toe.

Keer op keer weer spoel hy uit - elke keer 'n ander brander, 'n ander belewenis, nuwe genot.

Maar die see bly soos dit is. Dit bly hom optel en uitdra

Die see ken dit al. Geslag na geslag, onthou ek, net uit my kort bestaan, loop die wonder-pad van ontdekking, van opwinding, van lewensvreugde - sommer net lewens-blydskap. 

Die see het al vele sulke grootword-fase's bekyk.

Ewig die branders, wat jaar na jaar spoel en speel. Die  diep-blou lig bly altyd by en om ons. Die see sprei sy wit waters nog 'n keer, nog 'n jaar, kerswit om ons. Op die agtergrond lê die heuwels van oertye af geduldig, groen, wakend, stil.

Dit is suiwer en durende harmonie. In die skepping, in die tyd, van generasie tot generasie, 'n ritme van goedheid en herkenbaarheid.  

Die mense kom en gaan. Tye verander. 

Maar niks verander nie.

Tog geen wonder dat die Bybel 'n skeppingsgeloof verkondig nie en dat van die mooiste Psalms, die natuurpsalms (8, 19, 29, 104 en 148), vertel van glo, van die blydskap wat ons aardse dinge bring, van die dankbaarheid wat die natuur in 'n mens laat opkom.

Maar dan steeds weer nie soseer oor die natuur nie, as om die Here van die natuur te erken en te loof vir voorsienigheid en getrouheid. 

A minore ad maius.

Ewig, bedink ek, terwyl ek die woelige vreugde inneem, is God se goedheid - die goedheid om vir mens soveel vreugde te skenk, op soveel maniere, in soveel plekke en deur soveel skoonheid. En om, dan, nog meer, te kan weet, dit gebeur nie maar net nie. Dit is genade, herkenbaar deur opwindende, blye geloof. 















Monday, January 28, 2013

Ootmoedig oorweldig. Oor 'n nuwe digbundel in Afrikaans

Jakobus van der Riet het ‘n wonderskone bundel, deurtrek met spiritualiteit en mistiek laat verskyn. 

Dit het die boeiende titel: Die Onsienlike Son. Te koop by Protea Boekhandel. (Elke sent van die R160 werd.)

Iemand wat so ‘n titel bedink, verstaan spiritualiteit.

Die volgende gedig (hier onder aangehaal), een van die mooistes in die bundel, vertel hoe die Onsienlike Son afvryf op mense.

Wie in die Lig lewe word Ligdraer.

Spiritualiteit leef dus van lewe. Wie sy/haar lewe aan die Gees skenk, wat bereid is om geneem te word waar hy/sy nooit gedink het sy/haar lewe sal aanland nie, voer die geestelike lewe en praat nie net mooi nie. 

Spiritualiteit, weet ons, het te doen met die lewenskuns – die wonderlike estetika van die doen, die deurdringende saamleef met die Gees. 

Soos wat met insig in die gedig vertel word.

Spiritualiteit vertel daarom van die Onsienlike, verby al die sigbare dinge wat soveel van ons tyd en aandag opslurp en verorber en wat van ons masjiene, lewelose dwalendes, soekend na sin, maak. 

Wie by die Onsienlike lewe, se lewe word eerder sigbaar voor almal van helder Sonlig. 

Hiervan lees ‘n mens meer in die gedig.

Die een deur wie die Onsienlike lig skyn, deur wie se hart en niere die Lig stroom tot in die tingerigste vessel van iemand se bestaan, laat nie die donker oorneem nie. 

Die tingerigste vesel van jou bestaan raak aangeraak. Die kleinste deel van jou anatomie - die tong - kan nie buite Spel bly nie. 

Selfs in ‘n mens se woorde, weet die Ligdraers, moet ‘n mens lig wees, lig laat skyn, “lis” en “venyn” uitdoof, soos die Heilige Efraim begeer. 

Selfs jou stem, jou woorde praat van Lig, van Lewe, en stig ook lewe. Niemand word die slagoffer van jou kwaadheid nie. 

Jy skrop, berouvol, dus aan die donker dreigemente wat jou tong so natuurlikerwys wil praat en uitryg.

Berouvol, skryf Jakobus. Ootmoedig.

Wie skrop, skoonmaak, skep ruimte vir die skoonheid. 

En dan kom dit: God se vrymakende woorde – so oordadig dat dit amper te veel word. Dit is pure skoonheid, ‘n verlossende vloed van homilie en gedig. 

Die spreke, die Lig, vermurwe jou verder. Soveel, amper te veel. Die mens kan dit byna nie verteer nie.Daarom wil 'n mens amper dat God moet terughou. 

So loop heiligmaking, die proses van meer lig uitstraal, soekend om lig-ter te skyn.

Die laaste, verrassende sin van die gedig vertel dus van die oormag van God se genade. Die mens, diep verlangend na God, ervaar terselfdertyd die wonder van hierdie stortvloed, hierdie Lig, Ligte, Helderligte By-ons-wees van God Self.

Dit is byna soos: Pa, ek wil maar net 'n slaaf wees in die plek. Dit is genoeg. Maar die Vader wil van niks weet nie... 

Hier is die gedig:



Die Heilige Efraim die Sirier





Van jongs af hou hy sy hart se vore skoon,

laat sak ‘n sluis voor slyk en al wat troebel is,

sodat sy skugter tong van geen persoon

ooit iets sê wat blyke gee van venyn of lis.



Uit die aard van sy ootmoed wel die trane op

soos uit twee standhoudende fonteine.

Met hierdie waters sit hy sy siel en skrop,

sodat dit flits, God se lig weerkaats soos seine.



Nou kom woorde, glip soos oor ‘n leidam se lip

in ‘n verlossende vloed van homilie en gedig

en spoel om voete van klei en harte van klip

wat vermurwe, skielik week voor God se gerig,



in so ‘n mate dat hy begin hakkel en verleë sug:

“O Here, hou die stortvloed van u genade terug!”


Sunday, January 27, 2013

Self-prysgawe as geestelike weg. Wanneer 'n mens heiligheid misbruik.

-->
Die afsterf aan die self behels vir iemand soos Thomas a Kempis dat ‘n mens nie angstig en bekommerd oor gewone, alledaagse dinge is nie.

Beheer gee ‘n mens af aan God, wat ‘n mens in die goddelike liefde opneem en deur Wie se liefde ‘n mens gedryf en deurtrek word.

‘n Mens word daarom minder materialisties, minder ingestel op die alledaagse, veral omdat dit ‘n futiele, krampagtige poging is om die onbeheerbare te beheer. Die gewone dinge het ‘n neiging om ‘n mens se lewe oor te neem.

Dit behels, onder andere, dat ‘n mens afsterf aan erkenning, die sug na applous en die afhanklikheid van ander se goedkeuring.

Mens sou nou, in ‘n siniese reaksie, kon dink dat so ‘n houding masochisties is en ‘n mens sou dit kon bedink as ‘n tipiese manier van ontvlugtig: Dit sou beteken dat jy maar as swakkeling aanvaar wat oor jou pad kom omdat jy geen keuse het nie.

Dit sou selfs ‘n slagoffer-mentaliteit kon aanwakker: ek is die gevangene van my ellende, maar kyk hoe mooi aanvaar ek dit en berus ek daarin.

Of dit kan beteken dat ‘n mens sê: ander mense waardeer my nie. Kyk hoe selfsugtig en onsimpatieke is hulle. Maar God is aan my kant.

Of, ‘n mens sou ook ‘n heel godsdienstige houding kon inneem van : Ek ken God en dit is genoeg. Niemand kan vir my oor die geestelike dinge beleer nie. Wat ander dink, raak my nie. Dit moenie my geloof aantas nie.

Op vele maniere kan ‘n mens dus die geestelike weg van askese, van eenvoud en van die soeke na 'n lewe in die liefde misbruik, manipuleer of misverstaan. 

Elke stuk spiritualiteit het immers die vermoë om in sy teendeel omgebuig en geperverteer te word.

Dan word die geestelike weg afgebreek en verdraai tot, weer eens, ‘n stuk self-gerigtheid wat ‘n mens se eie ervarings en gedagtes heilig verklaar.

Daar is ‘n diep menslike wysheid in die spirituele wysheid van self-prysgawe. Oor die eeue het Spiritualiteit dit as ‘n wesenlike kenmerk van God gesien. God is God, veral omdat God die volmaakte self-opoffering verteenwoordig. God is God omdat God so volmaak gee – weggee aan Godself, aan God se eie bloed, die Seun, aan eie krag, die Heilige Gees. So volmaak is hierdie God wat gee dat dit gebeur selfs te midde van onreg wat mense God aandoen. In die lig van onbeantwoorde liefde, liefdelose lewens, bly God die Een wat genadiglik gee.

Die mees konkrete voorbeeld hiervan is Christus. Die mooiste verhaal hiervan is die verhaal van die verlore seun se pa.

Die teendeel van hierdie goddelike self-gawe is self-gerigtheid, self-regverdiging, self-bejammering, self-verdediging, self-gelding, self-ophemeling, self-gesentreerdheid.

Daarom die nodigheid om elke dag weer ‘n mens se leë hande raak te sien waar ‘n mens in die teenwoordigheid van God staan. Die hande is leeg aan die liefde, vol van die self. En, ook, vol van die heilige self.

Vandaar die nodigheid om in gebed die hande uit te strek, oop, na Bo, sodat die gawe van die Liefde daarna uitgedeel kan word. 

Dit is ‘n mens se verlange en hierin vind ‘n mens die regte vorm van kommer: om gevul te word met die Liefde.

Saturday, January 26, 2013

Die treurlied op die lier. Oor weggesteekte lyding.


By die stil Vroue-monument in Bloemfontein, seker een van die aangrypendste gedenk-plekke ter wêreld, is daar ‘n reeks gedenkstene langs die wandelpad wat na die monument self loop. Jy sien hulle nie sommer raak nie, veral nie op 'n foto nie.

Onskuldig lyk hulle soos blote versierinkies.





Anders as in Dachau, daardie verskriklike monument waarin die barre toestand van die konsentrasiekamp waarin vele Jode gewetenloos vermoor is, is by die Vroue-monument geen sigbare of opvallende uitstallings van die grusaamhede wat die slagoffers van die oorlog aangedoen is nie.

Heel eenvoudig is daar net die een gedenksteen langs die ander.

Op elke gedenksteen word ‘n dorp se naam gelys en onder die naam die getalle van kinders onder 16 wat gesterf het, gevolg deur die getalle van mense bo 16 jaar. 

En dan volg daar 'n Bybelteks (kan iemand tog nie 'n skripsie oor die tekste skryf nie?). 

Die eenvoudige lys sal die onoplettende, vinnige verbyganger nie maklik roer nie, selfs al sien 'n mens hulle raak.

Maar as jy gaan stil staan en daarna kyk, jou inleef in die werklikhede agter die syfers, word die monument ‘n cri de Coeur, meer nog, ‘n verdoemende klag teen hulle wat mag so vanselfsprekend dink te besit en uit te oefen. 


Hier staan in getalle uitgeskryf waaroor Openbaring praat: die kwaad wat hom veral in geweld uitdruk, maar vermom deur allerhande edele motiewe van die eerbare oorlog, vaderlandsliefde, regte vir mense, die Britse Ryk, dapper soldate, helde-vegters. Want op die manier het die Britse Ryk sy moorde in daardie nuttelose oorlog verdedig. 

En die eerste teikens van daardie o so nobel gepresenteerde  stryd is die sagte mense, die kinders, die jonge’s onder 16 jaar, die vroue en die oumense. 


Dit is die skreiende getuienis van gedenksteen na gedenksteen, in die nou meestal vergete, selfs bietjie verwaarloosde monument in die wye Vrystaatse ruimte. 


Ry na ry, ‘n klein steentjie in die breë pad van herinneringe, staan hierdie onopvallende heenwysings na liefdeloosheid, hatigheid, onverdraagsaamheid, gierigheid en vele ander van die dryfkragte wat ons menslike bestaan kenmerk.

Hoe sal ons ooit die greep van die kwaad ontkom? Want eeu na eeu is daar maar nuwer en dodeliker vorme van gewelddadigheid?

Het, om Paulus dan te onthou, Christus verniet gesterf?

Spiritualiteit moet sulke tekens uitlig, bekyk en beleef – want deur sulke kwaad word die stryd om lewe aangevuur. Die Gees ken nie geweld nie en wil dit oorwin. 

Ter nagedagtenis van die 546 kinders onder 16 jaar  van Aliwal-Noord wat in die oorlog gesterf het, is daar die Job-teks:

Al wat vir my oorbly is 'n treurlied op die lier, 'n lied van trane op die fluit. (Job 30:31.) 

Friday, January 25, 2013

Spiritualiteit en n paar vreemde spirituele voëls. Wat is spiritualiteit dan?

Hier is 'n berig wat gister in Trouw verskyn het. Die reaksies op die berig is net so interessant.

Die berig laat my opnuut weer besef: nie alles is spiritualiteit wat mense spiritualiteit noem nie. Die reaksies op die berig laat my ook besef: nie alles wat mense teen spiritualiteit sê beteken spiritualiteit is belaglik nie. 

Die berig beklemtoon: dit is belangrik om steeds weer krities met spiritualiteit om te gaan. Maar ook: 'n mens moet ook krities omgaan met jou eie vooroordele.

Die goeie middeweg - bepaal deur onderskeiding!

In een interview pleitte Joep de Hart, socioloog bij het Sociaal en Cultureel Planbureau, dinsdag voor meer wetenschappelijk onderzoek naar de 'ongebonden spirituelen'. Naar verluidt zijn zij inmiddels met z'n vier miljoenen, ofwel 26 procent van de Nederlandse bevolking. Toch is hun denken en streven aan de universiteiten nauwelijks een thema.
De Hart heeft een punt. De opmars van het zelfgebreide geloof verdient ons aller aandacht. Al was het maar om enigszins te begrijpen waarom zoveel mensen zich zoveel malligheid op de mouw laten spelden.

Neem de Maand van de Spiritualiteit die sinds 2007 jaarlijks over het land spoelt. Dit dagblad, ik kan het ook niet helpen, is een van de initiatiefnemers, naast omroepvereniging KRO en uitgeverij Ten Have. Genoemde maand, die om duistere redenen dit jaar veertien dagen telt, loopt zaterdag ten einde. We zitten er dus middenin.

De beginselverklaring klinkt al tamelijk mysterieus. "Spiritualiteit kan heel concreet evenwicht, voeding en richting geven in een complexe wereld", aldus de website. "Door met aandacht voor wat er écht toe doet te leven, door bewuster te werken en met anderen om te gaan, vinden we balans, kan het leven gaan bruisen en leven we met 'hartstocht'."

Als u doorgrondt wat hier staat, neem ik mijn hoed diep voor u af. De activiteitenagenda zelf stelt me voor nog grotere raadsels. Je vindt er rijp naast groen, lezingen van gerespecteerde auteurs naast bijeenkomsten van onversneden new-agesignatuur.

De maand opende op 11 januari met een 'stiltemeditatie' op het Amsterdamse Museumplein - wellicht heeft u de foto van de sereen blauwbekkende deelnemers in deze krant gezien. De website prees het evenement aan door te verwijzen naar het 'Maharishi Effect': als in een stad 1 procent van de bevolking mediteert, doet dat de criminaliteitscijfers dalen. Die claim, gedurig uitgedragen door aanhangers van de zogeheten Transcendente Meditatie, werd decennia geleden al ontkracht. In Fairfield, Iowa bijvoorbeeld, mediteerde liefst 13 procent van de inwoners. Toch bleven de misdaadcijfers stabiel.

Andere activiteiten beloven al evenzeer heilzame effecten. Vanavond kunt u bijvoorbeeld om 20.00 uur naar de bibliotheek te Arnhem voor een workshop 'Engelenkaart Reading'. Daar leert een helderziende hoe u via engelen in contact treedt met 'overleden baby's (inclusief miskraam)', 'overleden dieren' dan wel 'dieren die mishandelt (sic) zijn'. Ook kunt u de wezens om hulp vragen bij 'aankoop of verkoop van een huis' dan wel bij het verliezen van 'de laatste paar kilo's'. "Wat kunnen engelen voor jouw (sic) betekenen? Heel erg veel."

Voor morgen staat te Maassluis een 'Klankschaal meditatie' op het programma, alwaar om 19.00 uur 'een geleide visualisatie' u de weg wijst naar uw eigen 'rustcentrum' en u de regenboog gaat verkennen.

Zaterdag is er dan nog, onder veel meer, om 11.00 uur een samenzijn te Zutphen van een club die zich de Wereld van de Wijsheid noemt. Daar maakt u 'via speelse contacten' kennis met de energie van 'de Leraren' teneinde 'alvast een grotere kijk' op uw leven te bekomen.

Natuurlijk, niet al die vier miljoen ongebonden spirituelen zullen hier met open ogen inlopen. Maar persoonlijk zou een Maand van de Nuchterheid mij nu heel welkom zijn.

Thursday, January 24, 2013

Liefde is om met God se oë te wil kyk.


Een van die beroemdste lofliedere op die liefde is geskryf deur Thomas a Kempis (in sy Navolging van Christus, boek 4.5). 

Hein Blommestijn skryf ‘n artikel oor die gedeelte en probeer die ryke, oorweldigende inhoud daarvan uitpak.

Die liefdeslied vertel van die geestelike reis wat ‘n pad van transformasie is: in hierdie proses van omvorming groei ‘n mens gedurigdeur weg van jouself, van die beheptheid met jou eie sorge, angste, verlangens en, veral, jou oorlewingsdrif.

Die ou mens, met ander woorde, word al hoe meer afgesterf.

Vele mense kry die gevoel dat woorde soos “afsterf” ‘n negatiewe, vaal en bleeksiel-lewe beteken. Swartkouse, blourokke, swart skoene en allerhande swaar simbole van ‘n moralistiese lewe doem voor hulle op.

Niks is verder van Thomas se ervaring nie. Sy liefdeslied vertel van ‘n stroom van gloed-nuwe liefde wat in mense ‘n vlam van ‘n nuwe lewe vol vreugde aansteek.

Dit is ‘n reinigende blydskap wat ‘n mens in hierdie proses van omvorming ontvang. Dit word ‘n krag wat jy met verwondering sien werk in jou en wat jou lewe oorneem.

‘n Mens ontdek die vreugde dat juis in die afsterwe van die ou mens ‘n mens vry word. Jy laat ‘n tronk-sel agter – die tronksel van gedurige oor-jou-skouer kyk, van angste oor jou lewe, van ‘n gedurige worsteling met jouself, ‘n soeke na self-gelding en van selfbeheptheid.

Die omvorming in Christus, die ervaring dat Christus in ‘n mens se lewe inkom, laat ‘n mens bly ontdek dat Hy mens – dikwels in ‘n verrassingstog – saamneem in die goddelike liefde wat so onvoorwaardelik na mens kom en in jou woon. Die geestelike reis is 'n liefdesweg.

‘n Mens is vry om in die goddelike Liefde volledig vervulling en jou volle mens-wees te ontdek.

Maar: steeds weer moet ‘n mens weer met die skadu-kant hiervan rekening hou: daar is tye van swakheid, van kragteloosheid, van onwil en van weerstand. Daarom beteken dit ‘n gedurige bewussyn van die leë hande, die afhanklikheid van die goddelike ingryping.

Wie op die manier op God wag, aanvaar wat oor sy of haar pad kom as ‘n gawe van God. Ons is, skryf Blommestijn, “versoen met alles wat bestaan en wat ons ervaar al is dit pynlik of vreesaanjaend of afskuwelik.” Ons meet nie meer dinge in terme van hulle nuttigheid vir onsself nie.

Deur die liefde, voeg hy by, kyk ons met God se oë na die werklikheid en verbly ons daaroor – selfs oor die swaarkry wat ons lewe in die wêreld met hom meebring. Christus neem mens dus op in ‘n liefdesbeweging sodat die mens liefde word en liefde teenoor ander betoon in watter omstandighede jy jou ook al bevind.

Ligvoetig, skryf Blommestijn, word ‘n mens wanneer jy vry is van die gebondenheid aan die fokus op jouself, jou gekraam onder jou daaglikse sorge en jou grepe van selfbehoud. Jy word nie meer vasgehou deur die las van jou ou menslike toestand nie.

Maar nie net ligvoetig nie, maar ook sterk word ons. Hoewel swak, menslik gesproke, dra die goddelike liefde mens en laat ‘n mens ongekende wonders ervaar en ongekende hoogtes bereik. Jy oortref jouself, want die goddelike liefde skep alles en kan alles doen. So sterk is die liefde dat ‘n mens nie meer oor jou eie onmag bekommerd is nie. Dit word selfs genoeg om in God se teenwoordigheid te leef. So oorweldigend is dit dat ‘n mens nie eers meer oor die goeie gawe’s van God hoef om te gee nie.

Die gevolg hiervan is dat ‘n mens jouself in die liefde verloor. Dit is asof ‘n passiwiteit jou oorval en ‘n mens wegsmelt en swem in die liefde. Jy is ingedompel in die groot, sterk stroom van die liefde wat jou meevoer.

Jy kan nie anders nie:  jou lewe word ‘n liefdeslied – so skryf Thomas op ‘n mistieke manier oor die liefde. ‘n Mens besef dat jy nie buite hierdie liefde om kan bestaan nie. Hoewel ‘n mens se natuur weerstand bied teen die prysgawe van jouself en die verlies aan beheer oor jou eie lewe, word ‘n mens tog telkens deur God oorwin tot die liefde.

God se liefde in ons word versterk deur ons gebed. Gebed help ons om ons in te stel op God en op die inwerking van God in die liefde. Dit is hierdie liefde wat die las van ons ou lewe, ons ou situasie wegneem en ons vry maak.

Oor en oor, nou met hierdie woorde en dan met daardie woorde wil Thomas van die liefde praat. Oor en oor vertel hy hoe die liefde na ons kom, van buite onsself, ten spyte van wie ons is. Weer en weer vertel hy hoedat die liefde ons sorgeloos maak. Mens is nie meer verslaaaf aan uiterlike dinge nie. Maar nog meer: dit is God, die gewer van die liefde wat uiteindelik die meeste saak maak. Nie eers die goeie dinge wat die liefde in ons lewe bring is naderhand vir ons meer belangrik nie.

God, die gewer, word alles. God kom woon in die liefde by en in ons. Onmeetbaar. Bo begrip. Naby. Intiem. Ewig. Onverganklik. Sterk. 'n Innerlike gloed van die inwonende Liefde bly in mens en maak die mens tot liefde. Wie sal dan met minder tevrede wees as hierdie goeie Gewer van alle dinge? 

Mistiek. Net in die geloof te ervaar. Net in geloof te begryp. 


Wednesday, January 23, 2013

Dadelik tot bedaring: oor woede en gebed.



Dit is ou, getoetste raad wat Evagrius Ponticus (343-399 n.C.) gee wanneer hy oor woede en sagmoedigheid skryf en wys hoe gebed ‘n belangrike hulpmiddel is in ‘n mens se stryd teen woede:

Elke keer wanneer jy in die versoeking beland, of teenspoed optel, of wanneer jy vies voel of opgewerk raak omdat ‘n klip in jou pad gerol word, of elke keer wanneer jy die drang voel om bandeloos aan die skel te gaan, word dit tyd om jouself in te stel op 'n gesindheid van gebed en op hoe sulke optrede beoordeel gaan word. Jy sal ontdek dat jou wanordelike optrede dadelik tot bedaring gebring word.

Oorkom die negatiewe deur gebed. Bid, het Jesus sy volgelinge immers geleer om nie in die versoeking te kom nie. 

Maar, boeiend, is wat Evagrius met gebed verbind: Wanneer die slegte oor jou kom, laat jouself in ‘n atmosfeer van gebed oorskakel.

Let op: nie gebedswoorde nie. Dit gaan om 'n gebedgesindheid. Dit is 'n oorstap van een ontstuimige situasie in God se teenwoordigheid.

Daar is iets anders wat lyk my deur die gebedsgesindheid opgeroep word. Wie in 'n atmosfeer van gebed leef, dink nie meer aan hom- of haarself nie. Die Ander maak saak.

Wanneer jy beheer kwyt is, keer jy dit om, kry jy weer perspektief deur na te dink oor die konsekwensies. Dink, vra Evagrius, oor hoe ‘n mens oor jou gedrag verantwoording doen, hoe ander dit gaan waarneem. 

Besef dat ander na jou kyk, jou beoordeel en dat jou gedrag iets aan hulle doen.

Onderskei al die implikasies wat in jou emosies en optrede gesetel is.

Bid dus, vra Evagrius, dat ‘n mens die genade kry om buite jouself te gaan staan, jouself dop te hou en te sien wat ander mense sien as hulle na jou in sulke tye van woede kyk.

Ou raad – om te bid dat ‘n mens nie in versoeking kom nie. Maar vars, nuut wanneer Evagrius, wat 16 jaar lank in die woestyn in Egipte geleef het en diepsinninge werke van geleerde voorgangers gelees het, daaroor skryf.  Deur in die gees van gebed te leef, skryf hy, ontdek ‘n mens sagmoedigheid. 

Trouens, die gees van gebed waarin ‘n mens jouself kan vergeet, kan so kragtig werk dat ‘n mens “dadelik” tot bedaring kom. 

So vinnig kan die gebeur, so sterk werk gebed en soveel berge kan 'n mens versit. 

Tuesday, January 22, 2013

God se woord is soos doudruppels … Oor die lees van die Bybel as ‘n weg tot omvorming.


Die geestelike pelgrimsreis van ‘n mens word op verskillende manier gevorm. Dit loop langs ‘n bepaalde weg en word deur verskillende dinge bepaal. 

In Thomas a Kempis se Navolging van Christus word dit aan die hand van veral drie dimensies uitgewerk. Hein Blommestijn het dit in ‘n artikel op ‘n boeiende manier beskrywe.

Dit begin wanneer God ‘n mens nuut maak (die transformasie in skepping) en jou uit jou niks-wees bring tot ‘n sinvolle bestaan.

Dit gebeur voorts herhaaldelik wanneer ‘n mens aan Christus gelykvormig gemaak word.

En dit gebeur ook, derdens, wanneer ‘n mens God se stem hoor.

Anders gestel:

Prakties gebeur hierdie drie dinge eerstens wanneer ‘n mens beheer oor jou eie lewe afstaan en jouself oopstel vir die grotere, goddeliker liefdesweg.

Dit gebeur ook, tweedens, wanneer ‘n mens op ‘n spesiale manier die binnekoms van Christus in ‘n mens se lewe ervaar – veral in die nagmaal. 

Of, derdens, en dit is die tema van die blog: wanneer ‘n mens God se stem in die lees van die Bybel beluister.

Of nog anders:

Die oopstel vir God kom eerstens elke keer wanneer ‘n mens die fokus op jouself opgee. Die wandel met God word, tweedens, intiemer wanneer ‘n mens in die liefde van Christus veranker word en wanneer ‘n mens deur die stem van die goddelike tot ‘n liefdesbestaan vernuwe word.

‘n Mens word derdens getransformeer, of, beter nog, omvorm, wanneer mens deur God se stem aangespreek voel. Die verdieping in ‘n mens se geestelike lewe gebeur wanneer ‘n mens bewus raak dat iets groters en iemand buite jouself in jou lewe inkom: in geloofstaal word gepraat van God se woord wat tot ‘n mens kom, jou ore open en van jou ‘n ware luisteraar maak.

Hier, in die hoor van God se stem is op sy beurt weer twee dimensies te merk: aan die een kant is dit ‘n woord van buite jouself, wat in jou lewe inkom. Dit is die Bybeltaal, die geloofsgetuienis van vele mense wat voor jou pelgrims op die lewensweg was. Maar die heel belangrikste is die tweede dimensie: Die Woord werk in ‘n mens se innerlike. Wat ander geskryf het, mensewoorde, anker in jou binneste ruimte en verander, word God se woorde.

Blommestijn haal hier vir Thomas a Kempis aan wat skryf: “Spreek, Here, want u dienaar luister. Ek is u dienaar. Gee my insig sodat ek u getuienisse ken. Buig my hart na die woorde van u mond. Laat vloei u strome woorde soos dou.”

Maar nog moet ‘n mens verder dink. God se woord kom in mensetaal. Dit kom as woorde van Moses, die profete, die Bybelse woorde, die voorlees van die Bybel in die erediens en die woorde van vele ander mense wat praat oor God, en oor ‘n intieme ontmoeting met God.

Tog is dit nie die woorde self waarop ‘n mens fokus nie. Daardie woorde moet ‘n mens se bestaan deurgrond en deursuur. Mensewoorde moet vir die mens deursigtig word – ‘n mens moet God in hulle raaksien en hoor.

As God swyg, sal die mooiste woorde oor God nie die mens se innerlike aanraak nie. God, skryf Paulus immers duidelik, is die een wat laat groei. Dit is God dus wie se spreke mensewoorde tot lewe bring.

‘n Mens word omvorm alleen maar wanneer ‘n mens deur God aangespreek voel.

Wat gebeur wanneer ‘n mens God se stem in mensewoorde herken? God se stem bring ‘n mens se lewe in beweging. Die spreke van God maak nuut. Dit bemagtig. Dit gee krag om die geloofsweg te loop. Van ons innerlike af na buite vorm God se woord en spreke die mens, help die mens om sy eiemagtigheid en selfgerigtheid agter te laat (skryf Blommestijn). Dit maak die mens betrokke. Om God se stem te hoor, is om die lewensweg met nuwe moed en energie aan te vat.

In plaas van strome van menslike woorde wat ons nie werklik raak en wat ons eintlik koud laat, kom God se woord en buig ‘n mens innerlik om tot vernuwing. God, skryf Thomas, terwyl hy die skrif aanhaal, het die woorde van die ewige lewe. “Spreek met my tot vertroosting van my siel en tot verandering van my hele lewe. Maar altyd weer tot U lof, heerlikheid en ewige eer.”

Wie God hoor praat, voel die lewe en liefde van God deur hul lewe stroom en hulle aanraak in die kern van hulle bestaan. Die Woord bring ‘n mens tot lewe. Dit is ‘n Woord wat nie as ‘n ornament iewers uitgestal kan word nie en waarna ‘n mens af en toe kyk nie. Wie die Woord so afstandelik hanteer, weier eintlik om nuutgebore te word.

Telkens weer wil ‘n mens die Bybel as ‘n menslike boek tot ‘n interessante leesboek verskraal. Die Bybel word daardeur nie lewewekkend nie. Dit is ‘n onskuldige boek wat allerhande netjiese lesse en insigte oplewer. Wie die Bybel as Woord herken, ontvang ‘n brandende verlange na die ewige dinge. Die aardse, nuttelose en leë gesukkel en besorgdhede verdwyn op die agtergrond. Wat tel is die diepere.

Blommestijn sluit sy nadenke af oor die weg waarlangs ‘n mens getransformeer en omvorm word en wat hy saamvat as ‘n transformasie in skepping, in konformiteit aan Christus deur die nagmaal en as die hoor van die Woord van God  met ‘n pragtige slot:

Wanneer God se woord ‘n mens innerlik aanraak en omvorm, hoor ‘n mens die gees van waarheid in jou innerlike klink. Dan vra ‘n mens nie meer hoe dinge in ‘n mens se lewe lyk nie. ‘n Mens besef: jou lewe is nie jou projek nie. Jou lewe is die projek van God. Wanneer ‘n mens dus God se woord hoor, herken ‘n mens jou diepste waarheid. Ons word ingetrek in die geheim van die goddelike lewe wat in ons bewaarheid wil word.




Blog Archive