Dit
bly eintlik ongehoord: vandag, met die verjaardag van Pres. Mandela, hou die
Verenigde Volke ‘n spesiale byeenkoms om sy verjaardag te herdenk en sy
nalatenskap te vereer.
Watter ander persoon op ons aardbol sal so iets te beurt val?
Die
saal is vol afgevaardigdes. Op die verhoog is Bill Clinton, in ons tyd een van
die bekendste gesigte op die planeet. Hy is duidelik ‘n volslae bewonderaar van
president Mandela. Dit blyk uit sy woorde, uit sy oomblikke van aandoening en
uit sy vertelling van sy besoeke aan hom.
Drie
dinge noem hy op wat hy van Mandela geleer het: ‘n mens moet eers jouself
bevry, dan eers kan jy ander bevry en as jy dit gedoen het, is jy iemand wat
ander dien. Mandela, voeg hy by, moes ook witmense bevry om te leer hoe
waardevol dit is om deel van die menslike gemeenskap te wees.
Hier
in die saal is die wêreld se grootmagte bymekaar om iemand uit die suidpunt van
Afrika te vereer wat die simbool geword het van stryd teen ‘n ideologie wat
vernietigend inwerk – nie net in die geskiedenis met die rassemoord op Joodse
Duitsers nie, nie net in Suid-Afrika nie, maar vandag nog in vele lande.
Maar
wat is dan so anders aan Mandela as al die ander stryders teen rassisme?
My
leeswerk hieroor laat my min twyfel: hy staan uit bo ander omdat hy nie as
oorwinnaar oor rassisme sy vorige onderdrukkers terugbetaal nie. Hy het hulle
nie net vergewe nie, maar, meer nog, selfs as mense gewaardeer, geag en selfs
omhels.
Hoe
kry hy dit reg, vra ek myself dikwels af. Want almal weet hy het ‘n
verskriklike humeur, kan kwaai met sy tong wees, kan ook maar wraakgierig word
(lees Van Zyl Slabbert se boeke) en het maar los met vrouens omgegaan.
Juis
omdat hy so bewus is van sy eie feilbaarheid: hy wil nie ‘n ikoon wees nie. Hy
beklemtoon sy eie foute. En as hy oor sy nalatenskap praat, plaas hy homself
nie in die kollig nie.
Vanaand
saai die Nederlandse televisie ‘n stuk uit waarin hy oor Mandela-dag praat. Hy
vra dat op die dag mense nie ledig sal wees nie, maar sal uitgaan om ander te
dien en iets goeds vir hulle medemens te doen.
Sy
wens word grootliks vervul, want vandag is dit presies wat baie mense doen.
Maar
dit is Mandela, wat Clinton ook raaksien: nie soseer om te dien nie – dit ook.
Maar wat ‘n mens hier sien is veel eer ‘n spirituele waarheid: dat ‘n mens net
in transformatiewe verhouding met ander jou eie mens-wees ontdek en tot volle
mens-heid ontwikkel.
Die
lewe, sou ‘n mens kon sê, is sinloos sonder dat ‘n mens in ‘n ek-jy verhouding
opgeneem word.