In ‘n rubriek in haar blog vertel Naomi Meyer hoe haar kind
geskok was om te hoor dat ‘n mens nie meer asem haal as jy dood is nie. (http://blogs.litnet.co.za/blog/2013/06/29/by-n-sterwende-kindjie/)
Sy bespreek dit tydens ‘n gesprek oor ‘n gedig van ‘n dominee
wat vir ‘n kindjie vertel hoe wonderlik die hemel is. Aan die einde van die
gedig sê die kind hy wil nie hemel toe gaan nie.
Al die mooi gepraat kan die angel in die dood nie vir ‘n kind uithaal nie.
Kinders is gedurig en daagliks aan die dood blootgestal en
reageer heftig daarop. Hulle weet van die dood van troeteldiere, vriende en
familie. En dit gaan nie ongereken by hulle verby nie. Trouens as
kinders is hulle geneig om sulke trauma met buitengewone emosies te beleef.
Juis daarom is dit vreemd dat daar nie regtig met hulle
daaroor gepraat word nie – veral omdat die dood hulle emosioneel ontwrig.
Al 'n kinderpreek oor die dood gehoor?
Juis omdat ‘n mens die onderwerp van die dood vermy, is kinders nog meer
onseker en word die vrees vir die dood onbewustelik verskerp. Dit is die groot
taboe, kan hulle maklik dink, wat mense ten alle koste wil vermy.
Ek onthou dat ‘n klomp jaar terug Lux Verbi ‘n kinderboek
gepubliseer het waarin ‘n Sweedse skrywer vir kinders probeer inlig wat die
dood is en wat gebeur wanneer ‘n mens sterf. Die boek het as tema die dood van
‘n oupa. Dit was toe vir my boeiend dat juis in ‘n Skandinawiese land met sy
hoë kultuur besef is dat onkunde oor die dood reeds ‘n groot vyand is wat destruktiewe vrees
wakker maak en dat mense gehelp moet word om kinders by te staan wat sulke
trauma beleef.
‘n Kind skrik as hy of sy hoor ‘n mens haal nie meer asem
nie. Kinders, onthou ek hoe ‘n vriend ‘n klomp jaar gelede na die dood van sy
kind aan my vertel het, wil weet waar hul maatjie gaan slaap en watter klere hy
of sy sal aantrek. Hulle het angste en sorge vir die dood wat volwassenes nie
naasteby altyd begryp nie.
Dit is ‘n spesiale geestelike praktyk om mense voor te berei
op die dood. Skryf iemand, lees ek vandag, hoe ouer ‘n mens word, hoe minder
angswekkend word die dood. Vir vele mense is dit minder angswekkend seker omdat
die dood ‘n einde bring aan die fisieke agteruitgang wat die ouderdom bring.
Nog ‘n groter uitdaging is dit juis daarom om jongmense en veral kinders in te
lig of selfs voor te berei op die dood.
Hoe ‘n mens dit doen, word byna ‘n hele wetenskap (sien bv http://www.cc.nih.gov/ccc/patient_education/pepubs/childeath.pdf). Dit is ‘n artikel vol nuttige wenke, maar
ook waarskuwings: sommige kinders wat hoor dat ‘n mens “net” slaap waanneer jy
sterf, kan so getraumatiseer word dat hulle bang is vir die donker en vir hul
kamers. Geestelike leiers kan met vrug die stuk lees om na te dink oor hoe 'n mens ander in doodsbegeleiding bystaan.
Oor die dood moet ‘n mens eerlik en veral ook gevoelig kan praat. Veral kinders
moet ons hartseer kan sien. En die
belangrikste van alles is om steeds weer die dood met die liefde te verbind:
selfs as iemand of ‘n diertjie weg is, is daar nog herinneringe in woorde en
besittings wat ‘n mens laat besef hoe kosbaar iemand is wat nie meer daar is
nie. Oupa se gunsteling-boek of musiek of horlosie roep troostende gedagtes op.
Oupa is steeds daar – al is dit nie meer fisiek nie. Dit is selfs goed, skryf
die artikel hierbo, om vir iemand ‘n aandenking te geen van ‘n geliefde wat by
hom of haar goeie gedagtes kan oproep.
Kinders weet te goed die dood is finaal en aaklig. En kinders
rou net so erg, indien nie erger, as ouers nie. Om dit weg te praat, is
onverstandig.
Dit is selfs goed dat kinders saam rou, saam begrafnis hou,
saam na ‘n graf te gaan, veral as hulle ondersteun word en aan hulle
verduidelik word wat by ‘n begrafnis gebeur. Want hulle sal ook kan sien en
aanvoel dat daar in al hierdie dade van rou, steek daar liefde en omgee.
Maar sien hierdie aangrypende storie en die 116 reaksies
daarop: http://www.hellogrief.org/after-my-father-died/
Daar is nie maklike resepte vir so ‘n begeleiding van kinders
nie. Woorde moet getel word, want ‘n mens het in sulke tye van verlies met
mense in verskriklike sensitiewe omstandighede te doen. Liewer te min sê. En
eerder net styf vashou, omhels, naby wees, liefde te toon, te gee en te deel.
Ek lees by die konferensie oor vrees vir God my referaat voor
waarin ek vertel hoe dat vrees vir God op ‘n stadium na vore kom in ontsag vir
God. Toe Jesus die weduwee daar by Nain raakloop, was sy totaal uitgelewer: as
vrou, as weduwee en as ouerlose kind het sy nie meer ‘n toekoms gehad nie – en ook
nie meer ‘n inkomste nie.
In haar lyding gaan Jesus na haar, sê vir haar om nie te huil
nie en voel innerlik stukkend vir haar. En as hy die seun opgewek het, “gee” hy
hom “terug” aan sy moeder.
Die omstanders was verstom, verslae en self bevrees oor
hierdie ongekende ontferming van Jesus. Dit het hulle daartoe gebring om God te
verheerlik.
So kan ‘n mens in die teenwoordigheid van God kom: daar waar
die liefde in die donkerste tye in ontferming uitgedruk word. En daaroor praat: want in die spreke oor Jesus sit daar die troos wat 'n mens in verlies met nuwe dankbaarheid en vreugde na die lewe sal kan laat kyk.