Die geestelike proses van steeds dieper groei in ‘n verhouding met God beteken dat ‘n mens steeds weer gesuiwer word van alles wat ‘n mens weghou van God.
Bekering, is die kerklike, teologiese taal en woord wat hiermee verbind word. En dit word dan bekering “van sonde.”
Bekering het alles te doen met gebed. Dit gebeur met ‘n persoon wat biddend verlang na God. In die verlange is daar reeds ‘n suiwering aan die gang: iemand bid tot God te midde van omstandighede wat nie meer draaglik is nie, wat neerdrukkend, vernietigend en moeilik geraak het.
Reeds in die gebede van die mens wat wil wegkom van gebondenheid aan alles wat hom of haar verniel, sien ‘n mens ‘n skuif plaasvind. Gebede van skulderkenning en berou staan dan primêr.
Dikwels gebeur dit met ‘n mens wat al jare gelowig was en in ‘n verhouding met God geleef het. Bekering, immers, is nie net ‘n eenmalige proses nie. Keer op keer herken ‘n mens ‘n gekettingde bestaan, ‘n verknogtheid aan dinge wat met jouself te doen het en wat niks anders as onbehae agterlaat nie.
Dikwels spot mense met bekeerlinge wat verskriklik vroom vertel hoe sleg hulle was en dan eindeloos uitbrei oor hoe anders hulle was.
Op die manier word bekering vervals. Want bekering is wel ‘n besig-wees met jouself en ‘n verlange om van kwaad bevry te word. Maar dit is juis in die noue band met gebed ‘n proses waarin ‘n mens se hart op God gerig is. Die begeerte is dat God ‘n mens, jouself, suiwer van alles wat jou self-behep en self-sugtig maak, sodat ‘n mens, bevry kan word tot die vreugde van ‘n verhouding met God.
Steeds weer is ‘n mens besig met jouself, maar in die proses ontdek ‘n mens hoe jy deur verhoudinge buite jouself om gedra word: ‘n mens herken hoe diep en ryk die lewe anderkant en buite jouself is. Soos die suiweringsproses plaasvind, ervaar ‘n mens die kontemplatiewe oomblikke waarin die teenwoordigheid van God beleef word. Heel ironies is die proses van suiwering van jouself dan juis nie sodat jy ‘n beter, mooier, bewonderenswaardiger persoon sal wees nie.
Meer en meer word die gebede verbind met ‘n besef dat die liefde vir God vir ‘n mens in liefde bewus maak en laat uitreik na ander. ‘n Mens kyk met nuwe oë na mense wat God oor jou pad stuur, of na die skepping wat God aan mense toevertrou. Al hoe meer lei die bekeringsproses ‘n mens weg van jouself na die Ander en na intieme verhoudinge met hulle.
Bekering is dus die wegkeer van alles wat jou lewe benoud gemaak het. En dit bring ‘n verbintenis aan al die ryk gawes wat altyd nog om jou was. Maar wat jy nie deur die grootte van jou geswolle hoof kon raaksien nie.
In spiritualiteit word hierdie verborge dinamiek verligting genoem.
No comments:
Post a Comment
Note: Only a member of this blog may post a comment.