'n
Mens kan wildweg sommer net die geestelike lewe opsoek. Maar dan kan 'n mens
dikwels nie regtig sterker groei nie.
Deur
geestelike oefeninge leer 'n mens jouself beter ken. En deur self-kennis kan 'n
mens wonderlike skatte ontdek.
Maar:
Self-kennis val nie sommer uit die lug nie. Soms, byvoorbeeld, besef 'n mens
dat jou liggaam jou geestelike lewe kniehalter. Dan weet jy: dit is tyd om te
vas, om dinge van die liggaam op te gee wat jou lewe belas en wat afstand
tussen jou en innerlike vervulling skep. Jy kyk na jouself, veral na jou
liggaam, na die lyf waarmee God jou geskape het en wat jou verhouding met God
beïnvloed. En jy weet, geestelike groei sal kom as jy jou liggaam kan ligter
maak, kan reinig, kan oopmaak.
Soms,
weer, weet jy: innerlik is jou lewe 'n stuk rommel. Daar is te veel lawaai,
geluide, gedagtes, afleidings. Dit is tyd om innerlik op te ruim, skoon te maak
om duideliker te kan hoor wat God vra en wat belangriker is as al die
alledaagse rumoer in jou. Dan word dit 'n tyd van afsondering, van alleen-wees.
'n Tyd van onttrekking, ook van gebed.
Of
daar kom ook 'n oomblik dat 'n mens na jouself kyk en iets anders raaksien: jy
merk die besig-wees, die oordadige program, die self-gerigtheid, die gejaag -
en alles staan in die teken van 'n fokus op jouself. En, wanneer 'n mens eerlik is, besef jy dat
jy jouself hiervoor moet regoefen. Dan kies jy vir die geestelike oefening van
gasvryheid: uitreik en omgee vir ander. Tyd maak vir jou vriende, familie,
kennisse, bure, medewerkers en 'n openheid teenoor hulle wat jou wegneem van
die oordadige besig-wees met jouself.
Daar
is dus nie altyd net een spesifieke geestelike oefening vir een persoon nie. 'n
Mens is kompleks, met vele kante en baie behoeftes. Om geestelik gesond te bly
moet 'n mens in jouself kan kyk en in die lig daarvan nadink oor die weg
vorentoe.
Dit
beteken nie dat 'n mens nou maar net altyd lekker dinge uitkies of maklike oplossings
kry nie. Wanneer die dagprogram veeleisend is en die innerlike rumoer groot is,
stap 'n mens nie sommer daaruit of loop 'n mens ook nie sommer net in die
stilte in nie.
Dit
vra harde besluite, toewyding, volharding en vasbyt.
Geestelike
oefeninge is presies dit: oefeninge. Nie vakansie nie. Ook nie sommer net doen
nie.
Vanuit
'n innerlike ondersoek en 'n eerlike self-kennis kom daar die vasbyt en
inspanning.
Die
einde daarvan is vol vrug: om in God se teenwoordigheid te kan wees.