Die
God van genade word soms met die God van wraak gekontrasteer.
Wanneer
mense aan God se wraak dink, redeneer hulle dat God mense vir hul oortredings
en sonde straf.
Wanneer
mense aan die God van genade dink, dan redeneer hulle dat God die wil om te straf
oorkom en besluit om mense nie te straf nie.
Maar
hoe oorkom God die wil om te straf?
Die
argument lui nou dat dit gebeur wanneer iemand pyn ly of sterf. Christus het in
mense se plek gesterf, word geleer. En op grond van wat Christus gedoen het, word
vele ander mense wat self nie pyn ervaar het of gesterf het nie, vrygespreek.
God
word dus deur pyn en lyding van iemand beweeg tot vergifnis.
Die
groot versoeningsdaad van God word in die gedagtes van hierdie mense verbind
met die kruisdood van Jesus as die pyn wat Hy ly ter wille van ander.
Die Evangelie is veel, veel wyer en grootser:
in Christus ontdek ‘n mens nie ‘n God wat soek vir iemand wat kan sterf of ly
sodat ander gered kan word nie.
Christus
is in die eerste plek die beliggaming van God se liefde: in Hom herken ‘n mens
wie God is. God verlang ‘n verhouding met mense. Dit is deur die hele
heilsgeskiedenis die geval. God van Adam, die aartsvaders en die volk Israel is
‘n God wat uitreik, wat nie wil hê dat mense moet sterf nie en wat vra dat
hulle met God ‘n vertrouensverhouding sal aanknoop. God gee vir hulle die volle
lewe, die paradys, die liefde, die wysheid, ‘n aarde om te bewoon. God gee om.
Maar,
ironies, mense faal om aan God se drome vir hulle te voldoen. Hulle kies teen
die lewe en gee met hul eiesinnigheid die paradys prys.
En
so gee God ook vir Christus as die nuwe aanbod van goedheid, genade, ontferming
en die volle lewe.
God
gaan nie transaksies met mense aan nie: as julle dit doen, sal ek dat vir julle
doen.
Keer
op keer ontdek ons die merkwaardige: God wat, soos die vader van die verlore
seun, wag op mense om tot insig te kom oor hul vaderhuis.
Ridderbos
het al dekades gelede dit uitgewerk toe hy beklemtoon het dat die versoening
nie ‘n teenprestasie van die mens teenoor God was nie. Die versoening het uit
God se hart opgekom, gedryf deur God en geskenk as vrye genade aan die mens.
Dit
is ‘n sonde om te dink dat God sit en wat dat iemand moet presteer, veral deur dan
ook deur pyn te ly of te sterf, sodat ‘n klomp ander mense aanspraak kan maak
op genade. So goedkoop is God se genade nie. Duur, duur is die genade gebore in
God se ontmeetbare liefde en vloei dit uit die Vaderhart as ‘n onvoorwaardelike
geskenk.
God
reken iemand nie die kwaad toe wanneer mense God se liefde herken en hulle eie
maak. Wie dit nie doen nie, leef onder God se wraak as mense sonder liefde.