Dit, van alle plekke, was sy eerste buite-besoek. Geen staatsbesoek aan ‘n voorste land en ‘n magtige wêreldleier nie.
Die buitelandse media wys hom waar hy kaalvoet, maer, onbekende en arm vlugtelinge elkeen met die hand groet.
Die kerkleier uit Rome laat ‘n klompie mense in hul kele stik. Die verontwaardiging is duidelik: hy is, sê die televisie-kommentator, vir vele te “gewoon,” te min kerkvorstelik. Hy meng met die uitskot van die samelewing.
Al hoe meer word duidelik dat die pous nie verniet die naam Franciscus gekies het nie.
Franciscus van Assisi, die een wat armoede as geloofsreis gekies het.
Hierdie Franciscus bly ook nie in die amptelike pouslike kamers van prag en praal nie, hoor ons ‘n ruk terug. Hy het sy intrek in ‘n gewone klooster geneem.
Hy het nie die kerkvolk hoog-hoog aangespreek toe hy op die balkon na sy verkiesing verskyn het nie, maar met hulle Spaans gepraat en as ‘n gewone mens vir hulle gegroet.
Wat sê die pous vir die arme vlugtelinge op Lampedosi, die piepklein eilandjie wat aan Italië behoort - daar waar hulle as ongure en onwelkom indringers verdra word?
Die wêreld ignoreer armoede, sê hy met ‘n strak gesig. Ons het ons onbetrokkenheid geglobaliseer. Mense geen nie meer om vir hulle wat in nood is nie. Mense soek eerder na die “mooi” dinge wat, blyk dit dan, niks anders as ‘n seepbel is nie. Dit lyk mooi en blink, maar beteken niks nie.
Ek sal nooit weer dieselfde na ‘n seepbel kyk nie.
Die pous se kritiek op wêreldleiers wat ‘n sosiale sisteem aan die gang hou waarin armes al hoe meer agterbly en ontberings lei, is vlymskerp. So vertel die media.
Die laaste deel van die media-dekking oor die Nederlandse joernaal-program meld hoedat die pous onverskrokke besig is om die korrupsie in die Vatikaanse bank vas te vat. Stil-stil vat hy daardie magtige skelms aan vir wie die vorige pous blykbaar (te) versigtig was.
Franciskus het, toe hy die operasie skoonmaak begin het, opgemerk dat Petrus nie ‘n bankrekening gehad het nie.
Hoe logies is dit alles: die kerk reik uit na die armes. En die kerk gaar nie rykdomme op nie. Die kerk se besittings word gedeel, nie in banke opgegaar nie.
Dit is alles so Bybels, so evanglies, so aangrypend. Die franciskaanse ideale is immers direk, naïewelik op die lewe van Jesus geskoei.
Franciskus, die vader van die armes, die vriend van die voëls en die swerwer sonder dak, het immers opgemerk dat Jesus niks besit het nie. Waarom sou hy dan iets moet besit? En terstond het hy, rykmanskind, alles weggegee.
Daar is min wat daardie dapperheid het. Die wêreld is vol Ryk Jongmanne.
Spiritualiteit kan ‘n mens diep aanraak en inspireer.