Geestelike luiheid is ons almal se lot. In
geestelike sake loop dinge maar soos in die gewone lewe: ‘n mens val in by al
die dinge wat oor jou pad kom. Dit gaan nie altyd so maklik om vas te vat en ‘n
verskil te maak nie.
Luiheid is die duiwel se oorkussing, lui
die tradisionele wysheid.
Dit is ‘n uitdaging om die houvas van
luiheid op ‘n mens se lewe te herken.
Moenie fout maak nie. So sit-sit in ons
leunstoele het ons baie om te sê. Een van die opvallende trekke in die
Christendom is die klem wat daar op die “regte” leer val en wat almal alles
daarvoor opdis. Elke kerkgenootskap vertel graag dat hulle die naaste aan die
“waarheid” is wat ‘n mens kan kry. En elke tweede mens sal vir jou vertel wat
jy nie behoort te glo nie en wie die antichris is.
As ‘n mens so ‘n lysie van al hierdie
waarhede maak, wonder ‘n mens wie sal ooit kan byhou. Om elke hoek en draai sit
daar groot geleerdheid met vele argumente om eindelose insigte te verdedig.
Dit is vir mense en kerke belangrik om
ortodoks te wees. Dan val die klem op die inhoud van geloof.
So sit ons en dink en praat in al ons
lekker gemaklike leunstoele.
Aan die ander kant weet ons ook goed wat
die regte dinge is om te doen. Mense beklemtoon dikwels dat dit belangrik is om
‘n mens se geloof uit te leef. Sonder werke is geloof leeg – so word binne vele
Protestantse kringe daarop gewys dat geloof nie maar net uit sekere dinge
bestaan wat ‘n mens moet bely nie.
Daarom kry jy by ander gelowiges nou ‘n
ywerige en dwingende lewe om “goed” te doen. Ons praat in sulke gevalle van
ortopraksie. Daar is vele groepe en geloofsgemeenskappe wat aandag aan die geloofservaring
gee. Vir hulle gaan dit om geloof prakties uit te leef. In sommige gevalle wil
hulle nie veel aandag aan allerhande gepratery oor geloof, argumente oor reg en
verkeerd, spekulasies oor die waarheid tee nie. Hulle dink die praktyk is wat werklik
saak maak. Dit is ‘n vorm van ortopraksie: om as gelowige die regte dinge te
doen.
Spiritualiteit as beleefde geloof wil nie
kompartementeel dink nie. Ortodoksie en ortopraksie is op hul eie maar albei
onvervullend.
Spiritualiteit wil hierdie twee sake eerder
bymekaar hou. Geloof is transformerend: dit omvorm ‘n mens. Wie deur God
aangeraak word, se lewe sal nooit weer dieselfde dink of lyk of doen nie.
Geloof is dus nie net ‘n saak van die brein
nie, maar ook van die hart en voete.
Trouens, spiritualiteit beklemtoon dat ‘n
mens dikwels deur dinge te doen, agterkom dat wat jy glo nie altyd so goed lyk
nie. Dink maar Paulus wat so heftig teen Jesus geglo het en toe uit sy ywerige
aktivisme in die Naam van God verlos is toe hy die goddelike visioen op die pad
van Damaskus ontvang het. Of dink maar aan die eerste Christene wat nie met die
heidene wou meng nie. Toe ontdek hulle uit hul sendingwerk dat heidene voor God
gelyk is.
In spiritualiteit word beklemtoon dat ‘n
mens se geloofsreis ‘n proses is. Dit loop van oomblik tot oomblik, duur van
dag tot dag en maak jaar na jaar sy pad deur die wêreld. Algaande ontdek ‘n
mens nuwe dinge oor God en algaande verander dit jou lewe.
Maar hoe lyk die “proses”? Dit help baie om
hieroor na te dink, want dit bring besondere rykdomme na vore.
Die proses is gevul met spirituele
oefeninge. Soos ‘n kunstenaar wat skilder allerhande tegnieke, metode’s,
instrumente, materiale en doeke gebruik, so gaan dit ook met ‘n geestelike
reisiger. ‘n Mens moet jou op verskillende maniere inoefen in die lewenskuns.
Spirituele praktyke is nie ‘n vorm van
ortopraksie nie en staan ook nie teenoor ortodoksie nie. In Spiritualiteit is
daar ‘n kombinasie tussen ‘n mens se ervaring van ‘n mens se geloofsverhouding
met God en die praktiese inoefening in daardie geloofsverhouding. Mense het
ervaar dat hulle deur God aangeraak is. Hulle besef dit, voel dit en beleef
dit. Maar hulle wil dieper ingroei in die verhouding met God. En daarvoor is
daar geestelike oefeninge.
Jesus het die waarde hiervan ingesien: hy
het die paasfees oorgeneem en dit verbind met ‘n laaste gedenkmaal wat die
dissipels herinner het aan sy diens vir die mensdom: soos hy sy lewe gegee het,
alles op die spel geplaas het ter wille van God en mense, so moes hulle leer
dien. Telkens weer, elke keer, moes hulle hieroor nadink. Onthou die nagmaal,
die laaste maal, die maal van die voetewassery.
Dit bly een van die groot geestelike
oefeninge van alle tye: soos in Egipte, soos in Jerusalem, soos in alle stede
en dorpe en plekke: so sal ‘n mens jou bly inoefen in God se bevrydingsstryd - om nie maar net sekere dinge te glo of sekere dinge te doen nie, maar om steeds weer nader aan God te kom.
Maar dit is een van baie oefeninge. Die proses van die geestelike reis is ontsaglik ryk aan vele maniere om 'n mens in te oefen in die verhouding met God en om nie in geestelike luiheid te bly vasval nie. Hieroor nog meer.