Saturday, July 06, 2013

Inoefening in die verhouding met God. Oor spirituele oefeninge.






Onlangs by ‘n Rooms-Katolieke mis staan ek agter in die kerk en kyk hoe mense die ritueel beleef. Aan die einde van die diens stap mense uit die kerk, neem water uit die wywaterbak (stoup), die groot waterbak by die voordeur van die kerk en slaan ‘n kruis daarmee op hul bors.

Dit is ‘n eeu-oue ritueel wat met “heilige” water gedoen word. Dit word veral gedoen wanneer ‘n mens die kerk ingaan as ‘n teken van die bevestiging van die doop en as ‘n gebed om reiniging.

Protestante ken nie die ritueel nie en het nie so ‘n waterbak nie. In die tyd om die hervorming is vele van die wywaterbakke uit kerke gegooi omdat dit met bygeloof verbind is. (Die een hierbo wat in die sewentiende eeu uit 'n Engelse kerk gegooi is, is deur die koster in 'n hoenderhok herontdek en weer in die kerk teruggesit.)

Maar dit bly ‘n wyd toegepaste oefening in die Rooms-Katolieke tradisies.

Daar is ‘n rykheid aan spirituele praktyke wat ‘n mens dikwels nie raaksien nie.

Kyk maar na al die dinge wat ‘n mens op ‘n gereelde, tipiese manier doen om uiting aan geloof te gee.

Daar is die baie bekende “groter” praktyke wat ‘n mens saam met ander doen. Saam met ander woon ‘n mens kerkdienste en bidure by. Daar is die sakramente van die doop en die nagmaal. Selfs mense wat nie baie kerkvas is nie, vind dit belangrik om in die kerk te trou. Saam met ander neem ‘n mens afskeid van geliefdes in die kerk by ‘n begrafnisdiens wat in die begraafplaas met ‘n begrafnisformulier afgesluit word. Vir vele mense is dit belangrik om saam met ander liefdesdiens te doen waarin ander wat tekort het of swaar kry, ondersteun word.

Dan is daar die minder openbare “kleiner” praktyke wat ‘n mens in kleiner groep doen. Saam met die gesin sê ‘n mens ‘n gebed voor en na die ete. Saam met die gesin sal ‘n mens stiltetyd hou of om die siekbed vir iemand se beterskap bid. 

Daar is die meer “persoonlike” praktyke wat ‘n mens op jou eie doen. Mense hou stiltetyd, lees hulle bybel en doen selfs bybelstudie op hul eie. Hulle bid gereeld. 

Hierdie gewoontes en praktyke kom van ver af. Dit word van geslag tot geslag oorgedra en lê diep in die gene van mense. Só wil mense God dien, hulle geloof bely en hul Christenskap uitleef saam met ander, hul gesinne en op hul eie.

Soms word vertel dat dit mense se manier is om te “getuig” van hul geloof.

Dit is sekerlik waar dat geestelike praktyke ‘n manier is waarop die lewende, dinamiese aard van Christenskap na buite uitgeleef word.

Maar dit is lank nie die belangrikste rede vir spirituele praktyke nie. ‘n Mens doen sulke dinge nie om gesien te word nie.

Spirituele praktyke doen ‘n mens omdat ‘n mens in verhouding met God is en deur die Gees van God gelei en geïnspireer word om hierdie geloof op ‘n bewuste manier te struktureer.

‘n Mens “het” nie sommer net ‘n verhouding nie. ‘n Mens versorg die verhouding en gee uitdrukking daaraan juis om die verhouding mees sinvol te kan beleef. Spirituele praktyke het die ryk gevolg om ‘n mens se verhouding met God sterker te maak.

‘n Spirituele oefening is iets wat ‘n mens by herhaling en as ‘n gewoonte doen om uitdrukking aan geloof as ‘n verhouding met God te gee.

Daar is egter een ding wat ‘n geestelike oefening van geestelike aktiwiteite onderskei: ‘n Geestelike oefening is iets waaraan ‘n mens bewustelik werk. ‘n Mens weet byvoorbeeld dat sonder water ‘n plantjie nie sal groei nie – net soos wat ‘n mens se geloof vaal bly as dit nie deur bewustelike inspanning gevoed en versterk word nie. Daarom is geestelike oefening ‘n baie kreatiewe saak. Terwyl Rooms-Katolieke hul heilige waterbakke het, het Protestante dit glad nie. Van kerk tot kerk, plek tot plek en van mens tot mens ontwikkel geestelike praktyke in vele vorme. Dit kan geloofsversterkend wees om daaroor in meer diepte na te dink. In Spiritualiteit is dit ‘n groot en belangrike tema. 

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive