My
vriend is nie normaalweg 'n singerige soort nie. En hy is ook nie iemand wat
baie van musiek maak nie, al geniet hy kerkliedere en al is hy 'n gereelde
kerkganger.
En
tog: Hy vertel my dat hy deesdae dikwels drome het waarin hy in 'n plek is waar
hy stil aan die sing is.
Ek
kan sien hy wil graag hieroor praat. Sy hart is vol.
Dit
is liedere wat hy as kind in die kerk gesing het, verduidelik hy. Keer op keer
en by herhaling van Sondag tot Sondag het hy van kindsbeen die liedere geleer
totdat hy hulle meestal uit sy kop kon opsê.
Toe
het daar nuwe liedere in die kerk gekom. En daardie liedere het hy ook goed
leer ken. Trouens, in vele opsigte was
daardie melodieë en woorde soms selfs mooier en makliker om te leer.
Maar
nooit het hy hierdie nuwe liedereskat so naby aan hom ervaar soos die liedere wat hy uit sy
kinderdae leer ken het nie.
Met
die jare het die woorde van die ouer liedere bietjie vervaag en kon hy hulle nie
altyd so maklik onthou en sing nie. Die nuwes wat meer gesing is, het die ou
liedere bietjie in die verlede laat wegraak.
En
toe kom daar onlanks 'n vaal tyd in sy lewe: Hy het ewe skielik 'n tyd beleef
wat sy normale lewe ontwrig het, maar sonder dat dit hom werklik onder druk
geplaas het. Dit het hom egter leeg laat voel.
Dit
was asof alles 'n bietjie stil geword het. Hy moes bestek opneem, nadink oor
watter rigting sy geestelike reis moes loop. Sy lewe het in 'n sekere sin 'n
kruispunt bereik.
Toe,
tot sy verbasing, ervaar hy hoedat hy in die tyd in sy stiltetyd weer begin
gesange en liedere sing. Dit is asof iets hom laat besef het watter troos en inspirasie uit sy kinderdae van hom wegglip het.
Saans voordat hy gaan slaap het, het hy probeer om van
die liedere te sing wat vir hom baie beteken het. Dit is asof daardie sang die
goeie, groen tye van sy geloof weer by hom wakkergemaak het en vir hom die sin
van sy geloof weer laat beleef het.
Dit
het hom rustiger gemaak, al het dit gesukkel om die woorde te onthou. Die
stuk-stuk singery het hom herinner aan die goedheid van God en die rykheid van
sy geloof. En die dorre oomblikke in sy lewe het hanteerbaarder geword, al het
dit 'n lang reis geraak wat hy met baie vasbyt moes leer hanteer.
Dit
het dus nie altyd so maklik gegaan nie, want hy het maar gesukkel om die woorde
te onthou verby die enkele frase of twee wat soms in sy geheue vasgesteek het.
Maar wat hy graag wou klaarsing, maar nie kon nie.
En
toe, een aand, vertel hy my, in sy diepste slaap droom hy dat hy 'n lied sing
uit die ou gesangboek. Dit was nie juis 'n lied wat vir hom buitengewoon
spesiaal was nie. Maar om een of ander rede het die woorde in sy drome by hom
opgekom.
Dit
het gesukkel. Hy kon van die woorde onthou. Maar dan het hy weer vasgehaak en
kon nie verder onthou nie.
Maar
wat hom opgeval het, was iets heeltemals anders: terwyl hy gesukkel het, was
daar skielik 'n gemeente wat saam met hom gesing het.
Elke
keer as hy vashaak om die woorde te onthou, het hy die woorde duidelik en
helder by die gemeente gehoor. En dan het hy hulle herken as die regte woorde.
Dit
was, vreemd, asof daar van buite homself 'n ingryping gekom het: dit was asof
iemand hom nie wou alleen laat, wou laat sukkel nie en vir hom die woorde aangegee
het om te onthou en te sing.
En
so, saam met die gemeente het hulle volmaak die ou gesagvers presies reg gesing.
In
daardie oomblik, sê hy, het hy besef, hoe 'n mens soms nie weet nie. Soms is
daar die onuitspreeklike sugtinge. En dan, onpeilbaar, verby alle verstaan, kom
daar die Aanraking. Verborge, maar volmaak is hierdie Aanraking. En daarmee kom die nabyheid,
onverklaarbaar, genadiglik, maar as volledige vreugde.