Wednesday, January 13, 2010

Uncle Tom's Cabin en die Kwakers - oor die kontemplatiewe en die morele

Ek het in die vakansie-tyd “Uncle Tom’s Cabin” deur Harriet Stowe gelees. Mense dink Thomas A Kempis se Navolging is die gewildste boek naas die Bybel, maar baie beweer dat die boek van Stowe oor 'n getroue slaaf die mees gelese boek in Amerika naas die Bybel in die negentiende eeu was.

Dit bly ‘n merkwaardige boek wat deur historici dikwels genoem word as ‘n mylpaal in die stryd om die vrystelling van slawe. Blykbaar het Abraham Lincoln, wat Stowe ontmoet het, glo gesê: “So dis die vroutjie wie se boek ‘n oorlog begin het” en daarmee verwys het na die oortuiging dat die boek 'n oorsaak of 'n groot faktor in die Amerikaans Burger-oorlog was.

Dit was 'n hoogs merkwaardige boek, wat 'n gemeenskap vir maande lank in oproer gehad het en mense tot diepe nadenke oor 'n onmenslike sisteem van slawerny gebring het. Dit het my nogal aan Poppie Nongena van Elsa Joubert laat dink.

Ek het wisselende emosies gehad toe ek die boek gelees het. Toe ek hom optel, nadat ek vir jare gelees het hoe huidige lesers die boek se paternalistiese en stereotipiese beeld van Afro-Amerikaanse slawe met mening verwerp, was ek vol argwaan en vooroordele. Mense is vandag baie ongelukkig hoe neerbuigend die boek eintlik oor swartmense praat, al is dit so ontfermend oor hulle. Hulle praat soos baie van die kritici wat deesdae kwaai is oor baie van ons ouers wat gepraat het oor getroue bediendes as “ons eie ou aia” wat die gesin so “getrou” gedien het, maar wat volgens die kritici intussen hierdie bediendes uitgebuit het deur vir hulle ‘n minimale loon te betaal en ‘n minderwaardige lewensstyl te laat voer.

En terwyl ek die boek gelees het, was ek soms liederlik afgesit deur sekere van die uitsprake in die boek. Daar is darem gedeeltes in wat lelik meerderwaardig en neerbuigend is.

En tog is daar besonder roerende dele en beskrywings in die boek. Dit is geen wonder dat die boek soveel opslae in die negentiende eeuse Amerika gemaak het. Die behandeling van slawe, beskryf aan die hand van werklike verhale, is skrikwekkend – en dit is moeilik om te dink dis dinge wat skaars twee eeue gelede gebeur het.

Maar wat my ook opval is hoe godsdiens gedurig in die boek na vore kom en ‘n sterk bron van transformasie word. Dit is aangrypend om te sien hoedat spiritualiteit in die boek aan die orde gestel word (o.a. deur die herhaalde verwysings na Metodistiese lieders). Maar godsdiens het nie net die onderdruktes innerlik sterk gemaak nie. Dit het onreg heel prakties beveg. Een gedeelte van die boek gaan oor die Kwakers in Amerika wat ‘n slaaf help om te ontsnap van sy agtervolgers. Die boeiende is egter dat hulle een van die agtervolgers en jagters van die slawe, ‘n gewetenloses skurk wat ernstig gewond word, ook in hulle gemeenskap opneem en versorg totdat hy genees is. As gevolg van die Kwakers se ingryping, kon die slawe hul vryheid vind, maar het die gewetenlose skurk verander sodat hy nie meer slawe gejag het nie. So genees hul toewyding aan God en aan ander nie net die wat veronreg word nie, maar transformeer dit ook die een wat die onreg pleeg.

Die Kwakers, of die Godsdienstige Gemeenskap van Vriende, is by uitstek ‘n mistieke groep. George Fox (1624-1691) was oortuig, skryf Sheldrake, van ‘n oneindige oseaan van lig en liefde in ‘n mens se innerlike wat jou duisternis oorwin. In elke mens is daar die teenwoordigheid van die goddelike Lig wat vir ‘n mens durende, innerlike vrede laat beleef. ‘n Mens ervaar God direk en dit vra van ‘n mens persoonlike heiligheid. Maar naas hierdie innerlike dimensie het Fox ook ‘n eenvoudige, gedissiplineerde en etiese lewenswyse beklemtoon. Byeenkomste vind in stilte plaas waar almal in rustigheid in die teenwoordigheid van God is. Daar is ook geen meerdere leiers nie – almal is op gelyke vlak in die teenwoordigheid van God. Maar vir Fox is dit veral die uitwerking van hierdie mistieke band met God as die Lig wat belangrik is: Kwaker-spiritualiteit is “intens kontemplatief” skryf Sheldrake, maar terselfdertyd ook hoogs eties. Vandaar die groot strewe na vrede en sosiale geregtigheid. Dit is dus heel duidelik deel van die Kwaker-denke om slawe te beskerm, maar om ook hul vyande en agtervolgers te versorg as hulle in nood is. Dit is ‘n wonderlike voorbeeld van die trefkrag van mistiek – nie net na binne nie, maar ook na buite.

Die Kwakers het ‘n sentrum in Kaapstad wat groot werk op die gebied van vrede-navorsing doen. Hulle reputasie as hoogs etiese, maar ook kontemplatiewe mense, is wyd bekend. Teenoor die Puriteine wou hulle nie net moralisties wees nie, maar ook aan die dieper, kontemplatiewe dimensies van godsdiens vashou. By hulle kry ons dus twee opvallende pole – die kontemplatiewe en die morele. Maar die morele kom by uitstek uit in die soek na vrede en die oplossing van konflik.

Ek stel belang in hierdie beweging, vandaar my werk oor ‘n Spiritualiteit van Vrede en my artikels wat ek nou al daaroor geskryf het. Maar ek stel ook belang omdat konflik so geïnstitusionaliseerd geraak het in ons kerke en onder beskaafde mense. ‘n Mens hoor elke dag van bittere verdeeldheid en stryd onder gelowige mense onderling. Ons smag na vrede, maar om een of ander rede ontbreek vrede op groot skaal in ons lewens.

Ek is geroer deur Uncle Tom’s Cabin. As ek al die slegte dele in die boek uitsny, bly daar genoeg oor om vir my verder te oortuig dat die Evangelie, hoe krom en skeef ook al onder mense beleef, besonder kragtig is om onreg te bestry. Waar mense vreesloos, soos Tom, aan die liefde vashou en daarom die onreg afwys, is die gevolge onvoorstelbaar kragtig. Dit was ‘n wonderlike boek om oor die Kerstyd te gelees het – die tyd van vrede.

Nie dat alles nou so honkie-donkie dorie is nie. Daar is ook die dreigende, donker kant aan die geskiedenis van die Kwakers. Hulle was nie altyd gerespekteer en bemind nie. Net soos Stowe woedende reaksies van Christene uit die Suide van Amerika oor Uncle Tom’s Capin gekry het om hul groot slawe-getalle uit die Bybel te regverdig, net so het die Kwakers deur die eeue heen bittere teenkanting en veragting op die lyf geloop. Saam met die Mennoniete vorm hulle die eerste Vredeskerke wat konsekwent geweier het om geweld op enige manier te aanvaar en wat bereid was om eerder tronk toe te gaan as om aan oorlog deel te neem – en baie het daaroor tronk toe gegaan. Ek sou graag met Kwakers en Mennoniete oor Avatar en al sy geweld wou gepraat het (sien vorige blog).

Trouens, ons sal nog die dag beleef dat hulle sieninge wat deur die geskiedenis as afwykend en sektaries en selfs gevaarlik beskou is, in die hoofstroom van die Christendom opgeneem sal word.

Lees die volgende boeiende opmerkings oor die Kwakers by http://www.enotes.com/uncle-toms-cabin/q-and-a/discuss-role-played-by-quakers-abolitionist-76211

The general and the specific overlap in this instance. Beecher Stowe has provided readers with some pertinent insight into the life of the Quakers and why she chose to incoorporate them into the text. In 1853, one year after Uncle Tom's Cabin was published, she released the Key to Uncle Tom's Cabin. We can spare ourselves historical research and go straight to the text ( electronically available, see link below).

Regarding the Quakers she writes the following:

The writer's sketch of the character of this people has been drawn from personal observation. There are several settlements of these people in Ohio; and the manner of living, the tone of sentiment, and the habits of life, as represented in her book, are not at all exaggerated. These settlements have always been refuges for the oppressed and outlawed slave. The character of Rachel Halliday was a real one, but she has passed away to her reward. Simeon Halliday, calmly risking fine and imprisonment for his love to God and man, has had in this country many counterparts among the sect. The writer had in mind, at the time of writing, the scenes in the trial of John Garret, of Wilmington, Delaware, for the crime of hiring a hack to convey a mother and four children from Newcastle jail to Wilmington, a distance of five miles.

Beecher Stowe, of course, was originally from Cincinnati, Ohio where her father was a preacher. Her memories of these specific incidents are a good example of how the life around her entered her writings.

In general, the Quakers were the first whites to denounce slavery in the United States. Here is an excerpt from historian Christopher Densmore read at a Quaker meeting in New York ( available electronically at SUNY Buffalo Special Collections):

Quakers were forbid any act that acknowledged the right of slavery. Quaker meetings in western New York advised Friends not to use any product-- no cotton cloth, no white sugar-- made with the unpaid labor of slaves. Good Quakers used maple sugar in their coffee. When the government passed laws to make aiding fugitive slaves a crime, the Friends' quarterly meeting in Western New York [Farmington] declared that 'any acknowledgement of obligations to such laws is a violation of our testimony against slavery.'

Sources:

http://ublib.buffalo.edu/archives/exhibits/old/urr/Quaker...

http://www.iath.virginia.edu/utc/uncletom/key/keyI13t.html

Tuesday, January 12, 2010

Fliekpiek: Avatar

My gepiekte fliek van die week was Avatar. Ons gaan kyk dit in ‘n volgepakte fliek waarvan die lugreëling nie werk nie – en dit op ‘n helshete somersaand op Stellenbosch. Skelm-skelm gee hulle ook nie vir ons die drie-dimensionele bril nie. En ons sit naby ‘n luidspreker wat ‘n tsunami na ‘n kabbelende fonteintjie sal laat klink.

Ek gaan sit in die fliek met ‘n verwagting, want almal prys dit hoog aan. En iewers is dit ook genre wat my meer as normaalweg interesseer: ‘n apokaliptiese fliek waarin die bose klopmp die onskuldige kinders van die natuur se plek wil inpalm omdat dit op die duurste moontlike mineraalbron geleë is en wat lei tot ‘n apokaliptiese einde van epidermiese omvang, soos daardie sepie-oom dit sou stel. Dit is die eeu-oue stryd tussen goed en kwaad wat hom in die fliek afspeel. Uiteindelik dan het dit ook ‘n gepaste en afgeronde apokaliptiese einde as die Messias en die Messiasin (dis ‘n mooi paartjie en vrouens fight in hierdie fliek op gelyke voet met enige man) uiteindelik die helde word en die bose uitroei.

Ek word nie in my verwagting veel teleurgestel nie. Nie vir ‘n oomblik sit en wonder jy oor wat jy môre gaan doen nie. Daar is nie tyd vir dwaalgedagtes nie. Jy word opgezyke, soos die jongetjies sou sê, deur die wilde aanslag van die fliek op jou sinne en gemoed. Ek gee aan die fliek ‘n 10 vir tegnologie. Dit is asemrowende tonele wat die skeppers van die prent aanbied. Dit is Amerikaanse entertainment op sy beste. Reuseskepe, pragtige woudtonele, helse ontploffings, ongelooflike vegtonele en ryk, vol kleure bied baie vir die oog. Die tonele van die hangende berge is eenvoudig die toppunt van visuele vindingrykheid en skeppingskrag.

Wat my interesseer in die fliek, is die ekologiese motiewe daarin. Die baddies ontsien nie die natuur nie. Hulle bombardeer die reusagtige boom in die sakrale ruimte van die goeie woudmense sonder om maar net ‘n sekonde lank eers die vinger op die sneller te laat weifel. Die woudmense, of “the people,” is sagte mense. Hulle leef in harmonie met alles om hulle. Hulle konnekteer met die “energie” van die “natuur.”

Ek hou daarvan as boeke en flieke sensitiwiteit vir die natuur bevorder. En dit is duidelik dat sensitiwiteit vir die natuur in die populêre kultuur sterk begin deurbreek. Die fliek kry dus ‘n 10 vir sy ekologiese boodskap.


Maar hierdie is nie 'n soen-en-sug verhaal oor die mooiheid van die natuur nie, hoewel daar die allermooiste natuur-tonele is. En dit is ook nie 'n vroom verhaal oor sagte, liewe mensies nie. Hier word sleg baklei, in hierdie Avatar - en nie net deur die bose ouens nie. As die baddies in die laaste tonele afsit om ook die sakrale ruimte van die woudmense op te blaas, breek alle hel los. Want dan het die woudmense genoeg gehad. En hulle slaan terug. Wilde gevegte breek los tussen die goeies en die slegtes. En, mirabile dictu, die diere van die natuur sluit in massas aan by die woudmense om die gevaar af te weer. Die natuur self slaan met 'n lekker hou terug.

Ek sit en verbaas myself oor hoe die oog om oog benadering, die jus talionis, die mees primitiewe genotsintuie in my aanspreek. Elke keer as 'n baddy wreed om die lewe gebring word, voel 'n mens om in wilde applous uit te bars.

Ek kyk na die fliek met meer as gewone belangstelling. Apokaliptiese literatuur, soos die boek Openbaring, is gelaai met geweld. Die oorloë tussen die magte van die goeie en die kwaad is intens, skrikwekkend en geweldig.

Natuurlik weet ons vandag dat dit metaforiese taal is wat bedoel is om mense te waarsku teen die intens destruktiewe karakter van die kwaad en die geestelike dissipline wat nodig is om die bose te oorwin. Maar tog kom ek nie weg van die skisofrenie in hierdie fliek nie: die woudmense is die onskuldiges, die wat met die natuur energie uitruil en volledige mense is. Die bose ouens is gierig, konkelrig, onsensitief en gewelddadig. Maar op die ou end is ook die woudmense bloeddorstige bakleiers wat in apokaliptiese geweldstonele terugslaan. Hulle word net so veglustig en wreed soos hul teenstanders.

Ook hierdie fliek is sekerlik metafories bedoel. En dit is duidelik ingestel op vermaak. ‘n Mens word visueel en ouditief oorweldig. Al jou sinne word aangespreek vir ‘n aand van top vermaak. Daarom moet 'n mens seker nie te veel nuanses verwag nie.

Maar nêrens in die fliek is daar vir een enkele oomblik ‘n ernstige woord of gebaar teen geweld op te merk nie.

Kan ‘n mens nog bekostig om deur soveel geweld “vermaak” te word? Watter werklikhede word deur sulke hoogs populere geweldstaal en tonele geskep?

Vir die manier waarop hierdie fliek geweld op ‘n ongemotiveerde en vanselfsprekende manier deel laat bly van die populêre kultuur, kry dit ‘n 0 uit 10 vir moraliteit.

Monday, January 11, 2010

Ons kan God op baie maniere dien, maar ons kan nie sonder God bestaan nie. Oor Bede Griffiths

Reeds vroeg in my kennismaking met Spiritualiteit het ek van Bede Griffiths gehoor. Een van my kollegas het ‘n boek oor hom geskryf en gereeld kontak met hom opgesoek. Gebore in 1906, sterf hy in 1993. Hy was ‘n vriend van C.S.Lewis.

Griffiths is veral bekend vanweë sy jarelange verblyf in Indië waar vele mense hom opgesoek het. Juis oor sy besondere leefstyl in die land het hy oor die aardbol beken geraak onder studente van spiritualiteit en onder kontemplatiewes.

Hy het vroeg reeds die heilige geskrifte van die Hindoes gelees. Dit het weerklank by hom gevind omdat dit ‘n kontemplatiewe houding in godsdiens beklemtoon het. Vir hom as Westerling was dit boeiend, want hy het geleef in ‘n tyd dat godsdiens ‘n intellektuele kwessie was met groot klem op die verstand. Hy het daar bewus geraak van die eng, rasionele en nie-kontemplatiewe aard van godsdiens in die Weste.

Terselfdertyd het die geweldloosheid vir hom in sterk kontras gestaan met die aanvaarding en selfs goedpraat van geweld in Westerse kerke en teologieë. In Hinduïsme word daar byvoorbeeld groot klem op die harmonie in die skepping gelê: Daar is baie verskille in ons wêreld, maar uiteindelik vind alles eenheid en harmonie. Een van die belangrike verskille in Hinduïsme is tussen die menslike bestaan en God as die absolute). Maar verskille lei nie tot twis, geweld en gevegte nie, daarvoor is daar 'n te sterk onderliggende eenheid.

Griffiths het hom uiteindelik in 1968 gevestig by ‘n Christelike gemeenskap in Shantivanam. Hierdie gemeenskap het gefunksioneer soos ‘n ashram. 'n Ashram is ‘n gemeenskap waarin ‘n klomp mense hulle skaar om ‘n geestelike leier om diepere kennis van God deur meditasie op te doen. Lede van sy gemeenskap het die klere, kos en styl van aanbidding van hulle Hinduïstiese omgewing oorgeneem en dit in 'n Christelike leefstyl en konteks ingeburger. In Shantivanam was daar dus eenvoudige huise, ‘n kapel, ‘n biblioteek, meditasie-ruimtes en landerye. Naas die gebruiklike Christelike rituele het hulle ook Indiese rituele oorgeneem en verchristelik. Griffiths, wat in 1933 katoliek geword het, was ‘n Benediktyn en die gemeenskap in Shantivanam was met die Bendiktyne gekoppel.

Vir Griffiths, skryf Sheldrake, was die motief van harmonie wat hy in die land ontdek het, waardevol. Dit het hom gehelp om sy Christelike erfenis beter te verstaan. Eintlik was Griffiths heel konserwatief: hy het vasgehou, teenoor die Hinduïstiese veelgodedom, aan die triniteit. God is een, maar God is ook drie – daar is verskille, maar dit word gedra deur eenheid.

Vir my val die volgend in Griffiths se denke op. ‘n Mens word intiem een met God. In kontemplasie verloor ‘n mens jouself in die afgrond van God as die Een God. Maar wanneer ‘n mens in hierdie mistieke oomblikke een word met God in ‘n onbegryplike en onpeilbare vereniging, beteken dit nie ‘n mens verloor jou menslike identiteit nie. Die mens word nie vergoddelik deur die menslike natuur af te staan en die goddelike natuur oor te neem nie. Trouens, deur so volledig met God verenig te word, ontdek ‘n mens jou ware self as mens en skepping van God (skryf Sheldrake). Nooit word die afsonderlikheid van mens en God vir Griffiths opgehef nie.

Hierdie inligting is vir my boeiend. Die werk van Griffiths is deel van die groot gesprek tussen godsdienste wat in die twintigste eeu sterk na vore gekom het. Hoe kleiner die wêreld geword het, hoe intenser het die ontmoetings en gesprekke tussen die godsdienste geraak.

In sommige gevalle lei hierdie ontmoetings tot haat en geweld. Mense van verskillende gelowe moor mekaar uit.

Ander kere weer lei die gesprek tussen godsdienste tot ‘n houding dat hulle eintlik maar almal dieselfde goed glo – net verskillende. Dan verval mense in 'n totale relativisme.

In ander gevalle lei die gesprek tot waardering, maar ook tot ‘n sekere teen-reaksie: dan sien mense sekere goed in ander godsdienste raak wat vir hulle raakpunte is met hul eie geloof. En tog, hulle besef ook terselfdertyd dat dit nie hul godsdiens tot niet maak nie. Soos in Griffiths se geval, lei hierdie ontmoetings tot ‘n nuwe verstaan van dit wat spesiaal aan ‘n mens se eie godsdiens is. Hoe interessant ander godsdienste ook al mag wees, uiteindelik is daar wsenlike verskille wat vir ‘n mens vasbind aan jou eie godsdiens. Griffiths was, ten spyte van sy openheid teenoor ander godsdienste, net tot op ‘n punt oop. Iewers het sy kennis van ander godsdienste hom gehelp om sy eie godsdienstige ervaring helder vir homself toe te eien. Hy bly Christen en Benediktyn.

Terselfdertyd leer hierdie geskiedenis my dat selfs mistici wat so ver in vreemde lande reis en mistieke elemente in ander godsdienste raaksien, iewers aandring daarop dat daar in ons verhouding met God uiteindelik duidelike grense is. ‘n Mens kan ten nouste met God verenig word, maar juis wanneer ons in God se liefde ingetrek word besef ons hoe nodig ons God se liefde het. Hoe nader ons aan God kom, hoe meer besef ons dat ons naby aan God moet bly – want ons sal nooit sonder God kan bestaan nie. Ons word deur God bemin, ons kan soos God bemin, maar uiteindelik is dit net omdat ons geankerl in God se liefde bly.

Sunday, January 10, 2010

'n Bietjie doodgaan.

Ons het mekaar op die muurbalbaan ontmoet, seker vyftien jaar gelede. Hy was aan die oefen op die baan. Ek het op die galery gestaan en gevra of hy nie lus is vir 'n game saam met my nie. Ek het altyd na nuwe muurbal-maats gesoek, want by ‘n universiteit kom en gaan mense gedurig – jy is net ingespeel saam met iemand, dan is die jare verby en gaan hulle die lewe in. Dan moet jy van vooraf begin soek na mense wat nes jy verslaaf is aan die spel en sommer sal inval of sommer net kan speel totdat jy wil omval van moegheid.

En hy was dadelik gewillige. Hy het my lekker pak gegee. En was ek in my skik toe hy my later bel en vra of ons weer kan speel. Dis min dat jy kans vir sulke goeie games kry.

Van al my muurbalmaats was hy duidelik die uitblinker. Hy was die universiteit se nommer een pluimbalspeler en, tipies Engels, ‘n sportman by uitstek in vele sporte. Terselfdertyd was hy ook ‘n ywerige student, wat op sy laid-back manier ‘n nagraadse kursus in geografie gedoen het en ‘n opleiding in ‘n skaars spesialiteitsrigting gehad het. Ons het veral soos ‘n tweeling op die muurbalbaan dieselfde passie gedeel, maar ons kon ook oor baie ander dinge saampraat en saamterg.

Hy het my gereeld gebel vir ‘n game of ons het sommer by die klaarmaak van ‘n game al vir die volgende een beplan. En dan het ons in die hitte van die warm somerdae en in die koue van die wintertye bitter gevegte op die baan aangeknoop tot ons groot genot en geluk. Daar was gedurig intense betrokkenheid, maar altyd met humor. Hy die soutie en ek die boerseun, uit totaal verskillende agtergronde, maar met ‘n gedeelde menslikheid wat gebore is uit ons liefde vir die sport wat ons oor soveel jare geniet het. Na die tyd, as ons klaar was met ‘n game, was daar steeds die oor en weer beskuldigings dat ons mekaar be-“cheat” het.

Daar was nie ‘n game wat ons gespeel het dat ek nie dankbaar was vir die voorreg om teen so iemand te kon speel nie. Ek kan nie onthou dat ons een enkele dag vir mekaar kwaad was nie. Daarvoor was daar te veel humor en te veel wedersydse respek.

En by tye het ek darem ook ‘n wedstryd gewen – iets waarop ek nogal trots was en wat ek dan diep ingevryf het.

En na die tyd, as ons klaar gespeel het, rooi en flou geswoeg in die lui somerdae en verfris deur die harde spel, het ons gaan afkoel in die swembad, wat reg langs die bane geleë was. En dan het ons ‘n draai by my huis gaan maak om saam met die gesin iets te eets. Dit was ‘n ritueel van gedeelde lewensvreugde. In die harde fisiekheid van ons sport het ‘n geestelike band gegroei wat ons lewens ryk gemaak het.

En so het hy langsamerhand meer as ‘n muurbalmaat geword. Hy het ‘n vriend geword, van my en van ons hele gesin. Hy het al die kinders geken, al hulle maats en al hulle kêrels. En saam met die familie kon hy heerlik been-trek oor al hulle avonture. En elke keer, as ons bymekaar gekom het, het hy van vooraf ingevra oor almal en alles wat hy saam met ons kon ervaar.

Hy was ‘n volledige soutie. Sy Afrikaans was gebroke, maar hy het aangedring om dit met ons te praat. En saam met ons gelag as ‘n geradbraakte sin groot hilariteit onder die familie veroorsaak het.

Ek, die Afrikaanse N.G. dominee, het hom getrou toe hy en sy meisie, uit ‘n skatryk Engelse familie uit die noorde, voor die kansel gestaan het. Tydens die preek het almal kliphard gelag toe ek vir hom tergend vermaan het dat hy moet onthou dat, anders as op die squash-baan hy moet weet hy nie altyd in hulle huwelik reg sal wees nie.

En so is hy en sy vrou, met wie ons ook groot maats was, uiteindelik ook weg. Noorde toe. En op die manier het my lekkerste jare van muurbal speel tot ‘n einde gekom.

Ons het mekaar nog ‘n paar keer daarna gesien. Elke keer weer het ons ons vriendskap voortgesit, ongesteurd en met groter pret as ooit tevore. Daar was ‘n band van vriendskap wat die Engelse soutie met sy Afrikaanse squash-vriend bly onderhou het. Hy het ‘n paar lewensterugslae gehad wat hy, tipies stoïsyns, getrotseer het. Ons kon nog elke keer met so ‘n besoek ‘n pot of wat muurbal speel. Maar sy muurbal het al hoe beter geword soos hy in die lekker kompetisie in sy omgewing kon deelneem. Hy het naderhand provinsiaal gespeel en nou onlangs vertel hy dat hy een van die huidige wêreldkampioene in die meesters-afdeling in ‘n interprovinsiale byeenkoms pak gegee het.

Toe bel hy my verlede week: hulle gaan emigreer en hy wil graag kom groet. Ons het saamgeëet vanaand en land en sand gesels asof ons mekaar gister gesien het.

Ek kom agter die besoek is vir hulle een van ‘n hele reeks gebeure waarmee hulle ‘n lewensfase afsluit. Hulle, vertel hulle vanaand, het nie eers meer ‘n “sleutel” oor nie. Hulle het hulle huis verkoop en ontruim, hulle motors afgegee en alles afgesluit. Daar is nou niks meer wat hulle materieel aan die land verbind nie. Hulle is letterlik vry om te gaan. Oormôre klim hulle op die vliegtuig en dan is hulle weg, halfpad om die aarde, om iewers ‘n nuwe tuiste te skep. Ek besef hulle neem afskeid, hulle maak bande los wat vir hulle belangrik was. Hulle ervaar die weggaan nou van naby.

Hy is stillerig. Die ou tergery is vanaand minder. Ons kan immers alles afgee, al ons eiendom opoffer, ons besittings verkoop en weggee, reg om te vertrek. Maar ons kan nie die geestelike dinge agterlaat nie. Hulle bind ons, swaar bind hulle ons en ons pak hulle in waar ons ook al gaan. En soos ‘n magneet trek hulle ons terug, waar ons ook al reis. Herinneringe, plekke, mense, gebeure, familie, eetgewoontes en eet-plekke, baie dinge wat ons beleef het hang swaar en dig in die lug en kom sit ons hart vol. Verstikkend dig. Want ons weet al hierdie dinge is die vlegwerk wat ons lewe bind en wat ons gedagtes vul en ons harte vol maak.

Toe ons by die motor kom, groet ek sy vrou en vir hom. Ons skud hand. Maar hy trek my nader en gee my ‘n beer-hug.

Toe hy wegry, kyk hy weg.

En ek verstaan. Afskeid neem is elke keer weer ‘n bietjie doodgaan.

Saturday, January 09, 2010

Ruusbroec en die gevare van die mistiek

Sheldrake het ‘n kort maar interessante bespreking van die vlaamse mistikus, Ruusbroec (sien elders op hierdie blog) – een van die grootste mistici van alle tye. Ek lees Sheldrake se beskrywing veral vanuit die hoek van die kompleksiteit van mistiek. Mistiek kan op baie maniere verstaan word, maar mistici kan ook dikwels ten onregte van dwalinge verdink word. Vanuit hierdie hoek tref sekere aspekte van Ruusbroec se mistiek, soos Sheldrake dit verstaan, my.

Ruusbroec wat in die veertiende eeu leef, het eers op ‘n baie laat leeftyd, toe hy al vyftig was, die kontemplatiewe lewe opgesoek toe hy in ‘n klooster ‘n nuwe gemeenskap saam met twee vriende gevorm het. In Sheldrake se bespreking tel ek weer sekere nuanses oor die mistiek op wat ‘n mens steeds weer in gedagte moet hou.

Mistiek het baie kante en dimensies. In die geval van Ruusbroek soek hy afsondering op omdat hy groot waarde heg aan die eenheid met God. Vir Ruusbroek word die mens volledig een met God sodat die mens op God lyk. Maar hier moet ‘n mens onderskei tussen ‘n natuurlike eenheid met God waarin die mens in God opgaan en ‘n Goddelike natuur kry (wat Ruusbroek duidelik nie nastreef nie) teenoor die ander sy, waarin die mens deel kry aan God in ‘n gemeenskap van liefde. Dit is vir my ‘n waardevolle onderskeid: ‘n mens word ononskeidbaar en wesenlik verenig met God se liefde. Die mens dra die liefdesbeeld van die Drie-enige God in hom of haar.

Hieroor het Ruusbroec baie gedink – dit was vir hom ‘n saak wat hy van alle kante beskryf het. ‘n Mens sou kon sê dat hy hieroor meer teologies as bevindelik nagedink het. Die deelname aan die Goddelike liefde was vir hom ‘n belangrike kwessie vanuit ‘n teologiese hoek. Sy liefdesmistiek is vir hom nie maar sommer net ‘n verbygaande item op sy agenda nie. Die wese van kontemplasie is om opgeneem te word in die liefdevolle teenwoordigheid van God. Al bly God God en die mens mens, is daar ‘n intieme band tussen hulle wat hulle op die allernouste manier met mekaar verenig.

Die ander saak wat my tref in Sheldrake se bespreking van Ruusbroem is die klem wat Ruusbroek daarop lê dat kontemplasie nie wêreldontvlugtend is nie. Om te leef in ‘n intieme eenheid met God transformeer ‘n mens se lewe en laat jou deel aan die gemeenskap van gelowiges. Om met God een te word bring vir 'n mens ‘n nuwe lewe in die kerk en die wêreld.

Ruusbroec is dus ook ‘n mistikus wat nie misverstaan moet word nie. Sy mistiek vier die band tussen God en mens wat in die liefde bestaan en wat die mens ‘n verantwoordelike, liefdevolle persoon teenoor ander maak. Hy is duidelik skepties teenoor ‘n verwronge, selfs gevaarlike mistiek.



Friday, January 08, 2010

Oor 'n Spiritualiteit van Toewyding.

Daar is ‘n groot klomp nuwe dinge aan die ontwikkel in die kerk wat alles te doen het met nuwe vorme van spiritualiteit – of hoe ons ons verhouding met God “ervaar” en beleef.


Ons het Sondae “stilword-dienste” naas die “tradisionele” dienste. In gemeentes word retreats of afsonderingsgeleenthede ‘n gewilde gebruik. Kerke gebruik kuns in al groter mate – gebrandskilderde vensters, kanselklede met baie simboliese uitbeeldings en aankondigings/preke met illustrasies, skilderye, liedere en gedigte. Ons maak ook baie van die kleure van die kerklike jaar. Ons kry al hoe meer vertalings – ook in Afrikaans – van bekende en nuwe spiritualiteitswerke (Die Navolging van Christus van a Kempis en Henri Nouwen se werke) en gewone mense verslind dit.



Hierdie nuwe ervaringe is baie belangriker as wat ons besef. Dit is deel van ‘n verskynsel wat wêreldwyd voorkom en wat tipies is van ‘n nuwe tyd. Die ou vorme van godsdiens in die twintigste eeu is verby. Die dae van geleerde en heftige debatvoering en twiste is verby. Die tyd dat ‘n mens jou teenstanders kan verbrand op die brandstapel of kan verban uit die kerk is ook oor. Dit is nie meer tyd om godsdiens as 'n wapen teen ander te gebruik nie. Godsdiens kan nie meer die menslikheid van ander aantas nie.



Dit is nou ‘n tyd dat mense wil sien dat godsdiens verheffend is, dat dit mense een maak in plaas van verdeel, dat dit opoffer in plaas van jouself laat geld, dat godsdiens jou innerlike vrede gee in plaas van intellektuele prestasie, dat godsdiens die lelike besweer en die mooie veredel.
Dit is die tyd dat godsdiens die beste uit 'n mens haal.


Dit is ‘n vernuwing onder gewone mense wat Sondae in die kerk sit en nie meer wil hoor hoe sleg en dwalend mense is met wie jy nie saamstem nie. Dit is ook ‘n vernuwingsbeweging wat wil sien hoe godsdiens ‘n verskil maak in mense se lewens.


Waar dit nie gebeur nie, loop mense weg na plekke waar hulle dink dit wel gebeur. Maar dit is ook ‘n beweging wat duidelik in die teologie aan die werk is. Die dae van spistvondige slimmighede kom tot ‘n einde. Wat saak maak is nie meer die korrekte woord om die korrekte siening van God aan te bied nie.


Ons kry hierdie beweging ook in die kringe van die slimmes en die wyses. Nou wil teoloë ook in die eerste plek in hul skryfwerk en in hul nadenke eerder probeer om die beste maniere te vind om die belewenis van God se verborge werking in die wêreld in mense uit te beeld. Wat saak maak is nie in die eerste plek of ons reg is nie en of ons teologie suiwer nie, maar wat saak maak is of ons woorde God helende woorde is wat mense meer menslik maak en ons wêreld mooi maak. Waar dit gebeur dat mense genees word, vry word en ryk in die genade voel, daar weet mense woon die Gees en die waarheid. Dit is nie die “ware” teologie wat genees nie, maar dit is die helende teologie wat waar is.



Ons praat hier van ‘n Spiritualiteit van toewyding, of, in Engels, “devotional spirituality.” Mense het baie maniere om hul toewyding aan God te beleef.


Dit is goed dat hierdie dinge gebeur en dat ‘n mens in ons tyd na nuwe maniere soek, want ons toewyding aan God kan telkens weer nuut uitgebeeld word. Ons sien dit in die kuns waar mense steeds weer nuwe kunswerke oor godsdienstige motiewe maak. Een van die mooi, praktiese voorbeelde is die baie soorte kanselklede wat vandag op die kansels verskyn.



Maar dit alles beteken dat ons leef in ‘n tyd waarin godsdiens ‘n verskil in mense se lewens maak. Dit is aangrypend. Op die strate tydens kersfees as ‘n mens ‘n orkes kersliedere hoor speel, tydens Paasfees as mense ‘n passiespel opvoer, in die sitkamer waar Henri Nouwen se boek lê, in die slaapkamer waar ‘n kruis teen die muur hang, vind ons tekens van mense se toewyding aan God. Dit is die dinge wat hulle daaraan herinner dat hulle godsdiens oral sigbaar moet wees en 'n realiteit in hul lewens met wees.


Dit is opwindend. Die Here is aan die werk.



Ons het voorheen sulke tye in die geskiedenis gehad. Die dertiende en veertiende eeu, skryf Sheldrake in sy kort geskiedenis van Spiritualiteit, was so ‘n stadium gewees. Dit was die tyd waarin baie van die gebruike wat vandag nog geld, ontstaan het. Oral oor het die geestelike toewyding van priesters in die kloosters oorgeslaan in die huise van gewone gelowiges en op die strate van die stede. Godsdiens was nie meer die besit van die die professioneles, die hiërargie van priesters biskoppe , kardinale en pouse nie. Mense het begin lees en skryf. Dit het hulle bemagtig. Elke mens het nou begin verantwoordelikheid vir sy besluite en verhouding tot God neem. Gewone mense het die Skrif en die boodskap van heling vir hul toegeëien.



Maar, skryf Sheldrake, hierdie toewydingspiritualiteit is iewers ‘n teken van hoe mense die menslikheid van Christus herken en gevier het. Hulle het die kribtonele uitgebeeld om die inkarnasie te vier en optogte gehou om die lydenstog van Jesus te volg.


Vir my is daar egter nog iets diepers aan hierdie baie vorme van toewyding: wanneer mense die menslikheid van Christus vier en beleef, is dit uit verwondering dat God self hulle lewens as mense so hoog geag het deur volledig daaraan deel te kry in die lewe van Jesus. Om te dink dat God so naby aan ons kom! As dit swaar gaan, as ons wil moed opgee oor ons wêreld en oor mense, herinner ons ervaring van God in ons lewens ons daaraan dat ons nie kan moed opgee nie. Ons kan weer leer hoe om menslik te wees, hoe om helend met mekaar saam te leef, hoe om die kwaad in ons lewens te stop, hoe om eerlik te wees, getrou te leef, billik op te tree, menswaardig te reageer. Ons hoef nie oor te gee en te wanhoop dat mense anders as diere kan wees nie.



Ons leef toegewyd en ons ervaar met dankbaarheid dat God in ons klein wêreld en in ons eenvoudig bestaan ingekom het. Daarom wil ons heilig wees in ‘n plek waar ons heilig kan leef – ‘n plek waar God waardiglik in ons lewens kan regeer.

Thursday, January 07, 2010

God, so anders en ver, maar so naby.

Die Kappadosiërs was ‘n groep monnike wat in die vierde eeu n.C. ‘n asketiese lewe in Klein-Asië gevoer het. Onder hulle was veral Basilius die Grote en Gregorius van Nyssa baie bekend. Gregorius se boek, “Die Lewe van Moses,” is een van die bekendste spiritualiteitsboeke. Basilius se voorskrifte aan monnike vir ‘n asketiese bestaan het ‘n blywende invloed in die Oosterse Christendom uitgeoefen.

Terwyl Basilius veral die praktyk in die oog gehad het, was Gregorius eerder die teoloog wat veral nagedink het oor die geestelike reis waartydens die mens die aardse dinge agtergelaat het om dieper in die waarheid en die geestelike lewe te groei om uiteindelik met God een te word.

Maar die eenheid tussen God en mens verstaan Gregorius as iets wat tot stand kom deur die werking van die Heilige Gees, juis buite die mens se toedoen om. Hy het dikwels oor die Heilige Gees geskryf wat die mens laat deel aan God se heerlikheid.

Ook hier het ons weer ‘n voorbeeld van iemand wat die noue band tussen God en mens beklemtoon, maar terselfdertyd onderstreep dat God en mens nie dieselfde natuur het nie. Vir Gregorius as apofatiese denker is God bo alle menslike woorde verhewe. Die gelowige wat oor God nadink en in God se teenwoordigheid leef, ontdek dat hy of sy God nie beter “verstaan” nie. ‘n Mens reis nie na die lig nie, maar eerder na die duisternis. Om dit te verduidelik, steun Gregorius op die geskiedenis van Moses. Soos Moses op die berg Sinaï gaan ‘n mens ‘n wolk binne en reis ‘n mens dus in die duisternis na God toe. ‘n Mens ervaar God se teenwoordigheid en streef steeds daarna om dit meer en meer te ervaar. Maar nooit bereik ‘n mens op aarde in die reis na God die volmaakte toestand van die teenwoordigheid van God nie. Dit bly 'n voortgaande groei.

Gregorius se bydrae tot spiritualiteit lê vir my op twee vlakke: aan die een kant is hy bewus van hoe anders God as die mens is – en hy beklemtoon dit gedurigdeur. Terwyl die meeste mense aan die geestelike reis dink in terme van “verligting” in denke en dieper verstaan, is Gregorius gelaai met ontsag voor die verborgenheid van God. Wie is ons, as mense, om God vas te wil vang in ons menslike denke? Ons groei juis nie in die lig nie, maar in die onbekende, dit wat vir ons verborge is, wat so anders is as wat ons gewoond is. ‘n Mens moet vanuit ‘n apofatiese hoek oor die geestelike reis dink – as ‘n proses wat moeilik in menslike taal verduidelik kan word. Dit is 'n reis wat ver bo menslike woorde uitstyg. En juis hierin ontdek 'n mens Gregorius se eerbied en ontsag vir God.

Aan die ander kant tref dit my hoe hy tog weer beklemtoon dat ‘n mens ten nouste met hierdie Verborge God verbind word. Ons is op pad na ‘n lewe van heerlikheid. Die reis in die duisternis in is ‘n opwindende reis. Ons is op pad om God van aangesig tot aangesig te ontmoet... Ons bedryf nie sommer net godsdiens nie. God het ons aangeraak. Die ontsaglike, verborge God nooi ons in om by God te woon - in die Verborgene, maar dan ook terselfdertyd in Geborgenheid!

Hier is nie “gevaarlike” mistiek nie. Die grense tussen God en mens word nie opgehef nie, maar die intieme eenheid tussen God en mens word sterk onderstreep.

Wednesday, January 06, 2010

Gebed en God se teenwoordigheid

Gebed is ‘n teken van ons verlange na God. In ons gebede smag ons na God, ons stort trane om die goddelike teenwoordigheid in ons lewens te ervaar, ons sug om by God te wees. Dit wys dat ons nie ons verlange kan stil deur dit wat ons besit of het nie. Iets/Iemand buite onsself het ons innerlike aangeraak en ons hart soek daardie aanraking.

Vir baie van ons biddendes is dit ‘n diepe frustrasie, want ons kyk teen ons trane vas en sien net ons hartseer raak. Ons dink ons verlange is ‘n teken dat God weg is.

Daar is egter ‘n ander kant van die prentjie: ons trane kan vir ons vreugde gee en troos bring. Ons gebede is juis ‘n teken en ‘n getuienis dat God in ons lewens inkom.

As ons smagtend bid, bid ons tot God wat na ons uitreik en in ons lewe teenwoordig is. Wanneer ons ons harte biddend tot God verhef, is God besig om in ons harte in te daal. Wanneer ‘n mens na God roep is dit ‘n teken dat God tot ons kom. Daarom kan ons trane van verlange terselfdertyd trane van vreugde wees.

Want dit is God wat die verlange na God in ons gee. Dit is God se genadige geskenk aan ons dat ons smagtend tot God bid.

Wanneer ons na God verlang, reik God na ons uit en woon God in ons verlange na God.

Die blote feit dat ons na God verlang is ‘n aanduiding van God se teenwoordigheid in ons lewens. Dat ons ons in die gebed oopstel vir God se liefde is ‘n aanduiding dat God die Een is wat ons lief het, ons Minnaar is.

Wanneer ons in gebed na God verlang, sê God onmiddellik vir ons terwyl ons bid: “Hier is ek!” Daar is ‘n oomblik wanneer ons bid, dat ons weet dat alles wat ons uit die lees van die Skrif in nadenke en meditasie ervaar het, skielik in ons lewens ‘n werklikheid word. Wat ons in die Bybel lees, word nou vir ons omvorm tot ‘n werklikheid, tot ‘n verhouding met God waarin ons ‘n aktiewe deel het. Ons ervaar dat die God van die Bybel nou God van ons lewe word. Nou lees en bedink ons nie meer Skrifwoorde nie, maar staan ons by God, praat ons reikhalsend met God. En God se koms na ons terwyl ons bid is ‘n verborge koms in die liefde, want God praat ook met ons. Ons is wedersyds in ‘n gesprek. En God sê heel eerste vir ons: “Wees lief vir my.”

Maar nou: hoe weet ons dat God daar is – want ons ervaar dikwels net God se swye? Waaijman (764-5) skryf dat God in liefde by ons is wanneer ons versigtig in ons gebed soek en luister na God. Ons weet God is daar deurdat ons God hoor sê: “Jy moet die Here jou God met jou hele hart, siel en krag lief hê.” Dit is vreemd vir ons om te dink dat God ons beveel om God lief te hê. “Bemin my!” is ‘n teken dat God in ons lewens is en van ons liefde vereis. Maar daarmee lê God nie ‘n verpligting of ‘n wet aan ons op nie. Daarmee vra God ons eerder om God te aanvaar, om ons oop te stel vir God. Ons verlang na God in die gebed en God sê vir ons in ons gebed om God te bemin.

Wat hier belangrik is, is dat ons in ‘n liefdevolle verhouding met God ingetrek en opgeneem word.

Wanneer ons bid en na God verlang, is God by ons in die liefde: “Kom, droog die trane af, praat met my, wees lief vir my, moenie ooit ophou om na my te verlang nie, sien my raak as die Een wat jou Bemin, ervaar my in my liefde – ek is hier vir jou!”

Tuesday, January 05, 2010

Wanneer ons bid.... Gebed as ‘n openbaring van God se teenwoordigheid

Wanneer ons in ons gebede op God reageer, ervaar ons ‘n verborge geheimenis. En in hierdie verborge geheimenis gebeur iets spesiaals. Ons kan die Bybel van hoek tot kant deurlees en alles daarvan weet, ons kan aanmekaar bid, sonder ophou, maar ons kan steeds nog soekende wees na God en onbewus van God se teenwoordigheid in ons lewe wees.

Maar dan gebeur daar op ‘n dag iets met ons wat die Verborge betekenis van die Bybel tot ons laat deurdring. Ons word ingetrek in dit wat die Bybel so omvattend teken en uitbeeld. Ewe skielik, as ‘n gawe, onverwags, uit genade, oorval die wete ons dat God ons liefhet. Ons is God se “geliefdes” – mense wat deur God bemin word. God se transformatiewe liefde deurdring ons soos vuur in ‘n yster intrek en dit gloedwarm maak. Hoe dit gebeur sal ons nie weet nie. Dit is ‘n mistieke oomblik wat aan ons geskenk word. Ons “ervaar” dit.

Ons kan hierdie oomblikke nie “bewerk”, “verdien” of “afdwing” nie.

Ons “bid”. Maar in hierdie menslike gebed word ‘n verborgenheid onthul wanneer ons gebed ‘n toelating is van God se liefde in ons lewens. Ons stel ons oop vir die branding van God se liefde in ons. En deur God se liefde te omhels, word God ‘n werklikheid en ‘n teenwoordigheid in ons lewe.

In gebed, dus, stel ons ons oop vir die gloedwarm liefdesverhouding. Om dit te verduidelik, het mistici soos Franz Rosenzweig veral Hooglied as illustrasie gebruik. Hierdie teks vertel van ‘n bruid wat in die liefde van haar Minnaar die hoogste vervulling vind. ‘n Mens wat op God ingestel is en in ‘n verhouding met God leef, ontvang dus God se liefde en ervaar dit. Die gelowige ervaar dat hy of sy bemin word. Hy of sy is as die bruid, soos in Hooglied, die Minnaar se Geliefde aan wie hy sy liefde onvoorwaardelik uitdeel.

Gelowig sien ‘n mens nou uit na die liefde wat God uitdeel. Jy weet dat God by herhaling die liefde deel in ‘n daad van self-prysgawe en opoffering. Net God gee, soos die Minnaar wat eindeloos aan sy bruid passievol liefde gee en bly gee aan die een wat biddend daarop wag. Soos die bruid ontvang ‘n mens hierdie liefde en sien uit daarna as ‘n teenwoordigheid in jou lewe.

Daar is dus ‘n verhouding tussen ‘n God wat lief het en ‘n mens wat bemin word. Deur toe te laat dat ‘n mens bemin word en deur God se liefde in jou lewe in te laat en te ontvang, antwoord en reageer ‘n mens op die liefdesverhouding wat God aanknoop. Maar dit is nie ‘n bydrae van jou kant af nie. Jy “gee” deur hierdie liefde te “ontvang.”

Dit is dus ‘n verhouding waarin “gegee” word en waarin “ontvang” word. Wat ‘n mens van jou menslike kant af gee in antwoord op God se liefdesgawe is nie ‘n daad of ‘n aksie van ‘n mens se kant af nie. Jy “doen” niks nie. ‘n Mens laat eintlik net toe dat jy bemin word. ‘n Mens kan niks meer doen as om jouself oor te gee aan God se liefde nie! Daarmee bevestig ‘n mens God se liefde. Deur dit toe te laat en jou daaraan oor te gee, vertel jy en getuig jy dat daar ‘n liefde in jou lewe aan die werk is. Jy hoef niks te doen nie. Jy hoef nie te presteer nie. Jy “gee” in reaksie deur God se liefde te “aanvaar.”

Dit beteken nou glad nie dat ‘n mens bloot passief is nie. Wanneer ‘n mens God se liefde vir jouself toeëien, kom daar ‘n krag in jou lewe los. Dan werk iets magtigs en sterks in jou. Want die aanvaarding van God se liefde roep by jou ‘n biddende hartskreet los: ‘n mens roep uit, “ja, Here. U liefde is myne.”

Daar gebeur iets met jou wat andersins nooit in jou lewe voorkom nie. Jy vier in jou toelating van die liefde, ‘n liefde wat jy andersins nooit in jouself kon vind of gehad het nie. Jy bevestig dat daar nou in jou lewe iets is wat jy nooit voorheen in jouself aangetref het nie. Jy vind vertroue in iets durends en standvastig wat jy nooit tevore in jouself ontdek het nie.

Deur hierdie liefde te bevestig vir jou lewe, bevestig jy dat God bestaan en dat God ‘n werklikheid in jou lewe is. Die mistieke hieraan is dit: God se liefde is ‘n weggee-liefde. God samel nie ons liefde in nie en reageer nie eers op ons as ons God liefgehad het nie. God “gee” vir ons goddelike liefde, eindeloos, gedurig, aanhoudend, onophoudelik. God gee weg. En ons aanvaar God se self-gewende, self-opofferende liefde.

Met ander woorde – deur God se liefde te aanvaar, deur jou oop te stel vir die liefde word God ‘n ewige teenwoordigheid in jou lewe.

Dit is egte liefde. ‘n Mens hoef nie te presteer voordat hierdie liefde na jou kant toe kom nie. Jy hoef ook nie te bewys dat jy die liefde werd is nie. Dit is soos die Vader wat die Verlore Seun gaan haal en oorlaai met soene. Ons hoor nooit weer iets van die Verlore Seun nie. Sy storie het tot ‘n einde gekom. Hy is nou in die Vader se liefde. Hy bied nie aan om vir sy pa te werk om eers die liefde te verdien nie. Hy is by die huis en hy baai in sy pa se ewige, oorweldigende liefde. Dit is genoeg. Sy lewe word nou ‘n lewe in liefde. Daarmee kom sy lewe tot vervulling.

Wanneer ons die liefde wat God gee, aanvaar, bevestig ons God as ‘n Minnaar in ons lewens. Die liefde wat God vir my weggegee het en wat nou myne gemaak is, maak God tot die Een wat my lief het, wat my lewe vul, wat vir my alles is. Hierdie aanvaarde liefde roep by ons ‘n vertroue in God as ons Minnaar los. Ons roep uit tot God, ons bly by God, ons hoort by God omdat ons hierdie liefde in ons lewe ontdek het. Dit is die wonderwerk: die feit dat ons van God se liefde getuig is ‘n teken dat God ewig in ons woon en dat God God is.

Ons kan alleen God se teenwoordigheid in ons lewens ervaar en erken wanneer ons God se liefde in ons toelaat. Om God se liefde toe te laat in ‘n mens se lewe, is ‘n teken dat God aan die werk is en dat God in ‘n mens se lewe teenwoordig is.

Dus: in die mistiek gaan die om ‘n verlange om liefde te ontvang en om te gee.

Nog dieper: God word geopenbaar in die liefde wat vir ons gegee word. Maar dit is 'n verborge liefde - niemand kan dit vir ons verduidelik, bewys of gee nie. Dit is 'n liefde wat ons ontdek net as ons ons oopstel daarvoor. 'n Mens ontvang dit alleen binne 'n intieme verhouding met God. Alleen maar in die U-ek verhouding (Buber) ontdek ons die goddelike liefde.

(n.a.v. Waaijman 763-4).

Monday, January 04, 2010

Hoe lees 'n mens die Bybel? oor die teenwoordigheid van God as die getuienis van die Bybel

Dit is eers in onlangse tye dat navorsers sterk begin fokus het op hoe die skrywer van Openbaring die Ou Testament geïnterpreteer het. Anders as in die res van die Nuwe Testament kry ‘n mens nie direkte aanhalings uit die Ou Testament in Openbaring nie. Die skrywer sal nooit skryf: "Jeremia of Jesaja het geskryf..."

Maar Openbaring is wel deurspek met sinspelings op die Ou Testament en is deurdrenk van Ou-Testamentiese taal. Die baie plae in die boek herinner byvoorbeeld aan die Eksodus-verhaal se tien plae. Name soos Babylon, Egipte, Sodom en Jerusalem is bekend in die Ou Testament. En so sou ‘n mens vele ander voorbeelde kon opnoem. Op die oomblik verskyn daar die een dik boek na die ander wat uitlig hoe diep Johannes se boek in die Ou Testament gewortel is en hoe baie skrifgedeeltes in sy teks weerklank vind. Johannes het uit die Ou Testament geleef.

Die skrywer van Openbaring gebruik al hierdie Ou-Testamentiese motiewe om sy lesers aan te spoor om getrou aan God te bly. In hulle krisistyd is die boodskap van die Ou Testament beslissend belangrik om hulle geloof te versterk en hulle te ondersteun dat hulle nie alleen stry nie.

Maar Johannes gebruik die Ou Testament op ‘n nuwe manier. Hy trek die taal van die Ou Testament volledig in sy eie tyd en konteks in. As hy die Ou Testament gebruik, doen hy dit met die oog op sy eie situasie.

Die taal van die Ou Testament word nou die taal van Jesus wat vir die Christene aan die einde van die eerste eeu n.C. ondersteun. Die Paaslam wat geslag is met die uittog, word nou die Lam wat gekruisig is. Die boodskap van die Bybel is vir Johannes nie ‘n historiese vertelling wat vir Christene van sy tyd “verklaar” moet word nie. As Johannes oor die Paaslam gelees het, het hy dit onmiddellik met Christus wat gesterf het aan die kruis verbind. Die Ou Testament het vir hom in Christus se lewe betekenis gekry. En net so is die teenoorgestelde waar: as hy na Christus gekyk het, het hy in Hom die hand van God deur die geskiedenis heen herken. Die vryheid wat Christus vir sy volgelinge gebring het, was die vryheid wat God vir die volk Israel in die slagting van die Paaslam bewerkstellig het. Dus: vir Johannes is die belangrikste dat die Ou Testament hom help ervaar hoe God deur die eeue heen in die lewe van die gelowiges teenwoordig is.

Wanneer ons dus die Bybel lees is die groot vraag hoe die Bybel ons God se teenwoordigheid in ons lewens laat ervaar. Ons soek dikwels na woorde om oor God te praat, want God is bo al ons verstand en al ons begrip. Dit is in sulke tye dat ons in die Bybel kan gaan soek hoe ons voorouers God se teenwoordigheid herken, ervaar en verwoord het.

Ons lees nie die Bybel omdat ons nuuskierige mense is wat allerhande inligting wil uitdiep nie. Ons het ‘n verhouding met God wat ver bo ons verstand verhewe is, maar wat op ‘n unieke manier in ons lewens werk. Ons is nie die eerste gelowiges wat die voorreg het om God se teenwoordigheid te ervaar nie. Die Bybel is veral die plek waar ons sien hoe mense God beleef en aanbid het. Om naby aan hulle te wees, help ons om ons eie Godsbelewing in woorde uit te druk. Johannes was so deurdrenk van die Ou Testament dat hy op ‘n stadium oor Jesus as die Lam van God kon praat. Daardeur het hy vir ons vertel hoedat God ons so liefgehad het dat God bereid was om kosbare bloed te vergiet om ons te behou. Dit bring hom om Openbaring 1:5 te skryf: God het ons deur kosbare bloed skoongewas van ons sonde. God knoop ‘n verhouding met ons aan wat ons tot heerlikheid herstel. Ons word nou, in die woorde van Openbaring 1:6 konings en priesters. Die belangrike plek van konings en priesters in die Ou Testament word nou die plek wat ons kan binnegaan. Ons kom nou te staan in God se teenwoordigheid soos die koning as seun van God en die priesters in die kultus in God se teenwoordigheid kon staan.

Die Bybel is nie ‘n belangrike storieboek wat ons verstand verlig nie. Dit is baie meer: die is ‘n lewensbelangrike getuienis van ons geloofsgenote oor hoe God ons lewens radikaal nuut maak.

Geestelike hermeneutiek wil daarom uitkom by hierdie belangrike punt: ons lees die Bybel, ons mediteer daaroor, dit bring ons tot gebed, maar die belangrikste is dat die Bybel ons wil bring om God se lewe in ons lewe te kontempleer. Die hoogste doel van ons Bybelstudie is om God se teenwoordigheid te ervaar. Dit is die houding waarmee ons die Bybel moet optel, lees en bedink. Enige ander houding sal van ons weeskinders en stiefkinders in die geloof maak.

Maar die boeiende is nou dit: dikwels as ‘n mens die Bybel lees, staan ‘n mens verstom. Jy word eintlik letterlik stil. Want dikwels hoef ‘n mens nie meer te sê as wat die Bybel reeds gesê het nie. Ons kan maar net luister, stil word en God se teenwoordigheid beleef aan die hand van wat ons in die Bybel raaklees. Dan het ons inderdaad verby woorde geloop: ons kyk nie meer vas in wat Bybelskrywers sê nie. Die woorde is nie meer vir ons belangrik nie. Ons ervaar nou wat hulle ervaar het. Ons is op die plek waar hulle ook was – voor God se aangesig. En ons hoef niks by te voeg nie. Ons is by God. En dit is goed. Dan verstom ons gebede. Ons lippe hou op praat. Ons gedagtes kom tor rus. Lectio, meditatio en oratio sluit af. Dit is goed om by God te wees. Dit is genoeg. Wie dit beleef, beleef kontemplatief God se teenwoordigheid. Hy of sy het dan die Bybel goed gelees en die spirituele lees se kringloop is vervolmaak.

Sunday, January 03, 2010

Uitgestuur buite my vertroude vriendekring. Oor God se roeping.

In sy “Encounters with Silence” skryf Rahner ‘n hoofstuk oor “God of my Brothers.” Hy begin die hoofstuk met God se roeping tot sy werk:

“God,” skryf hy, “U het my geroep om onder mense te werk – wat ‘n swaar las en groot verantwoordelikheid is. U het my weg van Uself gestuur na mense vir wie U wil red.”

Hy skryf dan dat dat hy sy lewe lank met mense gewerk het en dit geniet het. Dit is dus vir hom nie vreemd om uit te reik na hulle nie. Dit was ook nie vir hom ooit ‘n kwessie om by mense te wees nie. Hy het altyd graag onder sy goeie vriende en uitverkore kennisse gekuier. Maar nou, vervolg hy, is dinge anders: God het hom uitgekies na mense wat God self gekies het. En hierdie mense is nie dieselfde persone by wie hy voorheen graag gekuier het nie.


En hy is nie deur God gestuur om vriende met hulle te wees nie. Dit is op hierdie punt dat Rahner byvoeg: “ek weet U het my gestuur om hulle dienskneg te wees. En wanneer ek moeg raak vir hulle, is dit nie ‘n teken dat ek my uit die voete moet maak nie – soos ek in die verlede gedoen het nie.” Dit is, merk hy op, eerder God se opdrag om te bly.

Hiermee bevraagteken Rahner grondiglik ons patroniserende houding tot ander in ons geestelike werk: ons ontmoet ander mense op óns voorwaardes, verkeer gesellig met hulle so lank dit óns pas en kuier lekker by mense wat ons uitgesoek het. En al die ander val buite ons kring van uitverkorenes. As ons goed doen, is dit omdat ons kies om goed te doen en is dit dikwels tot ons heimlike trots dat ons so vroom is.

Maar God keer hierdie waardes om wanneer ons tot die goddelike diens geroep word: ons is by mense omdat ons in God se naam na hulle uitgestuur word. Ons moet eenvoudig na ander uitreik. O
ns houding teenoor ander word beslissend bepaal bloot deur die feit dat God hulle uitkies as mense na wie ons gestuur word.


Hoe anders is dinge tog wanneer God keuses maak.



En dit bring mee dat ons onsself moet gee ongeag wie die mense is en ongeag hulle reaksie en houding teenoor ons. En dan is ek nie die “goeie” ou wat uitreik na hulle daar “onder” nie. Ek raak betrokke in ‘n verhouding met ander omdat ek ‘n verantwoordelikheid teenoor hulle het.



Dit alles klink swaar en donker. Dit lyk na “plig” en “harde werk.” En as dit swaar is om uit te reik na mense buite ons veilige vriendekring, is die werk sekerlik nie maklik nie. Tog kom die opdrag van God. Ons diens aan mense is nie van ons maaksel nie, maar moet ons terugvoer op God se wil. Dit is werk wat deur God bekragtig word: Soos Rahner verder opmerk, God gee ons “heilige” krag om hierdie werk te doen.


Ons word ook aangevuur wanneer ons besef wie die mense is na wie ons uitreik. God help ons om in te sien dat hierdie mense God se skepsels is. Hulle is nie sendingobjekte nie. Ons deel met hulle kindskap van God, 'n gemeenskaplike mensheid.



Wat egter swaar in ons eie gemoed werk, kan dikwels omkeer in 'n verrykende ervaring. Hoe dikwels het ek die vrug van hierdie uitreiking na ander ervaar – selfs wanneer ‘n mens aan ‘n deur klop aan die einde van ‘n dag wanneer mense liewer rustig wil eet en hul sepie wil kyk. En as ek, baie outyds, saam ‘n Bybelteks gedeel het en ‘n gebed gedoen het, was daar meestal net toegeneentheid, dankbaarheid, vriendelikheid en waardering. Dit het my dikwels verbaas hoedat die oorsteek van grense, die gehoorsaamheid aan God se bevel tot uitreiking my verryk het. Dit is die harde werk wat uiteindelik vrug dra en seeninge inbring.




Trouens, ek is vas oortuig dat ‘n bediening ryklik geseën word wanneer die leiers in die gemeente in ‘n gees van diens getrou uitreik na ander. Dit is nie om dowe neute dat opnames bewys het dat goeie prediking en getroue huisbesoek die sleutel tot gemeentegroei is nie.


Weer eens, egter: ons gee om vir ander nie omdat ons vol kerke wil sien nie. Ons gee om vir ander en reik na hulle uit omdat God dit van ons vra.

Saturday, January 02, 2010

Is die mistiek gevaarlik?

“Mistiek” is ‘n hoogs omstrede verskynsel. Daar is mense wat dit selfs as “gevaarlik” beskou. As gevolg daarvan word spiritualiteit, waarvan die mistiek ‘n wesenlike deel is, deur sommige skrywers verdag gemaak. Bekende teoloë het deur die eeue heen gewaarsku teen die mistiek. Aan die begin van die twintigste eeu het so ‘n bekende teoloog soos Karl Barth hewige kritiek teen die mistiek gelewer.

Heel eerstens is dit duidelik dat daar duidelik deur die eeue heen baie slegte dinge in die naam van die mistiek gesê, gedoen en geskryf is. Daar is beslis onaanvaarbare, selfs “slegte” vorme van mistiek.

Tweedens beteken dit dat ‘n mens moet onderskei tussen goeie en slegte mistiek. Die “goeie” mistiek gaan byvoorbeeld direk terug op die Bybel of steun op die Bybel. Daar is gedeeltes in die Bybel wat sonder meer mistieke dele is. Mistiek is, kortweg, die eenwording met God. Die Johannes-Evangelie is ‘n hoogs mistieke boek waarin die intieme eenheid tussen die goddelike en menslike in hoofstuk na hoofstuk uitstraal (Ek is die wynstok, julle die lote – wie nie in my bly nie...). Die intieme, noue verhouding met God en eenwording met Christus word byvoorbeeld in Galasiërs 2:20 uitgespreek wanneer Paulus skryf dat hy nie meer leef nie, maar dat Christus “in hom” leef. En Paulus het self gepraat van sy verrukking na die derde hemel (2 Kor.12:2). Die “verheerliking” van Jesus op die berg is ‘n verdere voorbeeld van die mistiek. En vir mense wat dink dat dit net met Jesus gebeur is daar die verrassende 1 Korintiers 15:51-55 waar Paulus vertel hoe ons almal in ‘n oogwink verander sal word met ‘n onvoorstelbare heerlikheid wanneer ons onsterflikheid (wat net God het) sal ontvang. Die eenwording met God en die deel aan God se heerlikheid is die hart van die evangelie en die kern van ons toekomshoop.

Derdens is dit net so waar dat ‘n mens nie alle mistici oor dieselfde kam kan skeer nie. Daar is baie verskillende mistieke skrywers en tekste wie se gedagtes onmoontlik in een netjies skema saamgebring en verduidelik kan word. As daar mistici is wat sekere stellings maak wat vir sommige verdag lyk, is daar ook weer ‘n klomp ander wat nie sulke stellings sal maak nie en wat duidelik verskil van mening. Ons kry baie verskillende vorme van mistiek – en hulle is in mindere of in meerdere mate deel van en te rym met hoofstroom Christelike ervaringe en oortuiginge. Dit is die verantwoordelikheid van mense wat die mistieke boodskap van die Bybel wil verstaan om gedurig weer mistieke tekste te toets aan die bronne van die Christelike geloof.

Vir sommige skrywers is die mistiek gevaarlik en onaanvaarbaar omdat hulle glo dat mistici hulleself as unieke, besondere, geesvervulde mense beskou wat uitstyg bo ander wat nie mistieke ervaringe het nie. Sulke mistieke ervarings lei tot hoogmoed en trots. Maar hierteenoor is dit bekend dat baie mistici nie eers oor hulle mistieke ervaringe wou praat nie omdat hulle geweet het dat die egte mistiek nie self-gerig is nie. Hulle was juis agterdogtig teenoor mense wat op hul mistieke ervaring geroem het.

Vir ander weer is die mistici mense wat deur emosionele ervarings aangevuur word – en, redeneer hulle, ons emosies is onbetroubaar en bedrieglik. Dit is 'n vertekening van die mistiek wat beslis nie geld vir die meerderheid mistici nie. In die mistiek word byvoorbeeld duidelik onderskei tussen emosies, wat wisselvallig is maar tog in mistieke ervaringe ‘n rol kan speel aan die een kant en, aan die ander kant, “ervaring” wat nie emosioneel is nie. Hierdie "ervaring" van God se aanraking is baie meer as net 'n emosionele saak. Ervaring het 'n spesifieke nie-emosionele betekenis. ‘n "Ervare" mens wat deur die leerskool van die lewe is en dinge aan sy of haar lyf beleef het en geleer het, is tog nie ‘n “emosionele” mens nie. In die mistiek word “ervaring” dus nie met “emosies” verwar nie. In die mistiek “ervaar” ons ons eenheid met God. Dit is as ervaring ‘n diepe wete wat deel is van ons geloofspraktyk – dit is ons “wandel” met God, ons “reis” met die Here. En dat dit ons gelukkig, bly, emosioneel maak, is goed al is dit “ervaring” veel wyer as die emosies. ‘n Mens kan in jou nood en in jou hartseer God se teenwoordigheid “ervaar.” Dit is juis die mistiek. Daarom werk die mistiek ook heel dikwels met die motief van die donker nag van die siel. Ook in tye dat 'n mens nie God se teenwoordigheid kan "voel" nie, is God nog steeds daar.

Nog skrywers redeneer dat die mistici die sentrale plek van die Bybel in die geloofslewe vervang met allerhande oortuigings en spekulasies wat van die Bybel afwyk en dikwels selfs met die Bybel in teenspraak is. Terwyl die sekerlik kan gebeur dat sommige mistici só ‘n houding het, is dit opvallend hoe die groot mistici juis steeds weer die Bybel gelees en bestudeer het. Die lectio divina is ‘n kern-aktiwiteit in die mistieke wêreld.

Sommige kritici beklemtoon dat die mistici eintlik hoogs self-sugtige mense is wat net op hul eie geestelike ervaringe ingestel is. Hiermee hang saam dat party dink die mistiek is wêreldvreemd. Die mistikus gaan sit iewers in ‘n woestyn in plaas van om sy of haar roeping ten opsigte van God se wêreld uit te leef. Hier is ook ‘n bietjie waarheid in die beswaar teen sommige mistici. Dit is waar of dit kan gebeur dat sommige mense wat ‘n monastieke leefwyse opsoek wêreldmydend kan leef, maar dit is juis een van die belangrike kenmerke van die moderne mistiek dat die die wêreld as die oord van geloofspraksis beleef. Die mistieke ervaring bind die mens aan die wêreld as God se skepping. Mistici soos Merton, byvoorbeeld, was aktief in die vredesbeweging.

Hiermee hang verder saam dat sommige mense dink die mistieke skrywers is eintlik hoogs arrogant: hulle hef die grense tussen God en mens op en vergoddelik die mens. Hierteenoor moet ‘n mens ook weer kyk na daardie mistici wat juis insien hoe die mistieke ervaring ‘n mens bewus maak van jou eie eindigheid en verganklikheid teenoor God se grootheid.

Dit is maar ‘n paar van die voorbeelde van die kritiek wat ‘n mens teen die mistieke tekste kan uitspreek. Ek het onlangs ‘n artikel begin uitwerk hieroor – skryf gerus aan my vir ‘n afskrif daarvan. Daar is inderdaad baie ander moeilike onderwerpe oor die mistiek waaroor nog baie gedink en gepraat moet word. Een ding staan egter vas: Mense het deur die eeu die mistiek grootliks verteken of misverstaan. Dat daar slegte dinge in die tradisionele mistiek was, is duidelik. Maar die mistiek is nie net negatief nie. Trouens, hoe langer ons die mistiek ignoreer, hoe meer ontneem ons ons self en ons tydgenote ‘n ervaring wat hul lewens kan transformeer en wat hul sal help begryp wie die God van die Bybel is.

Die artikel waarna hier bo verwys word kan aangevra word by my epos adres - kyk vir die adres by my "profile".

Friday, January 01, 2010

Politek en Spiritualiteit

Seuntjie, vanjaar in sy eerste skooljaar in sy skool in Dallas, Texas se wêreld raak al groter. Nou die aand moet hy voor slaaptyd eers sy gebedjie doen. Sy gebed trek los met ‘n klomp, aaneengerygde dankies. Hy is duidelik ingenome met die kersvakansie in die sonnige strandshuis en die heerlike dae van kuier met al die familie, nefies en niggies. Een na die ander en sonder enige voorsê tel hy sy seëninge en bring dit in kinderlike spontaneïteit voor die Vadertroon.

Maar aan die einde van die gebed slaan hy skielik oor in Engels met ‘n kort, kragtige sinnetjie: “And make the President smarter” – vra hy die Here. Ek val amper van my stoel langs die bed af en vra: “En wie het jou gesê om só te bid” terwyl ek vermoed dat hy dit dalk by die skool leer. Maar hulle bid nie in die skool nie, hoor ek. En hy antwoord op my vraag: “Niemand nie.” Ek vra dus verder: “En wie is die President?” Waarop hy antwoord: “Barack Obama.”

Nou daar het jy dit. Ses jaar oud en tog bewus van waar oral en deur wie almal besluite geneem word. Die president kort wysheid, weet hy. En hierdie wysheid moet van bo afgebid word. Hy het skaars begin tande wissel, sy lewe word gedryf deur ‘n sosiale drif om by sy maats te wees en so lank as moontlik te speel, hy vergaap hom aan ‘n DVD, hy verslind Backugon boeke. Maar in hierdie kinderwêreld breek iets deur van ‘n ander wêreld, is daar ‘n bewussyn van dieper realiteite, begin daar ‘n bewussyn van mense buite die bekende familie- en vriendekring wat in sy lewe saampraat.

Al ‘n jaar gelede het hy soortgelyke sake ook al begin deurkyk: hy weet hy is aan pa en ma gehoorsaamheid verskuldig. Hulle is gesagsfigure in sy lewe. Die verste wat hy kan gaan om beslissinge wat hy nie van hou nie te bevraagteken is om by tye ‘n groot fit te gooi. Uiteindelik is die hoër woord wet en sal hy maar moet doen wat gedoen moet word. Maar toe reeds het hy op ‘n dag laat blyk dat hy van die groter wêreld kennis geneem het. Hy vertel dat sy oupa aan pa se kant sy pa se baas is en sy oupa aan sy ma se kant sy ma se baas is. Hulle kan, vertel hy, vir pa en ma voorsê wat om te doen. En netjies het hy verder vertel dat sy ma se pa niks kan voorsê aan sy pa nie en ook kan sy pa se pa aan sy ma nie. Op die manier het hy reeds die groter sisteem van familie-verhoudinge uit ey eie bedink sonder dat iets aan hom gesê is en sonder dat daar in sy huis ooit ‘n patriargale struktuur uitgeleef word.

Ek dink dikwels geboeid na oor sy gebed dat die Here die president wyser moet maak. Dit is ‘n wonderlike gebed, wat beteken dat ‘n mens in die hoogste amp gedurigdeur onthou word, ondersteun word, maar ook herinner word aan die groot verantwoordelikheid en gevolge van sy elke woord en besluit. Hoe sou die president van Amerika anders reageer as verwonderd dat ‘n sesjarige seuntjie in Texas vir wysheid vir hom bid? Vir gelowiges is so ‘n gebed maar die begin – want die vraag is nou: wat presies sal die tekens weet dat die president “wyser” word: dat hy alle oorlog, ook in Afghanistan, afsweer? Dat hy stamsel-navorsing toelaat (teenoor sy voorganger se verbod)? Wat ‘n groot verantwoordelikheid om God se wil vir ons lewe en ons planeet te leer ken . Dit is die “onderskeiding” van die geeste wat in die Bybel ter sprake kom. Hierdie onderskeiding of “discernement” op sy Engels, is ‘n sleutelmoment in spiritualiteit. Hoe leer ken ek God se wil vir my lewe? Miskien is dit baie gevaarlik om God se wil vir ‘n mens se lewe te soek – God kan dalk verstommende dinge van die magtiges vra, soos menige koning in die Ou Testament en die Nuwe Testament uitgevind het.

Dit is nie maklik om goddelike wysheid te soek nie, veral nie omdat Christene onder mekaar so heftig verskil daaroor en mekaar hewig sal beveg wanneer hulle oor sake soos aborsie, huwelikke, saamwoon, vroue-regte en baie ander omstrede dinge begin debateer. Hoe sou die president dan nou “wyslik” tussen hierdie strydende partye moet kies? Dikwels lyk dit uit ons gevegte of ons nie dieselfde Bybel lees nie. En dikwels lyk dit of ons alle perspektief verloor het en haat eerder as liefde in ons verhouding met gesagsdraer soek.

Wat my laat besef: mag God nie net die president wyser maak nie, maar vir ons ook om in wysheid sy besluite te respekteer, met hom en alle magsdraers te debateer en uiteindelik, of ons saamstem of nie, te probeer saamwerk om ‘n krag van vernuwing in die wêreld en politiek te wees.

Dit is tog aangrypend dat die kleintjie in sy slaaptydgebedjie spontaan by God wysheid vir die president soek. Waar is die dae in die ou apartheidstyd dat jy nie op ‘n Sondag in die kerk kon kom sonder dat die predikant passievol vir die staatspresident, sy kabinet en die parlement gebid het nie. Hoor ons hierdie gebede nog in ons kerke? Sal ons weer by die kleines moet leer hoe om te bid? As ons nie eers vir mekaar kan bid nie, hoe kan ons dan nog in een land saamwoon.

Seuntjie se gebed vir die president is die sleutel tot ‘n Christelike getuienislewering – maar iewers is dit net ‘n beginpunt. In ons spiritualiteit, wat nie wêreldontvlugtend mag wees nie, moet ons gedurigdeur in gedagte hou dat ons gebede vir die magshebbers met verdere besinning, gebede, debat en ondersteuning veel verder sal moet voer. Ons is dit aan die kleintjies, die toekomstige geslag, verskuldig, maar veral ook aan die grotes onder grotes wat dikwels met vrees groot besluite moet neem wat ingrypende gevolge vir ander en vir die hele wêreld kan hê. Die wete dat die geloofsgemeenskap vir hulle bly bid, kan hulle versigtiger maak in hul besluitneming, maar kan hulle ook bewus maak van die groot uitdaging om die belange van God se skepping in ag te neem en nie net korttermyn politieke voordele nie.

Seuntjie se gebed het my beskaam – omdat ek besef het hoe klein my eie wêreld dikwels geword het deurdat ek nalaat om vir hulle in regeer- en magsposisies te bid. Ek lees dus weer Romeine 13. 1 Timoteus 2:1-2 en ander gedeeltes waarin gelowiges herinner word aan hul verantwoordelikheid teenoor hul politieke konteks en regeerders.

Thursday, December 31, 2009

God van my lewe – oor God se oneindigheid

Ek is amper klaar gelees aan Karl Rahner se Encounters with Silence. Hy begin die boekie (87 bladsye), geskryf in 1938 as Worte ins Schweigen (ses keer al herdruk en vertaal in Italiaans, Spaans en Engels), met: “Ek sou met U, my God, wou praat, maar oor wat anders kan ek praat as oor U?” Alles wat ‘n mens sê is eintlik iewers ‘n uitspraak oor God. Alles wat bestaan, was van alle ewigheid af in die teenwoordigheid van God. Alle bestaande dinge het hul ware tuiste en mees intieme verklaring in God se gedagte en hart, skryf hy. En tog, voeg hy dan by, wanneer ‘n mens met God oor God praat – met skroom en terughoudendheid – praat ‘n mens ook oor jouself. “Want wat kan ‘n mens oor God sê behalwe dat God 'my' God is, die God van my begin en my einde, God van my vreugde en my nood, God van my lewe."

Daarmee hou Rahner vas aan God se oneindigheid as ‘n sleutel-motief in sy werk. God het ‘n oorweldigende heerlikheid, God het die mens nie nodig nie, God is oneindig hoog en verhewe bo die mens se nederige bestaan. God voeg hy later by, as Vader, Seun en Heilige Gees is die driemaal heilige Verborgene. God is ewiglik verborge in die afgronde van sy Oneindigheid (mooi!) wat in die skepping geen teken laat wat ons op ons eie kan herken nie.

En tog is God “my” God. God is die “God van my lewe.” En dan is daar hierdie helder insig: Die God wat ewiglik verborge is in die afgronde van sy Oneindigheid is nog steeds die God van “my” lewe. Ons sou God as die Verborgene in die verborgenheid van sy innerlike lewe nie ervaar het as God nie ook God van my lewe geword het nie! Ek sal God nie as die heilige, die driemaal heilige Vader, Seun en Heilige Gees kon bely as God nie genadiglik ook die drie-enige God van my lewe geword het nie.

Hiermee onderstreep Rahner hoe verweefd God se verhouding met die mens is. God die Oneindige word deur die mens as Oneindige erken en bely omdat God ook tot ons as eindige mense uitgereik het en deel van ons bestaan geword het.

In hierdie spirituele insig is veel rykdom ingesluit. Ons is bevoorreg en geseënd omdat die Oneindige God na ons uitreik en ons lief het. Ons ervaar dat God se aanraking ‘n hoogs verborge ervaring is. Ons kan dit nie verstaan nie en kan die nie peil nie. God, sê ons geloofservaring, is groter, veel groter, indrukwekkend groter as onsself. Maar tog word hierdie Oneindigheid van God weer vanuit ons eie eindigheid ervaar, bely en verwoord. Ons praat stamelend daaroor. Dit is ‘n moeilike proses om menslike woorde te vind om oor hierdie Verborgenheid te praat en om iets te vertel van die Goddelike aanraking wat ons lewens transformeer. Maar deur na woorde te soek en dit onder woorde te bring, word ons daardeur deurdrenk en dieper daarin geanker. En deur onsself te verloor in hierdie Oneindigheid het ons steeds weer meer deel aan God. Die mistieke verwoording is baie meer as net ‘n intellektuele poging om ons ervaring in woorde uit te druk. Ons belydenis is deel van die mistieke ervaring en bring ‘n mistieke ervaring te weeg.

Wednesday, December 30, 2009

God se ryke vergifnis - oor Jona 4:10

Jona 4:10 is deel van die verhaal waarin Jona onder ‘n wonderboom skuiling vind, maar die boom gaan dan tot niet. Die vers is ‘n pragtige uitspraak om God se genade te illustreer: “Jy wil die wonderboom spaar waar jy geen arbeid aan bestee het nie en wat jy nie groot gemaak het nie, wat in een nag ontstaan en in een nag vergaan het. Maar Ek mag Nineveh, die groot stad, nie spaar nie waarin meer as 120 000 mense is wat die onderskeid tussen hulle regter- en linkerhand nie weet nie en baie vee?"

Barbara Green vertel in haar bespreking van hoe Jona deur die eeue heen vanuit ‘n spiritualiteitshoek uitgelê is, hoe van die vroegste Christene die verhaal van Jona verstaan het. In die vroeë tyd was Christene veral bekommerd of hul sondes vergewe kan word. ‘n Soldaat het na Abba, een van die wyse geestelike leiers gekom met die vraag of God sy sonde sal vergewe. Abba het hom ‘n teenvraag gestel: wat doen jy as jy jou mantel skeur? Waarop die soldaat gesê het dat hy natuurlik die skeur in die mantel sou toewerk en dit weer dra. Die leraar het toe geantwoord, met Jona 4:10 in gedagte: “As jy so versigtig is oor jou mantel, sou God dan nie net so versigtig omgaan met ‘n skepsel van God nie?”

Tuesday, December 29, 2009

Om terug te keer in God se verstommende goedheid. Oor bekering as transformasie in herskepping.

In Spiritualiteit, skryf Waaijman, gaan dit om God wat die mens omvorm deur die mens nuut te skep. Hierdie transformasie in herskepping gaan om 'n “ommekeer” wat by mense plaasvind. Daar is ‘n sekere beslissende oomblik wat hierdie herskepping die beste opsom: ‘n mens word herskep wanneer ‘n mens tot God “terugkeer” – of, soos ons dit in meer tradisionele terme ken, as ‘n mens tot bekering kom. ‘n Mens “keer” jou “af” van jou verlede van misvorming en “keer” jou “toe” tot God.


Die verhaal van die Verlore Seun is ‘n verhaal van weg-keer en terug-keer en is 'n pragtige voorbeeld van transformasie in herskepping. Dit begin deur te vertel hoe die seun sy Vaderhuis agterlaat – doelbewus en as ‘n duidelike keuse. Hy gee alles wat sentraal was aan sy lewe prys en slaan ‘n koers in wat direk in die teenoorgestelde rigting gaan as wat hy sy hele lewe voorheen ingeslaan het.

Maar dan kom daar uiteindelik ook in die proses waarin hy sy rug op sy Vaderhuis keer, ‘n dramatiewe wending en ommekeer wanneer hy op 'n bepaalde oomblik herskep word.

Die verlore seun, sê Lukas 15:17, het “tot sy sinne gekom” toe hy uiteindelik in die varkhok lus gekry het om die peule wat die varkvoer was, te eet. Dit was vir hom die draaipunt – die oomblik van waarheid. Die kern van die gelykenis en van herskepping kry ‘n mens in sy woorde: “Ek sal opstaan en na my Vader gaan.”

Bekering behels drie dinge wat in die gelykenis pragtig na vore kom:

·
1. Terugkeer na die oorspong
Bekering was vir die verlore seun die oomblik wat hy besef het hy hoort in die Vaderhuis – hy sê vir homself: “ek sal na my Vader gaan.” Hy keer terug na sy plek van geboorte. ‘n Mens word getransformeer in die herskepping wanneer ‘n mens terugkeer na jou oorspronge (aldus Waaijman). Die verlore seun besef dat hy nie in ‘n varkhok, maar in die Vaderhuis hoort. Dit wat jou hart vir jou altyd gesê het, dit wat jy altyd as jou eintlike tuiste beskou het, maar wat jy verloën, ontken en agtergelaat het, word weer deur jou opgesoek – maar hierdie keer met ‘n dringendheid, nederigheid en ‘n brandende verlange. Jou oorspronge is nou jou hoogste begeerte. Die verhaal van die verlore seun is dus ‘n goeie illustrasie van misvorming: ‘n mens raak los van jou anker en word deur die lewenstorme verwoes. Uiteindelik besef jy jy moet terug na die veilige hawe.

·
2. Wedersydse ontmoeting
Maar dan kom die tweede aspek van die dramatiese wending tot herskepping na vore: ‘n mens ontdek dat jou terugkeer ‘n wedersydse terugkeer is: die Pa van die verlore seun hardloop hom tegemoet. Hy is reg om sy verlore seun tuis te ontvang. Waaijman verwys na Deut.30:2-3 – Die Here sal na jou terugkeer soos jy na hom omkeer. (Ook Ps.126:1). Die herskepping bring God weer in ‘n ontmoeting met die mens en herstel God se verhouding met die verlorene. Die terugkeer tot God lei nie tot vernedering, knegskap en minderwaardigheid nie. Die een wat in nederigheid vir God opsoek, ontdek ‘n Vader wat hom of haar tegemoet hardloop.

·
3. Om God nuut te sien
Maar daar is ook ‘n derde aspek van die ommekeer tot herskepping: Wanneer die verhouding tussen God en mens herstel is, word ‘n mens se verstaan van God ook getransformeer. Dan ervaar ‘n mens God se oneindige goedheid en barmhartigheid. Bekering beteken dat ‘n mens verstom staan voor God se oorweldigende liefde. Die Verlore Seun wou sy pa se slaaf op die plaas gaan word. Instede daarvan word hy met die vetgevoerde kalf vereer. Hy leer sy pa ken as ‘n liefdevolle ouer, terwyl hy gedink het hy gaan terug na ‘n streng pa. Bekering is ‘n verootmoedigende ervaring: ‘n mens besef met verwondering en met ontsag dat die God wat jy agtergelaat het, die God is wat vir jou alles gee, in oorvloed, wat jy in plekke van self-vernietiging gaan opsoek het. Jou bewussyn van God, jou ervaring van God word totaal omvorm. Dit is veral hierdie aspek wat my raak – want dit beteken dat bekering ‘n mens ‘n totaal nuwe visie op God gee. ‘n Mens ervaar God soos nooit tevore nie. In bekering val die klem dus nie op hoe dramaties jy verander nie, maar op God en God se onuitspreeklike goedheid om jou, die wegloper, terug te neem en te omvorm.

Bekering neem jou terug na waar jy hoort, maak jou deel van ‘n verhouding waarin God en jy in ‘n intieme eenheid is en laat jou verstom staan oor die rykdom van God se ontfermende goedheid.

Monday, December 28, 2009

God omvorm die mensdom tot 'n radikale nuwe lewe. Oor transformasie in herskepping.

“Bekering” is een van die bekendste motiewe in die woordeskat van ‘n Christen. “Ek het tot bekering gekom” of “bekeer julle!” is ‘n vaste deel van die geestelike lewe. Die Bybel bied heelwat ander perspektiewe op bekering en wend motiewe aan wat ‘n mens help om bekering as ‘n spesiale ervaring beter te verstaan. So is bekering deel van ‘n baie groter proses. Dit reflekteer een aspek van die baie breër verhouding tussen God en mens, maar is veral deel van die transformasie wat mense ondergaan as God met hulle ‘n verhouding aanknoop. Spiritualiteit wil juis ons oë oopmaak vir die ryk verskeidenheid van gedagtes wat na vore kom wanneer ‘n mens oor bekering begin praat vanuit God se verhouding met die mens.

Die woord “transformasie” beteken eintlik “omvorming.” Die bekeerde mens is iemand wat getransformeer word en wat leef in ‘n nuwe lewensvorm. Maar hierdie transformasie gebeur nie eers met mens se bekering nie, maar vind plaas reeds wanneer God in die skepping mense uit niks vorm of formeer nie. En bekering volg ook nadat mense hierdie goddelike vorm wat in hulle geskep is misken en hulle lewens misvorm het. Iets het skeef geloop in hulle lewens, maar God kom dit regmaak.

Ons weet egter dat ook gelowige mense gereeld tot bekering moet kom – daar is iets soos voortgaande bekering wat volg op ‘n eenmalige bekering. Dit beteken dat ‘n gelowige mens ook maar kan verval. ‘n Mens kan dus selfs as ‘n baie godsdienstige mens ‘n misvormde lewe hê – soos gebeur het met die godsdienstige mense in Jesus se bediening en met die apostels in Handelinge toe hulle nie God se wil gehoorsaam het nie. Godsdiens kan bydra tot ‘n mens se misvorming – soos in die vorige blog gesien het. Of gelowiges kan weer hul ou gedragspatrone of wêreldse gedragspatrone oorneem en verval in ‘n lewe wat sinloos en lelik is. In die Nuwe Testament waarsku Paulus in Romeine 12:2 juis sy lesers as gelowiges om nie “aan hierdie wêreld gelykvormig te word nie.” Hierdie gedeelte in Romeine 12 is waardevol om bekering en transformasie te verstaan.

Paulus voeg in Romeine 12:2 ‘n belangrike verdere opmerking by sy waarskuwing dat mense nie aan die wêreld gelykvormig moet word nie. Dit is hier waar bekerking ter sprake kom, maar Paulus gebruik nie die woord “bekering” hier nie. Gelowiges moet verander word deur die “vernuwing” van hulle gemoed. Hulle moet, volgens die Grieks, ‘n “metamorfose” ondergaan – wat die Griekse ekwivalent vir die oorspronklik Latynse woord vir “transformasie” is. Hierdie verdere opmerking van Paulus is boeiend want dit illustreer verskillende ryk betekenisse van transformasie as ‘n sleutelwoord in Spiritualiteit:

Eerstens word ‘n mens getransformeer – of ondergaan ‘n mens ‘n metamorfose. “Word verander” skryf Paulus in Romeine 12:2 en bedoel daarmee eintlik: Laat God julle omvorm of transformeer. Dit is God wat hulle “gemoed” of denkpatrone vernuwe. Soms beklemtoon mense dit in die gedagte dat bekering as “wedergeboorte” verstaan moet word. ‘n Mens word gebore tot die geloof. God skenk dit. ‘n Mens kan dit nie self vermag nie. Dit kom as ‘n genadegawe tot jou. Die verhouding met God val as te ware uit die lug uit. Waaijman skryf hieroor (en hy haal die Latynse vaders aan): ‘n mens kan jou lewe misvorm en tot niet laat gaan, maar dit is God wat jou lewe transformeer en hervorm.

Tweedens is daar tog iets wedersyds aan die verhouding wat God met die mens aanknoop. ‘n Mens stel jouself beskikbaar vir die goddelike metamorfose. In Romeine 12:1 het Paulus gevra dat gelowiges hulle as ‘n “lewende, heilige en aan God welgevallige offer”gee. En ‘n mens wat deur God in sy denke vernuwe is, word iemand wat kan onderskei wat is die goeie, aanvaarbare en volmaakte dinge wat God wil hê hulle moet doen. ‘n Bekeerde mens is iemand wat aktief op soek is om God se wil te doen en om dit te doen wat spesiaal en helend is.

Daarmee word die wedersydse karakter van God se verhouding met die mens uitgewerk. God werk deur die mens radikaal te omvorm, maar die mens moet hiervoor oop wees en moet aktief soek om God se werking na te streef. ‘n Mens moet soek na die goeie, die aanvaarbare en selfs die volmaakte! God werk uit genade om die mens ‘n sinvolle lewe te gee, maar dan span die mens hom of haar tot die uiterste in om te doen wat selfs volmaak is. Hier het ons ‘n pragtige sirkel: God knoop die verhouding met die mens aan, maar wanneer ‘n mens die goeie en volmaakte soek weet ‘n mens dit is God wat besig is om jou lewe te vorm.

Wanneer Waaijman hierdie dinge beskryf as deel van sy gedeelte oor re-formasie (in transformasie) verwys hy op ‘n stadium na Lukas 17:21 waar Jesus vir sy dissipels sê dat die Koninkryk in hulle is. Die Griekse Vaders het hieroor geskryf dat wanneer God se koninkryk in ons vestig, word ons tot konings en koninginne gemaak. God doen iets, maar terselfdertyd herstel God ons in ‘n spesiale status wat ons lewens bepaal en radikaal omvorm.

Maar wat my die meeste geraak het in my nalees oor hierdie aspekte van transformasie is wat die Latynse Vaders daaroor geskryf het: God restoreer nie. God transformeer eerder. Ons word nie maar net herstel tot ons ou vorm nie. Ons word getransformeer tot iets groters. Juis omdat ons meer as ooit omvorm word, daar dieper in ons lewens as ooit tevore ingegryp word, daarom kan alleen God vir mense transformeer. As ons as mense sou wou transformeer, haal Waaijman die Latynse vaders aan, sou ons maar net die misvorming uitgehaal het en die ou, goeie vorme in ons lewens teruggebring het. Maar omdat God ons transformeer, kom daar nuwe, onbekende lewe in ons wat die ou vorme heeltemal oortref.

Uiteindelik moet ‘n mens ‘n laaste aspek byvoeg: transformasie vind nie plaas sodat ons tot groter hoogtes presteer of sodat ons net die aangename dinge begeer nie. Juis deurdat ‘n mens weet transformasie is God se handeling en die mens laat toe dat God hierdie verhouding begin, word ‘n mens nederig en terughoudend. Jan van die Kruis het hieroor geskryf: Die transformasie stimuleer in ons niks anders as ‘n diepe begeerte om met God verenig te wees. Maar hieroor wil ek nog verder dink en lees...

Ons word in die skepping getransformeer wanneer God ons formeer en aan ons ‘n bestaan gee. Maar daar vind iets groters plaas wanneer God ons transformeer in die herskepping. En dit is iets ingrypend, want daarmee word iets in ons geformeer wat heerliker is as wat in ons skepping gebeur het.

Sunday, December 27, 2009

God se herskepping: Oor transformasie van ons misvormde lewens

Die geskiedenis van die Ou Testament is vol verhale oor die aanbidding van afgode as die groot dwaling onder die volk van God. Hulle afgode-diens word veroordeel omdat hulle beelde van hout, klip en ander materiaal aanbid. Jesaja 44:6-23 is ‘n voorbeeld van hoe die profete sulke godsaanbidding verwerp het. Hulle verwerp die nasies “wat die hout van gesnede beeld dra en ‘n god aanbid wat nie kan verlos nie” (Jes.45:20). Teenoor hierdie afgode staan die Here “die Heilige van Israel en sy Formeerder” (Jes.45:11). Die nasies sal na Israel kom, voor hom buig en sê: “Waarlik, God is in jou; en anders is daar geen, geen God meer nie!” Onmiddellik hierop volg: “Waarlik, U is ‘n God wat U verborge hou, die God van Israel, die Heiland.” God, die Verborgene, kan nooit vasgevang word in verganklike, mensgemaakte dinge en bedinksels nie.

Later, in Handelinge 17, klink hierdie profetiese boodskap nog na. Hier sê Paulus, terwyl hy tussen die tempel, afgodsbeelde en altare staan, vir die Atheners dat God as “Here van die hemel en die aarde” nie in tempels wat met hande gemaak is, woon nie (Hand.17:24). Die Godheid is nie gelyk aan goud of silwer of steen, die beeldwerk van menslike kuns en uitvinding nie” (Hand.17:29).

Wanneer mense afgodsbeelde van God maak en dit aanbid, verkoop hulle hulself aan verganklike, eindige dinge. Die beroemdste voorbeeld in die geskiedenis van Israel was die goue kalf wat hulle gemaak het en aanbid het (Eks 32:4). Hul beroemde godsdiensleier, Aäron, het die kalf laat maak en mense uitgenooi om die kalf te aanbid op ‘n fees van die Here.Hulle vervang hul diens van God met diens van mensgemaakte voorwerpe. En daardeur vernietig hulle hulself. ‘n Mens moet net Romeine 1 lees om te verstaan wat gebeur wanneer mense “die heerlikheid van die onverganklike God verander in ‘n gelykvormigheid van die beeld van ‘n verganklike mens en van voëls en viervoetige en kruipende diere” (Rom.1:23). Die lys in vers 29-32 spel uit hoe mense se lewens uiteindelik tot niet gaan wanneer hulle nie meer die onverganklike God dien nie.

Dit was die groot de-formasie – mense wat God se vorming in hul lewe ontrou word en deur hul verering van mensgemaakte voorwerpe van God afvallig word. Hulle word misvorm.

Egte godsdiens weet dat God groter is as enige beeld, tempel en, uiteraard, kerk, teologie, geloofstradisie.

Terwyl ek hierdie gedagtes bedink, aan die hand van Waaijman se opmerkings oor transformasie in her-skepping, kan ek nie help om te dink aan die manier waarop ons ons godsdiens en ons teologie “heilig” verklaar. Die goue kalf is deur hoogs godsdienstige mense gemaak om godsdienstig te wees. Soos Aäron dink ons selfs ons kan fees van die Here hou wanneer ons God se teenwoordigheid vas te lê in ons mensgemaakte skeppinge. En dit terwyl God verborge is, terwyl God op die berg Sinaï in die duisternis woon, ontoeganklik is vir mense en onpeilbaar in die goddelike wese. Ons het nie meer ‘n kalf wat in goud gegiet is nie, maar ons het dikwels ‘n kalf wat as ‘n kerklike handboek of ‘n teologiese geskrif gegiet is. Ons het God ‘n gevange gemaak van ons menslike woorde en uitbeeldinge. God “pas” net in die manier waarop ons kerk hou, aanbid en glo.

Paulus het dit radikaal omgekeer in Handelinge 17:25 en 28 nadat hy vertel dat God nie in mensgemaakte tempels en dinge woon nie. God lewe nie in ons woorde of beelde nie. “In God lewe ons, beweeg ons en is ons.” Dit is God wat aan ons almal lewe en asem en alles gee.” God is groter as ons woorde, oneindiger as al ons mensgemaakte woonplekke en aanbiddingsoorde vir God. God is groter as al ons waarhede – soos Paulus uitgevind het toe hy agterkom dat sy gehate slagoffers, die volgelinge van Jesus, in lyn met God se wil was. En net so het die Atheners ook hul misvormde godsdiens herken en die wil van God vir hul lewe nuut ingesien.

Die oneindige God formeer ons, skep ons, gee aan ons alles. Wanneer ons oor hierdie oneindige God praat en woorde oor God skep om te praat oor hoe God ons getransformeer het, pas dit ons om altyd te onthou dat ons woorde en ons waarhede feilbare pogings is om ons ervaring van God uit te druk. Ons bly gedurig soekers en tasters na die waarheid (Hand.17:27). Sodra ons ons waarheid trots uitstal as God, kom die profetiese woorde oor afgodsdiens deur die eeue na ons aangerol. Dan word ons lewens bepaal deur ons eie uitvindsels, deur ons slimheid – in soveel klatergoud uitgestal. En eindige, mensgemaakte dinge word die tronk waarin ons die oneindige God finaal wil vasvang en opsluit.

Natuurlik kan ‘n mens deur slegte keuses misvorm word – byvoorbeeld deur te moor, te steel en te lieg. Dit is sleg wanneer mense hulleself vernietig deur hierdie goddelose dinge te doen. Maar ‘n mens kan ook misvorm word deur jou godsdiens wanneer ‘n mens die lewende teenwoordigheid van God, die transformerende werking van God deur jou mensgemaakte idees oor God in die weg staan. Die Evangelie van Jesus vertel van hoe onkant God se volk gevang was toe hulle vasgeval was in hulle eie vroomheid.

Spiritualiteit vertel ook van die tragiese moontlikheid dat mense wat aan God behoort die vermoë het om hul verhouding tot God te misvorm. Ons kan deur God gevorm word, maar ons kan ook ontrou word aan God se vormende werking in ons lewens.

Terwyl ek hierdie dinge bedink, besef ek hoe belangrik ons Godsbeeld is. Ons geestelike reis word ten diepste bepaal deurdat ons steeds vashou aan die wete dat God die Oneindige is, die een wat ons gevorm het in die skepping. As ons dit besef sal ons met meer eerbied teenoor God leef. En ook teenoor ander. Ons mag dalk net soos Paulus ontdek dat die God wat ons altyd gedien het en die mense wat ons so maklik veroordeel het nogal anders lyk as wat ons gedink het.

Ons moet steeds weer getransformeer word in die herskepping. Ons word telkens weer deur God uit ons misvormdheid omvorm tot egte diens van die Oneindige God.

Saturday, December 26, 2009

Om bewus te bly van hoe God ons transformeer.

Negatiewe gevoelens oorheers soms mense se lewens, veral wanneer hulle hulself met ander mense vergelyk. Dit maak hulle morbied en depressief.

Aan die ander kant is sommige onder die indruk van hul eie prestasies en die moontlikhede wat hulle het om bo alle ander mense uit te styg.

In Spiritualiteit word beklemtoon dat die mens deur God in die skepping getransformeer word uit niks. Ons praat van die transformasie in die skepping. ‘n Mens is gevorm deur God na die Beeld van God. God is die pottebakker wat ‘n mens bedink, ontwerp, vorm en maak.

‘n Belangrike deel van die mistieke ervaring is die oomblik dat ‘n mens besef dat God die Een is aan wie jy jou bestaan te danke het. God as Skepper is die een wat jou geskep het, net soos wat God die wêreld gevorm het. Dit dring tot jou deur en word 'n fokuspunt van jou lewe en iets waaraan 'n mens vashou. Dit is iets wat ‘n mens gedurig bedink soos ‘n mens deur God meer en meer in heiligmaking gevorm word. En ‘n mens bly vashou aan die “wete” – aan daardie oomblik dat jy tot die besef gekom het van God se allesbepalende rol in jou lewe.

Hierdie proses van vormgewing gaan dus gedurig voort en ons oefen onsself om nie hierdie transformasie te “vergeet” nie. Ons word gedurig, ook in die proses van heiligmaking, opnuut weer deur God gevorm en herskep. En daardie een beslissende oomblik dat ons God in ons lewe ontdek het, word ‘n lewenslange ketting van oomblikke van herinneringe aan wat God in ons lewens is en doen.

Wanneer hierdie besef tot ons deurdring, ook by herhaling, ervaar ons in ons innerlike dat ons eintlik niks sonder God is nie. Alles wat ons is, het ons aan God te danke. Die sentrum van ons bestaan skuif weg van ons na God.

Om te dink dat ons die beeld van God dra, nie maar net ‘n intellektuele insig nie. Dit is ‘n oorweldigende ervaring. Elke keer as ons dit bedink, raak ons bewus daarvan dat ons ‘n stuk ewigheid in ons omdra en dit doen iets aan ons. Die ontsaglike, oneindige God vorm ons om soos God te lyk. Daarom, ervaar ons verder, word ons uiteindelik ook in God se ewigheid opgeneem.

Wanneer ons besef dat ons niks is sonder God nie, dat ons totaal onbelangrik is, dat ons eintlik nikswerd is, gaan dit nie om ‘n afbrekende minderwaardigheidsgevoel nie.

En as ons so naby aan God leef met die wete dat ons niks sonder God is nie, is ons eie prestasies iets wat ons nie “bo ander” laat uitstyg nie. Dan is ons deur God geseënd met gawes wat ons gebruik om ander mense te dien, lief te hê en deel te maak van God se familie. Want hierdie gawes is God s’n en ons moet God se gawes gebruik soos God dit bedoel het – om te transformeer.

Die oomblik dat ons bewus raak van ons eie klein-heid in vergelyking met ons Skepper se grootheid, word ons bevry van grootheidswaan. Ons verstaan dat ons nie onsself geskep het nie, dat ons niks is sonder God nie. Maar die keersy hiervan is die onbegryplike, oorweldigende gevoel dat hierdie Skepper ons in die hand neem en ons ‘n goddelike beeld gee. Geborge in die liefdevolle omvorming van God kan ‘n mens nie minderwaardig wees nie. Wat saak maak is nie hoe ons presteer in ander se oë nie, maar om naby aan God se liefde te bly. Wanneer ‘n mens so naby aan God voel, word ons identiteit nie gevorm deur hoe ons met ander mense vergelyk of wat ander mense van ons dink nie.

Om na te dink hoe God ons transformeer in en deur skepping het ‘n verdere mistieke werking. Wat God aan ons doen, gebeur ook deur ons lewens. Soos God, is ons lewe ook transformatief in sy werking. Waar ons in menselewens teenwoordig is, word hulle deur God se teenwoordigheid in ons aangeraak en omvorm.

Friday, December 25, 2009

Uit niks gevorm - oor spiritualiteit as transformasie

Die Apostoliese Geloofsbelydenis begin met die verwysing na God as “die Skepper van hemel en aarde.” Daarmee word uitdrukking gegee aan ‘n belangrike aspek van die Christelike geloof. Die Skeppingsgedagte word herhaaldelik in die Bybel uitgewerk.

Veral op ‘n kersdag in die Suidelike halfrond is ‘n mens bewus van die goddelikheid van die skepping. Die aarde, die natuur is die werk van God se hand. Maar die belydenis van God as Skepper sluit ook die skepping van elke mens in.

Psalm 139:13 vertel: “U het my niere gevorm, my in my moeder se skoot geweef.” Daarom is die mens wonderbaar.

God “vorm” ons en “weef” ons. Reeds van die begin, voor ons geboorte, voordat ons daarvan bewus is, vind daar in ons verhouding met God transformasie in ons plaas wanneer God ons “skep.” Ons word vanuit ons “ongevormdheid” (Ps.139:16) en “losse” bestaan in die skepping om-“vorm.”

Hierdie skeppingsgedagte is nie maar net ‘n interssante feit waaroor ‘n mens allerhande redenasies kan uitwerk nie. Dit is iets wat in ons geloof oproep. Die insig en ervaring van ons transformasie in ons skepping is iets wat as ‘n mistieke krag in ons geloof aan die werk is. Waaijman skryf dat die skepping in ons bewussyn indring en dit deurdring. Ons voel aan en leef bewustelik uit die ervaring dat God ons op ‘n merkwaardige manier tot stand gebring het. Die gelowige bely daarom met verwondering sy eie skepping en loof God daarvoor. Psalm 139:14 skryf: “Ek loof U omdat ek so vreeslik wonderbaar is; wonderbaar is U werke! En my siel weet dit alte goed.”

Wanneer ons die skepping bely, raak dit ons geloof besonder sterk. Ons is bewus daarvan dat God van alle tye af ‘n verhouding met ons aanknoop wat vir ons tot ‘n kunswerk vorm. Alles wat ons is, kom van God. Was dit nie vir God nie, sou ons nie tot die wonder gevorm gewees het wat ons nou is nie. Ons het ‘n diepe verbondenheid en eenheid met God. Dis ‘n mistieke band wat ons vier. Ons is klei in God, die pottebakker se hand (Jes.18:2-6). Ons was vormloos, maar God het aan ons ‘n vorm gegee. Ons was niks, maar God het ons tot mens gemaak.

Op Kersdag wanneer ons aan vrede op hemel en aarde dink, herdenk ons die nuwe skepping in Christus. Maar hierdie hernuwing en her-vorm-ing is maar net nog ‘n dimensie in die proses wat reeds lank tevore gebeur het toe God ons geskep het en daar ‘n onlosmaaklike band tussen ons en God ontstaan het.

In die geloof “ervaar” ek in verwondering hierdie band met God. Ek weet dit, ek voel dit, ek beleef dit. Daarom “loof” ons God” (Ps.139:14). In die skepping het God baie na aan my gekom deur my uit vormloosheid te transformeer.

‘n Mens “juig” net soos in Psalm 139:14 as jy ‘n kragtige ervaring gehad het. Wanneer ‘n mens bewus word van God se transformasie in jou skepping, maak dit ‘n sterk krag in jou los. Dit is ‘n wonderbaarlike oomblik wanneer ‘n mens op ‘n dag bewustelik beleef dat jy “niks” is sonder God nie. Dit is dan wanneer ‘n mens besef dat werklike vrede ervaar word as ons in eenheid met God leef.

Wanneer ons sê dat spiritualiteit te make het met die transformatiewe verhouding tussen God en mens, impliseer ons daarmee ‘n rykdom van betekenisse. Dit raak nie net ons transformasie uit die sonde nie, maar die goddelike transformasie begin van die eerste oomblikke van ons bestaan. En daarmee verstaan ons hoe grondiglik ons aan God verbind is. Sonder God kan ons nie bestaan nie.

Thursday, December 24, 2009

God die ewige se onbegryplike nabyheid - oor die wonder van kerstyd

Bo-ons in die suidelike halfrond, veral hier aan die Suidkus waar ons saans nog ‘n donker nag vol flonkerende sterre kan sien, ervaar ons elke keer weer met verbasing hoe groot die skepping is, hoe oneindig die sterrestelsels bo ons uitgestrek lê.

En hierdie oneindigheid in die natuur word vir ons soms ‘n simbool van God se grootheid. Ons bedink en ervaar hoe verborge die God is wat hierdie pragstuk met soveel mag geskep het. En ons weet in ons hart met ontsag dat God die Ewige is, die Een wat ons nooit in taal kan sal beskryf nie, die Een voor wie ons maar net in verwondering kan buig. Dit is eintlik angswekkend – hierdie grootheid van God. As ek in stil verwondering...

Hoe stil is hierdie Oneindigheid nie. Die sterre, eintlik vol vlammende, verterende energie, is vir ons die rustige liggies aan die hemeltrans wat ons bekoor. Dit is soos die vleeswording – die geboorte van Christus: die Ewige God, die Onsienlike, die Onverstaanbare, Onbegryplike God kom tot ons as ‘n mens, ‘n baba.

Om te dink hoe naby God aan ons gekom het! En hierdie oorweldigende, onpeilbare liefdesdaad van God in Christus raak ons aan, roer ons, bring ons vrede. Hoe ondenkbaar bevoorreg is ons nie: dat die angswekkendheid van God se grootheid eintlik die teerheid van God se inwoning onder en in ons word. Die massas lig, energie, vuur, vlamme wat so verterend kan wees, is terselfdertyd ‘n kerslig wat vredig in ons bestaan kom lig straal.

Veral ou kersaand bring ons in die stemming van vrede voor die God van groot dinge. Dit is die tyd dat ons, verwonderd oor die groot dade van God, by ‘n krip kniel en kan voel hoe naby God aan ons gekom het. Dit word inderdaad vir ons ‘n stille nag....

Blog Archive