Tuesday, June 30, 2009

Vroomheid en godsaligheid

Vir my is “vroom” ‘n mooi woord. In die ou dae is gepraat van “godsaligheid,” maar min mense gebruik dit. Party mense hou weer nie van “vroom” nie, omdat dit hulle aan skynheiligheid laat dink, maar by my is dit anders. Ek begin egter al hoe meer dink albei hierdie woorde help ons om iets van die mistieke mens se gebedslewe te verstaan.

Daar is wel ‘n baie klein gaping tussen vroomheid en skynheiligheid. Dikwels verwar ons vroomheid met ‘n innerlike drang om mooi heilig uit te styg en om in jou godsdiens uit te blink. Daar is nie iets verkeerd met on behoefte aan geloofsgroei nie, maar dit word ‘n probleem as dit ek is wat in my geloof groei. Johannes die Doper het hieroor helder lig laat skyn: Hy moet meer word en ek (ook in my vroomheid) minder. Die mistikus is juis iemand wat weet dat die ou mens waarvan ‘n mens ontslae moet raak, ook die mens se behoefte om God as gelyke te sien en te behandel, insluit. ‘n Mens het dan die skyn van heiligheid, maar dit is ‘n heiligheid waarin jy as die goeie een uitblink (dink maar: Fariseër en tollenaar).

Egte vroomheid is iets anders as prestasie-gedrewe heiligmaking. ‘n Vroom mens is ‘n godsalige mens – iemand wat sy saligheid of geluk (salig is die vredemakers, ens.) in God vind. ‘n Vroom mens wag op God, vertrou op God en eer God. Al die aandag van die gelowige mense is weg van hom- of haarself op God gerig. “God moet meer word, ek minder.”

Dit beteken dat die vroom mens nederig is, sonder enige dunk van hom- of haarself. So iemand is leeg aan hom- of haarself, nie geïnteresseerd in wat hy of sy voor God kan presteer nie. Die vroom mens dring nie aan om dinge van God te vra of op te eis nie (Vra! Eis! Bid! Draai God se hand – hoor ek sowaar oor die naweek). Die vroom mens gee nie om om onbekend te wees nie. ‘n Egte mistikus was altyd onbewus van of onbekommerd oor sy of haar eie reputasie en roem. ‘n Vroom mens wil juis in die skaduwee leef – die skaduwee van God. En die vroom mens is iemand met leë hande. “Here, hoe kan ek tog arrogant wees en dink dat ek vir U iets kan aanbied en by U kan presteer?” Hy of sy het ‘n innerlike leegheid sodat die ruimte wat daar is heeltemal deur God opgeneem kan word.

Vroomheid soos hierdie bring egte, innerlike vrede, want dit soek niks nie, begeer niks nie, wil nie die eie wil en begeertes uitleef nie.

Om diep in die geloof in te groei is om oop te word vir wat God van my vra, vir my gee, om te wag op God, op die mistieke teenwoordigheid van God, op die vervulling met die Heilige Gees.

Dit is baie uitdagender as wat dit lyk, want soms laat God diep, swaar stormweer oor ons losbars. Soms toets God ons tot op die grein van ons bestaan. Kom daar dan swaarkry in jou lewe of oorval diepe trauma jou, hoef dit nie ‘n mens se vrede weg te neem nie. Want ons vrede gaan alle verstand te bowe. Dit bly by ons, ongeag wat ook al oor ons pad kom. Elke pyn word ‘n geleentheid om te vra hoe ‘n mens God se wil in jou lewe kan gehoorsaam. Elke teleurstelling, elke dolksteek in jou hart, elke doodshou, bied die kans om te soek na God se liefde. Elke mislukking bring ‘n mens by die punt dat ‘n mens besef die eenheid met God is al wat regtig saak maak.

Maar hoe werk dit prakties? ‘n Vroom mens is deurdrenk van God se liefde: al wat regtig saak maak, die belangrikste ding wat ‘n mens ooit kan doen, te midde van alle trauma, pyn, teleurstellings of mislukkings, is om God as die Beminde lief te hê. Hoe het ‘n mens God lief? Deur die liefde wat God aan ons gee in alles wat oor ons pad kom, te vind en te omhels.

Om dit te kan doen, moet die vroom mens soek om God in gebed te aanskou. ‘n Vroom mens is ‘n godsalige mens: hy of sy is biddende salig gelukkig in God se liefde. Egte heiligheid is om in God se liefde jou geluk te vind.

Monday, June 29, 2009

In afwagting op God se aanraking: oor die erediens en ons instelling

Vir jare kla ons oor mense so “styf” in die kerk inkom voor die diens begin en nie ‘n woord sê of kwytraak nie. Ons het hieroor nogal baie nagedink na ons studiejare in Nederland waar die Hollanders destyds in die kerk wat ons bygewoon het, soos ‘n bye-nes tekere gegaan het. Dit was nogal gesellig. ‘n Regte basaar van oor en weer groet, hand-gee, gesellig gesels was daar aan die gang. Teenoor hierdie woeligheid moes ons na ons terugkeer eers weer gewoond raak aan die stilte.

Ek begin oor stilte voor die diens veral in onlangse tye weer anders dink. Natuurlik kan ‘n stilte ongemaklik wees. Maar dit kan ook ‘n intimiteit en gewydheid reflekteer. Na al die gejaag van die week, is dit ‘n tyd om terug te sit en te voel ‘n mens is in ‘n veilige ruimte. Met musiek daarby, word ‘n mens verder in die regte stemming geplaas.

Die vraag is: kan ons nie meer doen om hierdie tyd van stil word sinvoller te maak nie?

Ons stilte voor die erediens is diep in ons Suid-Afrikaanse gereformeerde gemoed ingeprent. Ons hou daarom nie eintlik van hande in die lug druk of rondspring of hard praat nie. Dit is vir ons “tradisie” om stil te wees.

En noudat ek dikwels oor spiritualiteit nadink, word dit vir my ‘n uitstaande kenmerk van ons eie spiritualiteit. Iets waaroor ek al hoe meer waardering het.

Ek begin al hoe meer die waarde hiervan insien: as ‘n mens die Bybel lees, begin jy immers ook gewoonlik met die gebed dat die Here jou hart sal “oopmaak” vir wat daar staan. Net so kan die tyd voor die erediens op 'n individuele vlak ‘n innerlike inrigting en instelling meebring op wat in die erediens gebeur. ‘n Mens “berei jou voor” vir die ontmoeting met die Here en die aanbidding wat nou plaasvind.

Miskien moet ons meer moeite doen hiermee, veral omdat mense nogal geneig is om hierdie tyd van stilte voor die diens as ongemaklik te beleef. Of mense sit en kyk wie almal in die kerk instap en dié wat laat is voel duisende oë hou hulle dop as hulle in die kerk instap.

Ons kan dalk ‘n nota op die afkondigings aanbring wat mense help om hulle gedagtes in te stel: ‘n foto, of tekening of illustrasie daarop wat mense ter voorbereiding van die diens kan bedink. En dan kan die liturg vir mense vra om spesifiek daarop te let as hulle voor die diens hulleself voorberei. Of dit kan ‘n teksvers uit die Bybel wees wat mense kan bedink. Of ‘n kort verhaal: vandag is tradisioneel die geboortedag van Augustinus (met ‘n kort lewensbeskrywing).

Ons het feitlik oornag ons gemeentes gehelp om die erediens af te sluit met die gesonge “amen”. Dit was ‘n baie sinvol liturgiese verryking wat gou-gou in feitlik alle gemeentes oorgeneem is, veral omdat die closure gebring het en die ou manier van rustelose uitmekaarspat na die seën, omgekeer het in ‘n biddende toeëiening van God se seën. Ons kan tog dieselfde doen ter voorbereiding van die diens.

Die punt is dat ons steeds weer mense help om tot die erediens “in afwagting” toe te tree. ‘n Mens sal nie seën uit ‘n diens put, as jy nie seën afwag nie. Baie dinge kan ‘n mens help om jou hart innerlik op God te rig. Ons weet dit tog uit ons eie ervaring. Wanneer ons die Bybel in ons stiltetyd lees, is dit gewoonlik in die afsondering van ons kamer waar daar nie geraas is om ons aandag af te trek nie. Ons hou ook daarvan om ons Bybels in ‘n omslag te hou as teken van ons eerbied vir die Bybel as die Here se Woord. Uiterlike dinge help ons om ons in te stel op die geestelike oefening waarmee ons besig is. Op dieselfde manier moet ons nog meer vindingryk dink hoe kan ons ons erediens as ‘n ontmoetingsruimte voorberei. Baie plekke doen dit reeds: ‘n verwelkomingsgroet by die deur is ‘n baie sinvolle manier om mense te laat tuis voel. Pragtige blomme rangskikings, kansel-klede, selfs kerse help ook om ‘n atmosfeer van wyding te skep. Kan ons nog meer doen of kan ons die bestaande dinge spesifiek op ‘n geestelike belewing instel. Ons moet elke keer weer die vraag stel: hoe stel al hierdie dinge wat voor die diens gebeur my in op aanbidding wat in die erediens (diens tot verering van God) volg.

Des te meer ook omdat ons in ‘n tyd van die visuele leef. Mense wil nie net na die brein gevoed word nie. Hulle oor , oog en hart moet aangespreek word.

Die groot uitdaging is om ons voor te berei op die erediens in ‘n meditatiewe gees. Ons moet onsself aktief kan instel, kan bedink en oordink op wat volg.

Sunday, June 28, 2009

Jeanne Goosen se gedig oor Christus

Jeanne Goosen het 'n boeiende gedig in vandag se Rapport


Let it be

Ek sit op die stoep. Die aand kom af
Die driepootbrak huppel huiswaarts
Christus kom sit aan met sy vuil voete
en geblowavede hare
Hy breek die brood. Ek is moeg, sê hy
en ek bring vir hom ’n skottel water vir sy voete
Hy skop sy sloffies eenkant
Niks is meer heilig nie, sê hy
Hulle ploeg nou atoomafval in mý woestyn
Let it be, sê ek. Let it be en ek skink sy glas vol wyn
Sorry, sê ek, maar Tassenberg is al wat ek het
By the way, jy’s reg niks is meer heilig nie en dit maak my sad
Hoe voel jy, vra die meester. Hoe voel jy regtig?
Ek lag. Wil jy regtig weet
Praat met my, sê hy. Hoe voel jy regtig?
Wat kan ek tog sê. Alles is in sy moer
Dit help nie om ’n woord daaroor te tjank nie
laat staan nog bid. Ek meen
my broer se as is in ’n fles somewhere in Stikland
hy stamel sonder klinkers maar ek kop wat hy probeer sê
Let it be, sê die meester. Let it be al huil jy bloed
Die oordeelsdag kom ook en my pa slaap nie
Ek kop, sê ek. Ek kop alles
maar soms verlang ek na die ou dinge
soos die mooi droewe woorde van jou daddy
Goed soos regverdigheid en ewigheid en geluk
Ja, sê die meester, dis ’n lang wag maar hy sal sy woord hou
Ek maak ons glase weer vol
Sorry weer ’n keer, maar Tassenberg is al wat ek het
en waar dit vandaan kom is daar nog baie
so moenie skaam wees nie
Cheers
Daar’s baie dinge waaroor ’n mens jou ook kan verheug, sê die messias
maar los dit vir eers
Sit daar vir ons ’n song op, vra hy
Ek doen
Somewhere over the rainbow sing Judy Garland
Ek breek ’n stuk brood en voer die meester
’n Mens moet eet ook, sê ek
and that is no bloody maybe
Soms is ek bang vir jou ou dad, sê ek
hy stuur reën maar ook goed soos droogte wat diere laat vrek
Let it be, let it be, sê die messias
Eintlik verdien aardlinge niks. Maar daar is goeie goed ook
Vat nou vir Judy Garland, sy’s tog meer as reën of droogte
Selfs een soos daai ou Patience Strong
wat sy soms tussen die lyne kwytraak
Many a true word is spoken in jest
Maar dis julle klomp, julle wat niks met rus kan laat nie
wat van die wêreld so omgekrapte onheilige plek maak
Dis julle, you must let things be, you must let it be, let it be!
Dis net, sê die meester, dis net . . .
Ag, nou weet ek ook nie meer wat ek wou sê nie
Is daar nog Tassies?


Die gedig het 'n duidelik apokaliptiese karakter en laat my aan Openbaring dink. Hier word “bloed” gehuil oor ‘n wêreld wat tot niet gemaak word. “Daar is niks meer heilig nie en dit maak my sad” kom uit die hart van apokaliptiese denke en gee aan hierdie gedig ‘n mineur-klank.

Maar dit is ook ‘n mineur-dialoog tussen ‘n sad digter en ‘n moeë Christus. Aan die een kant die vra van Christus: Hy wil praat, hy wil twee keer van die digter weet wat die digter “regtig voel.” En die digter sê reguit aan hom: Soms is ek bang vir jou ou dad (veelseggende “soms”) wanneer die rampe oor die aarde kom. “Die ou dad” is dus nie altyd so nie.

Maar daar is ook die ander aksies van wisselwerking, uitruiling, selfs intimiteit: Jesus breek die brood aan die begin van die gedig. Maar gou volg die omgekeerde bediening: die digter bring water vir Jesus se voete, gee hom brood vir sy honger. Eers is dit die digter wat vir die Messias sê: “Let it be, let it be,” voordat later, die Messias vir die digter herhaaldelik sê, “Let it be, let it be” (met die skreiende, selfs al huil jy bloed). Dit is ‘n tweegesprek, egte dialoog, wat hier voltrek word. In hierdie tweegesprek word hulle een: dink hulle albei saam oor wat rondom hulle tot niet gaan en vra hulle mekaar om te wag, “to let it be.”

Die beeld van Jesus in hierdie gedig lyk op die oog af gewaagd. Hy is die wyndrinker, met wie die digter ‘n dop deel. Dit laat my dink aan Jesus se eerste tydgenote, vertel die Bybel ons, wat hom selfs ‘n wynsuiper genoem het en daarmee vertel het van sy lewe verby pruim-bekke en prul-lippe. Per slot van sake was dit, soos ons uit die evangelies weet, hierdie randfigure, hulle wat saam met hom gedrink het, wat buite die kring van die magsorde geleef het, wat hom as messias herken het. Die res het hom gekruisig.

Tog is die taal vir Jesus selfs eerbiedig. Hy word “Christus,” “messias” en “meester” genoem.

Die digter en Christus in hierdie gedig sien en praat nie net oor mistroostige dinge nie. Hy herinner aan al die goeie dinge in die wêreld. (Daar’s baie dinge waaroor ’n mens jou ook kan verheug). Die digter onthou selfs ook die goeie met ‘n stuk melankolie: ek verlang na die “ou dinge,” die “mooi droewe woorde” van jou daddy, “regverdigheid, ewigheid, geluk.” Maar dit maak die gedig eintlik op die ou end net meer van ‘n “sad song”, want die mooi wat daar nog is laat die slegte wat nou oral uitbreek sterker afsteek. Die Jesus weet eintlik nie meer nie, is raadop, sy woorde het opgeraak. Hy sien moeg hoe die klomp niks in die wêreld met rus kan laat nie, met hul atoomafval die wêreld tot niet maak. Laat my amper dink aan Jesus se droefheid oor Jerusalem: hoe dikwels wou ek jou nie....

Vir my is die “let it be” amper dubbelsinnig. Aan die een kant: ‘n mens kan nie veel aan die ellende doen nie. Maar daar is tog ‘n dieper dimensie aan die gedig: Op die agtergrond klink die apokaliptiese klanke, dreigend, maar ingetoë: “die oordeelsdag kom, my pa slaap nie.” Christus weet sy “pa” sal sy woord hou, sal die onheiligheid uitroei. Die onrustiges se verwoesting van die aarde, die doen van onheilighede, bly nie ongestraf nie. Al is dit “’n lang wag”, dit sal gebeur. En “Somewhere over the rainbow” van Judy Garland vertel van daardie dag, maar dan in ‘n verlangende, verwagtende sin. Die toekoms bring die uitslag. Tot dan, word dit “let it be.” Wag daarop.

Saturday, June 27, 2009

Spiritualiteit as transformasie. Wat maak die verskil?




Wat ‘n los, niks-doen Saterdag het ek nie agter die rug nie. Ek kan amper nie onthou wanneer dit my laas oorgekom het nie.

Ons het die afdag voluit benut en gaan nou heerlik die nagrus tegemoet – ek gaan myself in ‘n beswyming inslaap.

Ons het onsself bederf vroegoggend met ‘n vars gebak, op s’n Hollands gesê. Toe het ons vanmiddag rugby gekyk en vanaand Slumdog Millionaire in die Labia gaan fliek, bibberend in die koue Kaap saam met net drie ander mense in die teater.

Ek kyk nie lekker na die fliek nie. Dit onstel my. Ek kan my nie verlustig aan die sogenaamde “sukses” van die “underdog” nie – dit was volgens die media die rede waarom die fliek das so ‘n sukses was. Hoe vlak tog, as dit die boodskap van die fliek sou wees – so iets soos “from rags to riches.”

Die beelde van die armoede in Indië bly by my agter en laat my maar morbied voel. Ek verteer nie lekker aan beelde van kindertjies wat deur ‘n oënskynlike Samaritaan huisvesting kry, maar dan blyk dit hy is ‘n bedrieër wat hulle oë uitbrand om uit hulle bedelary dubbel meer te verdien (blindes kry meer geld van omstanders). En die meisies laat hy in prostitusie beland en maak so ook geld uit hulle. En die eindelose moeras van ontbering, van onmenslike slums, van kriminaliteit, van miljoene mense wat aan die agterste speen suig.

As ek so ‘n fliek sien, flits die gedagte keer op keer by my op dat ek kan verstaan waarom Jesus vir die kwesbaarstes onder die kwesbares opgekom het. En iets roep in my uit: God kan tog nie dat hierdie aarde so bly bestaan nie.

Wat in hierdie fliek fiksie is, het ek vroeër vanmiddag as harde realiteit beleef met ‘n film oor History Channel. Daarin word die verhaal van die vervolging van die Mafia in Palermo aan die einde van die vorige eeu vertel. Dit gaan oor twee dapper regsluit wat teen alle teenstand in die mag van die Mafia wil breek. Dit is skrikwekkend om te dink dat in ‘n eerste wêreld land soos Italië so ‘n totale korrupsie voorkom, verdra word en deur politici onder hul vleuels geneem word. Die beelde is mistroostig, krimineel en ontstellend. Die twee regsmense word deur sluipmoorde uitgeskakel. Die weduwee van een van hulle praat met ‘n groot skare-massa wat uit protes teen die moord in Palermo op die strate bymekaar kom: “Ek sal hulle vergewe,” roep sy uit oor die luidspreker. “As hulle maar net sal verander.” En dan die rou slot van die begrafnis as sy aanmekaar in ‘n skor stem roep: “Maar hulle sal nie verander nie.... Hulle sal nie verander nie.... Hulle sal nie verander nie....”


Teen vanaand, terwyl ek Slumdog Millionaire kyk, kom daar oor my hierdie gevoel wat ek die laaste jaar of wat soms kry: dit is asof ek my inleef in hoe God hierdie spul beskou en die intensiteit van smart wat daar in die goddelike Vaderhart moet leef oor wat ons met die wêreld aanvang.

Wat my laat dink het, vanaand na ons lekker klein, ordentlike biefstuk in die braairestaurant hier op ons dorpie terwyl ek terugry huis toe: ek het vanmiddag die rugby gekyk. Vasgenael gesit dwarsdeur die spannende wedstryd, selfs toe dit maar goorderig met ons spannetjie gegaan het. En wat bly my by? Die laaste twintig minute staan vir my uit oor een enkele gedagte: watter verskil kan een persoon tog maak in die lewens van baie, baie ander mense. Heinrich Brussouw en Morne Steyn se verskyning op die veld het ‘n vuur aangesteek wat tot daardie ongelooflik spannende ommekeer en oorwinning gelei het. Watter transformasie kan twee mense nie aan ‘n span en die verloop van ‘n wedstryd bring nie.

Brussouw kan ‘n bal selfs deur ‘n sleutelgat gaan haal, sê die kommentator en ons sien dit voor ons oë gebeur. En Steyn was die top puntemaker in die Super 14 vanjaar. En ons sien in die wedstryd dit was nie maar net gelukkies nie.

Twee mense wat ‘n verskil maak. Radikaal. Wat ‘n verloor-span meesterlik in ‘n wenspan omkeer. Twee jong, nat-agter-die-ore mannetjies as ‘n mens hulle vergelyk met die ou, senior manne in die span. Maar sterk soos staal en onverskrokke.

Dikwels dink ons – wat kan ons tog doen aan al die ellende in die wêreld? Hoe sal ons die verloor-span omkeer?

Die antwoord is duidelik: deur verwoed aan die wedstryd deel te neem. Al ons kragte, na siel, gees en liggaam. Soos daardie twee bokke. Die uitkoms kan verbysterend wees.

Die mistiek was nog nooit wêreldvreemd nie. Om in ‘n verhouding met God verenig te word, transformeer jou ook in jou lewensstyl in hierdie wêreld.

Jesus het net 12 apostels gehad. En saam met Paulus het hulle, minnerig, maar begeesterd, die verskil gemaak.

Daardie twee manne het nie die wedstryd gewen nie. Hulle kon nie. Hulle het egter hulle span saam met hulle geneem om met nuwe, verwoede toewyding die stryd voort te sit. Almal was nodig, selfs Schalk Burger wat darem nie homself ‘n guns gedoen het met sy vuil spel nie. Twee manne kon die span help omdraai.

Ons moet só inspring, só deel word van God se stryd in die wêreld dat ons mense rondom ons kan inspireer, met hulle hande kan vat en in hierdie siek wêreld goddelike hoop indra.

Ons geestelike reis loop dikwels deur dale. Ons ervaar die tye dat dinge begin skeefloop. Dit kos net die enkeling om ‘n hele klomp gelowiges te inspireer tot transformasie, tot omvorming, tot nuwe lewe.

Friday, June 26, 2009

Transformasie in die goddelike natuur

Wat beteken "eenwording" met God? Vir die meeste mense is dit 'n verhouding met die Here wat besonder intiem is en waarin 'n mens deur God baie naby aan Godself gebring word.

Maar is dit regtig so eenvoudig? Die bekende beeld praat van ons wat na die beeld van God geskep is en herskep word.

Ek is geboeid deur 'n dieper uitspraak van 2 Petrus.

2 Petrus 1 vertel van die “kosbare” geloof wat ons van God en Jesus ontvang het – in vers 1 en vers 4. Dan volg in vers 4: “Daardeur kan julle die verderf ontvlug wat deur begeerlikhede in die wêreld werksaam is, en deel kry aan die goddelike natuur.”

Om as gelowiges, mense deel te kry aan die goddelike natuur! Wat 'n uitspraak. Die Engelse vertaling lees dat ons “participate in the divine nature.”

Die Ou Afrikaanse vertaling is nader aan die Grieks: “sodat julle deelgenote kan word van die goddelike natuur.” Die Grieks is onmiskenbaar verhewe: qeiva~ ... fuvsew~.

Ons deel aan God se bestaan, wese!

Hoeveel duideliker kan dit gestel word?

Kosbaar is hierdie eenwording met God, ver bo wat ons gewoonlik bedink.

Maar kyk dan die lysie wat volg van daardie dinge wat ‘n mens in jou lewe jaag as hierdie eenwording met God plaasgevind het:

Geloof, deug, kennis, selfbeheersing, lydsaamheid, godsvrug, broederliefde, liefde onder mekaar en vir alle mense. Hier gebeur iets ingrypends.

Dit is iets om oor diep te mymer: om deel te kry aan die Goddelike natuur....

Petrus maak dit nog intenser wanneer hy in hierdie gedeelte vir God beskryf: God se krag, sy heerlikheid en mag, sy ewige koninkryk, sy majesteit, eer en heerlikheid.

Dit is aan hierdie heerlike Goddelike natuur waaraan ons deel kry.

Dit is heilige woorde van Petrus. Kan 'n mens dit regtig ooit peil? Is dit werklik moontlik? Om deel te kry aan die "fusis", die natuur, die bestaan, die wese van God?

Hier is 'n mens op heilige grond.

Thursday, June 25, 2009

Jesus se opstandingskrag

Die debat oor Jesus se opstanding het weer opgevlam. ‘n Mens moet net die berigte in die koerante lees en kyk na die kommentaar van gelowiges om te besef hoe na die saak aan mense se hart lê.

Een baie gewilde opvatting onder gelowiges wat hulleself as denkende mense beskryf, is dat die Evangelies Jesus se opstanding voorstel op dieselfde manier as wat heidene in hulle tyd oor hulle gode gedink het. Daar word dan na kultusse soos die van Isis en die van Mithras verwys waar die god van daardie kultus vereer word as ‘n god wat sterf en opstaan. Hierdie mite’s van die heidense kultusse was vegetasie-mite’s wat die gang van die natuur in seisoene op ‘n mitologiese manier uitgebeeld het. Die herfs/winter is die sterwe van die god en die lente bring sy opstanding.

Hierdie denkende gelowiges redeneer nou as volg: Jesus se opstanding is ‘n deel van die dissipels en Paulus se sendingboodskap aan ongelowige mense. Hulle sê eintlik vir die mense, kyk, julle het gode wat sterf en opstaan. Ons het ook so ‘n god. Hy is Jesus wat ook sterf en opstaan.

Dit is ‘n gewilde opvatting, maar nie baie geleerd nie. Daar was wel baie gode in die Bybelse tye waarvan vertel word dat hulle gesterf en opgestaan het. Maar, daar is opvallende verskille tussen die Bybelse verhale met hul sterk Joodse inslag en die heidense verhale met hul Griekse karakter.

Die Joodse volgelinge van Jesus was so duidelik soos daglig. Jesus het een maal gesterf. Dit het op Golgota gebeur. Hy was vir ‘n lang tyd dood. En toe, skielik, uit die bloute en tot hul groot skok het hulle ontdek hy het opgestaan. Die heidense gode het elke jaar, herhaaldelik, gesterf en opgestaan. Jaar na jaar het mense die natuurprosesse op ‘n “goddelike” manier verklaar – soos hulle met baie ander gebeurtenisse gedoen het. Dit was juis vir hulle 'n ritueel, nie 'n gebeurtenis nie.

Jesus het, verder, volgens die Evangelies, liggaamlik opgestaan nadat hy ‘n tyd lank dood was. Daarteenoor gaan die heidense gode gaan nie letterlik en liggaamlik dood nie. Hulle daal neer van die aarde na die doderyk onder die aarde en keer dan weer terug. Dit kan op geen manier van enige van die heidense gode vertel word dat hulle liggaamlik dood is en toe na die liggaam opgewek is nie. As daar iewers in Griekse tekste van iemand se dood en opstanding gepraat word, is dit altyd sy of haar se siel wat sterf.

Dit is nogal ‘n verskil.

Dit is maar ‘n paar van die belangrike verskille wat hier net kortliks weergegee kan word.

‘n Mens kan verstaan waarom denkende gelowiges worstel met die opstanding. Hulle is nie die eerstes nie. En die opstanding is nie die enigste struikelblok vir mense wat graag ook met hulle verstand wil glo nie. Daarom het baie mense die wonders “natuurlik” verklaar. Jesus, redeneer hulle byvoorbeeld, het mense genees omdat hy as sensitiewe mens hulle deur vergifnis vir hulle van hul psigo-somatiese kwale bevry het. Net so word die opstanding hier ook “natuurlik” verklaar. Die dissipels, dink hierdie denkende gelowiges, praat oor Jesus in terme van wat “natuurlik” vir hulle tyd was. Hy is soos heidense gode wat sterf en opstaan.

As ‘n mens Handelinge en Paulus lees, kom jy agter dit is darem nie so maklik nie. Mense uit die Griekse wêreld wou die piep kry omdat Petrus en Paulus die opstanding verkondig het. Sommige op Pinksterdag het gedink Petrus is gesuip en het hom bespotlik gemaak. Hulle het nie gedink dit was interessant dat Jesus nou ook soos die heidense gode sterf en opstaan nie. Op die Areopagus het Paulus vir die slimmes onder die slimmes, die filosowe, vertel van Jesus se opstanding en hulle het ook gedink hy is laf. En dit terwyl die tempels van die sterwende en opstaande gode dik in rye om hulle in Athene gebou was. As daar mense was, wat Paulus se boodskap op ‘n “natuurlike” manier kon verstaan, was dit hulle. En Lukas het juis beklemtoon dat die God wat Paulus verkondig en sy dade in Jesus anders was as al hulle gode in hul vroom stad.

Jesus se opstanding kan nie met die heidense gode se opstanding vergelyk word nie. Dit sou intellektueel oneerlik wees om die groot verskille en dit absolute afstand tussen die Jesus van Palestina en die gode van Athene te misken. Jesus se opstanding is ‘n verborgenheid, 'n groot misterie wat in die hart van die kerk se belydenis staan (lees maar die Apostoliese Geloofsbelydenis) en wat niks met 'n griekse boodskap onder 'n vroom lagie Jesus-vernis te doen het nie.

Daar is nou ‘n klomp gelowiges wat uit woede teenoor denkende gelowiges na die ander kant reageer. (Ek sien ook maar min verdraagsaamheid in kommentaar teenoor hulle opponente en soms liederlike hatigheid). Hulle maak dan asof Jesus “letterlik” met sy ou liggaam uit die dood opgestaan het. As hulle bedoel dat Jesus met dieselfde liggaam opgestaan het as waarmee hy dood is, moet hulle vir ons verstel hoe Jesus deur toe deure kon beweeg en voor die dissipels se oë sommer net kon verdwyn. Hulle moet ook verklaar hoekom Maria en die Emmaus-gangers hom nie herken het nie.

In die Evangelies is nooit enige sprake dat Jesus nie na sy liggaam opgestaan het nie. Hy het. Die heel belangrikste is die dissipels, en dit weet ons wel, het hulle vaal geskrik toe hulle op een of ander manier sy liggaamlike teenwoordigheid konkreet beleef het. Hulle het nie vir ‘n oomblik aan heidense gode gedink toe hulle hom gesien het nie. Daaroor kan 'n mens die Bybel nie misverstaan nie. Ons kan egter wel vra hoe Jesus se liggaam gelyk het. Die probleem is so bietjei dat terwyl ons deesdae vra hoe het sy liggaam gelyk, die Bybel nie duidelik daaroor is nie. Die Bybel wil nie oor die liggaam van Jesus allerhande detail-praatjies maak nie, maar wil vertel wat die liggaamlike opstanding van Jesus aan die aarde waarop ons lewe verander. Wat beteken die liggaamlike opstanding, wil hulle vertel.

Paulus, wat baie Griekse gedagtes in hom omgedra het, het op die grond platgeval toe hy die opgestane Jesus ontmoet het en, om dit platterig te stel, nie gaan sit en nadink oor die verhouding van sy ervaring met Griekse opstandingsberigte nie. Hy het besef hier gebeur iets ongehoords met hom. En later het hy geskryf dat hy soos ‘n swaap voel om daaroor te praat, veral omdat baie denkende mense ‘n geloof in die opstanding as onnosel beskou.

Jesus het as ‘n verheerlikte mens met 'n verheerlikte liggaam aan hom verskyn. Die lig wat oor Paulus geskyn het toe hy Jesus beleef het, was vir hom die teken van God se heerlike teenwoordigheid wat alles in sy lewe radikaal omgekeer het. Selfs op liggaamlike vlak het Paulus geglo het Jesus 'n verskil gemaak. Later sou Paulus in 1 Korintiërs praat van die “heerlike” liggame wat ons met die opstanding sal kry en van die glans van daardie liggame, ons gaan op 'n heel nuwe manier 'n liggaamlike bestaan voer. Die glans van die liggaam was vir hom ‘n teken van die heerlike werking van God in die lewe van mense. Ons kry nie ons ou liggame terug nie, dankie tog – sal baie menses ê. Paulus het ook besef dat sedert Jesus se opstanding hy ‘n ander manier van bestaan het as alles wat ons gewoonlik verwag en bedink. En hy redeneer dat ons bestaan ook eendag baie wonderliker sal wees as wat dit ooit was. Paulus wou veral oor een ding praat en dit is dat God aan die werk is in ons lewens en dat deur God se werking ons beperkte menslike insigte totaal oorweldig word. En dit het alles vir Paulus by Jesus se opstanding begin. Jesus se verheerlikte liggaam is vir ons ‘n teken van ons nuwe lewe in Hom.

Die heel belangrikste vir Paulus is dat Jesus se opstanding ‘n krag in ons lewens losmaak wat alles in en om ons verander. En die geskiedenis van die Christendom bewys dit. ‘n Klein, klomp angsbevange en verskrikte Joodjies in Jerusalem het op ‘n dag uit hul kamertjie gestap en die wêreld met ‘n boodskap van onstuitbare krag aangevat. En, ten spyte van al die foute en mislukkings van hierdie boodskappers, Paulus en Petrus inkluis – met al hulle bakleierye, het God ‘n reguit hou met ‘n krom stok geslaan, het die Evangelie krag en troos en vreugde in miljoene mens se lewens oor die aardbol heen gebring lank nadat die sterwende en opstaande gode van die Grieke in die niet verdwyn het.

Ek self wil nie graag my geestelike reis in die geselskap van die gode van die skadu-agtige Griekse onderwêreld onderneem nie. Die evangelie bevry my te duidelik van daardie flouerigheid. Die evangelie is nie vir my 'n skrale troos nie.

Wednesday, June 24, 2009

Ons wag stil, roerloos op God om ons met liefde te vul

Ek is geboeid deur die mistici se vreugde aan die afsterwe van die ou mens – om Paulus se woorde te gebruik. As ‘n mens in Christus is, is jy ‘n nuwe mens. En hierdie nuwe mense leef na die wil van die Heilige Gees. Dit is dus ‘n “geestelike” lewe wat jy lei as jy in God jou vreugde vind.

Dikwels sien ons die “nuwe” lewe as ‘n lewe van “pyn”. Dit voel vir ons morbied.

In ‘n sekere sin is dit waar. Ons nuwe lewe bring pyn, maar dit is die pyn van afsterwe aan die ou dinge. En om af te sterf aan die ou dinge is uiteindelik goed. Een of ander tyd sê jy vir jouself: ek is deur daardie pyn gesuiwer.

Dit is verskriklik hoe ons aan die ou dinge gebind is. Al die uiterlike dinge lê sommer ook ons hart, ons innerlike vol. Ons leef nie van binne uit, van die dieptes waar God wil woon nie. Ons lewens word deur ander mense, ons aktiwiteit bepaal. Ons is nie regtig vry nie. Ons is vasgeketting soos die goedkoopste van slawe deur ander, deur ander dinge, ander mense, ander bedrywighede.

Selfs wanneer ons geestelik is, kan ons nog onvry wees. Gebind deur ons godsdiens.

Nou volg die wonderlike paradoks: wanneer God innerlik in ons kom woon, kap God die uiterlike bande af. Dan doof die helder lig van God se liefdevolle inwoning in ons, die hardheid van al die uiterlike bekoring rondom ons uit. As God in helder liefde in ons woon, verdonker alles wat ons altyd so belangrik vind.

Die merkwaardige hiervan is dat ons dit moet laat gebeur. Ons is hier eintlik heeltemal passief. Ons moet net kan terugsit dat God inkom, dat die liefde ons woning betrek. Ons moet maar alleen hierdie liefde aanvaar, toelaat dat dit deel van ons word. Ons mag nie eers probeer om hierdie liefde te soek nie – nie deur gebed nie en ook nie deur aanbidding nie, laat staan nog enige ander vroom daad nie. Al hierdie vroomheid van ons is, merkwaardig, eintlik donkerte. Dit kan alleen maar die liefde verdring. Ja, ons vroomheid! En hoe vroom kan ons tog nie wees nie.

Ons kan hieroor nogal wonder: kan ek so sit en niks doen nie? As ‘n mens op ‘n boot in ‘n rivier sit, kan jy roei dat dit klap en jou self in ‘n sweet-ekstase inroei. Of jy kan doodeenvoudig net terugsit en die vreugde ervaar van die goddelike Liefdestroom wat jou meevoer.

Dit is ‘n diepe verborgenheid: dat ‘n mens moet toelaat dat God se lewe, se vrede, se verborge teenwoordigheid in jou kom woon.

Daar is ‘n groot geheimenis hierin: as ons toelaat dat God vir ons hierdie liefde gee sonder dat ons ons hand uitsteek, ons vroomheid aanbied, ons gebede uitroep, ontvang ons hierdie liefde suiwer, so suiwer en ervaar ons God se heerlike teenwoordigheid in sy volle krag.

Dit is goed om swak te wees. Paulus het sy swakheid geroem. Hoe swakker, hoe flouer, hoe sterwender ek self is, hoe meer plek is daar vir die Groot Liefde.

Dat hierdie liefde nêrens, tog nêrens deur ons uitgehou sal word nie. Dat God se liefde suiwer, volledig en orals in ons uitgestort sal word. As ons nie passief is nie, kan ons nie aan ons uiterlike en innerlike bande ontkom nie.

In ons swakheid word God se krag volbring – dit het Paulus goed verstaan. Daarom is ons bly as ons die ou mens afsterwe. Eintlik is dit nie ‘n verlies nie. Trouens, dit is ‘n groot wins – ons wen God se liefde. En as dit pynlik is, gee die pyn ons vreugde, want deur die pyn kry ons ons gesondheid, ons lewe in God terug.

Tuesday, June 23, 2009

Spiritualiteit as liefde: oor transendensie

Hier is 'n interessante interpretasie van spiritualiteit in vanoggend se Trouw. In baie opsigte kan ek myself met hierdie artkel vereenselwig. Spiritualiteit is sekerlik om gedurig te vra na die dieper dinge in die lewe, veral omdat alles wat ek vind wat my lewe verryk, iewers verganklik blyk te wees. Ek kyk dieper as net na bevrediging van my behoeftes wanneer ek spiritueel lewe. Ek besf ek stil my verlange by tye deur met waardering vir die dieper dinge te lewe, maar dit is maar net vir 'n oomblik. Ek moet ook besef spiritualiteit is 'n proses - ek moet gedurig weer na sin soek. Opnuut weer duik nuwe vorme van verlange op wat na nuwe vorme van ervaring vra.

Spiritualiteit moet 'n mens, soos tereg in hierdie artikel gestel word, nie verbind aan die betekenis wat jy in die lewe kan ontdek nie. Dikwels kom dit na jou onverwags, uit die bloute. Wees maar nederig oor dinge wat jy dink vir jou geluk kan gee. Selfs al ontdek jy dus die dieper dinge, moet jy maar nederig wees daaroor.

Die artikel is 'n poging om spiritualiteit in toeganklike, moderne vorm oor te vertaal.

Besonder mooi vind ek sy uitspraak oor godsdiens wat "ontzag wekt voor het onverklaarbare van de wereld. Ze draagt het mysterie van de schepping onder haar hart, het geheim van de ander, het raadsel dat ik voor mijzelf ben."

Dis sekerlik waar.

Hierdie artikel is so ingestel op die "my", die "ek" en die soektog. En spiritualiteit gaan beslis tot 'n groot mate om my transformasie, die omvorming van my innerlike - nie om ander te pak en te verander nie.

Is dit genoeg? Spiritualiteit laat my nie net verwonderd voor die lewe staan nie of eindig nie by my transformasie nie.

Dit maak my bewus van die liefde wat op my inwerk, maar ook van my uitwerk.

Spiritualiteit het daarom 'n spesifieke fokus op die mistieke. En die mistieke ervaring het as wesenlike element nie net nederigheid en verlange wat op God, op die aanraking van die Ander/ander ingestel is nie.

Dit gaan dieper: dit gaan ook om nietiging. Jou besef van jou eie nietigheid, bring die agterlaat van jouself - die nietiging van aardse dinge. Nie omdat jy so sleg is nie. Maar omdat die liefde wat jy ervaar en waaraan jy jou dan oorgee so oorweldigend is, so transformerend is dat dit selfs jou vroomheid, jou ingesteldheid op jou eie nederigheid as nietig kan afmaak. Of selfs: dat jou eie vroomheid, ontdek jy, in die pad van die liefde kan staan.

Dit is die merkwaardige: die grootheid van die Liefde wat alle aardse dinge, ook al jou mooi pogings om "sin" te vind, eenkant toe skuif vir wat baie groter is.

Dit is geen wonder dat Johannes Evangelie so op die liefde ingestel is nie. Die Liefde neem ons, soos die slot van die Evangelie leer, na die punt waar ons God as liefde drie keer oor moet bely en dan, as ons in God se liefde is, kan die Liefde ons selfs die dood in lei (Joh.21:19).

Daar is 'n transendente kwaliteit aan hierdie liefde wat ons nie regtig in moderne taal kan vertaal nie. Ons kom by 'n punt uit, onvermydelik, dat ons taal ons in die steek laat en dat ons die Liefde alleen maar as goddelik kan aanbid. Dit is waar ons oorgaan in aanskouing van God, van die Liefde wat die allergrootste is en die hele skepping in stand hou.

http://www.trouw.nl/religie-filosofie/opinie/columns/article2794859.ece/Spiritualiteit_is_een_oefening__in_ootmoed_.html


Column Suurmond
23 juni 2009
Jean-Jacques Suurmond


Wat is spiritualiteit? Ho, nu niet vlug doorbladeren naar de natuurrubriek omdat u liever over concrete aardslakken leest dan over zoiets ’zweverigs’ als spiritualiteit.

Laten we heel alledaags beginnen bij de mensen die in deze krant staan. Wat doen zij? Ze verlangen. Studenten in Iran wensen meer democratie; iemand streeft naar een kerk voor alle gezindten; sommige kamerleden willen bedrijven steunen terwijl andere geen steun willen bedrijven; mensen zetten hun zinnen op een mooie woning, hopen op een nieuwe baan, een levenspartner enzovoorts.

Is dat zweverig? Nee, antwoordt u, dat zijn allemaal concrete doelen. Zelf streeft u ook naar zulke dingen.

En wat gebeurt er als u zo’n doel bereikt hebt? Dan bent u gelukkig, zegt u. U ervaart zin in uw leven. Hoe lang? Toch wel een paar weken. Of een maand. Of zelfs een jaar. Maar dan steekt de onrust weer de kop op. U wilt de huiskamer van uw woning vergroten. Een nog interessantere baan wenkt. Uw partner blijkt anders te zijn dan u dacht. Kortom, uw verlangen blijkt niet volledig vervuld.
Daar hadden de oude Grieken ook al last van. Toen de apostel Paulus in Athene rondliep, zag hij overal godenbeelden staan: een voor schoonheid, een ander voor macht, weer andere voor liefde of rijkdom. Maar de Grieken wisten dat, als je al die dingen verkregen had, er altijd een verlangen overblijft. Vandaar dat ze ook een altaar voor de ’onbekende god’ (agnostos theos) hadden neergezet. Een klassieke zet.
Wanneer ook u ontdekt dat de dingen die u nastreeft niet volledig bevredigen, dan zou u eens een stapje terug kunnen doen om naar uw verlangen zélf te kijken. Vanaf dit moment (schrik niet) bent u bezig met spiritualiteit. Wat valt dan op? Dat uw verlangen oneindig is. Het richt zich uiteindelijk op de Oneindige, die de religies ’God’ noemen en weer anderen ’Iets’ of de ’zin van het leven’. ’Onrustig is ons hart, totdat het rust in u’, bad Augustinus.

Onze hele economie draait om de jacht naar dingen. Maar die blijken bij nader inzien niet zo concreet te zijn als het leek – eerder een illusie. Huizen, banen en zelfs levenspartners voldoen minder dan u dacht en gaan vroeg of laat weer voorbij. Het enige wat echt concreet is, is uw verlangen dat immers altijd blijft. Daarom wilt u voortaan een spiritueel leven leiden. Hoewel: ’wilt’? Je kunt niet meer anders. Het alternatief is zelfbedrog.

Vroeger was spiritualiteit (‘geloof’) gebonden aan bepaalde religieuze tradities, met allerlei regels en voorschriften. Als je gereformeerd was mocht je op zondag geen ijsje kopen en moest je de drie formulieren van enigheid aanvaarden. Was je rooms, dan prevelde je weesgegroetjes en kreeg je van masturbatie een rare rug.
Spiritualiteit is vandaag aan die vaste kaders ontsnapt en wordt individueel ingekleurd. Daarom heeft ze vandaag vele verschillende vormen, wat tureluurs kan maken. Maar het onderliggende, o zo concrete verlangen naar de Oneindige is hetzelfde.

Die vroegere verboden om ijsjes op zondag te eten of te masturberen hadden de bedoeling om het verlangen op God te richten. Probleem is dat zoiets niet echt kan. Dan maak je van de Oneindige een doel, zoals een huis of nieuwe baan. Maar God is een mysterie. Dit besef is de pijnlijke kern van het spirituele leven.
Religie is dan ook niet een soort wetenschap die de wereld wil verklaren (een hardnekkig misverstand), maar wekt ontzag voor het onverklaarbare van de wereld. Ze draagt het mysterie van de schepping onder haar hart, het geheim van de ander, het raadsel dat ik voor mijzelf ben.

Hier ligt de sleutel tot levenskunst. ’Ontzag voor de Heer (en zijn naam is onuitsprekelijk) is het begin van wijsheid’, zegt de Bijbel. De doelen waarnaar je streeft, hou je voortaan los in de hand. Dat is goed voor hart en bloedvaten. Je weet dat ze je verlangen niet echt stillen. Wel helpen ze jezelf te ontplooien. Door een nieuw huis te kopen of in zee te gaan met een partner, geef je zin aan je leven.
Tegelijk besef je dat je die zin niet zelf ophoest. Momenten van geluk heb je niet in de hand. Ze zijn vonken van het goddelijk mysterie. Terwijl je niets vermoedend op de ladder staat om je huiskamer te vergroten, gaat ineens de hemel open. Of je drukt je partner tegen je aan en vergeet alles om je heen. Maar probeer je dat de eerstvolgende keer weer, dan blijf je denken aan de auto die een beurt nodig heeft.
Spiritualiteit is een oefening in ootmoed. Nederigheid is niet ontkennen wie je bent, maar afwijzen wat je niet bent. We zijn God niet.

Wat valt er dan een hoop van je af. (Lees: watter swaar las val dan nie van jou skouer af nie).

Monday, June 22, 2009

Wat is mistiek? Oor die liefde as die diepste verborge waarheid

Mistiek gaan om die eenheid of die eenwording met God.

Dit is ‘n sinnetjie wat maklik en eenvoudig klink, totdat ‘n mens begin nadink oof wie God is. Die naam "God" roep by ons as gelowiges 'n gevoel van eerbied en diepe ontsag op.

Dit klink oorweldigend: dat ‘n mens, verganklik, eenvoudig, ‘n verhouding kan hê met God, die Onverganklike. God wat so bo al ons verstand verhewe is, wat so totaal Anders is as die mens, die Heilige, die Skepper wat die mens geskep het knoop met ons ‘n intieme, persoonlike, intense verhouding aan. Om een te kan word met God is 'n verborge ervaring wat alle verstand te bowe gaan.

Tog gee God aan ons hierdie verborge ervaring.

Daar is sommige mense wat vertel dat hulle hierdie intieme eenwording met God op ‘n ekstatiese manier beleef. Hulle vertel merkwaardige dinge – hoe hulle visioen kry, stemme hoor en buite-ligaamlike ervarings het. Paulus praat daarvan in 1 Kor. 13 en skryf hy het self sulke ervaring gehad.

Maar hierdie spesiale en uitsonderlike mistieke ervaringe van sommige mense lê eintlik aan die buitekant van die mistiek. Daaroor is Paulus ook baie seker - en daarom skryf hy 1 Korintiers 13.

Die diepste mistieke ervaring word aan ‘n mens gegee wanneer jy besef jy word bemin. Dit is soos wanneer iemand oorweldig word deur haar minnaar wat vir haar vra om te trou omdat hy haar werklik lief het en in trane uitbars.

Een van die aangrypendste oomblikke in die Bybel is wanneer Jesus tydens sy doop hoor: Jy is my beminde kind. Dat die hemelse God so kan neerdaal tot ons!

Dit is egte mistiek. Om deur God bemin te word.

Daarom kon Jesus vertrouend sterf: Vader, in U hande gee ek my oor. Wie liefde ervaar, bly trou tot die dood.

Waar ‘n mens hierdie goddelike liefde ervaar, verander dit jou lewe vir altyd – soos met Jesus gebeur het.

Dit is die transformasie. En ‘n mens word deur die Goddelike, mistieke liefde getransformeer tot die liefde. Egte mistiek is waar ‘n mens so deur God se liefde aangeraak word dat jy soos God word en ook ‘n beminnende lewe lei. Geen visioen, stemme, hemelse reis is groter as die liefde nie.

Hoe verborge is dit tog nie! Ons innigste gebed is dikwels: wie sal my lief hê? Wie sal vir my kom sê : “ek bemin jou”? Wie wil vir my, hier tussen die varke, kom omhels.

God wil. Dit is ‘n verborge, mistieke waarheid. En hoe lief het ons God nie daarom nie.

Sunday, June 21, 2009

Egte menslikheid

Die televisie beelde oor die gebeure in Iran is merkwaardig. Dat demokrasie en verkiesings honderde duisende mense op die strate van ‘n staat kan laat uitstroom! En die ongekende gevolge van die mens se verset teen outokrasie en onderdrukking laat ‘n mens verstom staan. ‘n Mens kan ander net tot op ‘n punt onderdruk.

Die Iraanse polisie het ‘n elite eenheid wat in swart geklee op motorfietse as bewakers van die sedes optree. In een van die video’s vandag word gewys hoedat ‘n groep mans een van hierdie polisiemanne aangeval het. Sy motorfiets is aan die brand gesteek. Dramatiese beelde word gewys: een kant lê die brandende fiets, maar ‘n vrou in ‘n swart burka het die man op die grond te hulp gesnel en hou hom vas terwyl sy hom beskerm teen die groep wat hom met die vuis bydam en met klippe bestook. Sy hou desperaat haar hand om hom en keer met die ander hand die aanvallers vergeefs weg.

‘n Mens sit in verslae skok oor wat hier voor jou afspeel. Vir die van ons wat die halssnoermoorde meegemaak het, kom baie ou, slegte gevoelens na vore na so baie jare wat ons daar verby is.

Hier is die enigste berig wat ek daaroor op die internet kon opspoor:

STORY: Iran's state broadcaster has shown film of police officers involved
in clashes with opposition protesters in Tehran on Saturday (June 20).
In some cases they appear to have come off their motorbikes, at least
one of which was then set alight. They are then set upon by the crowd.
But in two incidents, some people on the street are clearly seen trying
to protect those under attack, while others are intent on beating them.
One woman puts her arms around one young police officer, who is
kneeling on the ground, appearing to plead for help. But he is set upon and
kicked by a number of protesters. One man slaps him across the face. But he is eventually helped to his feet and runs away.
In another incident an unidentified man is being attacked despite the
protestations of a woman standing beside him. A young medical officer then
joins the fray and tries to stop the man being beaten. Again the protesters
leave, and the man is seen being dragged away.


Hoe dapper kan mense nie wees nie. En hoe totaal onbaatsugtig, selfs tot die verloëning van hul eie veiligheid kan mense tog omgee vir ander. ‘n Mens kan maar net spekuleer dat sy hierdie man nie as ‘n polisieman gesien het nie, maar as ‘n mens wat nie maar so doodgemaak kan word nie.

Daar was ook ‘n ander video van ‘n vrou met die naam van Neda wat deur ‘n sluipskieter doodgeskiet is. Dit is net so dramaties om te sien hoe mans om haar versamel. Een van hulle is ‘n dokter en skree vir haar: “Moenie bang wees nie. Moenie bang wees nie.” Maar dit is reeds te laat. Die vrou het reeds gesterf.

Herhaaldelik bly CNN hierdie een video uitsend. Dit versprei oor die hele wêreld as ‘n simbool van wrede onderdrukking, volgens die kommentator.

Wat is die politiek tog ‘n lewensgevaarlike saak. En hoe totaal verloor mense hul menslikheid om in wrede diere te verander.

In my gedagtes bly maal daardie video van die weerlose vrou wat die gehate polisieman in haar skoot vashou en braaf keer dat hy deur ‘n klomp woedende omstanders gestenig word. Dit laat my dink aan soveel mense wat tydens die xenofobiese aanvalle verlede jaar Somaliërs en buitelanders beskerm het toe hulle ook so aangeval en gestenig is.

Die video van daardie vrou wat so uitreik na ‘n gehate polisieman en hom dapper vashou, vertel my dat daar niks skoners en edelers is as iemand wat eg menslik is nie.

Saturday, June 20, 2009

Die Heilige Gees sal vir julle intree...

“Die Heilige Gees sal vir julle intree....”

Hierdie uitspraak in die Bybel het my nog altyd geboei. Iewers is selfs ons gebed van God ingegee. Gebed is ‘n stuk genade wat ek ontvang. Wat ek bid, is eintlik wat God vir my bid.

Merkwaardig.

Hoe weet ek dat die Gees besig is om in my te bid – al voel dit vir my nie so nie?

1. Wanneer ‘n mens nie kan opgee op gebed nie, is dit ‘n teken dat die gebed nie bloot jou eie inspanning is nie. Al voel alles nog donker om jou. Is daar iets wat jou laat aanhou. Iemand hou jou gebed lewendig.... Gebed wat van God kom verstom nooit nie.

2. As alle ander aardse dinge vir my vaal lyk terwyl ek bid. Eintlik, voel ek, terwyl ek bid, is daar nie regtig iets anders wat ek graag sou wou doen nie. Gebed wat van God af kom is so spesiaal dat dit aardse belange en sorge op die agtergrond laat verdwyn. Daarom is my hart nie meer aan die gewone, alledaagse dinge uitverkoop nie. Ek voel dat hier waar ek nou is, selfs in ‘n stamelende, weifelende gebed is dit baie beter as om op enige ander plek te wees. Gebed wat van God kom bevry jou van aardsheid.

3. As ek sterk bly voel iets is in my aan die werk. Ek het die gevoel dat in al my twyfel, in my soeke, iets met my aan die gebeur is waarvan ek nie kan wegkom nie en wat my bly aantrek. Ek het ‘n gevoel dat vreugde naby is, dat dit aan die kom is, selfs al is alles om my in chaos. As ek gewillig bly om te wag, om deur te byt, om te volhard, is dit ‘n teken dat God aan die werk is. Gebed wat van God kom voel God is besig om te antwoord, selfs al lyk dit nie so nie of al verstaan ek nie wat aangaan nie. Gebed van God vertel my God is besig om my aan te raak. Iets diep in my hart sê vir my: God is hier, hier wil my hart ook wees.


Om so te kan bid, sonder al ons lysies met versoeke, om te bid net om met God te wees!


Dit vra 'n heel nuwe verstaan van gebed.

Friday, June 19, 2009

‘n Mens kan dit geniet om te verlang!

Dit is nou 'n titel! Kan 'n mens dit geniet om te verlang?

Ons sien verlange dikwels as ‘n negatiewe ervaring, asof ons iets “mis”, “eensaam” is, “sielsongelukkig” voel.

Verlange kan inderdaad hierdie negatiewe dinge wees.

Maar verlange kan ook beteken dat ek aan die soek is. Ek vra na die dieper dinge omdat die dinge om my te oppervlakkig is en my begeerte nie kan vul nie.

Verlange in hierdie sin is baie sterk en positief: die laat hom nie onderkry deur die donkerte om my, die oppervlakkighede wat ek oral raaksien nie.

Verlange kan selfs vrede bring, omdat ek uiteindelik my rug kan draai op dit wat my so frustreer. Al moet ek in die duisternis ingaan, is dit nog beter as dit wat my nou omring. Soms kan selfs die pyn wat ek ervaar, vir my vreugde bring. Want ek weet die pyn beteken die lossny van ‘n slegte band met dit wat verkeerd is.

As ek hierdie gevoel kry, dat in my verlange ek besig is om tastende, voelende, soekende weg te breek van dit wat my bind en uitbreek na God, is dit eintlik God wat aan die werk is in my. Dit is asof God vir my sê: hier is ek, kom, ontmoet my.

Dit gebeur wanneer ons wakker word en voel – ek moet ‘n slag weer kerk toe gaan, of ek moet ‘n keer weer my Bybel lees. Dit is die Gees wat in my aan die praat is, wat vir my wil weglei in die woestyn in, die plek van verlatenheid waar ek oop sal wees vir God.

Baie tye het ek die Bybel een kant geskuif omdat ek nie meer veel sin aan Bybellees gehad het nie. Dit was sinloos. Maar as daar in my ‘n behoefte opkom, is dit ‘n teken van God wat my aanraak. Wat ander kere so sinloos voel, kry dan ewe skielik vir my betekenis. Dit is die eerste stap na ‘n ontmoeting en aanskouing met God.

Ek moet ingestel wees op hierdie behoefte. Ek moet oop wees om te besef dat wat hier met my gebeur, nie verlore mag gaan nie. Ek moet my koffer pak, my gereed maak, my instel en oorgee: hier kan ‘n groot avontuur begin!

As 'n mens verlang, is dit hoog tyd om te vra: wat gebeur in hierdie verlange met my? Hoekom sug my hart? Of: wie is dit wat my hart laat sug?

Die antwoord kan 'n verrasing wees. En 'n vreugde bring.

Thursday, June 18, 2009

Om jou in te leef. Oor bewuswording

http://www.youtube.com/watch?v=UcWsTwvtyOI

Daar is ‘n advertensie wat na bewering deur die SAUK verbied is (wat nie eintlik waar is nie). Dit is oor ‘n witman wat in ‘n lokasie-setting vroeg opstaan om werk toe te gaan. Oral waar hy kom, word hy “swart” behandel – soos byvoorbeeld as hy as ‘n skelm aangesien word. Hy is arm aangetrek en oral rondom is witmense wat duidelik ook in dieselfde situasie as hy is. Dit is nogal ironies en eintlik skokkend. Dit is so teen alles wat ons normaalweg aan gewoond is en ervaar.

Dit is nogal ‘n merkwaardige advertensie. Volgens sommige mens wys dit ons hoe ons ander mense stereotipeer as hulle deel is van ‘n ander groep as ons s’n.

Maar vir my was die advertensie eintlik pynlik: deur die visuele uitbeelding het ek my onstuitbaar ingespeel gekry in die rol van ‘n nie-bevoorregte Suid-Afrikaner. Ek was ongemaklik en het besef hoe maklik ek verby die omstandighede van mense rondom my leef en hoe hard dit my maak.

Dit is merkwaardig om die hatige, liederlike rassistiese kommentaar op You Tube te lees waarin mense op die video reageer. Mense is duidelik ontsteld oor wat hulle sien. Iewers raak die video ‘n rou senuwees en maak dit mense woedend.

As ons so ‘n video maar kan maak waarin ons gedwing word om ons in te leef in die omstandighede van baie ander randfigure by wie ons elke dag amper roekeloos ongevoelig verbylees. Wat van die manier waarop ouer mense as gedementeerd, swak, onbeholpe uitgebeeld word? Wat van die verkragte vrou wat deur een verskriklike episode nie meer die lewe in die oë kan kyk nie? Wat van ouers met ‘n blinde kind? Wat van mense wat liggaamlik gestremd moet leef? Wat weet ons van al hierdie mense se werklike, daagliks lewens?

Ek weet dat in die opleiding van medici moet sommige studente ‘n dag lank in ‘n rolstoel rondbeweeg dat hulle hul kan inleef in die situasie van mense wat hulle moet behandel. Daar is die beroemde fliek van ‘n dokter wat self ernstig siek word voordat hy hom in die skoene van sy pasiënte kan indink.

Bewuswording is ‘n deurslaggewende deel van spiritualiteit: jy moet jou kan inleef, deel word, in die skoene indink van.... Om die menslikheid van ander te ontdek en te eerbiedig, moet ‘n mens met hulle kan meelef – tot in die diepste grein van hul daaglikse ervaringe. Jy moet een met hulle kan word. Eers dan kan jy vir hulle werklik die mede-mens word wat hul nodig het.

Kyk maar net hierdie video en besluit self:

http://www.youtube.com/watch?v=UcWsTwvtyOI

Wednesday, June 17, 2009

My siel is aan U verkleef - om oor God te peins (Ps.63:9)

Die Psalm-boek is vol van meditasie. Psalm 119 loop oor van die nadenke oor die wet as woord van God.

Maar dit kom pragtig uit in Psalm 63. Hier word byvoorbeeld die innige verlange van die Psalmis in sy tyd van nood op ‘n kritieke oomblik in vers 7 met meditasie verbind. “As ek aan U dink op my bed, oor U peins in die nag, dan weet ek: U is vir my ‘n hulp (Nuwe Vertaling). Die Ou vertaling vertaal dit ook min of meer so, maar die laaste deel lees: “as ek in die nagwake oor U peins.”

Dit is sulke gelaaide, pragtige meditatiewe taal: om oor God te “peins”, in die “nagwake”. Om te waak, te dink, te peins – oor God. Dis nog nie slaaptyd nie – op my bed in die nag is dit waaktyd.

En die psalmis skryf nie abstrak hieroor nie. Hy praat peinsend met God: “oor U”, skryf hy sy gebed neer, “oor U” dink ek. Dit is nie historiese taal oor wat God altyd gedoen het nie, of teologiese gesprekke oor hoe God dit gedoen het en wat dit beteken nie. Dit is liefdestaal wat in gebed uitgedruk word. God sit op die rant van die bed, wagtend op die liefdestaal van die een wat mediteer, gereed, ja, selfs gretig, om te antwoord.

Hoe van naby gebeur dit nie alles nie. In vers 9 volg: “Ek bly altyd naby U, u hand ondersteun my.” Maar in die Ou Vertaling is dit meer intens: “my siel is aan U verkleef; U regterhand ondersteun my.” Die peins oor God hang ten nouste saam met die intieme, nabye ingesteldheid op God, die gerusstellende ervaring van die teenwoordigheid van die Beminde, die Geliefde, om verkleef te wees aan God!

Hoe kan ons dan tog ooit vir God bid, as ons nie bedink en oordink en mymer en peins oor waarmee ons besig is nie en waarin ons ons begewe nie. Waar iemand peinsend met God praat, skenk God die aanskouing, die ervaring van God se heerlikheid en mag. En, soos elders in hierdie blog gewys is, is die heerlikheid ‘n teken van God se oorweldigende, vervullende teenwoordigheid. Die mistieke ervaring is om met God te praat, om in ‘n liefdesverhouding met God in te stap, om in God se heiligdom God se sterkte en heerlikheid te aanskou. As ons daaroor peins, sodat ons siel “verkleef” is aan God, bring dit ons by God in klaar aanskouing.

Dis ‘n voorreg om gelowig te kan wees – ‘n genade-geskenk. En dit bring soveel vreugde en vryheid.

Tuesday, June 16, 2009

Psalm 63: God se ooweldigende teenwoordigheid in my dor bestaan - oor kontemplasie

Psalm 63 is ‘n pragtige, hoogs mistieke Psalm, gelaai met intensiteit.

Dit word in ‘n woestyn, ‘n plek van verlatenheid, gesing (vers 1). Die Psalm begin ook met diepe emosies, intense ervaringe: Die Psalmis “soek” na God. Oratief, biddende, stort hy sy soeke voor God uit: “Ek soek U, my God.” En dan volg nog meer sterk woorde waarmee hy sy verlange uitdruk: hy dors, hy smag na God.

In vers 7 gee hy ons ‘n bietjie meer agtergrond oor homself: hy is op sy bed, dink na oor God: “As ek aan U dink op my bed” (kyk die oratiwiteit – hy is in ‘n gesprek met God). Hy mediteer oor God, maar praat weer eens direk met God: “as ek... oor U peins in die nag.” Hierdie Psalmis is gevul met verlange waar hy meditatief oor en met God nadink en mediteer.

En dan kom die kontemplasie, die aanskouing: “dan weet ek,...” (vers 7). En die merkwaardige vers 4 (Ou Vertaling): “So het ek U in die heiligdom aanskou, om u sterkte en heerlikheid te sien.” En daar, meditatief, oratief, oordenkend, biddend, in die nag op sy bed, die verrukking in God: “Want u goedertierenheid is beter as die lewe; my lippe moet U prys.”

Om so deur God oorweldig te word, is om jou lewe as nietig te ervaar - dit is "beter as die lewe". Wat regtig saak maak, is om by God te wees. ‘n Mens roem met jubelende mond vir God (vers 6). In die lig hiervan is jou aardse lewe vaal en word jou woestyn-bestaan omgetower in 'n paradys-ervaring.

Die ou vertaling is aangrypend: “In die skaduwees van u vleuels sal ek jubel” (vers 8).

Is dit dan moeilik om te verstaan? Hier word dit so duidelik uitgebid: in ‘n mens se verlange na God, in die donker nag van die siel, in ‘n dor en uitgedroogde land (vers 2; Ou vertaling), is God in heerlikheid aanwesig! Wanneer jy alles oordenk en met God praat, sal jy God in heerlikheid aanskou en 'n loflied sal in jou losbreek.

Monday, June 15, 2009

Ontferming en geregtigheid: oor die Bybel in ons lewe

Die Bybel is ryk, baie ryk aan onvergeetlike uitsprake. Daar is die wonderlike vers in Genesis oor die aarde wat woes en leeg was voordat God ingegryp het (die Nuwe Vertaling het dit bietjie flouerig vertaal). Woes en leeg – so lyk ons skepping sonder God. Die Psalms het mense ook dikwels bygebly op hul geestelike reis. Maar daar is ook Paulus se onvergeetlike liefdesteks in 1 Korintiërs 13, om nie van Jesus se tydlose bergrede en gelykenisse te praat nie. ‘n Mens kan hierdie tekste oor en oor lees.

Maar die Bybel is ook liederlik misbruik, veral waar dit uit konteks aangehaal is. ‘n Mens is al so sat van die oneindige twis oor skepping, kreasionisme en evolusie waar mense mekaar toespreek sonder om na mekaar te luister en waar die Bybel tot ‘n wetenskaplike handboek gedegradeer word. Wat dit nie is nie. Ons kry nie in die Bybel wetenskaplike handboeke oor die geografie, weerkunde, sterrekunde, genetika, medisyne en veeartsenykunde nie. Daarvoor het die Here mense gesonde verstand gegee om hulleself te bekwaam en deur die wetenskap daaroor meer te wete te kom.

Die Bybel is ‘n geestelike boek, ‘n instrument van die Heilige Gees om die mens op haar of sy geestelike reis te begelei. Dit staan in die teken van transformasie. As ‘n mens Bybelteksies uit die Bybel uitlig en as klippe gebruik om jou teenstanders af te breek of te bestook met “die” waarheid, is ‘n mens disrespekvol. Die Bybel is die Here se liefdeswoord om ‘n mens te bring om een te word met God en om die beeld van ‘n liefdevolle God uit te straal.

Een van die lelike woorde wat dikwels teen die suurknolle van die geloof gebruik word, is dat hulle fundamentaliste is. En die arrogantstes onder hulle sal selfs sê: as ek ‘n fundamentalis is omdat ek glo in wat ek glo, dan is ek ‘n fundamentalis. Maar hulle sien nie hoeveel skade deur die eeue heen aangerig is deur mense wat die Bybel uit konteks aanhaal nie. Daarvoor is daar legio voorbeelde. Om net een van die dodelikste voorbeelde te noem: die meeste van ons het grootgeword in ‘n tyd toe die Bybel gebruik is om apartheid te regverdig. En dit het namelose lyding in ons land gebring.

Natuurlik is ‘n mens se verhouding met God verbind met die waarheid. Ons glo nie maar net wat ons wil nie. Maar geloof gaan oor baie meer as net die waarheid. Ons het geloof verskraal tot die instemming oor sekere feite, terwyl dit eintlik gaan oor ons vertroue op en lewe uit God se liefde. Maar ons verhouding met God gaan ook oor respek, oor ontferming, oor gehoorsaamheid, oor meelewing, om menslikheid en duisende ander dinge – dus oor baie meer as net ware feite.

Jesus het juis vir die Fariseërs gewaarsku dat hulle vergeet het hoe die profete gesê het God stel nie in hulle belangrik items belang nie as hulle ontferming en regverdigheid vergeet nie. Hulle kan alerhande offers maak en allerhande tiendes afgee aan God, so uiters godsdienstig, maar as hulle genadeloos is, stel hulle hulself buite God se genade. Met ander woorde: ontferming is belangriker as al ons waarhede oor ons geloof. In Jesus se tyd was daar groot stryd oor die “ware” tempel – was dit die een in Jerusalem of in Samaria. En die Samaritaanse vrou in Johannes 4 het lustig meegedoen aan daardie twis (Joh.419). Jesus het in reaksie vir haar gesê dat daardie “waarheid” ook tot niet sal gaan. En dit het ook.

‘n Mens kan jou hele huis vol Bybelversies plak en sonder God wees. Jy kan elke dag in die tempel van die Here gaan offer en tog onder God se oordeel staan. Vandag dink ek nogal aan daardie handelaars wat deur Jesus in die tempel verjaag is. Om in die tempel te kon inkom, was nie maklik nie. Heidene en vroue is gewaarsku om daar uit te bly. Jy moes dus godsdienstig wees om daar te kon ingaan. Hierdie handelaars was dus gelowiges wat vroom offerdiere gaan verkoop het aan die pelgrims wat van ver gekom het en nie offerdiere by hulle gehad het nie. Die handerlaars het dus vroom “’n diens aan die behoeftiges” gelewer.

Maar dit is aan hulle te danke dat ons die een groot episode het waarin Jesus fisiek woedend geword het. Hulle het die mense uitgebuit en het onregverdige pryse vir hulle ware gevra. Hulle het van God se tempel ‘n rowerspelonk gemaak. Hulle vroom daad van ontferming was hulle ondergang.

Dit is ‘n groot troos om met ‘n Bybelvers die dag te kan ingaan en te voel hoedat jy naby aan God bly wanneer die herinnering aan daardie vers jou bybly. Maar ‘n mens kan so met jou Bybelvers en al ‘n lewe van veroordeling, van afbrekende kritiek, van onverdraagsaamheid, van verdraaiing van ander se mening en van liefdeloosheid lei. As ‘n Bybelvers nie deel is van ‘n lewe van liefde, nederigheid, ontferming en geregtigheid nie, word dit nie net ‘n oordeel nie, maar bring dit ander mense ook tot ‘n val. Met ander woorde: jy kan die Bybel losmaak uit die raamwerk van liefde en ontferming waarin dit ingebou is.

Die Bybel is ‘n boek wat ons nader aan God en nader aan ander mense bring. Waar dit skeiding, afstand en veral haat tussen mense bring, is dit omdat mense van die Bybel as God se woonplek ‘n rowerspelonk maak. Dit gebeur waar mense Bybelversies uitlig om hul waarhede te bewys en ander in die proses af te breek, hul geloof te bevraagteken en hulle te veroordeel as ketters. Dan maak jy groot aansprake daarop dat die Bybel die fondament van jou lewe is. Jy staan op die fondament van jou waarheid, maar jy leef nie ‘n lewe van liefde en ontferming in waarheid nie. Jy het al jou feit reg, maar jy het nie die liefde nie.

Al sou ek al die kennis ..... Of lees maar ook hoe Paulus in 1 Kor. 13:8 praat van "die kennis" wat "uitgedien sal raak..." Of: soos in die Ou Vertaling: dit sal tot niet gaan....

Sunday, June 14, 2009

Om God in liefde te aanskou

Ek verbaas my elke keer as ek mense trou en hulle ervaring van so naby meemaak, hoe totaal hulle ingestel is daarop. Die vaalste mensie en die stilste muis, verander in sprokiesmense in die beplanning en ervaring van hul spesiale dag. Die groot oomblik, die verruklike dag doen iets onvergeetliks aan die bruid en bruidegom.

Dit is nie verniet dat die Bybel die verhouding tussen God en mens met ‘n huwelik vergelyk nie, soos byvoorbeeld in die geval van Hooglied. Bybelkenners maak baie daarvan dat Hooglied eintlik oor die huwelik en oor erotiese liefde gaan. Maar deur die eeue heen het baie lesers hierdie boek gesien as ‘n feesviering van die verhouding van God tot die mens. En as sommige geleerdes huiwerig is om Hooglied ook geestelik te lees, kan hulle gerus na Openbaring gaan, want daar word die gemeente as bruid van Christus voorgestel wat op pad is na die bruilofsmaal. Openbaring, die boek van aanbidding (kyk maar Openbaring 4-5) eindig in ‘n bruilof.

Kontemplasie is die mees intieme en besondere oomblikke in die mens se geestelike reis. Soos 'n troue vir jongmense, so is kontemplasie vir gelowiges. Ons lees die Bybel, bedink dit en word dan deur ons oordenking gebring tot ons gebede aan God. Maar nooit eindig die reis hier nie. Gebed is maar die deurgang tot daardie heel unieke ervaring dat ons vir God aanskou. Baie skrywers vergelyk hierdie oomblik van diepe aanskouing van God met ‘n bruilof: ‘n mens word oorweldig deur die intimiteit daarvan, met die vreugde en verrukking wat dit bring. Wat is tog ‘n beter beeld om hierdie spesiale oomblik uit te druk as God se wittebrood met die mens.

Paulus skryf in Romeine 1:20 dat die mens van die tyd van die skepping af al vir God kan herken uit God se werke. Mense “weet” dus van God, maar, skryf Paulus in Romeine 1:21, hulle eer en dank God nie.

Alle mense weet van God. Diep in alle mense is daar dus ‘n plek waar ons God ken. Dit is in die sentrum van alles wat ons is.

Maar wat belangrik is, is wat doen ons met ons kennis van God. As ‘n mens nie reageer op hierdie wete in ons dat daar ‘n God is nie, doof ons die lig wat in ons skyn uit. Dan word ons kennis van God uitgewis. God is dan vir ons “dood”. Ons het ons gevoel vir God laat sterwe.

Ons innerlike, ons “siel” verwelk en gaan agteruit totdat dit uiteindelik verdor en daar net hardheid, leegheid oorbly. Dit is verskriklik as dit met jou gebeur. Jy verloor jou menslikheid. Jy kan godsdienstig wees, uiterlik meedoen aan allerhande geestelike oefeninge, maar dit bly uiterlik. Dit raak jou nie, dit verander jou nie. En hoe langer jy onveranderd bly deur jou godsdiens, hoe groter jou geestelike verlatenheid en dorheid.

Maar as ons ons oopstel vir God se inwerking in ons lewens, as ons God se stem byvoorbeeld in Christus se lewe en woorde wil hoor en wil aanvaar, dan ontkiem daar in ons nuwe lewe. Diep in ons, waar niemand anders kan kyk nie, waar ons soveel hartseer, lyding en donker gedagtes wegsteek, waar ons dikwels nie eers onsself verstaan nie, daar wil God kom woon en nuwe lewe bring.

En as God die saadjie daar saai, en ons stel ons hart oop, en die Gees voed die saad in ons en dit ontkiem, is dit om in die Here weg te gly – in Cussons se woorde. Dit gebeur, veral as ons hard geword het, stadig. Dit is so 'n bietjie belangstelling wat in jou loskom, amper soos 'n bietjie van 'n lae noot verliefdheid: is hier nie dalk regtig iets wat my tot lewe kan bring nie? En op 'n dag, as die plantjie deur die harde kors breek, kom daar die verliefdheid. Die onbeholpe gesukkel, die gevoelens, deurmekaar, maar daar. Ons ken eintlik almal hierdie proses: ons praat van ons gewete wat ons pla, van die Gees wat in ons werk.

Hoe ongelooflik: God wat so hoog is, so buite ons bereik, wat die heelal geskep het, kom in ons diepste innerlike en kom woon daar - soms stil-weg, soms stadig, soms selfs huiwerend. Maar God is daar en ons verlange na God word meer en meer. Hoe ongelooflik dat ons met God een kan word op so ‘n intieme manier.

Hoe vreemd is dit ook terselfdertyd nie: ons kyk dikwels op, na die hemel, na die wye ruimtes. Maar einlik moet ons stil raak voor die groot wonder, dat God by ons is, hier in ons, naby ons, nader aan ons as wat ons by onsself kan wees. Ons moet rus vind in God se liefde wat so intiem na ons uitreik soos die liefde van ‘n bruid vir die bruidegom.

En dan, by hierdie punt dat ons in God se liefde wegsak, ontbreek die woorde ons. Ons is stom, sonder iets om te praat voor die aanskouing. En so moet dit wees, want hierdie veliefdheid, hierdie intimiteit kom daar waar ons gebede ophou. Hier gaan oratio oor in contemplatio. Ons geestelike reis moet dus verby gebed, by God eindig.

Maar ek loop vandag hieroor en dink: dat die teenwoordigheid van God ons stom laat omdat dit so gelaai is met liefde. Johannes 3:16 probeer dit weergee. Die Christus-beeld is die beeld van 'n liefdesgawe - dit is hoe God teenoor die aarde is. Daar, waar God in liefde teenwoordig is, is woorde nie meer nodig nie. Die geliefde weet, die geliefde is daar. Woorde is te arm om die volheid, rykheid en vervulling hiervan weer te gee. Ons hoef niks te begeer nie, na niks te verlang nie. Want God is by ons. Johannes 17: Die heerlikheid wat U my gegee het, het Ek ook aan hulle gegee....

Hoe ondenkbaar dat ons bang kan wees vir God!

Saturday, June 13, 2009

Boelies en bullebakke



Een uit elke vier kinders in Amerikaanse skole word geboelie. Dit gebeur nie net openlik wanneer bullebak-seuns vir kleiner of swakker seuns foeter of uittart nie, maar byvoorbeeld ook wanneer dogters ‘n ander een heel subtiel verstoot of uitsluit.

In die Amerikaanse koerant, die New York Times is daar ‘n artikel van ‘n pediater oor nuwe navorsing oor boelies wat tans in pediatrie aandag kry. Die pediater praat met woede oor een van sy pasiënte wie se ma hom vir ‘n ondersoek ingebring het. Die seun was gek oor wetenskap. Nadat hy ‘n prys gewen het om deel te neem aan ‘n nasionale byeenkoms, knou sy maats hom af. Destyds, skryf die dokter, het hy bloot raad aan die ma gegee, maar nou, na hierdie navorsing, sal hy dit as ‘n pediatrie-probleem hanteer omdat dit die welsyn en gesondheid van ‘n kind ingrypend bepaal en sal hy iets baie daadwerkliks omtrent die situasie doen.

Die boelie-probleem word nie sommer geïgnoreer nie. Die pediater noem dat skole in Amerika deesdae genadeloos op boelies toeslaan en hulle selfs uit die skole verwyder. Daar word ook allerhande maatreëls getref: geen plekke word geduld wat uit die oog van die onderwysers is nie. Onderwysers is ook bedag op ‘n geboelie en sorg dat hulle kinders nie sommer uit die oog verloor waar hulle kan boelie nie.

Die pediater vind dit nie genoeg nie. Dit help nie om net voorkomend op te tree nie. Boelies moet nie net gestraf of gekeer word nie, hulle moet behandel word veral omdat ‘n beduidende groep van hulle akademiese en sosiale mislukkings word. As iemand ‘n boelie is, is dit ‘n goeie teken dat hy uiteindelik sy lewe gaan opmors. Boelie-geweld, het die navorsing uitgewys, kan die slagoffer vir die res van sy of haar lewe bybly en knak. Maar, nou hoor ons, dit bring ook die boelie se ondergang. Boelie-geweld kweek geweld.

Dit val ‘n mens op dat iemand wat so venynig en afknouerig is, wat ‘n groot stuk kwaad in hom of haar omdra, uiteindelik die slagoffer van hom- of haarself word. Juis daarom vra dit kundige ingryping om so iemand van verdere disintegrasie te red.

Ek het in onlangse jare al hoe meer besef hoe vernietigend geweld op die geweldenaar self het. ‘n Moordenaar en ‘n boelie is uiteindelik 'n groter slagoffer van die geweld as hulle slagoffer.

Iewers is dit ‘n ou insig dat die kwaaddoener deur sy dade versleg en tot niet gemaak word. Openbaring 18 vertel dat die ondergang van die gewelddadige bose prostituut deur die dier waarop sy sit veroorsaak word. Geweld vernietig die geweldenaars self.

Wat doen gelowiges oor 'n afknouery, oor bullebakke? In ons "tawwe" kultuur is dit nie iets waaroor ons dikwels praat nie. Ons dink boelies is lastig. Maar ons hou daarvan dat mense hul man staan en van kinders word verwag om nie 'n boelie te verdra nie. Daarom is ons tawwe kultuur eintlik gebou op 'n onbarmhartige houding van "staan jou man en foeter hom terug."

Dit is natuurlik glad nie so eenvoudig nie. Juis omdat ons kultuur so taf is, kan kinders goed wegsteek dat hulle geboelie word. Ons begryp nie die slegte inwerking daarvan nie. En ons besef nie dat iemand 'n bullebak kan wees sonder dat sy of hy een vuishou plant.

Boelies kry ‘n mens natuurlik nie net in die skool nie. Jy kry bullebakke in jou buurt, in jou kantoor, aan die universiteit en in die kerk waar mense in gesagsposisies of wat hulself sterk ag, ander afbreek en dreig.

In die lig hiervan is die voorbeeld van Jesus steeds aangrypend: die gebed vir sy geweldenaars as hulle hom kruisig is nie net ‘n vergifnis nie, maar terselfdertyd ‘n oproep, vermaning, gebed, smeking om nie so te wees nie. En sy sterk verwerping van teen-geweld het sy uitwerking gehad: die Romeinse soldaat, die een met die wapen aan sy sy, bely Hom aan die voet van die kruis as Seun van God as Hy sterf. Moenie oor ander heers en ander dwing nie, is Jesus se antwoord aan sy dissipels wat mag soek. Hier is ‘n voorskoot, was eerder hulle voete as nederige diensknegte.

Maar Jesus stuit nie net geweld nie. Hy wys ons wat om wel te doen. Hy het na die mense wat deur die samelewing geboelie is, uitgereik. By hulle gaan sit en dapper hulle kant gekies. Daarmee het hy nie net vir hulle getroos nie, maar vir hulle rede gegee om op te staan en ‘n nuwe lewe, sonder vrees te voer. Toe die bullebakke die owerspelige vrou na Jesus gebring het, het hy nie 'n klip gaan haal en die eerste steen gegooi nie. Jesus was geen bullebak nie. In meelewing het hy hulle bullebak-agtige houding uitgewys - hulle "ons is beter as sy"-houding. En toe vir die vrou huis toe gestuur dat sy nie verder sondig nie.

Juis gelowiges moet die boelies kan aanvat – nie net oor die skade wat hulle aan jou kind doen nie, maar oor die skade wat hulle hulself aandoen. Hier is mos ‘n goeie tema vir die prediking: praat met die boelies. Maak daarvan ‘n sessie by ‘n jeugkamp. Skryf daaroor in die gemeenteblad. Praat met die kinders in ‘n jeugpreek dat hulle nie boelies word nie. Help hulle om te sien hoe hulle hulself vernietig in die proses. Help die kinders om subtiele vorme van boelie in hul eie lewe te herken – nie net in die vuishou nie, maar ook in die steekhou en die spotlag. Help die huiweriges om boelies teen te staan en te berispe, en, dat hulle opkom vir die kleintjies wat geboelie word.

Een uit elke vier kinders!

Lees die artikel by:
http://www.nytimes.com/2009/06/09/health/09klas.html?ex=1260331200&en=2da1461a1f9744f2&ei=5087&WT.mc_id=HL-D-I-NYT-MOD-MOD-M101-ROS-0609-HDR&WT.mc_ev=click
En gedink dit is net Amerika?

http://www.iol.co.za/index.php?set_id=1&click_id=105&art_id=vn20090612052745121C950930
en vir goeie wenke in Afrikaans:
http://www.mieliestronk.com/boelie.html

Friday, June 12, 2009

Die onderskeiding van God se wil

Hoe ontdek ‘n mens God se wil vir jou lewe? Hoe onderskei ‘n mens wat God van jou wil hê?

“Gesonde verstand” is vir die meeste van ons dit wat regtig die deurslag gee: jy vang nie dom dinge aan nie, want jy moet eet en ‘n plek hê om te bly. Daarom werk jy vir ‘n goeie salaris. Daarvoor het jy geleerdheid nodig en moet jy sorg dat jy jou matriek kry en jou kwalifikasies.

Jy neem nugter besluite.

"God help hulle wat hulself help", redeneer ons. As jy deurdagte besluite neem, is dit wat God vir jou wil - so redeneer ons.

En in jou hart koester jy jou lewe lank ideale wat nooit vervul word nie.

En dan word jy op 'n dag nogal met 'n probleem gekonfronteer. Somtyds kom God na ‘n mens op ‘n baie normale manier om vir jou iets te sê wat jou gesonde verstand-besluite bevraagteken. Jy teken darem mooi, skryf iemand wat gesien het hoe maak jy iewers vinnig ‘n tekening. Jou hele lewe lank wou jy ‘n kunstenaar wees, maar jou gesonde verstand laat jou verstrik raak in saai dinge wat jou lewe belas en jou weghou van jou drome. En dan sê God vir jou skielik op 'n dag op hierdie manier opnuut weer: jy teken mooi. Jy kan mense se lewens verryk met jou tekeninge.

Is dit dan God se wil vir my lewe? Om 'n nuwe rigting in te slaan? Te waag?

Soms is die oplossing maklik: Die uitleef van jou talente en gesonde verstand hoef darem ook nie teenoor mekaar te staan nie. Dalk moet jy iewers net klein begin en jou drome stadig begin uitleef. Dan hou jy jou werk en word deeltyds 'n kunstenaar.

Soms is dit nie so maklik nie. Jy word dalk gedwing om meer radikaal te kies.

En hier werk iets verborge, want dan moet jy soms teen jou beterwete in besluite neem. Want jy weet diep in jou hart: As jy net van jou verstand leef en nie ook met jou hart nie, is dit nie meer gesond nie. Wat baat dit ‘n mens wat met ‘n onvervulde hart leef? As iets aan jou bly knaag en jy werk nie daarmee nie.

Hoe hoor ‘n mens God se wil vir jou lewe? Dikwels, baie dikwels, met jou hart.


Dan moet jy waag. Want as jy in jou hart weet dit is wat God van jou vra en jy kan biddend in God se teenwoordigheid aanvoel dit is die pad wat jy van nou af moet loop, sal God by jou wees. Al dink baie mense jy is van jou verstand af....

Thursday, June 11, 2009

Sekulêre ekstase.....

Sekulêre ekstase.....

Die Euronews Nuuskanaal saai vanmiddag ‘n berig uit oor die Konfederasie beker toernooi wat Sondag begin, met hier en daar die nou reeds bekende patroniserende opmerkings oor Afrika se eerste aanbieding van die wêreldbeker toernooi volgende jaar. Die Konfederasie-toernooi is ‘n goeie oefenlopie, vertel die beriggie die veronderstelde skeptiese gehoor.

Maar dan wys hulle die Spaanse sokkerspelers se aankoms vir die Konfederasiebeker. Hulle word verwelkom deur ‘n klomp dansende rukkende Afrikane. En dan word voluit op die gesigte van die spelers gefokus, een na die ander. Hulle monde hang halfpad oop en hulle staar, skoon vergete van wie hulle is, na die dansendes.

Ek kon nie help om te wonder wat alles aangaan in hullle gedagtes nie. Daardie gesigte vertel egter hoe mense so kan opgaan in wat voor hulle gebeur, dat hulle al hul eie roem en faam vergeet. Selfs die bekendes kan nog in vervoering raak....

Ekstase....


En dan dink sommige mense die mistieke is iets ongewoonds...

Wednesday, June 10, 2009

Waarvoor bid ons? Oor die ontmoeting met God.

Die mense wat deur die eeue heen in afsondering gaan bly het om naby aan God te leef het almal een ding in gemeen. Hulle lewe in totale eenvoud. Geen luukses. Hulle lewensstyl is sober, hulle prioriteit is reg. Wat saak maak, is nie waar hulle is of wat hulle besit nie, solank as wat hulle in stilte by God kan wees.

Hierdie ingesteldheid op God bepaal natuurlik ons gebede. As ‘n mens soek na die dieper dinge, bid jy nie eintlik vir belonings, prestasies, besittings, roem, sosiale aansien, geleerdheid, grade, bevordering of ander konkrete dinge nie. Jy weet maar te goed: ‘n Mens kan al daardie dinge hê en jou lewe kan dolleeg en hol wees. Of, soos ‘n sekretaresse van een van ons land se bekendste akademici stilweg eendag harde, harde woorde van hom as haar baas opgemerk het: Hy kan geleerd wees, maar dit verander niks aan sy varkerigheid nie.

Dit is die ironie. Ons bid so naarstiglik vir dinge wat ons hart nie vol maak nie. Want ons gebede eindig nie by ons nie. Ons gebede neem ons juis weg van onsself en bring ons by die ontmoeting met God, by eenwording met die Here uit.

Nie dat al hierdie goed onbelangrik is nie. ‘n Mens kan baie goed doen en wonderlike barmhartigheid bewys deur konkrete, materiële dinge.

Ons weet net diep in ons dat innerlike vervulling nie deur uiterlikhede bewerk word nie.

Hieroor dink ek terwyl ek kontemplasie oordink.

Ek het ‘n goeie vriend met wie ek gereeld muurbal speel. Hy neem sy godsdiens baie ernstig op. Sy verhouding met God maak ‘n verskil aan sy lewe. Hy het al swaar besluite geneem omdat hy God se wil vir sy lewe wil gehoorsaam. As ek terugkyk na baie gesprekke wat ek met hom gehad het, was ons gesprekke oor God vir my van die mees vervullende oomblikke in my lewe. Hy is geen teoloog nie en hy is nie ‘n diepsinnige Bybelwetenskaplike nie. Maar dit is asof in ons gesprekke oor God, dikwels heel ontspanne en sonder groot debatte oor ‘n glasie drinkgoed op die stoep van ‘n restaurant, God langs ons kom sit het as een van ons gespreksgenote. Dit is asof ek soms gevoel het, as hy met my oor God praat, of die Here eintlik met my praat – so een is hy met God en so duidelik sien ek in sy lewe ‘n eenvoudige, stil, maar toegewyde, ernstige liefde vir God.

Ek dink nie hy is volmaak nie. Soms sien ek sy kleivoete raak en partykeer dink ek sy teologie is bietjie vlak... En tog, as ek met hom praat en na sy lewe kyk, inspireer dit my, dit verander iets aan my . Die God wat hy lief het, is die God wat ek ook wil liefhê.

Merkwaardig, besef ek wanneer ek daaroor dink. Dat dít nou, hierdie ontmoeting “in” die Here, vir my bo-aan my lys van vervullende oomblikke staan. Dis so eenvoudig, hierdie spesiale ervaring. Ek het einlik niks anders in my lewe nodig nie. Eintlik nie eers die biertjie op die stoep van die restaurant nie.

Om in die geselskap van God te wees saam met al die heiliges, is onvergeetlik. Waar twee of drie.... En dit is genoeg.

As ek dan van die Here heel eerste iets moet vra vir myself in my gebede, sou dit wees om meer sulke ontmoetings te mag beleef. Ontmoetings met God.

Trane van blydskap: Oor die aanskouing van God (kontemplasie)


Ek sit by haar nadat sy die nuus gehoor het dat haar seun se operasie ‘n sukses was. Maar sy lag nie vrolik nie. Sy huil. “Nellie, hoe dan?” vra ek onrustig. “Wat pla dan? Wat is fout?”

Sy kyk na my en glimlag dapper deur haar trane: “Ek huil sommer van blydskap,” sê sy.

Kan ‘n mens “huil” van “blydskap”? Dit is dan twee dinge wat vir ons teenoor mekaar staan?

Ons kan dikwels huil omdat God so ver van ons voel, al bid ons vuriglik (oratiewe dimensie) nadat ons die Here se woord oordink het (meditatio), gelees het (lectio) en ons ingestel het op die krag daarvan vir ons geestelike reis (die leeshouding).

Maar gebed is nie waar ons geestelik reis eindig nie, al voel dit vir ons dikwels so. So asof ons trane die laaste woord spreek en die blydskap uitbly nie. Ons geestelike reis vind sy hoogtepunt in die aanskouing van God – die kontemplasie (contemplatio). Alles wat ons doen, alles wat ons lees oor God in die Bybel, moet ons uitbring by die punt waar ons by God is, voor God staan en in God se teenwoordigheid aanbiddend leef.

Dikwels bid ons en bid ons. En dan kom daar nie antwoord nie. Sommige praat van “plafon-gebede” – ons gebede slaan teen die dak vas. Maar tog weet ons op ‘n punt dan wel iets het met ons gebeur. Party van ons praat van : my gebed het “berusting” in my gebring. Ek “vertrou” God. Ons voel God het gehoor, al praat God nie terug nie. Ons “voel beter” nadat ons gebid het. Dit is asof daar in ons gebede self al iets gebeur, iets diepers en verborge, wat ons tot innerlike rus laat kom. Ons hoef nie te wag totdat ons klaar gebid het en daar dan een of ander tyd iets gaan gebeur wat as antwoord op ons gebede na ons toe kom nie. Eintlik sê ons op hierdie manier dat ons gebed oorgaan in aanskouing van God.

In die gebed waarin ons tot God roep, praat God reeds met ons. Die feit dat ons kan bid, is reeds God se antwoord op ons. Dit is asof God sê: in jou gebed is ek reeds besig om aan jou lewe rigting te gee.

Die mens se innerlike verlange na God is baie sterk. ‘n Mens kan selfs in trane wees omdat jy roep na God en wag op God. Trane is dan ‘n teken van die pyn wat jy in jou omdra, ‘n teken van ons verlange na God se koms. Maar trane kan ook ‘n teken wees dat God besig is om ons te reinig: ons word skoongemaak van alles wat om ons vasgekoek het en ons in vuilheid vasvang. Dit is asof God sê: ek was jou, ek was jou in en deur jou trane. In jou gebed word jy “gereinig”, word jy uiteindelik van “menslike” gedagtes gesuiwer en kom jy by ‘n punt uit dat jy God vertrou met alles, waar jy in aanskouing van God leef.

Die vreemde, verborge is dat God juis ook in ons trane teenwoordig is. Wanneer ons na God roep, is dit asof God sê: as jy na my roep, is dit ‘n teken dat ek jou antwoord. Jou praat met my is nog skaars aan die gang, of ek kom na jou toe.

Dit is dan die dieper punt: wanneer ons bid, bring dit ons by ‘n punt waar ons God in kontemplasie aanskou. Wanneer ons bid, “voel” ons nie altyd dat God ons “antwoord” nie. Maar ons weet God stuur ons lewe in ‘n rigting. Ons gebede as verlange na God, is ook die manier waarop God ons lei.

‘n Mens kan dit, baie versigtig, met die volgende beeld illustreer. Ons mis ons ouers wat nie meer by ons is nie. Hulle is dood. En tog bly hulle gedurig in ons gedagtes. Hulle is dus “teenwoordig” by ons. Dit is anders met baie mense wat ons geken het en wat gesterf het, maar vir wie ons vergeet het. Ons dink nie aan hulle nie en hulle raak nie ons lewens nie. Maar met God is dit anders, selfs nog meer as met ons ouers. Wanneer ons tot God bid, verlangend, selfs treurend en die trane loop oor ons wange, dan is dit omdat God in ons lewe teenwoordig is. Ons kan nie vergeet van God nie. God is daar, selfs wanneer ons nie in verrukking is nie.

En, laastens, as ons so treur oor God wat ons nie gedurig en ekstaties in volle heerlikheid kan beleef nie, wil God eintlik vir ons iets groters sê: “Ek is nie altyd daar by jou nie. Soms is ek weg en afwesig in jou lewe. As jy trane stort, onthou jou trane is ‘n teken dat ek by jou is, in jou verlange woon. Tog, tog, moet jy onthou my afwesigheid in jou lewe is ‘n teken dat jy nooit nou al vir my ten volle sal ken nie. Daarvoor moet jy wag – totdat ons groot hereniging kom. Totdat ons anderkant alles wat jou nou vashou en seermaak, bymekaar sal wees. Die aarde is maar ‘n tentwoning. Dit sal afgebreek word. Maar in die plek daarvan kom heerlikheid. Daarom, laat jou trane, jou seerkry-trane trane van blydskap wees. Blydskap omdat ons op pad is na die nuwe, blink toekoms wanneer ons ten volle bymekaar sal wees.” Ja – ons trane is dan van blydskap ook, want terwyl ons treur omdat ons leef in ‘n plek waar God nie ten volle geken word nie, weet ons ons is op pad na ‘n plek waar ons God ten volle sal aanskou. Nou sien ek in ‘n spieël ‘n raaisel. Ek sien die verborgenheid, die mistieke. Maar eendag, skryf Paulus ook, sal ek van aangesig tot aangesig sien. Ons stort trane van blydskap.

Ons geestelike reis is soos 'n Maartlelie: ons kom by 'n punt dat ons hierdie verstommende mooi blom uit die dorre grond sien breek. Maar ons weet dat dit nog ten volle moet uitblom voordat ons dit in sy volle glorie sal kan sien. Ons is ongeduldig, haastig om dit te sien. Maar die blom laat ons wag,
vir die regte tyd....

Tuesday, June 09, 2009

Hy het sy arms om die kindertjies gesit. 'n Mymering oor Markus 10:16


Winter het uiteindelik gekom en begin hom nou tuismaak hier op Stellenbosch. Ons het hierdie week die eerste groot 10 dae reënbuie in die Kaap gehad. Nat, snoekweer. Tyd vir pannekoek bak. Smiddae weer sop eet. Saans gestoofde hutspot.

Ons skep die warmte en die geselligheid in die huis om die koue buite te verdryf.


Ek gaan draf terwyl dit reen. Gou-gou is ek deurnat. Maar ek draf my warm, die koue kry nie houvas op my nie. Ek kom fris by die huis aan, reg vir die aand se werk voor my rekenaar. Die stort is warm en die waters stroom behaaglik oor my. Ek kom tot rus. My lyf is ontspanne. Ek voel goed.


Maar buite is dit winter.


En vir baie is dit nie in hierdie tye altyd moontlik om die winter teen te hou nie. Ek dink aan die aangrypende rubriek wat Wilhelm Jordaan in vandag se Burger geskryf het. Oor sy kleinseun van drie jaar wat met nierkanker gediagnoseer is en die wintertyd wat dit vir hulle gebring het.

En dan, in hierdie swaar skrywe oor ‘n groot tema, die egte, outentieke humor wat deurslaan: as hulle die seuntjie wil inspuit, roep hy uit: "Julle moet my nie baie seer maak nie." En toe: (by die besef van wat hy sê en ter nadenke) "Julle moet my nie 'n bietjie seermaak nie."


Wintertyd is die tyd vir humor. Vir so bietjie warmte om die koue op 'n afstand te hou. Dit maak ons fiks, dit maak ons weerbaar, dit laat ons oorleef om te kan lag oor ons seerkry.


Ek het Wilhelm se rubriek geniet soos baie ander van sy rubrieke. Maar hierdie een was baie spesiaal. Omdat die wintertyd so gou toegeslaan het op 'n klein mens se lewe. Die besef wat by jou deurbreek van hoe lyding nie ouderdom ag nie en nie die jeug reken nie. Nog skaars drie jaar oud is hier 'n lewenstryd om oorlewing aan die gang gesit. Sy hartsroep is ons hartsroep: moenie hom seermaak nie. Hy is te klein.


Hoe sleg verwerk ons tog die kleinstes se seerkry so sleg. Hulle mag nie ly nie, hulle is te fragiel, te nuut, te jonk, te onskuldig, te breekbaar. Laat ons dan maar liewers die punch vat, die prys betaal. In hulle plek


"Julle moet die plante kos gee," vermaan die kleintjie sy familie vaderlik en onderrigtend voor hy hospitaal toe gaan, skryf Wilhelm. "'n Plant moet gereeld sy water kry," preek hy, die driejarige, vir almal, onbewus van die groot drama wat in sy lewe afspeel tot groot genot van sy Oupa met die groot hart en die goue skrywerspen. En tot ons intense pyn oor die lewensdrama wat hom hier in die klein wereld afspeel en onder die goue humor weggesteek lê.


En dan vertel hy vir sy oupa, vertroostend, moedig, hoe baie hulle twee van nou af sal kan speel na sy behandeling omdat hy nie meer so moeg sal wees nie.


Wintertyd, die tyd van moeg wees vir baie van ons. Die tyd wat ons oorkom en oorwin net deur te lag, deur lief te wees, deur daar te wees - vir ander, maar veral vir die kleinstes, die geringes, die armes en die breekbaarstes onder ons.


Maar in hierdie wintertyd maak ons geleentheid om bietjie sop op die tafel te sit, gou te gaan draf, voor die rekenaar in te skuif, saam met jou kleinkind gou die plantjies te gaan water gee, lekker te gaan bal skop, vir haar of vir hom te karnuffel, te kielie, te jaag in die kombuis, 'n pannekoekie te rol, in jou arms te neem en by jou te hou. Dit gee ons in die wintertye die warmte om te kan oorleef en te leef.


Want, en dit beskryf Wilhelm nie, die leser wat sy rubriek lees, herken agter sy skrywe, 'n familie wat tuin maak, almal saam, kindertjies inkluis, wat saam met mekaar 'n hegte band vorm, wat mekaar se woorde indrink, mekaar se liefde opsoek. En dit is wat hulle - en ons - laat oorleef in ons wintertye.


En hy het sy arms om die kindertjies geslaan en vir sy dissipels gesê....

Monday, June 08, 2009

Aanskouing van God as oneindige verlange. Oor kontemplasie.

Daar is soms in die teologiese wêreld allerhande groot woorde wat vir teoloë belangrike dinge sê. Net so is daar ook in spiritualiteit die woord meditasie as 'n sleutelbegrip. Maar baie mense hou nie eintlik van die woord nie, want hulle dink aan mense wat in ‘n trance gaan en hulle selfbewussyn heeltemal kwyt is. Selfs stywe, uitpeuloogkaste, stuiptrekkings en allerhande ekstatiese onnatuurlikhede kom as gedagtes by hulle op.

Die egte meditasie is juis so wonderskoon omdat dit die menslike kant van die verhouding met God nooit kwyt raak nie. Die Bybel praat deeglik van meditasie, al is dit in ‘n ander sin van die woord as wat soms bedoel word daarmee. Ek is nog altyd geraak deur Bybelgedeeltes waar meditasie in die sin van mymering wel bedoel word en glad nie in die sin van ‘n vreemde verlies van jou bewussyn nie. Die mooiste voorbeeld is vir my Lukas 1:19 waar Maria die vreemde verskynsel gehad het van ‘n engel wat Jesus se geboorte aan haar aankondig. As dit verby is, staan daar: Maar Maria het “al hierdie woorde” bewaar en “in haar hart oordink.” Meditasie is hier oordenking (nie nadenke nie). Ou mense en ouer dominees praat daarom dikwels eerder van “oordenking” as van preek, wat miskien iets is wat ons weer in ere moet herstel.

Om te mediteer beteken om, soos Maria, die woorde van die Here te bewaar en in jou hart te oordink. Die woorde van die Here moet jou eie word, dit moet bewaar bly. Dit moet in jou hart gaan lê en jy moet daaraan bly dink, steeds weer en weer: wat vra hierdie woorde van my, wat doen hulle aan my (nie net wat “beteken” hulle nie). Maria bedink ook nie die sensasionele nie: O, ‘n engel het aan my verskyn nie. Sy mediteer oor die woorde van God. Maria is in geen trance nie, maar sy is diep in haarself gekeer, in toegespitste aandag op wat God besig is om te doen.

Daar is tog ook eintlik iets diepers en groters as meditasie waarvan hier sprake is. Om die Here se woorde in jou hart te bewaar en te bedink is nog lank nie die einde van die geestelike reis nie. Dit is maar die begin van die reis. Want uiteindelik moet ons hartsgedagtes ons hartsgeheim word. Dit gebeur wanneer ons hierdie Woord begin bid – soos in die Psalms. En nog meer: die geheim van die hart is wanneer ons, terwyl ons bid, bewus word van iets grotes wat met ons gebeur. Dit gaan hier om kontemplasie. Kontemplasie kan in woordeboek-taal beskouing, oorpeinsing beteken. Maar dit is eintlik iets meer: dit is eerder aanskouing. Daardie direkte, onmiddellike ervaring van die teenwoordigheid van God.

As ons die Bybel lees, moet dit ons altyd weer iewers in God se teenwoordigheid bring. Die woorde van die Here moet ons by die Here self uitbring. Ons lees die Bybel (lectio), mediteer oor die betekenis (meditatio), bid daaroor (oratio) – want in gebed antwoord ons op wat God vir ons sê en raak ons betrokke in ‘n verhouding met God. Maar dan kom die diepste punt, verby gebed, verby ‘n verhouding met die Here, wanneer ‘n mens een is met God op die mees intieme manier. Dit is dan dat ‘n mens in God se liefde tot rus kom. Op ‘n kol gebeur dit dat jy die Bybel lees en dan weet jy jy kan nie meer verduidelik wat hier aan die gang is nie, maar jy is op heilige grond. Dit gaan nie meer om jy wat bid nie, maar om God wat by jou is. Alles word nou tot die ruspunt gebring: ons harte is gevul met die geheim van God se verborge teenwoordigheid.

Dit is daardie wete wat ons aantref by die digter van Psalm 118:6: “Die Here is by my, ek ken geen vrees nie.” Ons het by ‘n punt uitgekom dat ons nie meer bid nie: Here, ek is bang, wil U by my kom woon nie. Nou is ons gebed beantwoordL “Ek weet, ek ken die verborge geheimenis: my vrees is verby, die Here is by my” (nie “ek is by die Here nie”).

Moet tog nooit dink hierdie reis is maklik en seepglad vir mense wat netjies nadink, mymer en bid nie. Hierdie psalm is vol lyding: die psalmis se vyande het “soos bye” om hom gepak, “maar hulle het verdwyn soos doringtakke in ‘n vuur” (Ps.118:12). Hy vertel die Here het hom swaar kasty. Dikwels, dikwels is die Here op ons geestelike reis weg en soek ons vervaard na die Here. Maar dan, op ‘n punt, vul ‘n wete ons en dan kan ons uitroep: “Maak die tempelpoort vir my oop: ek wil ingaan en die Here loof”.

En dan volg die aanbiddings-uitroep, uitgespreek direk tot die Here: “Ek wil U loof omdat U my gebed verhoor en my gered het.” Die psalm eindig dan met die diepe wete: “U is my God, U wil ek loof; my God, u grootheid wil ek besing.” Jy weet, jy weet: “Loof die Here, want Hy is goed, aan sy liefde is daar geen einde nie.” (Ps.118:28-29). En daarom kan jy die Psalm begin met die woorde: “Die Here is by my, ek ken geen vrees nie” (Ps.118:7).

Meditatio is mymering, diep nadink oor woorde van die Here. Oratio is wanneer daardie woorde van die Here in my my eie woorde losmaak. En contemplatio is verby alle woorde: ek hoef nie meer te dink nie, te praat nie. Ek kan ervaar: Ek is by God. Ek aanskou God. Ons het nou van alles vergeet: selfs van ons eie gebed. Ek ervaar met verrukking dat ek alleen maar een ding wil doen: ek wil uiting gee aan my oneindige verlange (infinite longing) om God te aanbid, God te loof, in die Here se teenwoordigheid met lof te skuil. ‘n Oorweldigende lofpsalm borrel by my uit. Dit is goed om te leef by die Here. Ek word losgemaak van al die ankers van tydelikheid en verganklikheid. Ek ervaar die oneindige verlange om vir ewig hier in die onverganklike teenwoordigheid van God te bly. Al waaraan ek kan dink, is om by God te wees. Al waaraan ek kan vashou is aan dit wat nooit sal ophou nie, dit wat vir altyd daar sal wees. Die verlange na die Oneindige – dit is contemplatio. En die diepste wonder is dit: dat ek, mens, die eindige, die verganklike, dat ek by God kan wees.

Blog Archive