Tuesday, November 29, 2011

Ware en valse mag


Die mag van die kerk oor die lewens van mense neem soms onvoorstelbare omvang aan.

Tydens my onlangse reis gesels ek met iemand oor die bieg – wat my hiervan meer as tevore bewus maak.

Wanneer ‘n mens na die bieg gaan, is die vereiste absolute eerlikheid en, gepaard daarmee, absolute openheid.

Die priester kan vir jou die mees intieme vrae vra wat ‘n mens reguit moet antwoord.

Op die manier, verduidelik my gespreksgenoot, moes sy landgenote ‘n dertig jaar gelede aan die priester vertel vir wie hulle gestem het. As hulle gestem het vir ‘n politieke party wat vir die kerk op daardie stadium onaanvaarbaar was en teen wie die kerk hom uitgespreek het, het die priester geweier om vir daardie persoon “absolusie” van hul sondes te gee. Dit het geweldige konsekwensies vir die persoon en sy familie gehad. Dan was hulle afgesny van kerklike voorregte.

In die tyd, in ‘n streng katolieke land, is mense wat dus vir sekere partye gestem het, deur hierdie magsposisie van die kerk in sosiale verwerping ingedompel. Die bieg was dus die kerk se manier om die sosiale strukture te beheer en om verreikende politieke en sosiale mag uit te oefen. Iemand wat uit pas was met die kerklike voorkeure en instruksies was summier die voorwerp van ernstige ostrasering.

In sy land, vertel die gespreksgenoot my, het dit tot dekade-lange verbittering gelei. Kinders en kleinkinders onthou nog die geestelike lyding wat hul familie met skande ervaar het oor hul politieke keuses. Omdat feitlik die hele bevolking katoliek is, was die verwerping besonder sleg.

Dit tref my vol in die gesig toe ek begin nadink oor wat dit moes beteken het dat ‘n mens so deur die kerk gebind kon word. In Protestantse kringe is die gebruik en die impak van die bieg nie so bekend nie en kan ‘n mens jou noulik in so ‘n situasie indink. Dit is dus ‘n ervaring om daaraan blootgestel te word en om te verneem hoe mense gely het onder die houvas van die kerk op die samelewing.

Die ironie is dat die politieke party wat die kerk in my gespreksgenoot se land veroordeel en verwerp het, later die regerende party sou word. En hierdie party onderhou heel goeie verhoudinge met die kerk, ten spyte van ‘n meningsverskil by ‘n geleentheid of wat. Al daardie lyding en skande was dus, vanuit latere tye gesien, eintlik onnodig.

Maar die punt is vir my nie soseer dat die kerk se oordeel op ‘n ironiese manier heel radikaal kan wissel nie. Dit gebeur in alle kerke dat besluite van gister die skande van môre kan word.

Vir my is die punt hier iets anders: daar is nie maklik iets meer gevaarliks as mag nie. Dit is wel so dat ‘n mens mag kan gebruik om goed te doen. Die geskiedenis het byvoorbeeld gewys hoedat die kerk die werk van moeder Teresa eers moes goedkeur voordat sy in Kalkutta vir die armes en siekes begin versorg het. Die kerk het ook iewers vir haar die ruimte geskep waarbinne sy haar werk kon vorm en uitvoer (al het dit, soos haar briewe toon, nie altyd so maklik gebeur nie).

Soms, soos in hierdie geval, kan mag inderdaad ‘n geestelike karakter hê. Maar dikwels – te dikwels – is die kerk se houvas op mense minder gelukkig.

Dit bly boeiend dat die verhaal van die evangelie gaan oor magsprysgawe. Jesus het dit geen prestasie geag om aan God gelyk te wees nie, sê die beroemde Christus-himne in Filippense 2. Maar Hy het dit prysgegee om aan mense gelyk te word en soos ‘n slaaf te kom dien. En ‘n beroemde woord van Jesus is om alles prys te gee, sodat ‘n mens alles kan wen.

Die mag van geestelikes oor lidmate en gemeentes is onvoorstelbaar groot. Die magsoptrede van die kerk kan onvoorstelbare vorme aanneem en mense se lewens radikaal bepaal. Wanneer ‘n mens hieroor begin nadink, is die blote feit hiervan genoeg om ‘n mens te laat terugskrik. Daarom is die groot vraag op watter geestelike manier die kerk sy mag uitoefen. Die evangelie is hieroor nogal duidelik: die geestelike mag van die kerk is nie in heers en regeer te vind nie. Egte geestelike mag het veral ‘n dienende karakter. Jesus is die voetewasser.

Dit is seker die groot uitdaging vir die kerk van ons tyd: in die gewone samelewing wil mense nie meer gebind wees aan mag as dwingelandy nie. Wat deesdae in ons kultuur vir mense nader aan God bring, is die mag om te dien. Dit is nie verniet dat in ‘n onlangse televisie-program die meeste mense wat ondervra is oor wie die grootste vroue-figuur in onlangse tye was, moeder Teresa se naam genoem het nie. Intuïtief is die evangelie se magsprysgawe al in die kultuur van ons tyd teenwoordig en verbind mense dit met grootheid.

Hieroor moet ‘n mens nie romantiseer nie. Dit is nie maklik om mag prys te gee nie. Vir die kerk is dit allermins maklik – want magsprysgawe gaan teen die grein van die kerkgeskiedenis met sy talle magsvergrype in. En elke predikant weet maar te goed hoe swaar dit is om die mag op te gee en die minste te wees. Om mag op te gee, vra ‘n bewustelike keuse. Dit is iets waartoe ‘n mens jouself moet dryf. Magsprysgawe is ‘n bitter beker.

Maar die vrug daarvan is geurig en soet. Dit is ‘n keuse wat ‘n mens toegang geen tot die vrug van die Gees en die blydskap van die geestelike lewe.
 

Die mistiek van ons tyd


Terug by die huis en na ‘n stewige nagrus (die terugreis was elf uitgerekte ure lank), staan ek in ons dorpie op onder ‘n blou hemel en ‘n geel, warm son wat alles om my in somer se vrolike lig laat baai en wat in my kom lê soos 'n eerste, egte liefde.

Op ons balkon, staan ek minute lank en indrink aan die geil groen van die eikebome. Ek verstaan waarom groen in sommige godsdienste die kleur van die goddelike is as ek hulle sien. Ek bekyk hongerig die Pieke, dan die berg van Predikant Simon, die herder en leraar van my voorvaderlike Hugenote en soek daarna weer die kop aan die oorkant van ons nommer eerste rivier gretig op. Hy staan nog daar – klein meneer tussen al die groot ooms wat om hom die lug inpeil. Vanaand, as die son ondergaan, sal hy bo hulle, die groot menere, uitstyg wanneer hy in ryk, onoortreflike kleure sy aandgewade gaan aanpas. 

Ek is tevrede. Alles is nog netjies in hulle plek.

Middag draf ek my ou, bekende drafroete, op teen die bergpad, terwyl ek my verloor in die mistiekheid van die vallei soos dit tydloos lê en wag om bekyk te word en geniet te word. Elke draai in die pad is ‘n tuiskoms, elke fynbos langs die roete ‘n ou kennis.

Dit was ‘n lang 14 dae sedert ek dit die vorige keer kon draf. Ons herontmoeting is soet, die dag is mooi, my vrede lê diep. Ek is in dankbaarheid naby aan God.

Die hele dag deur bly ek kou aan ‘n belangrike gesprekspunt tydens die byeenkoms in San Francisco. Mistiek, het verskeie sprekers beklemtoon, is lank nie meer bloot te assosieer met die ekstase of die persoonlike ervaring van individue nie. Dit is ook nie meer iets wat in afsondering in die woestyne of in kloosters na mense kom nie. Die mistiek van ons tyd, vertel die groot spiritualiteitsdenkers van ons eeu, is dieper, mooier, konfronterender. Dit is die mistiek van die alledaagse. Om God rondom jou te ervaar, om die Verborgene ‘n aanraking ver te ontmoet.

In ons tyd sal mistici die eenheid met God in die mees gewone en alledaagse dinge ondervind. God,  besef ek tydens die gesprekke, het eintlik baie nader aan ons gekom as ooit tevore. Naby, na aan God, digby die Verborgene, die Diepste van alle dinge, kom ‘n mens by jou opstaan en jou rondgaan, wanneer jy om jou kyk en wanneer jy alles wat in geloof vir jou kosbaar is, met ‘n gevoel van herkenning en ontmoeting rondom jou kan ervaar. Die aanraking van God in die liturgie, die lees van die Woord, die bediening van die sakramente, die studie van die Bybel, kom op ‘n ander manier tot jou wanneer ‘n mens, attent, aandag-skenkend, met ‘n verhoogde bewussyn, met opgeskerpte sintuie, ook om jou die werking van God herken.

Geloof, dink ek dikwels die afgelope tyd, maak ‘n mens bewus van hoe God orals naby aan ‘n mens is. Vandaar die geestelike fokus op die ekologie, op die liggaamlike, op die teenwoordigheid van God hier en nou. Lankal nie meer bloot verstandelik nie, is geloof die transformatiewe reis met God langs die waters waar rus is.

Geloof laat 'n mens die skepping anders ervaar, anders sien en steeds weer elke dag nuut bekyk. 

Ek gaan gooi petrol in by die garage hier onder in die straat waar ek ‘n ou kliënt is. Die petroljoggie, onbekend aan my, groet vriendelik en wil weet hoe gaan dit met my. Hy bedien my met meer as rojale vriendelikheid. Die vrou agter die toonbank lag vrolik toe ek vir haar sê sy lyk nes Patricia de Lille se suster en sy moet vir haar suster vra of sy nie vir my ‘n werkie in die parlement kan kry nie.  Baie mense het al vir haar gesê sy lyk na Patricia, antwoord sy – haastig om my gespottery oor te vat. Sy weet darem nie of ek in die parlement moet gaan werk nie, ek lyk dan glad nie skelm nie…. Die vriendelikheid van die ander een, onbekend aan my, vervul my verder met geneentheid op hierdie goeie dag.

Ek stap na my motor nadat ek vir die petrol betaal het. Oorkant die straat staan drie klopse in hul tooisels, besig om vir die kafee-gaste te sing vir ‘n bietjie geldjies. Hulle klere het die beste dae agter die rug, maar die oop-en-toe sang is ewig nuut, eg Kaaps, vol musiek en laat die somer-ligtheid nog dieper in my hart wegsink.

Ek is tuis, dink ek, as ek na hulle gesing luister.

My hart bly hier, weet ek. En dit is meer as ‘n fisieke tuiste. Dit is ‘n plek van tevredenheid, van vredigheid, van innerlike behoort. Hier, na al die kilometers van rondry oor drie kontinente heen, voel ek naaste aan God. Ek is verbind met die aarde waar ek ‘n plekkie gekry het om my kop neer te lê. God se nabye goedheid, voel ek op die sag-blye someroggend, woon ook in die berge en in die dale, in ons plekkie en ook naby aan en in my.

Oweral is God. 

Dit is betowerend – hierdie alomteenwoordigheid van die ewige Skoonheid.

Sunday, November 27, 2011

Die verantwoordelikheid en vreugde om God se wil te onderskei


Tydens die byeenkoms by die AAR praat Elizabeth Lietert oor haar boek oor Discernment, of te wel, onderskeiding. Die vraag vir vele mense in hul daaglikse lewe is hoe om God se wil te onderskei.

Sy noem in ‘n enkele sin dat sy versigtig is om te praat van die “wil” van God.

Later, in Malta, merk my kollega daar op dat die woord ook vir hom ‘n probleem is.

Die woord lyk asof daar sekere vaste besluite omtrent ons lewens is wat God namens ons geneem het en wat ons moet ontdek as ons gelowige mense is. My kollega merk op dat die woord dus ‘n deterministiese betekenis gekry het. God bepaal van A tot Z die gang van die wêreld en almal moet daarby inval. Die mens word niks anders as ‘n masjien wat op vooruitbepaalde toere loop.

Lietert sê dat sy eerder die woord “roeping” verkies as die woord “wil” van God. God roep gelowiges om die weg van God te volg en om hul lewenstaak in getrouheid aan God se woord te verrig. In die proses is daar ruimte vir die mens se verantwoordelikheid.

Wat belangrik is, sê my kollega, is dat ons gedurigdeur moet onderskei watter dinge ons meer volwasse en heel maak teenoor die sake wat ons lewe fragmenteer en vernietig. Dit is immers wag God van ons wil: God wil dat ons steeds weer die beeld van God weerspieël. Dit beteken dat gelowiges soos God sin skep in hul bestaan, hul lewens inrig sodat dit ander kan dien en sodat hulle ‘n vervulde bestaan kan voer.

Wanneer ‘n mens dus in die geloof onderskei wat God se bedoeling vir ‘n mens is, sal daar altyd ook weer mislukkings en foute wees. Maar hierdie foute en mislukkings is nie noodwendig ‘n ramp nie. Ook uit ons foute, ons gebrek aan goeie onderskeiding, leer ‘n mens God se wil ken – al is dit net deur te ontdek wat nie God se wil is nie…

Onderskeiding is dus ‘n hoogs kreatiewe proses. Ons is nie masjiene wat eenvoudig moet uitvoer wat reeds tot in die fynste besonderhede bepaal is nie. Ons is vry mense wat in verantwoordelikheid moet soek op watter maniere ons die heel beste die beeld van God kan uitstraal. Dit maak onderskeiding so ‘n opwindende saak. 

Met vreugde ontdek 'n mens hoe God gelowiges vertrou om hul heil uit te werk. Saam met God word ons lewensreis 'n opwindende ontdekkingstog van ons vermoe om goed te kan leef. En op die manier is ons daarop gerig om God se roeping te gehoorsaam om ons lewe so te leef dat dit God sal verheerlik - in alles wat ons ook al mag besluit en doen.


Saturday, November 26, 2011

Die pous, die katte en die boeke.

My kollega in Malta laai my by die lughawe af na die oggend se vergadering met die Raad van sy Instituut vir Spiritualieit. Ons het met die Raad ons komende simposium suksesvol beplan en in ‘n lang sessie vrugbare samesprekings oor toekomstige samewerking gehad.

Ons is albei dankbaar en tevrede oor die goedheid van die oggend en die geestelike band wat deur ons gemeenskaplike belangstelling en saam-wees oor twee dae opgebou is.

En, om alles te kroon, gebeur dit by hulle gemeenskap se eeu-oue tuiste in Mdina – een van die mooiste stede in Europa. Hier, in die geskiedkundige ruimte,  sal ook ons simposium volgende jaar gehou word.

Ons twee spandeer by die lughawe nog ‘n laaste uurtjie oor ‘n koppie tee vir ‘n finale gesels – ons weet die tyd was eintlk te min vir alles wat ons gemeenskaplik deel en waaroor ons nog dae lank sou kon praat. Ons deel nog ‘n paar laaste gedagtes en wenke met mekaar.

Ek is beïndruk deur sy akademiese werk by die universiteit. Dit is kwaliteitswerk, maar ook innoverend. Ek vind aanklank by sy kreatiewe omgang met spiritualiteit. Een van sy student, vertel hy byvoorbeeld vir my, het ‘n stuk navorsing ingehandig oor die verhouding tussen die fliek, Twilight, die bekende werk oor “goeie” vampiere en – van alle mense – Jan van die Kruis. 

Maar hy het die stuk nie goed gevind nie, hoewel hy gedink het die student se intuïsie is reg en dat ‘n mens die twee wel met mekaar sou kon vergelyk. Die student wou in sy navorsing aantoon dat die vampier in die reeks die soort geestelike groei toon wat Jan van die Kruis in sy werke beskryf deurdat hy lief raak vir ‘n meisie en haar ‘n vampier maak om vir ewig by haar te kan wees.

Maar my kollega vind die toepassing te maklik en ongeloofwaardig. Hy wou eerder gehad het dat die student die vampier korrek verstaan as die argetipe van die oer-kwaad – die bose wat in die “twilight” leef en nooit tot rus kom nie omdat die vampier ‘n bloedvergieter is en gelaai is met skuld-besef. En as rustelose vernietiger van die lewe, staan die vampier as argetipe juis teenoor enige vorm van geestelike groei.  Die vergelyking met Jan van die Kruis is dus nie korresponderend nie, maar antiteties.

Ek luister met belangstelling, veral omdat my kollega ‘n voorstander is daarvan om sensitief te wees vir hoe in ons nuwe tyd spiritualiteit op ‘n nuwe manier beleef word. Elke nuwe era het ‘n nuwe vormgewing van spiritualiteit, argumenteer hy. In ons tyd baat dit dus om te luister hoe jongmense hul intuïtiewe spiritualiteit vorm gee, want dit vertel ‘n mens hoe mense in ons td hul geestelike reis uitbeeld en ervaar.

Dit lyk my belangrik. En, in tye waar daar so vinnig nuwe breuke en omslae kom, moet ons uitkyk op nuwe vorme van spiritualiteit gedurig getoets word.

Ek sien uit om in die toekoms met hom saam te werk oor hierdie wyse van nadenke oor kontemporêre spiritualiteit.

Maar nadat my vliegtuig die pad begin terugvat, bly ook ander aspekte van ons gesprekke nog by my draal. Ek het veel plesier gehad aan twee verhale wat hy my vertel oor die huidige pous. Hy het die pous twee keer op ‘n ongewone manier ontmoet. Toe hy in Rome op ‘n keer was, het die pous, toe nog ‘n kardinaal, bekend geraak as iemand wat heel erg oor katte was. Hy het die katte in die omgewing waar hy gebly het, gereeld kos gegee. Op ‘n keer het hy die pous gesien op pad na die Vatikaan toe, maar terwyl hy deur die straat loop het ‘n klomp katte agter hom aangetou. Hulle het kennelik geweet watter kant hulle broot gebotter was….

En ‘n ander keer, vertel hy my, het die pous, die ernstige teoloog en skrywer, toe hy al pous was, boeke nodig gehad. Hy het blykbaar summier die pad uit sy kantoor en blyplek in die Vatikaan gevat om boeke te gaan haal. In die proses het hy vergeet dat hy pous was. Hoogs ingedagte het hy die pad gevat, straat=af, met net die een ding in gedagte. Blykbaar was daar toe net chaos op straat. Orals het mense verstom om hom begin saamdrom, want sonder enige bewaking en begeleiding kom een van die bekendste mense op die planeet rustig die straat afgestap, onbewus van wat hy eintlik aan die doen was.

Twee mooi anekdote’s, dog ek, wat met smaak en groot humor vertel word. Maar iewers belig dit vir my kante van die pous, wat ek steeds onthou as Kardinaal Ratzinger, waarvan ek nie bewus is nie. Dit boei my dat my kollega, iemand met ‘n oop gemoed, met my inligting deel wat volgens hom daarop wys dat die huidige pous nie die geslote mens is soos wat baie dink nie.

Laat môre-aand is ek tuis, in ons hoogsomer-plekkie – bly om terug te wees waar die huis is. Maar vol ryk gedagtes. Malta was ‘n passende afronding van ‘n vol 10 dae. Tien dae, maar dit is asof ek tien jaar se gedagtes in my ronddra.
 

Friday, November 25, 2011

Wanneer onderskeiding lewensbelangrik is…

Die kollega wat my op die lughawe hier in Malta vanmiddag oplaai is ook ‘n spesialis in Spiritualiteit en terselfdertyd aktief in die bediening. Ons is besig om ons konferensie oor “onderskeiding” in Mei volgende jaar te organiseer.

Terwyl hy en ek oor die eiland na die vergader- en blyplekke vir ons beplande konferensie ry, praat ons oor ‘n klomp sake. Onder andere raak ons ook aan die sosiale situasie op die eiland. Hy vertel my van die groot opspraak wat daar in Malta was toe die regering wetgewing ingedien het om egskeidings te wettig. Sommige geestelikes was heftig daarteen gekant en het lidmate van die kerk met die verdoemenis en hel gedreig as hulle vir die wetgewing sou stem.

Dit is toe dat hy ‘n artikel daaroor skryf wat in die plaaslike media verskyn en groot opspraak verwek. Hy is na die publikasie daarvan oorval deur allerhande reaksies – van teenstanders wat hom verkwalik tot voorstanders wat hom geluk wens.

Maar eers dit: Ek is op die oomblik besig om juis ‘n bietjie te skryf oor onderskeiding. Gister se blog het oor die plek van die gewete in onderskeiding gegaan. Deel van onderskeiding is om gereeld en versigtig ‘n mens se gewete te ondersoek. Daarmee bedink ‘n mens op ‘n kritiese, onderskeidende manier die dinge wat elke dag in ‘n mens se lewe plaasvind wat ‘n mens van God skei. Dit is belangrik om ‘n mens se gewete so te ondersoek, op die belangrike voorwaarde dat ‘n mens nie vasval in ‘n obsessiewe, negatiewe sondebesef nie.

Dit net kortliks om te verduidelik waarom ek oor die res van ons gesprek, terwyl ons in reenweer oor pragtige eiland ry, verwonderd is. Dat juis in die tyd van my nadenke hierdie tema so prominent in my gesprekke hier op Malta na vore kom!

My kollega vertel my dat hy die verdoemende oordeel van sy mede-geestelikes teen lidmate wat vir ‘n egskeiding-wetgewing sou stem, verwerp omdat hy vas glo dat ‘n mens niemand in sy of haar gewete moet bind nie.

Soms, vertel hy, kom daar in ‘n mens se situasie en in jou geestelike reis ‘n tyd dat jy deur jou gewete gedwing word om ‘n besluit te neem wat teen alle gevestigde norme, strukture en magte ingaan. Dit is dan vir jou ‘n gewetenssaak wat jy op ‘n baie persoonlike vlak voor God vir jou uitgemaak het. Dit gebeur nie ligtelik nie, veral omdat jou besluit teen alle bestaande wysheid ingaan. Die besluit word na hewige worsteling en na ‘n proses van deeglike onderskeiding geneem. Dit is jou besluit wat jy alleen voor God neem en niemand het die reg om jou daaroor te veroordeel nie.

Hierdie gewetensbesluit hang saam met ‘n grondmotief in die geestelike lewe. Elke mens het die vryheid om te besluit en moet die vryheid gegun word om besluite te neem wat nie noodwendig met die kerklike leer en dogma klop nie.

My kollega vertel: Dit is niks nuuts wat hy oor die kwessie skryf nie. So het die kerk oor alle eeue gedink en hy sluit bloot net daarby aan. Die mens is in sy gewete voor God gebind om in vryheid te doen wat hy of sy glo reg is. Wat hy sê is ook nie vreemd nie, want dit is byvoorbeeld ‘n saak wat sterk deur die huidige pous verdedig is.

Ek word deur ons gesprek skielik weer bewus van die deurslaggewende rol van die gewete in die geestelike reis van die gelowige mens. Gedurigdeur moet ‘n mens jouself afvra of jy dinge kan doen wat in spanning met jou gewete staan. En die manier waarop ‘n mens jou gewete ondersoek is om te onderskei tussen wat reg en verkeerd is, tussen wat God wil en wat teen God se wil is.

My gesprek met my kollega laat my iets beleef van my nadenke oor spiritualiteit en onderskeiding. Die ondersoek van ‘n mens se gewete kan baie belangrike gevolge hê. Onderskeiding kan ‘n mens bring tot op daardie punt dat ‘n mens teen alle wysheid in, teen al die gevestigde opinie’s en gewoontes, jou eie kop moet volg.

Dink maar hoe duidelik die kerkgeskiedenis dit uitwys: Franciskus van Assissi, Jan van die Kruis, Luther, en menige ander het ‘n punt in hul lewe bereik waar hulle met groot waagmoed die bestaande orde uitgedaag het.

Imitatio Christi….

Dit is dus te verstaan dat die geestelike leiers van alle tye beklemtoon het dat onderskeiding ‘n geestelike praktyk is wat ‘n mens gereeld, daagliks en met groot toewyding moet toepas deur ‘n mens se gewete te ondersoek.   

Thursday, November 24, 2011

Sonde-obsessie en die Onderskeiding van God se wil (2)


Een van die groot uitdagings in die geestelike lewe is om in ‘n rein gewete voor God te leef.

Maar ‘n rein gewete kom nie vanself nie. Om rein in ‘n mens se gewete te wees vra in eerste instansie van jou eerlik ondersoek van jou eie lewe en ‘n kritiese, versigtige ontleding van wie ‘n mens is

In die geskiedenis van spiritualiteit speel self-ondersoek ‘n prominente rol. Om God se wil vir ‘n mens se lewe te ontdek, moet ‘n mens in staat wees om afstand te neem van jou eie lewe en krities daarna te kyk.

Geestelike skrywers het daarom aanbeveel dat 'n mens herhaaldelik en gereeld jou gewete ondersoek. Dit is, beklemtoon hulle, noodsaakik vir geestelike groei.

Self-ondersoek is dus ‘n aspek van die onderskeiding van God se wil vir ‘n mens se lewe.

Self-ondersoek het te doen met die ondersoek van ‘n mens se gewete. Wanneer ‘n mens jou eie lewe bekyk, wil ‘n mens versigtig vasstel wat in ‘n mens se lewe reg loop en watter verkeerde dinge daarin voorkom. 'n Mens moet in die reine kom oor die dinge wat 'n mens negatief en vernietigend in jou gewete bind en jou vashou in 'n gevangeneskap van kwaad.

Die doel hiervan is altyd weer om met sekerheid te kan weet dat ‘n mens tot eer van God leef.

Hoeveel van mense wat geestelik op reis is ondersoek gereeld hul gewete?

Terwyl vele mense nog nie genoeg andag hieraan gee nie, is daar ook weer ander mense wat in hul geestelike reis deur hul gewete veroordeel word en diep daaronder ly. Daar is 'n sekere groep mense wat die slagoffers van hul gewete word.

Die sinvolle gebruik om dikwels ‘n mens se hand in eie boesem te steek en jouself te ondersoek, het in baie gevalle in ‘n neerdrukkende, masogistiese beheptheid met sonde verander. Dan bly ‘n mens behep met die negatiewe begeertes, drange, gedagtes en dade waarin ‘n mens verval het.

Dit is inderdaad ‘n wesenlike gevaar dat ‘n mens kan vasval in sulke negatiewe gevoelens oor wat in ‘n mens se lewe fout gegaan het.

Die punt is juis dat ‘n mens nie vasval in wat verkeerd loop in jou lewe nie, maar dat ‘n mens die negatiewe onderskei van die positiewe dinge. Gedurig wil ‘n mens vasstel wat in ‘n mens se lewe is tot eer van God en wat vernietigend inwerk op ‘n mens en op die verhoudinge waarin ‘n mens lewe.

Die bewussyn van die slegte staan dus steeds weer in samehang met die bewussyn van die goeie. ‘n Mens herken jou eie sondigheid, maar dit word steeds afgeweeg teenoor die aspekte van ‘n mens se lewe wat iets vertel van die mens se geestelike groei. Die fokus op eie sonde is juis om bewus te bly van daardie dinge wat ‘n mens se lewe bedreig en wat ‘n mens se geesteike groei terughou. Die belangrike is dus die geestelike groei – daardie weg wat ‘n mens gaan waarop ‘n mens ook sterker word, nader aan God kom en groter genesing in ou lewe ervaar.

Die ondersoek van 'n mens se gewete moet 'n mens tot vryheid in die Here bring. 

Dit is op hierdie geestelike groei en vryheid wat die fokus in onderskeiding val. ‘n Mens kyk na jou sondigheid juis om dit te bestry, nie om daarin verstrik te word nie.

Die gereelde ondersoek van ‘n mens se gewete is dus praktiese ‘n oefening in die bewuswording van God se genade in ‘n mens se lewe. Wanneer ‘n mens aangekla staan voor jou eie gewete, kan ‘n mens weer elke keer herken hoe God aan die werk is in jou lewe.  Die self-ondersoek is bedoel om daardie remminge teen die werking van God se genade in ‘n mens se lewe te herken en te bestry. Dit is omdat ‘n mens bewus is van God se genade-werking in ‘n mens se lewe dat jy daarop ingestel is om die werking van sonde te onderskei en uit te daag.

Wednesday, November 23, 2011

Onderskeiding (1). Om met God te praat oor die lewe.



Elke oomblik van die dag, sou ‘n mens kon sê, maak ons keuses. Mense is meestal sensitief om keuses te maak omdat hulle weet hulle dra die gevolge daarvan.

Daar is baie maniere om keuses te maak. ‘n Mens besluit op die ingewing van die oomblik om iets te kies, of jy spandeer baie tyd aan ‘n klomp inligting op grond waarvan jy dan ingeligte besluite neem.

Maar daar is ook ‘n ander manier van keuses maak. Dit het te doen met ‘n kerntaak van spiritualiteit. In spiritualiteit word veel aandag aan die mens se keuses gegee. Die geestelike leiers het deur die eeue heen beklemtoon dat keuses saamhang met die groter, belangriker saak van onderskeiding.

Hoewel onderskeiding ook te doen het met die neem van besluite, is dit ook terselfdertyd iets wat ons besluite begelei en omraam. Om te onderskei is iets meer as om bloot net te besluit.

Onderskeiding is een van die oudste en belangrikste motiewe en gebruike in die Christendom. Ignatius van Lojola het geskryf dat onderskeiding so belangrik is dat niemand ooit moet droom om dit oor te slaan in sy geestelike lewe nie. Vir hom was dit ‘n saak wat elke mens elke dag met toewyding en selfs met ‘n passie moet doen.

In onderskeiding gaan dit om ‘n dieper insig te kry in waarheen jy en die omgewing waarin jy jou bevind, op pad is Deur onderskeiding raak ‘n mens bewus van wie jy is en, net so belangrik, wat God se wil vir jou lewe is. Dit is ‘n gereelde geestelike oefening wat ‘n mens hartgrondiglik verander in iemand wat sy of haar plek in die wêreld leer ken en wat met eerbied sy of haar beskeie rol in die lewe leer herken en speel. Terselfdertyd leer dit ‘n mens om jou verhouding met God te koester, om bewus te word en te bly watter rol God in ‘n mens se lewe speel. Dit is iets wat ‘n mens met geduld, gedurig beoefen sodat ‘n mens ‘n lewe van vervulling en sin kan lei.

Heel kort sou ‘n mens kon sê: Onderskeiding is om God se wil vir ‘n mens se lewe te bepaal en te volg. Hiermee word ‘n belangrike verskil tussen besluitneming en onderskeiding gewys. Dit gaan in onderskeiding om op te let waar ‘n mens God se liefde in die alledaagse lewe kan herken sodat ‘n mens dit in jou daaglikse lewe kan toelaat en volg.

Daarom is onderskeiding in die eerste plek ‘n gerigtheid op God.

Onderskeiding is dus iets anders as om net ‘n besluit te neem. Dit is ook iets anders as om bloot n ate dink oor wat reg en verkeerd is. En dit is ook nie dieselfde as self-ondersoek nie. Oor hierdie verskil kan ‘n mens nog veel skryf, maar die belangrike is die eerste groot perspektief: onderskeiding het te doen met God se wil vir die wêreld en vir ‘n mens se lewe.

Daarom sal ‘n mens in onderskeiding gedurig in gesprek met God wees. Waarna ‘n mens soek is om ‘n mens se lewe saam met God te bedink, om uit te vind wat God vir jou oor jou lewe wil sê en om, in die lig van God se wil, die belangrike dinge van die randsake te onderskei. Die fokus is nie maar net op ‘n mens self, jou eie behoeftes, begeertes, gedagtes en dade nie. Die fokus is hoe God oor ‘n mens dink en hoe God oor die wêreld waarin die mens leef, oordeel – en hoe ‘n mens hierdie perspektief van God kan leer ken en gehoorsaam.

Daarom is onderskeiding nie bloot net die versigtige nadenke oor wat vir ‘n mens die beste keuse is nie. Onderskeiding is in die heel eerste plek ‘n gespek met God oor die lewe en oor wat God vir ‘n mens se lewe begeer.

Daarom is onderskeiding eintlik die transformasie van ‘n mens se perspektief op die wêreld: in onderskeiding soek ‘n mens nie na die beste manier waarop ‘n mens kan leef nie. Die perspektief is anders: dit gaan om hoe ‘n mens uitvind wat volgens God vir jou die beste manier is om in hierdie wêreld te leef.  

Dit is die vertrekpunt vir onderskeiding. Wie onderskeiding op die manier begin doen, gaan by ‘n heel ander eindpunt uitkom as die een wat onderskeiding beskou as die praktyk van verstandige besluitneming.

Blog Archive