Die bekende skrywer, Alistar McGrath het ‘n boek oor Spiritualiteit en die Hervorming geskryf: “Roots that Refresh. A Celebration of Reformation Spirituality.” (London: Hodder & Stoughton, 1991). Ek lees dit nou vir die eerste keer.
Reeds die titel vertel iets van sy siening oor die Spiritualiteit in 'n Protestantse of Gereformeerde/hervormingstkonteks. Sonder om ‘n oog te knip praat hy van Gereformeerde Spiritualiteit – want die twee hoort vir hom saam. Hy weet te goed dit kan ‘n misverstaande begrip wees, met emosionele bagasie wat sommige mense daaraan knoop. Maar in ons tyd is ons vanuit ‘n eie, sterk identiteitsbewussyn, sterk genoeg om te weet dat ‘n mens die begrip nuttig kan gebruik om ‘n belangrike nuwe tendens in die kerklike en godsdienstige lewe uit te wys.
Gereformeerde spiritualiteit gaan vir hom om die lewenskuns, die uitleef van ‘n mens se geloof. Spiritualiteit word nou die woord vir sulke gevestigde, sentrale Protestantse woorde soos vroomheid, heiligmaking, toewyding en die goddelike lewe.
Dit gaan beslis nie om ‘n geestelike lewe asof dit teenoor die liggaamlike en konkrete staan nie, asof dit bloot net om die innerlike lewe gaan nie. Spiritualiteit het te maak met die verbinding tussen geloof en die alledaagse lewe, of soos Luther dit gestel het: “die lewe in die wêreld wat op God ingestel is.
En vir McGrath is ‘n wesenlike aspek hiervan dat die lewenskuns beslissende gestuur word deur die Bybel: Gereformeerde Spiritualiteit volg op die voetspoor van die Renaissance, met hulle ad fontes beweging: dit gaan om ‘n teruggaan op die goeie dinge in die verlede, ‘n terugkeer na die bronne, na waar alles begin het. Dit is nie meer goed dat die kerk die Latynse Bybel lees nie, want dit is bloot net ‘n latere vertaling van die Hebreeuse en Griekse teks. Net so wil die Hervorming die kerk teruglei na die Bybel. Die vraag is eenvoudig, skryf McGrath: “waarom sou Christene nie tot die geboorteplek van hulle geloof terugkeer nie en waarom sou hulle nie “sorg dat hierdie beslissende begin-gebeure hulle lewe en gedagtes stuur nie?” Die grootste deel van die kerk in die tyd van die Hervorming sou die terugkeer na die bronne as laf en onnodig beskou het. Die Hervormers het nie so gedink nie. Terug na die Skrif, was vir hulle ‘n fundamentele oortuiging en die hart van hulle spiritualiteit.
McGrath hou nie van romantiese of sentimentele stories hieroor nie. In Spiritualiteit gaan dit om ‘n nugtere, versigtige en kritiese belangstelling in die verlede sodat dit wat transformatief gewerk het, behoue kan bly en in die mens se huidige situasie kan voortwerk.
Ek hou van McGrath se beskrywing hoe die Hervormers die Bybel met “’n gevoel van afwagting” gelees het. Hulle het geweet hulle moes terug na die Bronne, na die tekste wat alles begin het. In die kerk van daardie tyd was die Bybel een van baie bronne. Nou, weet hulle egter, is hulle by die oerbron. Hulle wou daar wees waar alles begin het, waar al die ander bronne hul beginpunt gehad het.
Hulle lees dus met gespanne aandag – maar, meer nog, hulle lees om meer te beleef van die ervaring van mense wat ‘n transformatiewe ontmoeting met die opgestane Christus gehad het.
McGrath skryf verder hoe die Hervormers hulle nuut-ondekte ontmoeting met die eerste gelowiges se lewensveranderende ervaring met God in Christus nie vir hulleself gehou het nie. Hulle het dit doelbewus met die kerk gedeel en die kerk daarmee uitgedaag. Dit is soos iemand wat vir sy maat die briewe gee wat hulle vir mekaar geskryf het toe hulle nog op mekaar verlief was sodat hulle liefde soos vanouds sou opvlam. Op die maneir wou die Hervormers die kerk bring om op ‘n nuwe, transformerende manier weer te leer liefkry.
Steeds weer het die Hervormers dus teruggekeer na die verlede sodat die hede nuutgemaak kan word. Dit wat transformatief gewerk het, moes herontdek word.
Die een beeld na die ander stroom uit McGrath se pen: die terugkeer na die verlede was soos om ‘n moeg en afgeleefde geloof te verfris. Dit was soos om terug te keer na die oase waarvandaan die reis in die woestyn begin het. En dit was soos om ‘n kruitvat aan die brand te steek sodat die gemaklike, verstarde sekerhede van die middeleeuse Christendom uitmekaar geskiet kon word.
Dit is dus Gereformeerde Spiritualiteit: die soeke na ‘n lewende geloof, die dors na die lewegewende waters, die smag na die brood van die lewe. Alles moet opnuut weer nuut word – soos dit in die tyd van Jesus gebeur het. Vandaar die ankerende beweging na die Skrif, daar waar alles vertel word van die eerste ervarings van God se lewenskrag.