“Ek is nie ‘n onderdaan nie,
hoor!” sê ‘n
Hollander hierdie week op televisie oor die kroning van die nuwe koning in
Nederland. Sy is ‘n republikein, dikvies dat in die 21e
eeu iemand nog op grond van sy geboorte in so ‘n
openbare, bevoorregte posisie beland en dat dit boonop beteken dat een man ‘n hele volk “onder” hom het.
Dit is so ‘n
heerlike kaas-oomblik. Vlymskerpe eerlikheid en hoë
verontwaardiging.
Dit laat my ver dink: die verset teen uiterlikheid en dwang is diep
in ons harte gesetel. ‘n Mens wil graag dinge doen - uit vrye wil,
maar steek viervoets vas as jy “moet.” Jy wil nie ‘n onderdaan wees
nie. Die dwangmatige struktuur wat jou biologies tot ondergeskiktheid
veroordeel, gaan teen die grein van ‘n mens se bestaan
in. Mense hou nie van base nie. Baaspelerigheid is onder die boonste sondes. En
van baas tot klaas is die soort van ondergang wat groot behae kan skep.
Neem byvoorbeeld die gedagte van die
navolging van Christus.
Vir sommige mense stuit die gedagte teen
die bors: waarom het mense nodig om Christus te “volg”? asof hulle onderdane is wat agter ‘n
leier aan moet tou? Impliseer navolging
nie onmondigheid, onvolwassenheid en onvermoë
om vir jouself te dink en te leef nie?
Is jy maar ‘n
slaaf wat die baas agterna moet sit en al sy bevele moet gehoorsaam? Is godsdiens gedryf deur pligpleging? Word
jou geestelike lewe van buite af deur iemand anders, hoe mooi en goed ook al,
gestuur? En jy, onwillige dienskneg, is gedoem tot gedweë klaas-wees?
Daar is min twyfel dat godsdiens hierdie
betekenis soms het.
Daarom dat mense kruiperig is: hou jou
nederig voor God wat jou dophou (en as jy iets onvroom wil doen, steek dit goed
weg dat jy nie “gesien”
word nie). Wees godsalig en heilig – hoe meer, hoe
groter die “beloning” wat eendag op jou
wag. Vandaar ook die netjies ry “gebooie” en “wette” wat van Bo af
uitgedeel word en wat letterlik en slaafs nagevolg moet word, anders… En vandaar ook die gedagte dat ‘n
mens se goeie dade outomaties ‘n goeie beloning
verdien.
Geen wonder dat godsdiens vreugdeloos
geword het nie. In mense se harte is daar ‘n
onbehae oor ‘n godsdiens wat hulle soos slawe laat voel en hulle tot
"onderdane" van die goddelike mag en willekeur degradeer.
En ook daarom eerder
die wegskram, die ontduiking, die verwaarlosing van die geestelike reis. Die
tye is ten beste meestal geestelik verfloud.
In ‘n
nuwe Nederlandse vertaling van Thomas a Kempis (deur Rudolf van Dijk) skryf die
vertaler dat “Navolging van Christus”
as die titel van die boek (Imitatio Christi) eintlik ‘n
swak titel is. Die enigste rede waarom ‘n
mens dit nog sal gebruik, is omdat dit deur die eeue so vertaal is en dit
eintlik ondenkbaar sou wees om dit anders te vertaal.
Veel beter, skryf hy, is om te praat van die
uitbeelding van Christus.
Dit is ‘n
treffende woord, voel ek dadelik aan. Die vertaler sê
(in ‘n voetnoot tot hoofstuk 1.1) dat hierdie begrip van
uitbeelding ruimte vir ‘n mens se vryheid
skep. Dit maak die verhouding tot Christus ook heel persoonlik. En dit
verinnerlik die geestelike reis. Die mens is immers die beeld van God en
Christus (2 Kor. 4:4) en die geestelike reis beteken om hierdie beeld te soek,
dit jou eie te maak en dit te verinnerlik. ‘n
Mens moet vernuwe word na die beeld van Christus (Kol.3:10 en Rom.8:29). In
Christus ontdek ‘n mens wie God is en soek ‘n mens om soos Christus te lyk.
Jy word nie Christus nie. 'n Gelowige mens wil graag soos hy lyk - beelddraer wees.
Maar, besef ek verder, dit is vir my te
min gesê. En ons kan nie die wins van die begrip “uitbeelding” te min ons eie
maak nie.
Want in die woord uitbeelding sit daar ‘n baie bevrydende simboliek. Dit impliseer dat die mens ‘n kunstenaar is. Jy beeld uit wat iewers as rou materiaal in
jou hande geplaas word. Soos alle kunstenaars gee die verlede aan jou
instrumente: doek, verf, kwas, palet kom uit die wet, die profete en die
geskrifte.
Geloof hoor God se stem wat sê: kom, maak iets daarmee. Werk jou eie heil uit, met ontsag
en selfs bietjie bewerig. Jou “eie” heil. Heil! Dit is eintlik hoe God werk.
En dan, deur die eeue, kerf pelgrims
hulle beelde uit die roustof en verf hulle hul lewensdoeke met kwas en palet:
sommige somber, oor die slegte tye en die tenger hoop waaraan hulle vashou.
Soms, uitbundig, oortrek met kleure, Van Goghse palet, oor suiwer plesier aan
die lewe en sy goedheid. Ander kere, nadenkend, peinsend met moeilike patrone
en ingewikkelde lyne oor die verborgenheid en ondeurdringbaarheid van ons
bestaan. En soms die eenvoud van geloofsvertroue, ‘n
enkelvoudige stil-lewe, oor die sagte teenwoordigheid van God in goeie en in
slegte tye.
Altyd weer laat God toe dat mense hul
verhouding met God op hul manier uitbeeld en vertel hoe dinge so anders word
wanneer hulle dieper dink en intens, van nabye, die diepste sin van die lewe
aanvoel.
Kunstenaars, dít
is alle mense. En hul geloof is die uitbeelding van Christus: Ywerige, soekende
en kunstige uitbeelders van Christus, die Man oor wie die geloof nie uitgepraat
kan raak nie en wie se beeld nie finaal vasgevang word nie. Die uitbeelding word 'n kaleidoskoop van veelvuldige grepe en ervarings. Dit word liefde wat ewig bly en ewig ryker word.
Die uitbeelding inspireer tot kreatiewe inspanning, deelname, mee-skep, sin-gee en
sin-maak.
Dit teken gedurig met eindelose passie steeds weer nuwe dinge: Christus, Beeld van die God wat geskep het,
wat betrokke besig bly, wat nader trek, wat liefhet, bemin en omhels, wat
ontferm, troos en aanmoedig, wat met die balsem van Gilead salf, die wonde
verbind en by die graf kom staan, wat bid, mooi-praat en selfs raas.
God van
vele kante, van vele gesigte, van vele dinge en vele mense.
So, soos God, so wil God dat ons sal
wees: kunstenaars wat met gedrae vreugde gedurig weer nuwe lewe uitbeeld en dus
skep.
Suiwer rykdom, skatte in erdekruike.