Thursday, May 09, 2013

Nederige hoogmoed

Op LitNet het ons sopas 'n eerste fase van 'n gesprek oor Angus Buchan se Mighty Men Beweging afgehandel (http://www.litnet.co.za/Article/angus-buchan-en-manlikheid).

Dit het alles begin by 'n geleentheid verlede jaar toe sy nuwe boek, Die Mighty Men Beweging, gratis aan alle gaste uitgedeel is.

Dit het my opgeval dat dit 'n glansboek is, vol foto's van derduisende mense wat die byeenkomste bywoon. Dit is 'n verhaal van sukses, van faam, van 'n beweging wat soos 'n woedende vlam deur 'n verdorde veld trek. En die ondertoon van die baie aansprake in die boek is: hier is lewe, roem, dinamiek. En ook, materiële, aardse beloning en voorspoed vir hulle wat daarby aansluit.

Buchan skryf ook sonder skroom oor hoe daar in sy beweging dinge gebeur wat hy self nog nooit in 'n kerk sien gebeur het nie. Daar is 'n herhaalde beklemtoning van eie sukses, van unieke gebeure wat in ander plekke nie gebeur nie.

En vele getuienisse van mense het hierdie aansprake gestaaf. Mense is verander. 

En aan die ander kant, het ek onthou, was daar al soveel reaksies in die pers wat afwysend en krities gestaan het.

Dit was, dus, het ek gevoel, 'n goeie geleentheid om na aanleiding van wat Buchan self, swart op wit, sê, dieper na te dink oor wat met sy beweging gebeur.  

Keer op keer, aan die ander kant, kom Buchan terug na nederigheid en gehoorsaamheid as belangrike eienskappe van 'n gelowige mens. Daarmee onderstreep hy twee (inderdaad) belangrike kenmerke. Te dikwels vergeet ons ons kreatuurlikheid: dat die mens deel is van die skepping en 'n geringheid aan hom/haar het wat nie genoeg beklemtoon kan word nie.
Maar een oomblik sal my steeds bybly oor my leeswerk aan sy boek. Dit was toe ek afgekom het op die trotse uitspraak van Buchan:  

Wanneer ons grys areas bespreek en die manne begin twyfel, kweek dit in hulle onsekerheid. Sodra iets onderhandelbaar is, kom daar twyfel en dan argumente. 

Dit lyk goedbedoeld. Hy hou nie van twyfel nie. Maar dan volg die streng reaksie:

Ek het nie daarvoor tyd nie. Ek is deur en deur ’n fundamentalis. God het dit gesê, ek glo dit, en daarby volstaan ek

Sulke uitsprake laat my bietjie verslae. Dit was vir my 'n oomblik waar 'n masker val. Nie net oor die inhoud van die uitspraak nie. Maar ook oor die manier waarop dit in onverdraagsame, verwerpende taal ingeklee word.

Dit is vir my nie die taal van nederigheid nie. 

Ek moes myself terugdwing om oor die woorde na te dink - ter wille van verstaan en billikheid.

Buchan is sekerlik 'n bietjie reg: Vernuwingsbewegings het dikwels begin in 'n tyd van geestelike dorheid, waarvan skolastiek en intellektuele haarklowery 'n prominente element was. Geestelike skrywers het ook skerp gereageer teenoor 'n godsdiens en teologie wat nie transformatief is en uiteindelik sy eintlike doel mis om mense in hul geloofsreis te begelei. Buchan se opmerkings sou iets hiervan opvang. En Buchan het sekerlik ook sulke vorme van teologie en prediking in die oog wanneer hy eenvoudig sy geloof bely en dus sulke intellektualistiese dorheid afwys.

Maar die werklike groot geestelike pelgrims was nooit oppervlakkig nie. Kennis was nie vir hulle 'n vyand of selfs 'n bykomstigheid nie. Dit was sekerlik ook nie iets eenvoudigs nie.

Hulle het nie aanspraak gemaak daarop dat hulle presies weet wat God te sê het nie. Hulle was pelgrims veral in hul soeke om meer van God te verstaan en te ervaar. Uit die groot skatte van die verlede en uit die ryk inhoud van hulle tradisies, het hulle deur dieper verstaan (meditatio!), hul geloof juis deur kennis sterker gemaak. Hulle het aan die wysheid van die diep denkers vasgehou.

Lectio divina as Bybel-lees benadering in Spiritualiteit, het niks te doen met 'n triomfantelike houding van seker-weet nie. Dit was 'n kwessie van nie-weet nie, van verlange na meer-weet.

Dit beklemtoon juis die nodigheid om die Bybel self te hoor, om 'n ontvanklike houding in te neem, om geneem te word waar jy nie altyd wil wees nie, om oop te wees vir God se werking en om uiteindelik toe te laat dat God jou spreke stuur en bepaal. Dit weerspieël 'n verlange om in jou wete deur God gevorm te word.

Lank gelede, in die bitter geskiedenis van die eerste groep gelowiges, was Petrus die suksesvolle leier wat op Pinksterdag duisende mense toegespreek het voordat die Gees almal oorval het. Hy was so seker, so vurig, so oortuigd. Hy het daarom die magtige owerhede om hom vreesloos uitgedaag en is toe deur hulle ook letterlik voos geslaan oor sy houding. Hy wou God meer gehoorsaam wees. En hy was. Gehoorsaam en nederig.

Maar hoe was hy toe gehoorsaam? Die apostel van faam wat soveel geweet het en so vurig gepreek het en so vreesloos getuig het? Hy wat soveel kennis gehad het en daarom ook die leier was?

Selfs 'n visioen van God uit die hemel kon hom nie oortuig van sy hoogmoedige verwerping van mense wat anders as hy was nie. Drie keer moes hy van Bo af gedryf word om sy beterweterigheid prys te gee, voordat hy toegegee het hy was eintlik verkeerd. Hy moes die lang pad loop van meer verstaan.

En laat ons ook maar ons inleef, opnuut, in Paulus se storie: sy slim-wees oor wie egte kennis het en wie goeie gelowiges was. Later, veel later, nadat die Lig op hom geval het, moes hy skaam-skaam bely:

Ek was 'n geweldenaar in God se diens. 



















Blog Archive