Dit is min dat 'n mens skilderye sien waar die eintlik fokus van die genesing van die verlamde man weergegee word. Hier is een.
Die genesing van die verlamde man wat in Lukas 5:17-26 vertel word, is vir sommige mense ‘n gaap-gaap verhaal. ‘n Outydse verhaal waarin Jesus ‘n man genees en almal is beïndruk daarmee, lyk dit soms. In ons tyd nie juis opwindende leesstof nie.
Lees mens noukeuriger, is dit 'n ander storie.
Dit is nogal ‘n merkwaardige prentjie: Van heinde en verre, sê Lukas, sak al die belangrike manne van die land op Jesus toe. Dis behoorlik ‘n samedromming. Hulle kom uit elke liewe dorpie uit Galilea en Judea. Maar, voeg Lukas by, ook uit Jerusalem. Uit die ver hoeke en uit die hart van die Joodse establishment daag die manne op om te kom “kyk” na Jesus.
Dit is die konteks. Indrukwekkend. Dis hoë manne, hierdie ouens, formidabel.
Lukas se luisteraars spits hulle ore. Kom hier groot dinge?
Lukas weet: hier is godsdienstige manne, hulle gaan godsdienstige sake bedink en bespreek. Hulle wil Jesus mooi ondersoek.
Uit die konteks van die verhaal kan ‘n mens dus aflei dat ons op ‘n twispunt en op ‘n geskil afstuur.
Die verhaal kry koers: ‘n paar manne sukkel om iemand op ‘n bed by Jesus uit te kry. Dit is behoorlik ‘n samedromming. Die Fariseërs en skrifgeleerdes sit die plek tjok. En dan is daar ook nog ‘n skare. Die plek is vol. Maar dit keer nie die soekende mense nie. Biddende verlange. Hulle is vasbyt-manne wat hul vriend, die verlamde, dra. Die skare stuit hulle nie. Hulle bedink ‘n plan en laat hom sowaar deur die dak tot voor Jesus se voete sak. Hulle laat niks in hulle pad staan om die man by Jesus uit te kry nie. Hulle laat nie ‘n steen onaangeroer sodat hul vriend by Jesus uiteindelik ‘n nuwe lewe kan kry nie. Hulle glo dit met hulle hele hart.
Dan kom daar die merkwaardige, onvoorstelbare oomblik. Jesus sien nie die verlamde man raak nie. Hy kyk verby hom en merk hulle, die vriende, daar op die dak, op.
Jesus kyk dus eerder na die manne wat die bed dra, sien hulle geloof raak (ἰδὼν τὴν πίστιν αὐτῶν). En dan, summier, sommer so, vergewe hy sowaar die verlamde man se sonde (Lukas 5:19). Bloot omdat sy vriende soveel vir hom omgegee het en soveel vertroue op Jesus gehad het.
Wat ‘n vreemde begin, dink ons, die individualiste van ons tyd wat so opreg wil wys hoe ons God lief het en hoe ons moet glo voor ons gedoop kan word.
‘n Man, in totale kontras hiermee, kry ‘n nuwe lewe op grond van sy vriende se geloof. En dit alles begin by sondevergifnis wat aan hom op ander se verdienste geskenk word.
Wenkbroue in elke stad van die wêreld oor baie eeue lig flink na bo. Jou sondes vergewe omdat jou vriende soveel geloof het? Ek kan dink dat ‘n paar flink teologiese breine swaar peil aan hierdie onortodokse oomblik.
Die opmerking oor die waarde van vriende se geloof vir ‘n mens het, anders as in moderne kommentare, al die groot breine van die kerkvaders besig gehou – tot by Luther en Calvyn, wat heelwat daaroor geskryf het. (Sien Frederick Bruner, Matthew: The Christbook, Matthew 1-12, 414-415).
Ambrosius skryf hieroor: “Dit is ‘n merkwaardige God wat deur die verdienste van sommige mense aan ander sy genade kan skenk. As jy twyfel aan die vergifnis van groot sonde, hou vas aan almal wat bid, aan die kerk.”
Die waarde van gemeenskaplike geloof vir ‘n mens is duidelik geïllustreer. Wat jou vriende, jou familie, jou ouers glo, kan jou lewe verander.
En wie nie deur een vers oortuig wil word nie, kan gerus kyk na Matteus 15:28 en Jakobus 5:15.
Plofstof…
Ek dink onwillekeurig aan al die gestryery oor die kinder- en grootdoop. Netjies laat tuimel hierdie gedeelte al die slim gedagtes oor die grootdoop in duie. Dit is nie die man se geloof wat hom laat gesond word nie. Die vergifnis en genesing is God se gawe aan hom deur die onvoorstelbare weg van sy vriende se moedige geloof.
Maar dit is nog net die begin van die verhaal. Meer later.