Ignatius.
Spirituele praktyke, noem sommige mense dit. Dit is wat mense doen wanneer hulle bid, vas, hulleself afsonder, mediteer of wanneer hulle die rusdag hou.
Sonder geestelike oefeninge, word dikwels gesê, verlep 'n mens in jou geestelike bestaan. Dit is belangrik om jou gees ook so intensief in te oefen soos wat 'n mens jou liggaam oefen en versorg.
Op die manier kan 'n mens heel besig bly, met diep en mooi dinge.
Maar hoeveel keer staan 'n mens terug en dink 'n bietjie oor wat geestelike oefeninge nou eintlik is?
Jy kan so besig bly daarmee dat jy nie weet waarmee jy besig is nie.
Geestelike oefeninge is meer as net iets wat jy vir jou eie ontwil doen.
Geestelike praktyke doen 'n mens omdat jy in ‘n verhouding met God staan en wat jy ook saam met mense van alle tye doen – uit die verlede, maar ook in die hede. Saam, as gemeenskap, as familie van God, is ‘n mens besig daarmee.
Immers, jou geestelike reis begin nie in en by jouself nie. Dit het sy oorsprong buite jouself en is in vele opsigte gerig op die groot band wat 'n mens met die skepping en die mensdom het.
Dit is nie iets wat ‘n mens doen sodat daar bloot net geeestelike groei in jou lewe kan kom nie. Die geestelike oefeninge is nie ‘n bedekte manier om ‘n houvas op God te kry, om vroomheid te bewys, of om deur toewyding beloon te word nie. In geestelike oefening staan 'n mens se eie gees nie in die sentrum nie.
‘n Mens doen nie geestelike oefening omdat jy moet nie, omdat God dit beveel nie, omdat jy onderdanig is aan wat die Bybel vra nie.
Dit is iets veel eenvoudigers: dit is iets wat ‘n mens saam met ander geestelike pelgrims doen. Saam is ‘n mens op reis. Saam is ‘n mens op ‘n geestelike manier besig: jy skort jou gewone, alledaagse take en verpligtinge op.
En jy doen dit saam met hulle omdat 'n mens in 'n verhouding met God gebind is.
Deurdat ‘n mens op die geestelike reis gaan, stel jy jouself bloot daaraan dat ‘n mens van God se teenwoordigheid bewus kan raak. ‘n Mens doen die geestelike oefeninge in die wete dat God genade aan jou kan skenk, vir jou bewus kan maak van die goddelike liefde en ontferming.
Maar weer eens: dit is nie jou bewuswording wat so belangrik is nie.
Die diepste betekenis van geestelike oefeninge is dat ‘n mens deel kry aan wat God besig is om te doen. ‘n Mens werk jou heil uit, jy soek na God met vrees, ontsag, bewing en in afhanklikheid. En dan, aan die oefen, aan die werk, op ‘n keer ontdek jy: God werk. God is doenig met my. Ek word deur my geestelike oefening in ‘n ruimte ingetrek wat my verstand te bowe gaan, wat my flitse van goedheid laat beleef, wat vir my vertel dat die lewe ryk en goed is.
Deur my geestelik in te oefen, word ‘n mens bewus van die dieper, goeie, kragtige energie van God wat ook in jou lewe inkom.
'n Mens ontmoet God in geestelike oefeninge.
Ek doen nie die geestelike oefening omdat ek moet nie. Ek is nie ‘n gehoorsame kind wat netjies alle opdragte om soet te wees, uitvoer nie.
'n Mens sou selfs, toegespits, kon sê: Ek doen nie geestelike oefening omdat ek wil nie.
Die vraag is eerder: op watter manier kan ek my in geestelike sake inoefen sodat ek naby aan God kom wat met krag en skoonheid in hierdie wêreld aan die werk is.
Geestelike oefening kom uit die hart van God op: God se aanraking bring my in ‘n liefdesverhouding, maar verlangend wil ek meer weet, meer ervaar en nader, nog nader kom aan die Bron van die liefde. Vasbyt, inspan, opoffer, gee, onthou, sing, bid, vas, stil word, lees, skryf, enige iets – net om te kan deel in wat God liefdevol aan die doen is.
God wil, dus, dat 'n mens deur geestelike oefeninge, in God se lewe deel.
No comments:
Post a Comment
Note: Only a member of this blog may post a comment.