Dit is deel van nuuskierigheid. Maar dit is ook met die (dikwels futiele) verwagting dat sulke inligting meer betekenis aan die skrywer se skryfwerk sal gee.
Die boek is 'n uitstekende voorbeeld van hoe vele van ons die Bybel wil lees. En dit is 'n manjifieke produk van die lewendige, groeiende en vrugbare Bybelwetenskappe wat die afgelope eeu merkwaardige vooruitgang gemaak het.
Op die konteks van die Bybel.
Dit was 'n belangrike ontwikkeling teen fundamentalistiese lees van die Bybel: jy neem nie 'n teks uit sy konteks nie. Jy moet die historiese agtergronde in ag neem.
Maar daar is 'n keersy hiervan: 'n mens kan alles oor die konteks van die Bybel weet en min van die impak daarvan. Die teks bly dan net so vaal soos toe 'n mens dit konteks-loos gelees het.
Neem byvoorbeeld die boek se bespreking van die Emmausgangers, soos Lukas dit vertel. Dit is 'n ryk verhaal wat wil vertel hoe, uit die bloute, na Jesus se dood, iets gebeur wat die vaal, verdrietige volgelinge omkeer en van hulle ywerige, geïnspireerde, bly en ontfermende mense maak.
Radikaal was hulle transformasie, vertel Lukas. Dit het wel bietjie tyd gevat. Hulle was maar tranerig en selfs 'n bietjie onnosel want hulle het al tye lank moes geweet het was sou gebeur. 'n Hele reis kos dit hulle voordat hulle skielik, op daardie een merkwaardige oomblik, snap waarom hulle harte so aan die roer in hulle binneste was terwyl hulle na die Jesus-woorde geluister het.
'n Mens, hoor jy die verhaal hier al vertel, kan alles van Jesus weet sonder dat dit tot jou deurdring...
Meer nog, dit was daardie oomblik toe Jesus die brood neem en breek, dat hulle skielik onthou het: dit is sy liggaam. Gebreek "vir ons". En in die brood-breking is hy ewig teenwoordig, totdat, uiteindelik, verby en anderkant alle aardse grense, 'n mens in God se Ryk rus.
'n Hele lang reis het dit die twee dissipels gekos voordat dit tot hulle deurgedring het en hulle opgewonde in die donker nag sommer dadelik teruggehardloop het Jerusalem toe - oorweldig deur die impak van Jesus se woorde en nabyheid aan hulle.
Maar wat doen hierdie naslaanboek met die verhaal? Die lesers van die boek word "gehelp" met twee vrae: waar was Emmaus? En wie was die twee dissipels?
Historiese vrae.
Die antwoord op die twee vrae is, ironies: ons weet nie.
Dit is 'n boek waarmee lesers deur die Bybel moet "reis."
Wat 'n mooi glansboek. Maar tog: laat die reis deur die Bybel asseblief net nie by hierdie boek met sy naslaan-inligting eindig nie. Laat dit tog maar net hier begin, as 'n eerste stap na 'n veel dieper, gedronge en geestelik ontmoeting met die Een oor wie die verhaal gaan.
As 'n mens nou maar net by die twee dinge wat in die boek wel oor die Emmaus-verhaal gesê word sou kon lees: Juis die gebrek aan historiese inligting, juis die feit dat die twee dissipels se identiteit nie uitgepluis kan word nie, dat ons nie weet waar Emmaus is nie, moet 'n mens laat vra: Maar waarom het Lukas dan wel die verhaal geskryf? En waarom het hy nie in die historiese dinge belanggestel nie (ten spyte van sy voorwoord)?
Wat was wel vir hom belangrik? En waarom eindig hy sy Emmaus-verhaal in 'n huisie om 'n tafel waar Jesus die brood breek - met die finale woord van die twee dissipels aan die ander in Jerusalem: hy het aan ons verskyn en in die breking van die brood aan ons bekend geraak!
Laat my dink aan die ou Halleluja met sy eenvoudige, meesleurende wysie wat ons outyd altyd so graag gesing het:
U het die brood gebreek,
eens by die meer.
Breek tans die lewensbrood
vir my ook, Heer.
Dalk kan 'n mens hierdie ritmiese lied aanvul met 'n vers oor die Emmaus-oomblik: toe hulle die brood uit die Hand geneem het, "is hulle oë", hulle "geestesoog" geopen. Hulle het skielik in-"sig" gekry. Die verstaan het by die hart bygekom. Hulle het "Hom herken." Van die brood en deur die brood het hulle Hom raakgesien.
Nog vreemder, is daardie invoeging van Lukas: hy het "uit hulle sig" verdwyn.
Maar dit het nie saak gemaak nie. Nie weer sou hulle daardie "gesig" vergeet nie.
By die boeiende tekening oor die Emmaus-verhaal hierbo, is daar ook die volgende gedig. Die slotreël tref my: skielik, as Hy uit hul sig verdwyn, is hulle verteer deur die helder lig wat vir hulle die pad aanwys:
Emmaus
Sorrowing, they trudge slowly along
Melancholy their accompanying song
Two disciples talk with a fearful tone
Journeying together yet utterly alone
Another man joins unnoticed, unseen
He is hidden by mournings dark screen
He enquires why the downcast faces?
As he touches grief’s desolate places
They fail to sense his abiding presence
Whispering his name in the past tense
He speaks discerning words in his turn
Words that make their dry hearts burn
He bids farewell, he makes as if to go
Stay they plead, so much more to know
He sits down at table, he breaks bread
Suddenly they realise hope is not dead
Though he had vanished from their sight
They are consumed with his guiding light
Fr Patrick Brennan © 2012 all rights reserved: http://humblepiety.blogspot.com/2012/04/emmaus.html
No comments:
Post a Comment
Note: Only a member of this blog may post a comment.