Wednesday, May 15, 2013

Stil my verlange by die rusplekke in u goddelike hart...



Teilhard de Chardin se gebed (waarvan ek gister die eerste deel vertaal het), in sy Himne van die Wêreld vertel twee dinge:

Enersyds, te verwagte, sien 'n mens die skerpte van sy gedagtes, die helderheid van sy denke, maar ook die kompleksiteit van sy wysheid.

Aan die ander kant is daar die merkwaardige mistieke karakter daarvan. 

Die tweede deel van die gebed, het ek vry verwerk - terwyl ek wonder hoe 'n mens vandag, soveel dekades later, op 'n nuwe manier sy kosmies-mistieke verwoording van sy geloof sou kon nabid. 

Ek bly sê: 'n mens kan alleen maar die gebed verstaan as jy ook Kolossense ken.

Hier dus die tweede deel van sy gebed:


Here, neem my totaal vir u – en laat my in u bly, toegesluit in u, in die liggaam van Christus.

Om sonder U te wees, is niks. Om in U te glo, gee my krag, hou my aan die gang, laat my innerlik oorleef en groei.

Niks bestaan sonder U nie. In U is alle dinge geskep. In u het alles wat bestaan tot stand gekom. Alles wat ek kan sien, maar ook al die verborge dinge wat my oë nie sien nie, alles in die hemel en op die aarde is in U geskep. Deur U het dit gebeur en tot U is alle dinge.

Niks kan buite u liggaam bestaan nie. Selfs hulle wat in die buitenste duisternis, sonder U is, weet van U: ondenkbaar, onvoorstelbaar is dit juis U teenwoordigheid wat hul bestaan aan die gang hou.

U bied die wye, groot ruimte waarin alle dinge leef. In U en deur U leef alles en almal.

Geen mens bestaan op sy eie nie, sorg vir homself nie, kan sonder U bestaan nie. Niemand kan met sy lewe aangaan asof U nie saak maak nie, asof hy sonder U kan klaarkom nie.

Net wanneer ons een is met U, groei ons, word ons gevorm tot meer mens-wees, word ons meer en meer in en tot U beeld gemaak. Net deur steeds weer nouer met u verbind te word, dieper deur U ingesluit te word, ontvang ons meer van U, kom ons nader aan U, word U meer in ons.

Ek smeek U dus, Here, ter wille van alles wat vir my innerlik ‘n saak van lewe en dood is, let op my verlange. Sien raak hoe ek innerlik kreun en sug om by U te wees. Les my dors om eg te kan leef.

Neem my al hoe nader, stap vir stap, oomblik vir oomblik, deur alles wat goddelik is. Laat my U ontmoet, laat my U leer ken in alles van U wat goed, en rein, en heilig, en regverdig en onuitspreeklik is. Neem my saam met U op die hemelreis, op die pelgrimstog waar U die skynende lig en die gids is.

En laat my dan uiteindelik stilte vind in die weggesteekte rusplekke van die binneste kante van u goddelike hart.

Voed my siel – hierdie siel wat soveel groter is as wat ek ooit kan dink. Laat ek in al die hoeke, verborge kante en weggesteekte plekke van my siel U aanraking voel sodat alles in my wat weggedroog het, verniel is en vernietig geraak het, weer kan uitspruit tot nuwe lewe.

Illustrasie en aanhaling van De Chardin uit: 

"We are faced with a harmonised collectivity of consciousnesses equivalent to a sort of super-consciousness. The idea is that of the earth not only becoming covered by myriads of grains of thought but becoming enclosed in a single 'thinking envelope so as to form, functionally, no more than a single vast grain of thought on the sidereal scale, the plurality of individual reflections grouping themselves together and reinforcing one another in the act of a single unanimous reflection.

This is the general form in which, by analogy and in symmetry with the past, we are led scientifically to envisage the future of mankind, without whom no terrestrial issue is open to the terrestrial demands of our action."
 

Blog Archive