Saturday, May 11, 2013

Sielloos. Wanneer 'n mens weinig met ander deel.


My vriend wat oorkant my sit en gesels, is iemand wat nie baie oor ander mense se dinge te sê het nie. Ek ken hom as ‘n interessante gespreksgenoot, iemand wat oor baie sake en inhoude kan praat en dikwels iets nuuts en anders daaroor te sê het.

Ons praat oor ‘n nuwe boek wat ‘n kennis van ons pas laat verskyn het. Dit het ‘n klomp knap en goeie inhoude wat ons gesprek besig en aan die gang hou.

Dan laat val hy, sommer so terloops:

Weet jy dat sy seun in ‘n baie ernstige ongeluk was? In die hospitaal was die seun aan allerhande apparate gekoppel wat hom aan die lewe moes hou. Daar was byna nie een heel been of orgaan aan sy lyf nie.

Dokters het vir sy lewe gevrees.

Toe dinge op hul slegste lyk, het die dokters die ouers ingeroep. In die seun se hospitaalkamer het hulle die ouers gevra of hulle die masjiene moes afskakel.

Wat ons kollega en die dokters nie geweet het nie, was dat die seun elke woord wat hulle daar gestaan en praat het, duidelik kon hoor en verstaan.

Die trauma vir die seun, maar ook vir die ouers, toe hulle later hoor wat hy moes deurmaak, was onvoorstelbaar.

Ek luister na die storie. Dae daarna broei dit nog by my, veral omdat ek sedert die gesprek met nuwe oë na ons kollega kyk. Hoe, vra ek my af, is dit dat ‘n mens artikels en boeke en toesprake van ander mense kan luister en jy weet niks van die lewensloop van so ‘n persoon nie?

En dit, terwyl jy na so 'n verhaal skielik sommige dinge beter verstaan, nuwe eerbied vir die ander een kry en op ‘n ander manier met hom omgaan.

En al die tyd gebeur dit oor en oor dat mense so bymekaar verbyleef.

In groot wêreldstede groet jy nie mense op straat of in die trein nie.

Trouens, in die moltrein vermy jy nie net om met ander mense te praat nie – jy vermy ook oogkontak. Om ander mense in die oë te kyk, kan verkeerd geïnterpreteer word. Dit kan selfs lewensgevaarlik word.

Dit het niks met kultuur te doen nie. Ek het dit in New York, London, Moskou, Sint Pietersburg, Madrid, Amsterdam en in vele ander stede ervaar.

Maar dit gebeur ook in die kerk. Jy sal nog ‘n bekende ‘n knik van die kop gee. Maar ‘n onbekende mens? Bittermin.

‘n Mens kan daaroor kla, of vingerwys.

Dit is nie dat ‘n mens onverskillig is nie. Jy gee om. As daar ‘n groot ramp is of as iemand swaarkry, sal jy vir hulle help. Jy maak geld deur die bank oor of gaan laai skenkings by die munisipaliteit of kerk af om uit te deel.

Origens is jou lewe netjies georganiseerd: Jy hou jou plek netjies. Jy kook jou kos. Jy kyk jou televisie. Jy speel op die internet. Jy gaan werk toe. Jy doen jou sport. Die lewe gaan goed aan.

Jy “besit” alles, het genoeg aan alles, vra of koop hulp as jy iets gedoen wil hê.

Dit is nie dat jy sku is vir mense nie. Jy is eintlik meer bang mense “pla” jou of maak inbreuk op jou privaatheid of hou jou weg van jou werk.

Miskien het dit te doen met die feit dat stede, kerke en geboue groot is. Mense ken mekaar nie. Hulle gaan doen inkopies, betaal vir elektrisiteit en gaan sit selfs in die kerk om ‘n preek te hoor.

En tog, terwyl almal so tevrede leef en bly, is die pas vinnig, die innerlike vervulling vingerdiep, die vreugde flenterig.

Hoekom registreer dit dan so min by ons wat werklik lewenssin skep?  Verbaas vind jy op ‘n dag uit dat jou buurvrou ‘n seuntjie het wat sy elke dag liefdevol en sorgsaam kilometers ver aanry na ‘n skool vir mense met spesiale behoeftes. Of jy hoor op kantoor dat jou baas wat mal is oor strokiesprente en oor jare heen ‘n volledige versameling van Kuifie-boeke bymekaar gemaak het, eindelose stories oor Kuifie te vertel het. Of jy hoor dat dat die tagtigjarige man in die huis langsaan in die oorlog geveg het, op kunsbene geduldig die trap op sukkel met sy swaar sakke kruideniersware omdat hy albei sy bene verloor het. Of die buurvrou, hoor jy, praat met ‘n effense spraakgebrek omdat sy jare gelede wreed verkrag is en toe vir dood agtergelaat is.

Met nuwe oë kyk jy na hulle: ‘n gemeenskaplike band ontstaan. Soms sal jy help dra, help aanry, ‘n geselsie aanknoop, ‘n nuwe Kuifie-boek met belangstelling bekyk. En ‘n stuk menslikheid kom woon in jou. Gemeenskaplikheid bind jou lewe aan ander lewens – en, nogal, maak jou bietjie ryker.

Siel-loos het ons wêreld geword.





No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive