Ek sit en gesels met ‘n vriend wat gereeld branders ry. Hy is ‘n natuurliefhebber en ‘n sport-maniak. Hy vertel my dat daar in die Skiereiland ‘n plek is waar ‘n mens ongelooflike branders kan ry. Jy hou stil langs die kus, laai jou plank af en stap dan – ‘n halfuur lank om uiteindelik in die skoonste van mooi plekke die dag salig te kan deurbring in die son, op die strand en al seilende oor en deur reuse-branders.
Maar, sê hy, jy moet ligloop, want, daar in die allermooiste omgewing, is jy nie so veilig soos jy sou dink of soos jy graag sou wil wees nie.
As jy foto’s van die branders wil neem, moet jy oplet. Oral is daar perlemoenstropers. Hulle het pistole by hulle. En hulle is gevaarlik. Selfs die polisie is bang vir hulle. Hulle vat net wat hulle wil hê. Oral in daardie plek lê die stukkende perlemoenskulpe soos hulle net daar hulle geroofde perlemoen vir die smokkeltog regmaak. Hulle hou nie van kamera’s nie. En hulle is ‘n alewige teenwoordigheid terwyl jy in die branders is.
Dit is anargie, dink ek, al luisterend na sy lakonieke vertelling. Hy is ‘n groot ou en kan sy man min of meer staan. Maar hy is versigtig. En hy is gekweld oor die grootskaalse vernietiging.
Mense het die see tot niet gemaak. Hulle dink hulle besit dit en kan dit verinneweer soos hulle hul ander besittings en hul lewens tot niet maak. Hulle het niemand om te vrees nie en speel baas oor die omgewing. (sien ook http://tonyschreiber.blogspot.com/2013/02/abalone-poaching-in-hout-bay.html; maar kyk net wat doen die Australiërs met hulle stropers: http://www.theage.com.au/national/abalone-poacher-faces-more-jail-time-20080722-3jfl.html).
Hoe verander ‘n mens so ‘n kultuur van toeëiening en vernietiging? Hoe gaan ‘n mens sulke persone aanleer dat ons, in ou taal, “rentmeesters” is. ‘n Rentmeester bestuur ‘n ander persoon se eiendom. As bestuurder moet die mens dus dubbel versigtig wees en met groot verantwoordelikheid die regte besluite neem om hierdie wêreld van ons te beskerm, juis omdat dit nie jou wêreld is nie.
Die gedagte van rentmeesterskap vra ‘n geestelike instelling, ‘n geankerheid in ‘n verhouding met Iemand wat meer is as jy, om hierdie verantwoordelikheid op jou te wil neem en daardeur beetgepak te word. Jy moet ‘n ingrypende kopskuif maak: weg van jouself en baaspelerigheid, na omgee en beskerm.
Dit het ons bedink in die eerste deel oor ekologiese spiritualiteit: ons staan in ‘n spesiale verhouding met die natuur. Ons hoor die natuur uitroep van pyn onder die proses van vernietiging wat aan die gang is. En in solidariteit met die natuur, ly ons en veg ons teen die vernietigers.
Waaijman skryf hieroor: die tweede groot dimensie in ekologiese spiritualiteit is die bevrydingsstryd waartoe dit die gelowige pelgrim oproep.
‘n Mens is op ‘n veldtog: Die verhouding wat ‘n mens met die skepping het, is belangriker as ooit tevore. Want die skepping is tot niet. Ons is eintlik soos ‘n dokter wat ‘n pasiënt het wat dodelik siek is. Dit word ‘n desperate saak om vir die pasiënt wat kritiek siek is, te versorg. Daar is nie meer tyd vir rondsit nie. Ons verantwoordelikheidsin roep ons op tot dramatiese aksie. Dit is tyd om hulp te kry, om te mobiliseer, om te praat, te raas, veral in preke en praatjies, in wat ons sê en doen, selfs op die kleinste vlak: die aarde is blootgestel aan totale verwoesting. In so ‘n tyd, wat Waaijman apokalipties noem, is die kerk met sy skeppingsbelydenis, grof nalatig wanneer dit nie nadink oor ‘n ekologiese spiritualiteit nie en nie meedoen aan die bewusmakingsveldtog nie.
Waar begin ‘n mens in sulke preke en praatjies? ‘n Mens kan probeer om mense te laat verstaan wat aan die gang is. Die geweld teen die natuur, kan ons begin sê, is deel van die geweldskultuur van ons wêreld. Ons wil alles beheer met mag. Ons antwoord op probleme is om dit met geweld reg te stel. Oorlogspraatjies, vuisgevegte, dreigemente, skellery, afpersery, hatigheid en verset teen ander is aan die orde van die dag.
Wat ons aan mekaar doen en wat ons afbreek, doen ons ook aan ons natuur. Ons buit dit uit tot ons eie voordeel en ons doen dit met mag en mening. As ‘n mens dit verstaan, werk ‘n mens op ‘n breër vlak: die aanslag en vernietiging van die natuur is maar een simptoom van ons manier van dink. Ons dink as ons besit, as ons baie het, as ons geld kan rondgooi, as ons borde vol kos eet, groot stukke vleis verorber, bottels wyn uitdrink, dan is ons lewe goed, gesellig en die moeite werd. En dan praat ‘n mens nie eers van die kultuur van toeëiening, korrupsie en winsbejag wat ons lewens jaag en tot niet maak nie. Hiervan moet ons bevry word.
Dit net om te verstaan dat wat ons aan die natuur doen, deel is van ‘n groter manier van dink en doen.
Dit is egter nog net die negatiewe. En dit is nie altyd ‘n maklike boodskap nie. ‘n Mens gaan moeilik mense mobiliseer met hierdie skerp analise van wat ons met onsself gedoen het. Maar, as dit wyslik gebeur, kan dit gedoen word.
Daar is egter ‘n ander weg. Die pad van verwondering.
Elke vakansie maak ek ‘n punt daarvan om ‘n natuur-tema as deel van my preekbeurt in ons vakansieplekkie te maak. Daarin probeer ek iets weergee van die skoonheid en interessantheid van die natuur. Ek konsentreer daarop om dit ‘n kinderpreek te maak, met ‘n visuele element as die vertrekpunt van die preek. Die gedagte is nie net om vir die kinders die Woord op hulle vlak te deel nie, maar om vir hulle lief te maak vir God se skepping. En om hulle te laat hoor dat die kerk omgee vir God se natuur, en soek daarna om by gelowiges ‘n liefde daarvoor te kweek.
Dit is boeiend dat die volwassenes net soveel aan die kinderpreek het as die kinders. En 'n mens is verwonderd oor waar sulke gedagtes oral gaan nesskrop. Twee weke gelede kry ek uit die bloute ‘n epos van ‘n onderwyseres uit ‘n ver dorp wat vir my die teks van my preek vra wat ek twee jaar gelede gehou het. Sy wil dit met haar kinders in die skool deel: Op die preekstoel het ek toe ‘n groot seekat, uit paper gemaak, vir die kinders as visuele hulpmiddel gewys. In die preek het ek die rare verskynsel bespreek dat seekat-ma’s van honger doodgaan eerder as om haar eiers alleen te los om te gaan kos haal. Sy offer letterlik haar eie lewe op vir haar kinders. Dit is 'n interessante natuurverskynsel.
‘n Mens wat dit van seekatte hoor, dink mos anders as tevore. En ontdek terselfdertyd iets heel konkreets oor die betekenis van die liefde (en, uiteraard, die kruis) – wat selfs in die natuur na vore kom. In verwondering sien ‘n mens ‘n kant van die natuur wat voorheen vir jou verborge was. En met die verwondering kom daar omgee.
Ons onderskat hoe deurslaggewend ons verkondiging van die Woord in die stryd om die natuur is.
Deesdae is daar dus ‘n ander, aangrypender uitweg om ons tot liefde vir die natuur te inspireer. Veral omdat ons in ‘n visuele tyd leef, word ons meer en meer bewus van die skoonheid van ons wêreld. Tydskrifte, boeke, rolprente en televisie-programme oor die natuur is uiters gewild. Wat ons moet doen, veral in ons kerke en in die teologie, is om oor die skoonheid van die natuur en die skepping na te dink, ook en veral visueel. Daar is soveel materiaal. Dink aan die natuurpsalms, aan die bergrede, die paradys en dink aan die groot figure soos Franciscus van Assissi wat besondere dinge oor die natuur gesê het.
Weet mense tog nie: watter besittings, rykdom, geleerdheid, status, mag weeg op teen die eenvoud van 'n aand in die natuur, in die ewige stilte van die tyd, teen die wonder van 'n sonsopkoms, die rustige kano-vaart op die voortvloeiende rivier, die daglange lê op die strand, die wag vir die plukkie aan jou vislyn. Dit maak ons ryk, vul ons lewe en gee eindelose geluk.
Die vreugde van eenvoud, van die skatte van God se natuur en skepping.
Dit gaan egter nie net om al hierdie pragtige dinge te sien nie of om net daaroor te praat en dit te geniet nie. Die bewondering vir die natuur word geestelik veranker in God se skeppingsdaad en -onderhouding - en in ons rentmeesterskap waartoe God ons geroep het.
Ons moet dus verder beweeg. Ekologiese spiritualiteit bring mense tot die punt waar hulle verwonderd staan oor die skoonheid van die skepping en die Skepper daarvan.
Dit is tog mistiek - mistiek wat direk met die wêreld te doen het.
Steeds weer, wanneer ‘n mens oor die natuur praat, is die gedagte dat ‘n mens uiteindelik in verwondering sal staan voor die Een wat alles gemaak het en oor die eindelose skoonheid van die skepping en wat dit so ryk uitdeel aan alle mense.
Ons is honger vir sulke Woorde. Ons weet hoe nodig dit vir ons tyd is. Deur hierdie honger meer gereeld te voed, word ons gemobiliseer om om te gee, en om saam te stry. Ter behoud van die natuur.
Maar veral, is ‘n eskatologiese spiritualiteit, merkwaardigerwys, ‘n geestelike oefening om ‘n mens dieper te laat groei in ‘n verhouding met God van die Skepping, die groot Kunstenaar.
Wanneer ‘n mens ingestel is op die bevryding van die natuur, word ‘n mens self bevry tot groter verwondering en word ‘n mens deel van ‘n gemeenskap wat God as Skepper eer en liefhet.
O Heer my God as ek in eerbied wonder
en al U werke elke dag aanskou,
die son en maan, die aarde, sterre, wolke -
hoe U dit elke dag so onderhou.
Dan moet ek juig my Redder en my God:
Hoe groot is U hoe groot is U.
Want deur die hele skepping klink dit saam:
Hoe heerlik Heer U grote Naam.