Friday, May 03, 2013

'n Gehate vyand: redder en lewegewer

In Europa is daar nie een monument vir 'n Duitse soldaat uit die tweede wêreldoorlog nie. Sommige dink daar is in die hele wêreld nie so 'n monument nie.

Die herinneringe aan Duitse soldate roep dekade's na die oorlog nog groot bitterheid op. Om hulle te vereer is byna ondenkbaar. 

Tot onlangs.

In Nederland, waar daar groot vooroordeel teenoor Duitsers en veral Duitse soldate is, is die eerste monument vir 'n Duitse soldaat eers onlangs opgerig. Nederlanders sluk swaar aan enige teken van versoening met Duitsers. 

Daarom is dit boeiend om te hoor dat 'n monument onlangs vir 'n jong soldaat opgerig is. 

Tot dusver het hy as 'n onbekende in 'n groot Duitse begraafplaas vir soldate in Ysselsteyn begrawe gelê. Die begraafplaas word byna nooit besoek nie. Honderde soldate word slegs deur 'n wit kruis met hul naam daarop onthou.

Die Duitse soldaat is in Nederland dood toe hy maar 18 jaar oud was. Hy sterf terwyl die geallieerde magte besig was om die area te bombardeer, na aan die einde van die oorlog. 

Karl-Heinz Rosch was op pad om saam met ander Duitse soldate voor die aanval pad te gee, toe hy twee Nederlandse kinders gesien speel het voor die huis waar hy gestasioneer was. Hy het die twee kinders wat buite gespeel het, gegryp en in veiligheid in die huis se kelder gebring. 

Op pad terug uit die huis om weer by sy makkers aan te sluit, word hy deur 'n granaat in stukke geskiet op die plek waar die kinders oomblikke tevore nog gespeel het. Stukke van sy liggaam het orals beland. Jare na die tyd het stukkies van sy klere nog in die takke van die boom bo die plek waar hy geskiet is, gehang. 

Drie dae nadat hy 18 jaar oud geword het, sterf hy hierdie heldedood. Hy was eintlik nog 'n kind. Die geharde Duitse soldate wat nog weke vantevore daar diens gedoen het, het almal padgegee en hulle is deur die Duitsers vervang met kinders. 

Die kinders het oorlogsvoer geword. 

Die twee Nederlandse kinders wat deur Karl-Heinz Rosch gered is, leef vandag nog. Hulle name is Jan en Toos van Kilsdonk. 

Vir 60 jaar het hulle en niemand anders in die dorpie oor die heldedaad gepraat nie. Hulle swyg dit dood, eenvoudig uit haat en verset teen die Duitsers. 

Selfs toe die treurende pa van die gevalle Karl-Heinz al die pad van Duitsland af by die graf van sy seun besoek afgelê het, vertel die Nederlanders nie 'n woord daarvan vir hom nie. As jy sou waag om in daardie dorpie oor so iets te praat of om 'n goeie woord oor 'n Duitser te sê, sou jy van Duitse simpatieë beskuldig word en uit die gemeenskap uitgesluit word. 

'n Verhaal wat soveel troos aan 'n familie sou gebring het, is hulle ontneem. Die pa sterf sonder dat hy weet sy seun was eintlik 'n oorlogsheld: iemand wat vir die vyand omgegee het en vir hulle sy lewe afgelê het. 

Tog kon hulle nie meer met die swye saamleef nie. Onlangs het hulle daaroor begin praat. En besluit om 'n monument vir die soldaat op te rig.  Hier is die monument:





Die plaaslike owerheid wou hulle nie toestemming gee om die monument op openbare terrein aan te bring nie. Die oorlog - 60 jaar al verby - is nog te naby...

Die monument het groot opspraak verwek. 'n Nederlandse televisie-sender het daaroor 'n program gemaak.

Moenie hierdie aangrypende video mis nie. Dit is 'n wonderlike, deeglik nagevorste, maar aangrypende stuk televisie wat die unieke verhaal vertel: 





Dit is 'n program wat pynlik vertel wat oorlog aan mense doen. 

Karl-Heinz Rosch skryf as agtienjarige seun kort voor die voorval 'n laaste groet aan sy familie: 


"Ek het 'n voorgevoel dat ek dit nie gaan maak nie. Moenie oor my treur nie. Wees trots op my. Wees nie kwaad vir my nie. Onthou my goeie eienskappe."

Hy was ps 18 jaar oud. In die fleur van sy lewe - en bereid om sy lewe ten koste van ander te waag.

Blog Archive