Thursday, May 16, 2013

Gestroop tot sagtheid





Vir Bernard van Clairvaux is die mens eers op weg na God wanneer ‘n mens gestroop word van alles wat so maklik en baie ‘n mens se lewe volmaak. Reiniging noem hy dit: daardie proses van suiwering, wat die vullis, blokkasies en verstoppinge uitkrap en wegneem.

Maar ons kan oor hierdie reiniging op allerhande en mooi maniere praat. Hoe gebeur dit?  

Bernard dink as voorbeelde aan twee dinge. ‘n Mens word gesuiwer van die alledaagse liefhebberye waaraan ‘n mens so verknog kan raak. Woede is een daarvan. Nog een is jaloesie.

‘n Mens moet die belangrikheid hiervan nie mis kyk nie. Helder water loop nie deur verstopte pype nie.

Maar ‘n mens se reis met God moet ook verder loop en met iets meer besig bly: dit begin wanneer ‘n mens begin om dinge te omhels wat eenvoudig en mooi is: Bernard noem nederigheid as ‘n voorbeeld. Maar daar is ook ander. ‘n Mens wat oop is vir God is iemand wat ook soek na regverdigheid. So ‘n mens is sag, vriendelik en toegeneë.

Deur hierdie dinge te bedink en te doen, is ‘n mens besig om jou gedagtes op God te rig. Jou aandag word afgetrek van die oppervlakkighede wat jou so besig kan hou en so woedend kan maak en so jaloers kan laat word.

Het ons ooit daaraan gedink dat gebed juis ook dít is: dat ‘n mens oop is vir God, dat ‘n mens sag en met geneentheid opkyk na die liefde wat wag om uitgenooi te word en in jou bestaan in te kom? Biddend vra ons dat ons van ons ou bestaan gereinig word om in ‘n nuwe manier van leef ingetrek te word. Die biddende verlange is ‘n innige afwagting op die liefde.

Terwyl ek dit bedink, tref dit my hoe dikwels die Bybel oor sagtheid praat. Dit is deel van ‘n hele rits van kenmerke wat ‘n gelowige het.  

Kolossense 3:  Maar nou moet julle ook dit alles aflê, naamlik toorn, woede, boosheid, laster, skandelike taal uit julle mond…  Beklee julle dan, as uitverkorenes van God, heiliges en geliefdes, met innerlike ontferming, goedertierenheid, nederigheid, sagmoedigheid, lankmoedigheid. (Sien ook Filippense 4:2 en 5.)

Maar ek is geboeid deur die feit dat Jesus self ‘n aangrypende uitnodiging aan sy volgelinge rig in terme van sagmoedigheid en nederigheid: "Kom na My toe, almal wat vermoeid en belas is, en Ek sal julle rus gee. Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus vind vir julle siele: want my juk is sag en my las is lig” (Matteus 11:28-30).

By Hom, die nederige en die sagmoedige, kom die verlangende mens tot rus.


Blog Archive