Friday, May 10, 2013

Hoe meer voorspoed, hoe minder vreugde. Oor die gawe van gemeenskaplikheid









Sonder mense om en naby jou sou die lewe maar vaal, en soms selfs ook gevaarlik wees.

Dit is meestal waarna ons uitsien: die vakansie saam met vriende en familie. Of die  kuiertjie op ‘n naweeksaand. Of die vier van ‘n verjaardag. Die aankoms van ‘n kleintjie – ‘n nuweling. En, met die swaarkry van ‘n begrafnis, is daar die dankbaarheid oor ‘n meelewing, ‘n drukkie, ‘n handskud. En nog veel meer: as daar nood is, ‘n ramp dreig, is mense naby om te sorg, om handjie by te sit, te troos en te versorg.

Hierdie band met mense is sterk en intiem. Ons voel nie minderwaardig of hoogmoedig by familie en vriende vir wie ons werklik omgee nie. Vriendskap en gemeenskaplikheid veronderstel dat ons tuis voel bymekaar, dat ons gelykes is en dat ons eenvoudig lekker kan saamkuier. Ons is mense, geliefdes, familie wat deur liefdesbande gebind word.

Gemeenskaplikheid.

Die band met ander mense sal ook maak dat ons onsself te kort sal doen ter wille van hulle, hul welsyn en hul voorspoed. Ons weet ons lewe word ryk as dit goed gaan met ander en as hulle versorg is. Ons kwel ons oor vriende wat agterbly en sukkel. Hulle haak in ons gedagtes vas, ons maak ons sorge oor hulle

‘n Goeie vriend van baie dekades, iemand wat ek nie ken as ‘n alarmis en ‘n jammerlap nie,  skryf vir my ‘n brief dat hy hom deesdae sorge maak oor die toenemende ongelykheid tussen mense. Hoe meer voorspoed en vooruitgang daar is, hoe groter raak die afstand tussen mense. Gemeenskappe wat vir eeue heen in ‘n atmosfeer van omgee grootgeword en geleef het, verloor deesdae toenement hul menslikheid. Hulle gee minder vir ander om. Hulle val vas in ‘n kultuur van toeëiening en selfsug.

“Gebrek aan solidariteit is ‘n gevaarlike vorm van geweld”, skryf hy.

Hy verwys na die vroeg-Christelike gemeenskap wat so kenmerkend mededeelsaam, verenig en solidêr met mekaar was (Handelinge 2:44-45; 4:32-35; 2 Kor 8: 13-14 ; 1  Kor 12:1-31).

Uit daardie solidariteit, gemeenskaplikheid en mededeelsaamheid is ‘n lewensvreugde gebore wat aansteeklik op hul omgewing sou inwerk. Dit het ander geïnspireer en nader aan God gebring. Vir hulle was sulke selfsugtige, korrupte optrede van Ananias en Saffira ongehoord en skokkend: om terug te hou van wat die gemeenskaplike eiendom van almal is, was ‘n doodsonde.

Die teendeel van Ananias en Saffira is die ideaal van ‘n gelowige mens: om te deel, om vrygewig te wees, om saam in die liefdesmaal aan te sit, om te sien dat niemand swaarkry en hongerly nie.

Dit is die ironie: hoe meer voorspoed, hoe minder vreugde. 




No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive