Vasily Perov (negentiende eeuse Russiese skilder) se unieke uitbeelding van Christus in Gethsemane. Dit word as een van sy meesterwerke beskou. Bo Christus se hoof hang - nie 'n stralekrans nie - maar 'n doringkroon.
“Ek moet aan ‘n duisend dinge gelyk
dink,” roep ‘n vies ma uit met ‘n kyk wat haar man, haar kinders en alle
lewende wesens in die omtrek deurboor. Sy is, dink sy, naby breekpunt.
“Wat sal ek nou nog moet onthou?” vra
die baas op kantoor desperaat. Hy kan nie meer bybly nie.
Soms gaan jy die aand net so gestres bed
toe, alleen maar dankbaar genoeg dat ‘n mens net kan slaap en aan niks dink
nie. En jy word wakker, verslae oor die eerste warrelwind gedagtes wat met
vroeë oggend wakkerword al by jou spook.
Lank en lank sal die lysies word as ‘n
mens moet gaan sit en neerskryf waaraan jy alles in die loop van die dag dink
en wat dit alles aan jou doen. Dit dryf jou en oorheers jou bestaan.
Ons kan tot op ‘n punt daarmee
saamleef. Maar dan word dit soms te veel, te donker en depressief.
Gedagtes word in slegte tye lastig, pynlik,
ondermynend en selfs vernietigend. Sulke gedagtes word in ons binneste
opgekrop, broei daar en trek ‘n mens soms in modderpoele van seerkry in. Die
swart hand van depressie druk styf om jou keel.
In spiritualiteit word beklemtoon:
wanneer alles gedeformeer is, alles vasgeloop het, kan dit alleen oopgebreek
word vir lig om in te stroom wanneer ‘n mens wegkyk van jouself en ‘n halt roep
daarvoor.
Dit word tyd dat ‘n mens weg van
jouself kyk na waar ander pelgrims gaan soek het om deur vallei-tye te kom. Die Psalm-boek, Job, die moeilike reis
van die kerk in Handelinge, werke van spirituele denkers, word die inspirasie
vir ‘n mens se eie reis wanneer alles uitmekaar wil val. Wat vir ander werk,
bied sleutels vir latere mense in hul vallei-tye. Wegkyk, om raak te sien wat
werklik saak maak.
Dit word tyd om soos ‘n vlieg aan die
muur te gaan sit en van buite na jouself te kyk: waarom het ek hier beland?
Waarom die onophoudelike stroom van gedagtes wat my oorval en waarteen ek nie
meer kan beur nie? Wat is om my aan die gang? Hoe is my verhouding tot hierdie
omgewing en hoe stuur dit my lewe eerder as wat ek die keuse’s maak?
Goed kyk,
boedel opmaak, diep nadink oor waar ‘n mens aangeland het.
Maar veral word dit verder ‘n tyd om stil te
word: al die los, gebroke en baie gedagtes moet omgekeer word in die een groot
verlange om in die Liefde te kom. Elke gedagte wat in mens se kop kom kan
omgesit word in ‘n gebed tot God. Byvoorbeeld: ‘n Gedagte oor ‘n gemene kollega
of vriend kan in ‘n Petrus-gebed omvorm word: ‘n verlange word uitgespreek om
soos Christus in ‘n tyd van verraad woordeloos te leer vergewe. ‘n Tyd van rou:
indink in die dissipels wat verslae na hul huis in Emmaus in die nag loop – en dan,
stadig, harte wat brand en oë wat herken as die Liefde die brood vir hulle breek.
Lectio divina, die lewe van Christus,
in ‘n eksistensiële verhouding met die Ander tree, wegkyk van jouself en vele
ander dinge vind in hierdie stil tyd van gebed plaas waarin afbrekende gedagtes
aan God aangebied word vir suiwering, omkeer en heling.
Boontoe kyk, maar veral
biddend verlang en begeer om te midde van alle woeligheid by die Oase, die koel waters van verkwikking te wees.