'n Jonge Bonhoeffer
'n Jonge Bonhoeffer
‘n Bekende historikus skryf die week ‘n artikel in
LitNet oor die volkskerk-gedagte. Hy begin die artikel met die opmerking dat hy
nie ‘ n aktiewe lidmaat van die kerk is nie, maar dat hy die kerk baie
welwillend is.
Ek lees die opmerking met groot belangstelling, want sulke
welwillendheid teenoor die kerk sal ‘n mens nie maklik in die openbare diskoers
aantref nie: op groot skaal worstel die teologie eerder met die groot
ontkerklikingsbeweging van ons tyd en word die kerk gepeper met negatiewe
beriggewing. In Europa bestaan die kerk feitlik nie meer nie.
Vele mense vind troos daarin dat mense wat die kerk verlaat,
nie onverskillig is oor godsdiens nie.
Dit val my egter op dat ‘n mens in die openbare lewe in ‘n
vrye, demokratiese bestel oor die hele wêreld eintlik nie meer oor jou
persoonlike verhouding met God kan praat nie. Dit kan maklik aanstoot gee, of,
dit kan jou verdag maak as ‘n geesdrywer of onkritiese mens. Die troos is dus
skraal.
Hier moet ‘n mens ook nie te gou vinger wys nie: hoeveel
mense sal spontaan vandag by hul familie, vriende en kollega’s praat oor hul
geloofservarings? Hoeveel kere sal ‘n mens hartsake ter sprake bring, vertel
van jou verhouding met God, die soeke op die geestelike reis, die verlange na
verlossing, die worsteling met kwaad, die feilbaarheid van jou lewe en dade?
Ons leef in ‘n tyd sonder God, het Bonhoeffer gesê. Ons leef
in ‘n tyd dat mense eintlik nie vir God nodig het nie, selfs al lees (of
skryf!) hulle oor God.
Bonhoeffer wat ‘n leier in die Belydende Kerk was en deur
die Nazi’s vir sy verset teen hul rassisme tereggestel is, skryf oor hierdie
saak: dit is nie regtig eerlik om vir mense te vertel hoe nodig hulle God het
nie. Ook is dit nie regtig eerlik om veilige plekkies te probeer skep waar ons
mense oor God kan laat praat, kan laat hunker na ‘n verlede wat onherroeplik
verby is nie.
Vir Bonhoeffer is daar een, eerlike manier om in die tyd
sonder God oor God te praat. Dit is 'n sekere soort "praat". ‘n Mens
praat deur jou lewe, deur navolging, deur gehoorsaamheid. Dissipelskap, leef
met jou lewe, is ‘n sleutelwoord in Bonhoeffer se spiritualiteit. Deurleefde
geloof, geloof wat in jou lewenswerklikheid ervaar en beleef word.
In só ‘n tyd bid ‘n mens, skryf Bonhoeffer, die man wat sy
dag in biddende omgang met die Bybel deurgebring het en gebed geleef het. Maar
‘n mens doen ook wat reg is, skryf hy, die man wat vir sy stryd teen die
verskriklike rassisme van die Nazi’s met sy lewe betaal het.
Dit word egter by uitstek 'n spiritualiteit van trou: In ‘n
tyd sonder God, wil die mens wat deur God aangeraak is, aan God se sy wees. In
‘n ruimte waar God nie meer welkom is nie, of waar God geen belangstelling
oproep nie, waar mense die rug op God draai, wag ‘n mens op God, bly 'n mens aan God se sy as ‘n dissipel
wat getrou is.
En as ons dit doen, sal God kom, by ons wees en aan ons die
taal gee waarmee ons in ons nuwe tyd oor ons geloof moet praat.
Bonhoeffer, lees ek vanoggend (http://www.taize.fr/en_article4879.html), wou ‘n kommentaar op Psalm 119 skryf toe hy in die tronk
was. Hy kon egter nie verder as die eerste paar verse kom nie. Die psalm was ‘n
interteks vir sy eie lewe: Ú het u bevele gegee om dit trou te onderhou, dat dit
ten volle uitgevoer moet word, lui die vierde vers. En in vers 151 staan daar:
U is naby, Here, en al u verordeninge is waar.
In ‘n tyd sonder God, is God naby. Die getroue God.