Thursday, May 23, 2013

Vreugde of moord.

Vreugde




Waar is die vreugde in godsdiens en teologie?

Ek sit en kyk na die reaksie op die barbaarse moord op ‘n soldaat in Engeland. Die video van die moordenaar wys hom op die toneel van die moord. Hy staan uitdagend, skellend, sonder 'n teken van wroeging, swaaiende met sy bebloede hande en die slagmes waarmee hy die man se lewe sinneloos tot niet gemaak het. 

Sy gesig en lyftaal is deurtrek met woede en haat.

Hy het die moord namens die Arabiese lande as protes teen die Weste gepleeg. 

Nou keer almal dat ‘n individu nie die reeds bestaande vooroordele teen Islam en Muslims in Engeland verder aanvuur nie. Tereg. Waarom moet een mens met sy waansinnige daad 'n hele beweging kontamineer?

Die kommentator vra ‘n kundige uit die Islam uit oor sy reaksie: Wat gaan die geestelike leiers môre in die moskee vir hulle volgelinge sê?

Natuurlik, reageer die kenner, gaan hulle vir hulle volgelinge sê om dit nie te doen nie. Dit sal die simplistiese oplossinkie wees.

Maar hy is besorgd: intussen sal die imam's dag na dag met allerhande godsdienstige twiste onder mekaar besig bly.

En om hulle is ‘n see van jongmense, werkloos, verwilderd, arm en sielloos wat nooit van hulle enige leiding kry wat ‘n sinvolle lewe is. Soos die moordenaar.

Ek kyk verslae. Dit is woorde wat herkenning by my oproep.

Wat is dit wat ‘n mens geestelik ryk maak? Wat vuur jou aan tot vreugde en hou moord uit jou hart en lewe uit?

Wat laat jou in blydskap jou hande uitsteek na ander, as mense wat jou ontferming nodig het? Wat weerhou jou om bloot net die gedagte van geweld in jou innerlike te koester?

Dit is wat die man van Islam eintlik wil vra dat die imam's moet bedink en waaroor hulle met hul honger lidmate moet praat. Dit is die lewensstyl wat 'n mens onder gelowige mense wil opmerk.

Ek dink aan die gelykenis van die verlamde man in Lukas 5:17-26. Die verhaal oor daardie klomp geestelike leiers wat die huis volgepak het om oor teologiese sake met Jesus te baklei en nie die nood van die verlamde man en sy vriende kon raaksien nie. Hulle kyk skoon verby die geestelike armoede, die gebrokenheid, die vernieling van die verlamde.

Die skare sien dit raak: die vroom haarklowery. 

Daarteenoor sien hulle hoe Jesus, onbevrees, iets heel anders as die Fariesërs sê: God sien jou geestelike lyding, jou vernieling raak en wil jou daaruit oplig. God maak jou heel, gee aan jou lewe sin. Jy is nie minder belangrik as al ons mooi, groot, vroom uitsprake oor wat God wil hê en wie almal eintlik namens God mag optree nie.

Jesus reik uit na die man. Hy sien 'n mens voor hom en wil met die mens 'n genesende verhouding aanknoop. Hy wil die man weer die vreugde van lewe in al sy rykheid laat ervaar. 

Die skare sien hierdie ontferming. En hulle weet: dit is hoekom ons vandag hierheen gekom het. Hulle word in hul geestelike nood bevestig: uit behoefte na erkenning, na ontferming, het hulle van oraloor gestroom na die Man wat vernielde harte herken en kan lees. En kan genees.

Hulle voel dit aan: Goedheid, vergewensgesindheid, uitreik na ander met ‘n gees van omgee is suiwer goddelik. Dit is die Mysterium tremendum et fascinosum. Lukas skryf hoe dit hulle tot ontsag gedryf het. Hulle sidder eintlik daarvoor: dit is byna te groot om waar te wees – om so argeloos te kan vergewe, soos net God kan doen en soos mense nie wil doen nie. 

Maar hulle staan ook in verwondering, voel aangetrokke daartoe: so wil hulle wees. By so iemand hoort hulle tuis. Dit tel hulle op, maak die lewe vir hulle die moeite werd. Dit bring vreugde om by soveel goedheid te kan wees.

Saam, word die skare, die klomp mense, van alle soorte en windrigtings,  gevul met ‘n vreugde wat alle verstand en verstaan te bowe gaan. Dat sulke Goedheid so naby onder hulle kom woon, steek vure van vreugde in harte aan. 

Daarom “verheerlik” hulle God. Hulle is bly. Opgewonde. Hulle ontdek hoe goed die lewe is. Hulle sien in die eenvoudige daad van solidariteit met vreugde hoe God aan die werk is onder hulle. Saam verheerlik hulle God, die Verborgene, die Mysterium tremendum et fascinosum. Verklaar kan ‘n mens die goedheid nie. Verwonder kan jy jou daaroor.

En bly wees. 
 
Waarom het godsdiens so vreugdeloos geraak? En dit terwyl hierdie wonder-wekkende Verborge goddelikheid onder mense kan woon en werk – as hulle alleen maar hul hart daarvoor oopmaak en hul hart van ons eie, bitter, kleingeestelike hatighede en redeneringe reinig. 

Dit kom natuurlik nie natuurlik nie. Die geestelike leiers praat nie altyd sommer net maklik daaroor nie. Dit is makliker om in ou, tradisionele waarhede vas te val. Dit kos 'n man van God, 'n Mens wat goedheid verstaan, Iemand wat bereid is om deurboor te word om te wys hoe belangrik sulke hartsake vir God is, om mense daaraan te herinner.
 


No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive