Tuesday, May 14, 2013

Sluit my toe in U allerdiepste hart. 'n Gebed van Teilhard de Chardin



'n Jong foto van de Chardin.



Die geleerde en baie slim Teilhard de Chardin (1881-1955) wat besondere bydraes tot die wetenskap en filosofie gelewer het, skryf in sy Hymn of the Universe (Himne van die Wêreld) ‘n aangrypende gebed waarin hy in diepsinnige, mistieke taal sy hart uitstort oor die wonder van God se verhouding met hom. De Chardin, wat ‘n groot invloed op paleontologie, biologie en ander wetenskappe gehad het, skryf in hierdie beroemde boek nie oor die wetenskap nie. Dit is 'n boek met geestelike inhoude. Hy neem daarin verskeie mistieke bydraes op.

Dit is sy “Gebed” wat my aandag trek. Daarin is merkwaardige en aangrypende dele wat ‘n mens sterk herinner aan die mistieke, kosmiese taal van Kolossense. Ek het telkens aan gedeeltes uit die brief gedink by die lees van hierdie gebed. Trouens, die teks van Kolossense het vir my besondere betekenis deur die gebed gekry. En net so aangrypend is sy oratiewe inkleding van die Christofanie in Openbaring 1. Meteens, in een paragraaf, het ek begryp wat Johannes ook in daardie merkwaardige skildering van die vlammende Christus (Cussons!) bygesê het. 

Hier is ‘n verwerking van die eerste deel van die gebed (die res kom later):

Here Jesus, noudat U te midde van die wêreldmagte werklik en fisiek alles vir my, alles van my en in my geword het, wil ek in een enkele gebed al my vreugde wat ek ervaar, maar ook my dors na wat my ontbreek, saamvat. In navolging van u groot Dienaar sal ek daardie vurige woorde herhaal wat  die Christendom van môre so duidelik beskryf:

“Here, sluit my toe in die diepste dieptes van u hart. En dan, terwyl U my daar hou, skroei my, suiwer my, laat my ontvlam, vorm my tot ek ten volle word wat U my wil laat word deurdat u my ego totaal uitwis.”

“Here.” Ja, uiteindelik het ek Iemand gevind aan wie ek met my hele hart hierdie naam kan gee. Voorheen, Here Jesus, kon of durf ek alleen maar die man van tweeduisend jaar gelede raaksien. U was alleen maar ‘n wyse morele leermeester, ‘n vriend, ‘n broer. En my liefde vir U was beskimmeld en beperk. Vriende, familie, wyse mense: het ons nie baie van sulke groot name om ons nie – uitgesoekte mense, baie nader aan ons? En dan boonop nog, kan mense hulself totaal toevertrou aan iemand wat maar net ‘n menslike natuur het? Altyd, van die begin af, was dit die wêreld, groter as al die elemente waaruit die wêreld bestaan het, waarop ek verlief was; en nooit was daar voorheen enige iemand voor wie ek in alle eerlikheid kon neerkniel nie. En dus, vir ‘n baie lang tyd, hoewel ek geglo het, was ek aan die dwaal, onkundig oor wie ek liefgehad het. Maar nou, Meester, vandag, toe u deur die bekendmaking van al daardie bo-menslike magte waarmee die opstanding U toegerus het, skitter U in al die wêreldmagte en U op die manier sigbaar word aan my – nou herken ek U as my heerser en gee ek myself aan U met vreugde oor.

Hoe vreemd, my God, is die dinamiek wat U Gees aan die gang sit. Toe u kerk eeue gelede die besondere krag van u hart beleef het, was dit skynbaar iets meer spesiaals, iets groters as maar net u menslikheid wat mense aangegryp het. Maar nou word ons op 'n ander manier bewus daarvan dat u u hart aan ons oopgemaak het sodat ons liefde bevry kan word van die eng, netjiese, ingperkte beeld was ons van u gehad het. Wat ek in u binneste ontdek, is soos ‘n brandende vuurherd. Hoe meer ek die vurigheid daarvan beleef, des te meer merk ek hoe die kontoere van u liggaam wegsmelt en groot word buite alle maat om. En uiteindelik is die enigste trekke wat ek nog in u kan raaksien, die gesig van die wêreld wat in vlamme uitgebars het.

Heerlike Here Christus: die goddelike impak wat verborge versprei is en aktief is in die dieptes van die materie, en die helder sentrum waar al die onmeetbare teksture van menigvuldigheid ontmoet; die mag wat so konkreet soos die wêreld en so warm soos lewe is; u wie so voorhoof soos die witheid van sneeu is, wie se oë is soos vuur, en wie se voete helderder as gesmelte goud is; u in wie se hande die sterre gevange gehou word; u wat die eerste en die laaste is, die lewende en die dooie en die opwekking.; u wat in u uitbundige eenheid elke skoonheid, elke affiniteit, elke energie, elke vorm van bestaan insluit; dit is U waarna my wese uitroep met ‘n verlange so groot soos die wêreld: “U is werklik my Here en my God.”  

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive