Wednesday, May 22, 2013

Ontferming skep ontferming. (2).






Die verhaal van die genesing van die verlamde man (Lukas 5:17-26) wat deur sy vriende deur die dak tot voor Jesus neergelaat word, gaan nie eintlik oor die genesing en die wonder nie. Die slim godsdienstige leiers is eerder oor iets anders kwaad: Net God, en nie Jesus nie, kan tog sondes vergewe!

Hulle is verontwaardig.

So stilweg in hulle harte tob hulle oor hul geloofskwessies, so stilweg in hulle harte.

Hulle harte is ongedurig. Hier is, vir hulle diep teologiese kwessies en groot vroomheid op die spel.

Hulle sien nie die verlamde man se nood raak nie.

Hulle wil Jesus mooi op sy plek sit en hou. Hulle koester hul teenkanting en hul afkeer aan Jesus diep in hulle harte. 

Maar Jesus sien die "redeneringe" in hul innerlike raak. 

Hy ruk die masker af.  Die godsdienstige leiers is die teenpool van die vriende wat so deur die man se nood aangegryp is en so seker weet dat Jesus hom kan genees, dat hulle dakke oopbreek om hom by Jesus uit te kry. Die fariseërs word nie deur die nood van die man gedryf nie. Hulle voel niks vir mense wat dakke oopbreek uit radeloosheid om 'n vriend te help nie.

Die twispunt en die fokus van die verhaal is dat Jesus sondes vergewe. 

Die wonder, die ontsagwekkende is dat hy dit vir die verlamde man gee. Lank voordat Jesus die verlamde man laat opstaan, val die lig helder op die vergifnis-woorde van Jesus. Dit is waaroor die verhaal gaan.

Op die manier word dit 'n verhaal oor ontferming: God wat pure verniet vir mense omgee, ongeag hul ellendige verlede. 

En Jesus bevind homself aan die kant van die vriende van die verlamde man. Hy sien die nood van die man raak. Meer nog, Hy is diep geraak toe Hy sien dat die vriende van die man met soveel ontferming en passie vir die verlamde al die pad dra net sodat hy tog genees kan word.

Jesus die Ontfermer word deur ontfermende harte tot die daad aangevuur.

En die mense wat toe die verloop van die gebeure bekyk en aansien, is aangegryp: hulle verheerlik God, maar is ook met vrees vervul. Hulle het ongelooflike dinge gesien. Hulle staan verstom voor die mag van ontferming. Hulle weet dit is bonatuurlik, dit kom nie uit mense se harte nie. In mense se harte broei daar eerder, soos by die godsdienstige leiers,  allerhande slimmighede en afstand van God. Maar van God se kant, heeltemal onvoorstelbaar, kom net uitreiking, aanraking, ontferming en omgee.

Dit is die wonder. 

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive