Wednesday, July 31, 2013

In elke blaar en in die goddelike Mond.

Patrick White wat die Nobelprys vir Literatuur gewen het, skryf in sy mistieke boek Riders in the Chariot, hoe die hoofkarakter, Mary, na buite, in die natuur in vlug uit die huis waar sy grootgeword het omdat sy met die nuwe werkster 'n misrabele ervaring en dag gehad het wat haar benoud en bedreigd laat voel het.

Wat dit presies beteken, weet die leser nog nie. Die skrywer weet om sy lesers langsaam saam te vat in die donker ontwikkeling van die verhaallyn. 

Die blootstelling aan buite-wees met al die andersheid en verborgenheid transformeer haar. 

Na haar besoek en haar ervaring in die oopheid van die skepping, is sy "hernuwe." 

Sy gaan dan, hernu, met 'n ander roete huis toe en langs die pad ervaar sy hoe die misrabele dag radikaal omslaan. 

Sy is oor haar gevoelens van bedreiging. 

Haar angstigheid vir 'n donker teenwoordigheid is weg. 

Maar sy is meer as net bevry van. 

Sy ervaar Meer as net wegkom van die donker. 

Sy is op pad terug, vol nuutheid en vol aandag: "She would recognize the Hand in every veined leaf, and would bundle with the bee into the divine Mouth."

Watter poging, in nuwe taal, om die Vereniging te probeer beskryf wat mense bemagtig as alles vasgeloop lyk.

Maar nog boeiender is hoe sy in die vorige paragraaf weghardloop in die woud. Langs die pad sien sy, vlugtende: "Each pool would reveal its relevant mystery, of which she herself was never the least." 

Daardie prys was goed toegeken. 


Tuesday, July 30, 2013

In die tas is 'n skeermes en 'n ....

Eenvoud, onpretensieusheid en toeganklikheid is nou die groot woorde wat met die nuwe pous Franciskus se dienstyd verbind word.

Hy stap by die lang vliegtuigtrappe op, sien ek nou al 'n paar keer, terwyl hy sy eie, swart kantoortas dra.

Niks se deftige stappies, rooi skoene of diensgretige assistente nie. Swaardra en self die ding doen.

Dit is 'n ander soort leier wat 'n mens hier sien.




Dit is nie net die gebaar wat my interesseer nie: 'n pous wat soos geen ander "hoogwaardigheidsbekleër sy eie tas dra moet seker, wonder ek, iets spesiaals in daardie tas aanhou.

Toe is dit, op een item na, nogal nie so spesiaal nie. Dit is, verseker hy n joernalis wat hom uitgevra het, nie die kode van die atoombom nie.

In die tas is, vertel hy, bloot net 'n skeermes.

En dan ook 'n gebedeboek en 'n boek oor Teresa van Avila.

Hier is 'n paragrafie uit 'n berig in die NYT daaroor:

Asked what was in the black briefcase that he was seen carrying onto the plane by himself en route to Brazil, Francis said he had a razor, a breviary and a book about St. Teresa. “It’s normal to carry a bag,” he said, according to news reports. “I’m a bit surprised that the image of the bag made its way around the world. Anyway, it wasn’t the suitcase with the codes for the nuclear bomb.”

Hier is 'n man wat berekend juis "Franciskus" as sy noemnaam kies - een van die mees uitstaande voorbeeld van 'n mens wat armoede en solidariteit met die armes nagejaag het. Maar, boonop, is dit iemand wat Teresa van Avila hoog op sy agenda het. Geen wonder ons praat van eenvoud nie. 

Tye van spiritualiteit. 

Monday, July 29, 2013

Wanneer 'n mens van 'n geswolle kop gesuiwer word.


Die geestelike proses van steeds dieper groei in ‘n verhouding met God beteken dat ‘n mens steeds weer gesuiwer word van alles wat ‘n mens weghou van God.

Bekering, is die kerklike, teologiese taal en woord wat hiermee verbind word. En dit word dan bekering “van sonde.”

Bekering het alles te doen met gebed. Dit gebeur met ‘n persoon wat biddend verlang na God. In die verlange is daar reeds ‘n suiwering aan die gang: iemand bid tot God te midde van omstandighede wat nie meer draaglik is nie, wat neerdrukkend, vernietigend en moeilik geraak het.

Reeds in die gebede van die mens wat wil wegkom van gebondenheid aan alles wat hom of haar verniel, sien ‘n mens ‘n skuif plaasvind. Gebede van skulderkenning en berou staan dan primêr.

Dikwels gebeur dit met ‘n mens wat al jare gelowig was en in ‘n verhouding met God geleef het. Bekering, immers, is nie net ‘n eenmalige proses nie. Keer op keer herken ‘n mens ‘n gekettingde bestaan, ‘n verknogtheid aan dinge wat met jouself te doen het en wat niks anders as onbehae agterlaat nie.

Dikwels spot mense met bekeerlinge wat verskriklik vroom vertel hoe sleg hulle was en dan eindeloos uitbrei oor hoe anders hulle was.

Op die manier word bekering vervals. Want bekering is wel ‘n besig-wees met jouself en ‘n verlange om van kwaad bevry te word. Maar dit is juis in die noue band met gebed ‘n proses waarin ‘n mens se hart op God gerig is. Die begeerte is dat God ‘n mens, jouself, suiwer van alles wat jou self-behep en self-sugtig maak, sodat ‘n mens, bevry kan word tot die vreugde van ‘n verhouding met God.

Steeds weer is ‘n mens besig met jouself, maar in die proses ontdek ‘n mens hoe jy deur verhoudinge buite jouself om gedra word: ‘n mens herken hoe diep en ryk die lewe anderkant en buite jouself is. Soos die suiweringsproses plaasvind, ervaar ‘n mens die kontemplatiewe oomblikke waarin die teenwoordigheid van God beleef word. Heel ironies is die proses van suiwering van jouself dan juis nie sodat jy ‘n beter, mooier, bewonderenswaardiger persoon sal wees nie.

Meer en meer word die gebede verbind met ‘n besef dat die liefde vir God vir ‘n mens in liefde bewus maak en laat uitreik na ander. ‘n Mens kyk met nuwe oë na mense wat God oor jou pad stuur, of na die skepping wat God aan mense toevertrou. Al hoe meer lei die bekeringsproses ‘n mens weg van jouself na die Ander en na intieme verhoudinge met hulle.

Bekering is dus die wegkeer van alles wat jou lewe benoud gemaak het. En dit bring ‘n verbintenis aan al die ryk gawes wat altyd nog om jou was. Maar wat jy nie deur die grootte van jou geswolle hoof kon raaksien nie.

In spiritualiteit word hierdie verborge dinamiek verligting genoem.  

Sunday, July 28, 2013

Ek bemin omdat ek bemin. Ek bemin om te kan bemin.


Bernardus van Clairvaux het beklemtoon dat liefde daar is ter wille van die liefde.

Die liefde lei nêrens heen nie. Wie lief het, se reis het tot ‘n einde gekom. Die soektog is klaar.

Die liefde het niks nodig nie. Dit is genoeg om te kan liefhê.

Die liefde soek nie beloning nie, want die liefde self is die beloning. Erkenning van ander voeg niks tot die liefde nie.

Liefde is nie uithangerig nie. Die liefde spog nie met homself nie. Want die liefde self is volmaak genoeg. Dit het geen behoefte daaraan om uitgestal te word nie.

Die liefde soek nie om vrug te dra nie. Dit is die vrug.

Die opregte liefde hoef ook nie te gaan soek waar kom dit vandaan nie. Dit is daar en dit is wat saak maak.

Dit is ‘n onvoorstelbare gawe om te kan liefhê. Wie die liefde het, sonder om iets daarmee te soek, te verwag, na te jaag, besit die kosbaarste van alle dinge.

Die liefde wat op die manier geen belange soek nie, net daar is, bring pure vreugde. Dit brand soos ‘n fakkel in ‘n stikdonker nag, dit is die vuurtoring in die stormweer, die kaggel in die koue wintertyd.

Bernard skryf: amo quia amo, amo uit amem. Ek bemin omdat ek bemin. Ek bemin om te kan bemin.

Saturday, July 27, 2013

Kontemplasie, liefde en 1 Korintiërs 13.


“Kontemplasie” is die hart en dieptepunt van die mistieke en geestelike lewe.

Wie die gawe ontvang, se lewe kom tot vervulling.

In Afrikaans sou ‘n mens van “aanskouing van God” praat, as daardie moment, dikwels so kort soos ‘n flits, soms ‘n uur of twee, van bewus-wees en bewusraking van nabyheid aan God.

Aanskouing van God lyk na iets onpeilbaar, asof dit iets is wat met ‘n mens gebeur wat op geen manier deurgrond kan word nie. En dit is seker gedeeltelik waar.

Tog kan ‘n mens meer oor kontemplasie sê:

Want daar is ‘n hartgrondelike band tussen die liefde en aanskouing. Merton praat daarom van kontemplasie as die bonatuurlike liefde en kennis van God, eenvoudig en verborge, deur God in ‘n mens se innerlike uitgestort. ‘n Mens weet summier en dadelik, intuïtief, dat ‘n mens in God se ontfermende, uitreikende en suiwerende teenwoordigheid is.

Hierdie aanskouing en aanvoeling vir God het alles te doen met suiwer liefde. Die aanskouing is, skryf Merton, ‘n goddelike gawe van liefde wat alle natuurlike vermoëns van die mens te bowe gaan en wat niemand uit sy eie kan verkry nie. Dit is onpeilbaarheid, maar onpeilbaarheid van die liefde.

God gee soveel liefde aan die mens as wat daar in die mens liefde en oopheid en ruimte is vir God. Wie God liefhet, ontvang die liefde. Maar selfs die liefde wat die mens vir God het, is ‘n gawe!  God, verseker Johannes immers, het ons eerste liefgehad.

Aanskouing is dus ten nouste met liefde verbind. Maar kontemplasie neem die liefde ook verder: wie God lief het, besef dat die grootste vreugde is om God lief te hê en om alles vir God op te gee en om alles op te offer vir die Liefde. Kontemplasie plant in ‘n mens die ervaring dat die liefde al is wat werklik saak maak en dat daar buite God nie regtig iets belangriks is nie.

Wie God aanskou, ontvang dus ‘n onpeilbare wete van die Liefde as die grootste van alle dinge. Maar die is nie ‘n losse onpeilbaarheid, ongedefinieerd nie. Dit is die oorweldigende ervaring dat ‘n mens in die teenwoordigheid van die Oneindige, bonatuurlike Liefde ingeneem word en daarin bly. Liefde, vertel kontemplasie, is regtig al wat saak maak.

Dit is hoe ‘n mens 1 Korintiërs 13 moet verstaan:  deur die raaisel sien ‘n mens, aanskou ‘n mens – en die aanskoue bring jou tot ‘n wonderwerkende minnelied op die Liefde, wat die allesverterende verlange reflekteer dat die hart sy rus alleen in God sal vind. .  


Friday, July 26, 2013

'n Aardse smakie van die hemel: in viering van die familie






Op die kampus van Notre Dame Universiteit waar ons vir die konferensie van die SSCS bymekaar is, staan hierdie beeldhouwerk.

Die onderskrif verduidelik dat dit die familie simboliseer. Meer nog: selebreer.

In celebration of the family. Op 'n universiteitskampus!

En daar is 'n aanhaling van George Bernard Shaw: "A happy family is but an earlier heaven."

'n Gelukkige gesin is 'n vroeë hemel. Nou reeds, die direkte inwoning van die goddelike. Hemel nou. 

Een van die ander aanhalings is van Martin Luther King:

"Dit is vir my maklik om te glo in 'n God van liefde. Want ek het grootgeword in 'n familie waarin liefde sentraal gestaan het en waar daar altyd liefdevolle verhoudings teenwoordig was."

Wat my opval van die beeld is nie soseer die vroulike figuur wat die kind sorgsaam vashou of die pa wat sterk die beeldegroep anker nie.

Of die tekstuur van die beeld. Uitnodigend. Jy wil daaraan raak. Jy word ingetrek, betrek, geraak. 

Wat my nog meer opval: Dit is die ouers wat met alle aandag na die kind kyk.

En nog opvallender: die kindjie wat, tydloos, vashou aan ma terwyl dit daardie prominente handjie uitsteek na die pa.

Op mekaar ingestel. 

Spiritualiteit gaan altyd om verhoudinge.

Hemel: om nie alleen te wees nie.

Thursday, July 25, 2013

Om te kyk na ander mense se geestelike oefeninge. Wanneer spiritualiteit in 'n doodloopstraat is.





Sondag is die dag vir kerk-toe gaan. Willens en wetens. Maand na maand. Seisoen na seisoen. Geslag na geslag. Dorp vir dorp.

Dit is waarskynlik een van die mees algemene en oudste geestelike oefeninge.

Die eerste Christene het nie kerk toe gegaan nie, maar gou-gou het dit wyd inslag gevind: die dag waarop die opstanding deur toegewyde volgelinge van Christus bly gevier is, sommer van vroegdag af. Kerkgang het egter dieper, eintlik veral joodse wortels. Dit is iewers verbind met die sinagoge byeenkomste en is dus ook 'n dieptestruktuur in beide Joodse en Christelike tradisies, al is "kerk"   veral 'n Christelike woord en "kerk toe gaan" duidelik 'n Christelike geestelike gebruik en oefening.

As geestelike oefening het kerk toe-gaan dus 'n ryk, wonderlike geskiedenis. 

Die maak nie meer saak, eintlik, vir mense waar dit vandaan kom nie. Mense gee daaraan 'n eie karakter. Stigtelik sit mense in 'n N.G.Kerk voor die diens, sing hulle liedere en luister dan almal geduldig na die preek, wat in afgelope dekades die "hart" van die erediens was. In die Anglikaanse kerk is die liturgie self in die kollig. In pinkstertradisies speel musiek ook 'n groot rol.

Die woord "erediens", seker deesdae al hoe meer outyds op vele ore, vertel iets van die geestelike karakter van kerk toe gaan. Die is 'n tyd om God te vereer, te aanbid en te ontmoet.

Omdat so 'n aanbidding 'n mens omvorm en verander. Ontelbaar kere oor wye wêrelde het mense in eredienste ervaar dat daar iets met hulle gebeur. Hulle lewens word aangeraak en omvorm.

Dit is jammer dat die geestelike oefening van kerk toe-gaan vir vele mense al hoe meer sy sin verloor. Mense kla hulle is verveeld, geïrriteerd, onvervuld, onbelangstellend en onaangeraak deur wat in die kerk gebeur. 

Die klagte steek 'n diep verlange weg: om iets in die kerk te mag ervaar wat nie gebeur nie.

Kerk toe-gaan het dus vir sommige nie meer 'n geestelike oefening gebly nie, maar eerder 'n geestelike pyniging.

Die vervreemding by sommige lidmate vertel veral iets van wat 'n geestelike oefening is: selfs die oudste, belangrikste en gewildste geestelike oefening kan sy impak verloor as dit nie meer aan sy geestelike karakter voldoen nie.

Erediens beteken 'n plek waar God dankbaar en afwagtend vereer word as die Een wat mense nuut kan maak. As die erediens vir mense vertel wat hulle weet, hulle bloot net bevestig in wat hulle is, vir hulle gee wat hulle elders (interessanter en boeiender) kan kry, word hulle nie meer geestelik gevorm, uitgedaag en aangeraak nie. 

Mense het waarnemers geword: hulle sit en kyk na wat aangaan. 

Die erediens raak hulle nie. 

Hulle is onbetrokke. 

Die erediens as geestelike oefening wil presies nie so wees nie. Dit is die plek waar mense betrokke wil wees: 'n geestelike avontuur wat mense wys op alternatiewe, nuwe, ander, dieper dinge wat hulle sterker, hoopvoller, volwasser en innerlik vervulde mense kan maak.  

Elke keer as lidmate deur die kerkdeure op 'n Sondag stap, is dit die groot uitdaging vir enige gemeente: om 'n ontmoetingsruimte te skep waar God opnuut skeppend aan die werk sal wees en mense hulle self innerlik oop maak vir die verborge, vernuwende werk van die Skepper van alle dinge.

Maar dinge is nie so eenvoudig nie: die skuld is nie net op leiers wat die erediens verwaarloos of onderskat nie. Ook die gewone kerkganger moet weet: om in te stap in 'n kerk op 'n Sondag beteken om bereid te wees om jou innerlike oop te stel, in te stel en al die negatiewe wat saam met jou en veral dan saam met jou saamreis, in 'n inspanning te beveg. Dit is immers 'n geestelike oefening, en dit beteken om te wil sweet in diens van die lewe van die geloof. 


Wednesday, July 24, 2013

Om sommer net geestelik te oefen


In ‘n gereformeerde konteks is stiltetyd ‘n geestelike oefening wat gereeld gebeur. Ten minste ‘n belangrike deel daarvan is om ‘n gedeelte uit die Bybel te lees, te bedink en dan selfs daaroor ‘n gebed te maak.

Stiltetyd het egter vele, vele gesigte: sommige mense wil uit sulke tye nadink oor groot besluite wat hulle moet neem.  Ander, weer, sal by tye troos in hul stiltetyd soek. In sommige gevalle doen ouers of vriende saam stiltetyd omdat hulle vind dit bring hulle nader aan God en ook aan mekaar.

Ander, weer, wil hul kennis van die Bybel verbeter: hulle sal onder andere die Bybel van ‘n kant af deurlees. Nog ander sal ‘n Bybelstudie-boek nader trek om die Bybel binne konteks te plaas en beter te verstaan.

Geestelike oefeninge kan dus op een praktyk fokus, maar selfs dan uiters gekompliseerd wees.

Daar is egter een unieke kant van geestelike oefeninge wat ‘n mens te veel miskyk. ‘n Beeld hiervoor is liggaamlike oefening: ‘n mens kan dit doen om fiks te bly, om van ‘n hoofpyn ontslae te raak, om maer te word, om uit die huis te kom, om net in die sonskyn te draf of om te kompeteer met ander.

Maar daar is ‘n mistieke kant van liggaamlike oefening. Soms, dalk meer as wat ‘n mens dit besef, doen ‘n mens dit sommer. Sommer so. Sonder rede. Jy verloor jouself daarin. Dit is ook waar van geestelike oefening: op ‘n dag tel jy die Bybel op, nie noodwendig om stiltetyd te hou of om meer te leer, of om getroos te word of om antwoorde op vrae te kry nie. Jy doen dit net. En jy verloor jou daarin.

Jy doen dit nie omdat dit nuttig is nie. Of vir jou iets in die sak bring nie. Of om volwasser te word nie.

Jy doen dit gewoon. Hier is die Bybel, met ‘n stem wat oor die eeue praat en ‘n Stem wat daarmee in jou lewe kom. En jy is die een wat luister, wat hoor en wat daar is.

Sommer net so.

Dit is genoeg.

‘n Kontemplatiewe oomblik. Wie weet, dalk is dit wanneer geestelike oefeninge van watter aard ook al sy diepste vervulling kry.

Tuesday, July 23, 2013

Wanneer ontferming poësie inspireer.




Die Parlatones is terug in Suid-Afrika. Hulle kom uit die VSA om hier 'n konsert of twee te gee.

Hulle is een van die bekendste bands in Suid-Afrika. Hulle verkoop meer plate as 'n hele paar van die ander bekende bands saam. Hulle het opgetree by die Wêreldsokker-beker se openingskonsert in 2010. Hulle werk saam met aartsbiskop-emeritus Desmond Tutu aan Live Earth wat die vernietiging van die aardbol wil beveg en wat hom beywer vir bewaring.

Ek is altyd geboei deur die poëtiese, unieke klank en inhoud van hul musiek.

Vanaand is daar 'n onderhoud met Kahn Morbee, die leier-sanger, op die televisie.

Hulle praat land en sand oor 'n klomp goed. Maar op 'n stadium vertel hulle van 'n vriend wat breinskade opgedoen het. Hulle het hom in die hospitaal besoek waar hulle 'n tydjie met hom deurgebring het en vir hom musiek gespeel het.

Dit was spesiaal, vertel hulle. Sy gesig het opgehelder toe hy hulle sien en na hulle luister.

Toe, skielik, neem die onderhoud 'n onverwagte wending.

Kahn Morbee sluk terwyl hy van die episode vertel. Kyk hoe mistig word my stem, vertel hy. Hy wil dapper bly praat, maar jy kan aan sy stem hoor net die gedagte aan hulle vriend, aan die musiek wat hulle kon deel en aan die vonk van lewe wat wakker skiet deur hul kontak, maak diep emosies in hom wakker.

Een van die bekendste sangers in Suid-Afrika van 'n band wat op almal se lippe is, sê: "Dit is wat die lewe die moeite werd maak." 

Ontferming is dikwels die geheim van suksesvolle kunstenaars. Hulle begryp hoe kosbaar die lewe is en wil dit uitsing.

Monday, July 22, 2013

Hy het net 'n boek gelees. Oor die gewoonheid van spirituele oefening


Hy vertel my hoe anders hierdie een boek was wat hy wou lees as al die gewone boeke waarmee hy sy hele lewe nog besig bly.

Hy het al iewers so bietjie met die inhoud daarvan te doen gehad. Dit is 'n onderwerp wat hom die laaste tyd geboei het.

Die voorsmaak van die inhoud waaroor hy al lank meer wou weet, maar ook die plek waar hy was in sy geestelike reis, het iets in hom laat gebeur wat hom anders oor die werk laat voel het.

Hy het dus meer as normaalweg uitgesien om te begin lees.

Maar hy het hom ook voorgeneem dat dit nie net sommer net nog 'n lees gaan wees soos al die ander boeke wat hy al in sy lewe deurgewerk het nie.

Hierdie boek wou hy lees deur die metode van lectio divina wat ons in ons kursus gedoen het.  'n Geestelike lees wat 'n mens in veel meer as net 'n serebrale sin in beslag neem.

Hierdie keer was hy daarom ingestel op die proses.  Nie sommer net wegval en lees nie:

Eers het hy 'n stil plek opgesoek. Die kinders is weg strand toe. Die eerste dagtake is afgehandel. Hy kies 'n stoel op die stoep uit waar niemand hom sien nie, maar hy tog 'n uitsig oor die see het.

In die stil plek sit hy met die boek op sy skoot. In sy binneste die skoonmaak en rustigword vir wat kom.

Hy lees 'n stuk uit die boek. Kou daaraan en as dit nie in sy binneste insak nie, herlees hy dit weer.

En steeds weer vra hy homself af wat dit aan hom doen, waarom dit hom raak en waarom die stukke by hom resoneer.

Hy maak van die lesery 'n geestelike oefening.

 Dit is alles so gewoon: 'n stil leesplek, 'n boek op die skoot, 'n geduldige volg van woorde, 'n nadink.

Maar eintlik is daar in die gewone die ongewone: want dit is nie net sy brein wat hier werk nie. In die meeleef met die boek, voel hy selfs die boek, besef hy. Hy voel hoe sy oë, selfs sy hart en sy ore, sy sinne en sintuie iewers betrek word.

Hy voel hoe die woorde in sy binneste gaan lê, hoe die woorde dinge onderstreep waaraan hy dikwels dink, maar ook hoe die boek sy lewe oopbeur. 

Dit is wat ek wil wees: sê hy. So wil ek my lewe ervaar. In die eenvoud van die leesproses kom daar vervulling, 'n stuk rykheid, 'n doodgewone diepte.

Hy vertel my: dit is nou al twee maande dat hy daardie dae met die boek deurgebring het.

En dit is asof dit gister met hom gebeur het.

Daardie oggend het hom geleer: so wil ek wees, so is my lewe goed. In die doodgewone kan 'n mens die verborge Volmaakte ontmoet. Dit kos alleen maar geestelike oefening.




Geestelike oefening en self-kennis

'n Mens kan wildweg sommer net die geestelike lewe opsoek. Maar dan kan 'n mens dikwels nie regtig sterker groei nie.

Deur geestelike oefeninge leer 'n mens jouself beter ken. En deur self-kennis kan 'n mens wonderlike skatte ontdek.

Maar: Self-kennis val nie sommer uit die lug nie. Soms, byvoorbeeld, besef 'n mens dat jou liggaam jou geestelike lewe kniehalter. Dan weet jy: dit is tyd om te vas, om dinge van die liggaam op te gee wat jou lewe belas en wat afstand tussen jou en innerlike vervulling skep. Jy kyk na jouself, veral na jou liggaam, na die lyf waarmee God jou geskape het en wat jou verhouding met God beïnvloed. En jy weet, geestelike groei sal kom as jy jou liggaam kan ligter maak, kan reinig, kan oopmaak.

Soms, weer, weet jy: innerlik is jou lewe 'n stuk rommel. Daar is te veel lawaai, geluide, gedagtes, afleidings. Dit is tyd om innerlik op te ruim, skoon te maak om duideliker te kan hoor wat God vra en wat belangriker is as al die alledaagse rumoer in jou. Dan word dit 'n tyd van afsondering, van alleen-wees. 'n Tyd van onttrekking, ook van gebed.

Of daar kom ook 'n oomblik dat 'n mens na jouself kyk en iets anders raaksien: jy merk die besig-wees, die oordadige program, die self-gerigtheid, die gejaag - en alles staan in die teken van 'n fokus op jouself.  En, wanneer 'n mens eerlik is, besef jy dat jy jouself hiervoor moet regoefen. Dan kies jy vir die geestelike oefening van gasvryheid: uitreik en omgee vir ander. Tyd maak vir jou vriende, familie, kennisse, bure, medewerkers en 'n openheid teenoor hulle wat jou wegneem van die oordadige besig-wees met jouself.

Daar is dus nie altyd net een spesifieke geestelike oefening vir een persoon nie. 'n Mens is kompleks, met vele kante en baie behoeftes. Om geestelik gesond te bly moet 'n mens in jouself kan kyk en in die lig daarvan nadink oor die weg vorentoe.

Dit beteken nie dat 'n mens nou maar net altyd lekker dinge uitkies of maklike oplossings kry nie. Wanneer die dagprogram veeleisend is en die innerlike rumoer groot is, stap 'n mens nie sommer daaruit of loop 'n mens ook nie sommer net in die stilte in nie.  

Dit vra harde besluite, toewyding, volharding en vasbyt.

Geestelike oefeninge is presies dit: oefeninge. Nie vakansie nie. Ook nie sommer net doen nie.

Vanuit 'n innerlike ondersoek en 'n eerlike self-kennis kom daar die vasbyt en inspanning.

Die einde daarvan is vol vrug: om in God se teenwoordigheid te kan wees.






Saturday, July 20, 2013

Hy kon nie al die woorde onthou nie... Oor kontemplasie as gawe


My vriend is nie normaalweg 'n singerige soort nie. En hy is ook nie iemand wat baie van musiek maak nie, al geniet hy kerkliedere en al is hy 'n gereelde kerkganger.

En tog: Hy vertel my dat hy deesdae dikwels drome het waarin hy in 'n plek is waar hy stil aan die sing is.

Ek kan sien hy wil graag hieroor praat. Sy hart is vol.

Dit is liedere wat hy as kind in die kerk gesing het, verduidelik hy. Keer op keer en by herhaling van Sondag tot Sondag het hy van kindsbeen die liedere geleer totdat hy hulle meestal uit sy kop kon opsê.

Toe het daar nuwe liedere in die kerk gekom. En daardie liedere het hy ook goed leer ken.  Trouens, in vele opsigte was daardie melodieë en woorde soms selfs mooier en makliker om te leer.

Maar nooit het hy hierdie nuwe liedereskat so naby aan hom ervaar soos die liedere wat hy uit sy kinderdae leer ken het nie.

Met die jare het die woorde van die ouer liedere bietjie vervaag en kon hy hulle nie altyd so maklik onthou en sing nie. Die nuwes wat meer gesing is, het die ou liedere bietjie in die verlede laat wegraak.

En toe kom daar onlanks 'n vaal tyd in sy lewe: Hy het ewe skielik 'n tyd beleef wat sy normale lewe ontwrig het, maar sonder dat dit hom werklik onder druk geplaas het. Dit het hom egter leeg laat voel.

Dit was asof alles 'n bietjie stil geword het. Hy moes bestek opneem, nadink oor watter rigting sy geestelike reis moes loop. Sy lewe het in 'n sekere sin 'n kruispunt bereik.

Toe, tot sy verbasing, ervaar hy hoedat hy in die tyd in sy stiltetyd weer begin gesange en liedere sing. Dit is asof iets hom laat besef het watter troos en inspirasie uit sy kinderdae van hom wegglip het.  

Saans voordat hy gaan slaap het, het hy probeer om van die liedere te sing wat vir hom baie beteken het. Dit is asof daardie sang die goeie, groen tye van sy geloof weer by hom wakkergemaak het en vir hom die sin van sy geloof weer laat beleef het.

Dit het hom rustiger gemaak, al het dit gesukkel om die woorde te onthou. Die stuk-stuk singery het hom herinner aan die goedheid van God en die rykheid van sy geloof. En die dorre oomblikke in sy lewe het hanteerbaarder geword, al het dit 'n lang reis geraak wat hy met baie vasbyt moes leer hanteer.

Dit het dus nie altyd so maklik gegaan nie, want hy het maar gesukkel om die woorde te onthou verby die enkele frase of twee wat soms in sy geheue vasgesteek het. Maar wat hy graag wou klaarsing, maar nie kon nie.

En toe, een aand, vertel hy my, in sy diepste slaap droom hy dat hy 'n lied sing uit die ou gesangboek. Dit was nie juis 'n lied wat vir hom buitengewoon spesiaal was nie. Maar om een of ander rede het die woorde in sy drome by hom opgekom.

Dit het gesukkel. Hy kon van die woorde onthou. Maar dan het hy weer vasgehaak en kon nie verder onthou nie.

Maar wat hom opgeval het, was iets heeltemals anders: terwyl hy gesukkel het, was daar skielik 'n gemeente wat saam met hom gesing het.

Elke keer as hy vashaak om die woorde te onthou, het hy die woorde duidelik en helder by die gemeente gehoor. En dan het hy hulle herken as die regte woorde.

Dit was, vreemd, asof daar van buite homself 'n ingryping gekom het: dit was asof iemand hom nie wou alleen laat, wou laat sukkel nie en vir hom die woorde aangegee het om te onthou en te sing.

En so, saam met die gemeente het hulle  volmaak die ou gesagvers presies reg gesing. 

In daardie oomblik, sê hy, het hy besef, hoe 'n mens soms nie weet nie. Soms is daar die onuitspreeklike sugtinge. En dan, onpeilbaar, verby alle verstaan, kom daar die Aanraking. Verborge, maar volmaak is hierdie Aanraking. En daarmee kom die nabyheid, onverklaarbaar, genadiglik, maar as volledige vreugde.  





Friday, July 19, 2013

'n Blywende tuiste. 'n Skuiling onder u vleuels.



Psalm 61 begin met ‘n verlangende geroep na God.

Die uitroepe in die Psalm vertel van die bidder wat tot God die een na die ander smeekbede rig;

“Hoor tog my hulpgeroep, o God, slaan tog ag op my gebed.” 

Die bidder is bewus van die groot afstand tussen hom en God: hy is in 'n ‘n vreemde plek. Sy lewe is ontwrig, alleen, afgesonder.

Maar hy praat ook vanuit ‘n verwarde, desperate binnekant - sy binneste is gevul met 'n wanhopige geroep om hulp:

“Ver uit die vreemde uit, in wanhoop, roep ek na U.”

Dit is eintlik ‘n tydlose gebed: maar dalk staan dit veral uit in ons tyd waarin die afstand en God akuter as ooit tevore beleef word. Dit is die donker kant van die geestelike reis - die valllei-tye waarin mense geen uitsig op God het nie.

En tog: Die bidder is nie vreemd aan God nie. Sy verlange is juis gebore uit wat hy reeds van God weet. Sy herinneringe is gevul deur vroeëre tye van nabyheid aan God.

Dit is juis hier waar die Psalm die allermooiste metafore ter sprake bring. Die Psalmdigter wil met 'n klomp beelde praat oor wat dit beteken om by God te wees. Dit kom uit sy lewenservaring, uit alles wat hy ervaar het wat hom 'n gevoel van geborgenheid gee en wat hy aan sy verhouding met God ook verbind:

“Bring my op 'n rots waar ek veilig sal wees. U is vir my 'n toevlug, 'n sterk vesting buite bereik van die vyand.”

Dit is beelde wat by ‘n mens ‘n gevoel oproep van vastigheid, veiligheid, toevlug en beskerming.  So dink 'n mens daaraan om in God se teenwoordigheid te wees. Dit is volledige kontemplasie: om bewus te wees van totale goedheid in 'n ruimte saam met God.

Ek sit nou die dag in die spreekkamer en blaai deur die Psalm toe die gedeelte veral my oog vang:

“Laat my by U 'n blywende tuiste vind. Laat my skuil onder u vleuels.”

Die woorde sak by my in: Dit is die algemeen menslike behoefte: 'n Blywende tuiste. Die ewige vastigheid. Die warmte van nabyheid aan God: onder die vleuels soos 'n kwesbare diertjie wat by sy ma skuil.

En tog is daar die afstand: wat die Psalmdigter begeer en wat hy ervaar is twee totaal verskillende dinge.

Hoe tog, vra die leser, word die afstand oorbrug?

Hoe kom die digter by die volgende punt uit, by die punt van dankbare lofsang oor God se nabyheid? Die kontemplasie?

U, o God, hoor my geloftes, U vervul die wens van hulle wat u Naam eer. Laat die koning lank lewe, laat sy lewensjare oor geslagte strek. Mag hy sy lewe lank regeer voor God, mag u liefde en trou hom bewaar! Dan sal ek u Naam altyd besing en dag na dag my geloftes betaal.

Die antwoord is eenvoudig: dit is die doel van die psalm. 'n Mens se verlange skep die ruimte vir God se koms. Deur gebed, deur verlange, deur afwagting: so sal 'n mens uiteindelik die teenwoordigheid van God geskenk word.

Thursday, July 18, 2013

In die kollig ter wille van ander. Oor 'n unieke oomblik.



Tuesday, July 16, 2013

Die hele groep staan op en gaan sit by 'n ander tafel. Oor ekologiese spiritualiteit




So lyk die rivier langs een van die land se bekendste wynlandgoed wat deur een van Duitsland se rykste families besit word. Hier onder is nog 'n voorbeeld.

Ons sit en gesels oor hulle besoek aan die Kruger-wildtuin waarvan hulle so pas teruggekom het.

By een van die kampe, vertel hy, gaan hulle die aand in die restaurant eet. Langs hulle tafel sit 'n klomp uitlanders van 'n heel ander kontinent.

Hulle stook lustig. En as hulle 'n ent weg gerook het, skiet hulle die stompies met 'n boog. Dit val die hele wêreld vol.

My vriend, sy vrou en hul twee kinders sit en bekyk die storie. Sy stemtoon, sonder enige kommentaar oor wat hy dink, vertel genoeg.

Ek ken hom en sy gesin as mense wat nie arm is nie. Hulle het genoeg om van te leef. Maar hulle leef sober, meer nog - hulle is 'n gesin wat omgee vir ander. Dit sien en hoor jy gedurig raak in wat hulle doen en sê.

Hy is 'n gelowige man, wat nie smous met godsdiens nie, met hope humor en by uitstek 'n mens. Ek verwonder my altyd hoe hy die een persoon na die ander met wie hy 'n onderhoud het, met respek behandel en aan hulle eindelose tyd spandeer.

En keer op keer sal hy vir my een of ander verhaal vertel van buitelewe, natuur en toer. Hy is duidelik lief vir die aarde ook.

Party mense se liefde loop ver, wyd en eintlik sonder grense, dink ek dikwels as ek by hom uitstap.

Maar die storie eindig nie by sy onuitgesproke verontwaardiging van die stompie-skieters nie. Dit eindig op 'n veel dieper vlak.

Hy sê, heel bedaard en sonder enige moralisering:

My seun, nou elf jaar oud, wat dit toneel van die rokers sit en bekyk het, staan na 'n rukkie op en gaan tel die stompies op.

Ek kan my die toneel nouliks voorstel. Kan jy dink jy kom oor 'n kontinent na een van die wêreld se bekendste wildparke en moet dan van 'n seuntjie sien hoe dink hy van jou doen en late? Toe die seun na 'n rukkie weer opstaan om die nuwe stompies wat onophoudelik weggegooi word, sonder 'n woord te gaan optel om dit in die vuilgoedblik te gooi, staan die hele groep stompieskieters op en gaan sit 'n ent weg by 'n ander tafel.

Ek en my gespreksgenoot bly praat so bietjie oor die planeet en die ellende van vervuiling. En die mens se aandeel aan die vernietiging daarvan.

Hy sê hy moet my net nog 'n storie vertel: op pad na die wildtuin en by 'n pad wat herbou word, staan daar 'n waghokkie waar twee vroue sit om die stop en ry teken elke tien minute om te draai. Hulle as gesin is net te laat vir die ry-kans. Terwyl hulle staan, sien sy seun dat die hok omring is van papiere, bokse en koeldrankblikkies wat die hokbemanning om die hokkie weggooi en mors.

Net daar klim hy uit die motor, gaan tel alles op en gooi dit in die vuilgoedblik langs die hokkie.

En klim sonder 'n woord terug in die motor.

Ek vra hom: maar praat julle met die kinders oor sulke goed en sê jy vir hom om dit te gaan optel?

Nee. Nooit. Hy weet nie waarvandaan dit kom nie. Hierdie elfjarige seun van hom se sorg vir die aarde.

Ek luister na sy eerlike onkundigheid.

Maar juis dit is vir my die verdere teken: wie liefde het, laat dit nie by grense stop nie. En wie die liefde het, maak liefde los by mense wat saam met hulle leef. En, verder, 'n mens wat in die liefde woon, besef dit meestal nie eers self nie. Die geestelike praktyk het diep genoeg bodem geraak om vanself te gebeur.

Mooi. Ekologiese spiritualiteit is 'n antwoord van die mens aan die Een wat so liefdevol die aarde geskep het en vir ons 'n mooi woonplek gegee het.





Blog Archive