Bybelse spiritualiteit is nou al ‘n redelik bekende
verskynsel. Heelwat word daaroor gepubliseer.
Daar is eenstemmigheid dat Bybelse spiritualiteit iets anders
is as Bybelwetenskap, Bybelkunde, eksegese, Bybelse teologie of vele van die
ander bekende Bybelse dissiplines in die teologie, hoewel dit 'n dissipline is.
Een van die belangrike kenmerke van Bybelse spiritualiteit is
dat dit met transformasie te doen het.
Bybelse spiritualiteit werk met al die instrumente waarmee
die Bybelwetenskap werk. Maar dit wil nie maar net ‘n stuk inligting, of
teologie, of geskiedenis bied nie.
Bybelse spiritualiteit het te doen met ‘n ontmoeting: die
leser wat die Bybel opneem en lees, word op een of ander manier deur die
ontmoeting geraak, omvorm.
Bybelse spiritualiteit fokus op die lees van die Bybel wat ‘n
verskil in mense se lewens maak. Dit is geboei deur die vraag hoe dit gebeur
dat mense die teks as die stem van God met hulle persoonlik hoor praat sodat
dit hulle lewens omkeer.
Dit gaan nie om ‘n interessante, of mooi, of ingeligte lees
van die Bybel nie. Dit gaan om die lees van die Bybel wat mense se lewens in ‘n
nuwe rigting stuur.
‘n Mens kan in ‘n ekonomie-klas sit of aan ‘n mediese
eksperiment deelneem en dink dit is belangrik en insiggewend. Of ‘n mens kan na
‘n slim teoloog luister wie se boodskap ‘n mens bybly sonder dat dit werklik ‘n
verskil maak. In Bybelse spiritualiteit word aandag aan iets anders gegee:
hoekom is dit dat mense die Bybel opneem en dit hulle lewens verander?
Bybelse spiritualiteit wil dus weet hoe ‘n mens se geloof
deur die lees van die Bybel ervaar word en dieper groei.