Tuesday, January 28, 2014

Wat werklik saak maak. Oor die transformasie in liefde (5).


Wat is die hoogste sport wat ‘n mens kan bereik?

Wat is die beste wat ooit met ‘n mens kan gebeur?

Dringende vrae soos hierdie lê diep in mense se harte. Dit dryf die mens in onrustige soeke.

In spiritualiteit is die antwoord: om tot die liefde omvorm te word. Niks is grotere en beter as om in die liefde te wees nie.

Maar wat, vra die soekende, beteken dit om tot die liefde omvorm te word? Liefde is immers so ‘n woord wat eindeloos verniel en misbruik word.

Liefde, leer spiritualiteit aan ons, is wanneer God en mens aangevuur word om tot volkome rus in mekaar te kom. So skryf Waaijman wanneer hy, naas die transformasie in die skepping en die transformasie in die herskepping, skryf oor die transformasie in die liefde.

Volkome rus. Dit is wat werklik saak maak.

Maar dit is ‘n rus in mekaar. Niks van rus in jouself, in jou innerlike, of in jou self-soeke nie.

Rus kom wanneer ‘n mens by, maar veral in die Ander is.

Maar, vra die geestelike soeker, hoekom is dit “rus?”

Die liefde omvorm mens op so ‘n manier dat die mens en God na mekaar begin lyk. Hulle word bemindes, minnaars. God het ‘n beeld in die mens. En die mens dra God se beeld. En hulle is met mekaar verenig.

Rus kom dus waneer ‘n mens soos God lyk. Dit is “rus” omdat God daar is.

Maar, vra die pelgrim, hoe lyk ‘n mens wat soos God is?

So iemand en God is soos twee minnaars wat bymekaar is: hulle gee hulself totaal oor vir en aan mekaar. God gee God oor aan die mens sodat die mens God het en besit. Christus leef in Paulus (Gal.2:20). Maar ook die mens gee hom/haarself oor aan God, sodat die mens aan God behoort. Daarom leef Paulus vir Christus (Gal.2:20).

Om te behoort, om te gee, om te hê: rus is dit. Niks meer om te soek nie. Niks ontbreek nie. ‘n Mens is in die Volheid.

Spiritualiteit is die reis waartydens ‘n mens telkens hierdie rus as ‘n voorsmaak ervaar. En wat uiteindelik in die rus van eeue voleindig word, wanneer God alles in almal is. In volmaakte liefde. Dit is die hoogste sport wat ‘n mens kan bereik.

Ou-Testamenties is reeds hierdie wete. In Totius se Psalm-resepsie van die oeroue pelgrimsreis: Die Here is my Herder. Niks sal my ontbreek nie. Hy lei my na waters waar rus is.

Blog Archive