Sunday, January 26, 2014

"Die reën is oor. Dis weg. Die bloeiseltyd. 'n Hoë lied oor die transformasie in herskepping (4).

Die Bybel is geskryf deur mense wat 'n verhouding met God beleef. Hulle kan nie uitgepraat raak oor die verhouding nie. Op baie maniere wil hulle die vele kante van hierdie verhouding beskryf. 

Sommige skryf oor die troos wat die verhouding vir hulle gee wanneer dit met hulle moeilik gaan.

Ander skryf oor die inspirasie wat die verhouding hulle bied om hul lewens aan God te wy. Hulle word ywerige, toegewyde mense wat sin in die lewe ontdek. Pinkstermense, wat aangevuur word deur 'n passie vir God en God se wêreld.

Ander, weer, skryf hoe anders die verhouding hulle laat leef.  Hul lewe op 'n nuwe, spesiale manier vir God in hul eie lewe, in hul families en in die samelewing. Dit sluit in heel gewone dinge, soos omgee vir ander, 'n lewe van bedagsaamheid, goedheid, en 'n gewilligheid tot 'n gesonde gemeenskap met afsprake vir 'n billike en regverdige lewensstyl. 

Die Bybel is 'n boek geskryf vanuit die hart van mense se ervaring van God se teenwoordigheid ontdek in hul lewens.

Die Bybel is die produk van mense wat deur God se aanraking tot nuwe lewe geskep is. Transformasie in herskepping. 

Net mense wat in God se teenwoordigheid leef, kan so geïnspireerd oor God praat soos wat die Bybelskrywers dit wou doen. Selfs in die aanklagte (Job, Prediker, die kruiswoord van verlatenheid),  skryf hulle as mense wat nie sonder God wil leef nie.

Die ondertoon van Bybelse tekste is dus liefde. Die liefde vir God of die verterende verlange na God se liefde.

Altyd weer is dit 'n liefde gerig op God, die Een by wie alles begin het, wat alles laat ontstaan het en aan mense die lewe geskenk het. Hul skrywe oor God is deurtrek met dankbaarheid oor God wat geskep het. Die Bybel is 'n boek, dus, wat ook leef uit die transformasie in skepping.

Maar daar is meer, in die sin van groters.

Hierdie gerigtheid op God is deurtrek met 'n besef van 'n mens se eie feilbaarheid en van die mens se gebrokenheid. Skuldbelydenis word soveel intenser ervaar deur mense wat God se liefdevolle aanraking in die diepste kern van hul bestaan beleef het. Hoe meer mense God se liefde ervaar het en vir God leer bemin, hoe meer hou hulle vas aan die goddelike liefde wat so ander lyk as hul eie lewe met sy ontrou, mislukkings, oortredings, ongehoorsaamheid en liefdeloosheid. 

Veral hulle wat God se liefdevolle teenwoordigheid in hul lewens ervaar, kan skuld eg en intens beleef. Hulle staan, iewers in 'n donker hoek, verban deur alle fatsoenlikes en regverdiges tot skande, verslae oor hul eie diepe behoefte aan genade. Sondaar. Hou op die bors, in 'n simbool van die rou oor eie wegdryf van die Bron, van die Een wat altyd lief het. 

Hulle ervaar intens hulle lewe in die donker plek sonder die liefde. 

Tot daardie oomblik, die Aanraking. 

Dán, na die fase van insig in eie deformasie, wat inherent deel is van transformasie in herskepping, kom die ander fase: wanneer God die mens, die sondaar, se boetvaardige hand in die Vaderhande neem, dit optel en die seëlring van 'n erfgenaam aan die ringvinger steek. 

Dit word ook in 'n aangrypende Bybelse simbool,  'n huwelik: die sondaar word die Beminde. Soos Joe Niemand in Halleluja, onvoorstelbaar, sing: I will be your lover.

Die korrupte wêreld, die een wat met die prostituut verkeer het, word getransformeer: die Bruid met die Lam word nou teken van die nuwe, ander wêreld wat God in die herskepping gee. 

Diepe, intieme huwelikstaal. Vanaf die ideale, paradyslike man en vrou in Genesis 1, deur Hooglied, tot in Openbaring 21-22. Só praat die Bybelskywers oor God se herskepping.

Dit gebeur, vertel ander skrywers, wanneer 'n mens, moordenaar, gekruisigde, verstotene, die kop draai na die Ander een, die een in die middel: Hy weet immers, ook gekruisig, van die diepe dors na beminning, liefde, omhelsing en intimiteit. En Hy gee dit, paradyslik, oorvloedig, onverwytend - sommer daar aan die kruis.  In die woorde van uitreiking, in die aanvaarding, die liefderyke toewyding herken 'n mens die herskeppende God.

Daarom is transformasie in herskepping so 'n intense, onoortreflike gebeurtenis. Selfs groter as die transformasie in skepping. Mens op mens, bybelboek op bybelboek, spirituele teks na spirituele teks besing dit: hierdie onpeilbare uitreik van die goddelike, die grotere, die liefde, na die dorstige hart, na die moordenaar, die kuller, die bedrieër, die egbreker, die ontroue, die misdadiger, na almal wat menslik gesproke uitgeworpene en sonder hoop is. 

Dit is goddelik om hierdie rede: dit is so ánders as wat die gedeformeerde mens-syn met al sy ordentlikheid en godsdienstigheid is. Wie kan dit ooit peil: dat daar vir hulle wat bloed aan hulle hande het, jare lank met toegesmeerde gewetens geleef het, hulle met die donker geheime, wat met hulle lewens 'n spoor van vernietiging agtergelaat het, vir hulle wat godsdiens misbruik het, wat ontrou geraak het, dat vir al hierdie mense nuwe hoop gekom het. Meer nog: uitkoms aangebreek het. Dat die paradys se deure oopgemaak word. Dat die swaard wat oor die kop hang, wat die paradys van die ongehoorsames weghou, sommer net weggeneem is.  

Hoe wonderskoon is die Liefde wat tot ons kom as die Bruid, die teken van 'n nuwe lewe by God. 

Staan op my liefling, my mooiste, kon na my toe!
Kyk die reëntyd is verby,
die reën is oor, dis weg.
Daar is bloeisels in die veld,
dit het tyd geword om te sing;
die tortelduif se stem klink oor ons land.
Die voorvye kom al uit,
die wingerde bot en versprei hulle geur.
Staan op my liefling, my mooiste, kom na my toe!

Hooglied 2. 

Blog Archive