John
Woolman (1720-1772) het bekend geraak as een van die weinige predikante wat hom
teen slawerny verset het.
Op
'n reis om kollega's in Engeland vir sy versetskampanje oor te haal, is hy aan
boord van 'n skip waarin jongmense as matrose opgelei is en wat vir slawehandel
gebruik is.
Hy
skryf in sy dagboek van die moeilike omstandighede waarin die matrose die skip
tydens hulle diensbeurte moet beman en stuur. Gedurig praat hy met hulle oor
die onmenslike situasie van slawerny. Maar hy is ook bewus dat hulle nie maklik
hiervan bekeer gaan word nie, want hulle is gierig om wins deur die slawehandel
te maak. Die situasie is vir Woolman soveel moeiliker omdat van die matrose
lidmate van sy kerk was.
In
sy dagboek skryf hy hoedat hy by vele geleenthede uit sy pad gaan om met die
matrose op die skip te praat om hulle te begelei in die vrees van die Here -
soos hy dit stel.
Sy
besondere verhouding met God kom herhaaldelik in die dagboek-inskrywings na
vore.
Hy
skryf hoedat hy in sy kajuit 'n gesprek gevoer het waartydens sy hart deur 'n
gevoel van goddelike liefde oorweldig is. Hy is kennelik iemand wat bewus is
van God se werking in sy lewe en wat gedryf word om dit met ander te deel. In
die proses waarin hy die liefde deel, ontwikkel hy 'n besondere verbondenheid
met die jong matrose: "Ek voel dikwels 'n teerheid van hart vir die arme
seuns en voel soms of hulle my eie kinders na die vlees is."
Steeds
weer raak sy verhouding tot God sy verhouding tot kwaaddoeners en hul
slagoffer. Hy skryf:
"O,
as almal maar net bewus sal raak en sal oppas vir gierigheid. O, dat almal sal
leer van Christus wat sagmoedig en nederig van hart is. Dan, in getroue
dissipelskap, sal hulle van Hom leer om tevrede te wees met voedsel en klere
sonder om ag te slaan op die gebruike en waardes van hierdie wêreld. Sulke
mense sal dan besorgd raak oor ander en dat die minste in die samelewing
ondersteun moet word. Wanneer eienaars van skepe die wette van vryheid
gehoorsaam, sal hulle in hul dade geseënd wees."
En
'n ent verder skryf hy:
"Terwyl
ek by die matrose aan diens gekuier het, het my hart dikwels na hulle uitgegaan
en tere begeertes het in my opgekom dat alle eienaars en kapteins van skepe in
die liefde van God sal woon en regverdig sal lewe. Mag hulle, deur minder op
wins ingestel te wees en versigtig op hulle optrede te let, alles vermy wat
matrose op hul skepe onder druk plaas of oormatig laat drink. Want dikwels
vergryp die arm skepsels hulle aan sterk drank wanneer hulle koud en nat is om
te vergoed vir gebrek aan enige ander gerief."
Aangrypend
is sy inskrywing op 16 Mei 1772 as die branders wild oor die skip breek:
"Later
die nag het ek in die bed gelê, my gedagtes oorweldig deur die krag van die
goddelike liefde, maar ook met 'n berusting wat die groot Skepper van die aarde
en die oseane in my gegee het. Die Skepper se vaderlike sorg vir sy kinders het
kosbaar vir my siel gevoel. In my het 'n verlange opgekom om elke oomblik te
gebruik om die ontberinge en moeilikhede van my mede-skepsels innerlik te leer
ken, en om te werk in Sy liefde om suiwer universele geregtigheid op aarde te
versprei."
Dit
is nie dikwels dat 'n mens so 'n konsekwente ineenstrengeling van mistiek en
die harde lewe lees nie. Dit bevestig maar net: wie in die teenwoordigheid van
God leef, leef met albei voete in hierdie wêreld. Die liefdevolle God is ook
die Skepper van die aarde en die werklikheid waarin mense leef.