Monday, January 13, 2014

Die Gees en die verstand. Oor die aard van spiritualiteit


In die tyd van Thomas a Kempis is die oordadige fokus op geloof as kennis en die gevolglike gebrek aan ‘n geloofslewe steeds uitgewys. Byvoorbeeld sou mense vra: Wat help dit dat ‘n mens alles van teologie weet, maar geen troos aan jou geloof het nie?

Later in die geskiedenis sou dieselfde kwessie steeds weer na vore kom. In die metodistiese, pinkster en charismatiese bewegings is daar byvoorbeeld dikwels ‘n spanning tussen dogma en geloof geskep.Veel klem is gelê op 'n lewe van toewyding en baie minder aandag is aan teoretiese sake en besinning gegee.

Ook in ons tyd is spiritualiteit in sommige opsigte ‘n reaksie teen ‘n starre ortodoksie en ‘n spistvondige teologie wat veral in kerklike konteks bestaan. Geloof, word gesê, het sy transformatiewe krag verloor. Kerklike strydpunte oor allerhande geloofsake het die toneel oorheers. Wanneer 'n mens na die konteks van die kerk kyk, sien 'n mens volgens hierdie kritici, min tekens dat die kerklike boodskap iets verander het.

Spiritualiteit kan inderdaad self ook in ‘n vorm van irrasionalisme verval. Of dit is moontlik dat in spiritualiteit soveel van verhoudinge en praktiese geloofservaring gemaak word dat insig en verstaan op die agtergrond geskuif word. Spiritualiteit word dan 'n saak van die praktyk en word gemeet aan sy maatskaplike impak.

Spiritualiteit verloor veel as 'n mens besinning en nadenke verdag maak. Trouens, meditasie as 'n belangrike komponent van spiritualiteit, wil juis die klem op insig en verstaan plaas. 

Dit gaan in die proses van verstaan nie maar net om bybelse inhoude te verstaan nie - hoeseer dit ook al belangrik is. 

Neem maar een voorbeeld: Spiritualiteit het as kenmerk dat ‘n mens op ‘n self-ondersoekende manier jou eie belange en magspeletjies herken, krities ondersoek en dan transendeer in ‘n liefdesuitreiking na ander. ‘n Mens moet met insig jou eie lewe kan ontleed en beoordeel. ‘n Mens is dit teenoor jouself verskuldig.

Dit vra egter ‘n eerlikheid en ‘n self-verstaan wat deur skerp insig gevorm word.

Maar waar kom hierdie skerp insig vandaan en hoe kan 'n mens op 'n volwasse, insigryke manier jouself beoordeel? 

Een vraag hieroor sal lui: Hoe sal ‘n mens dan krities teenoor jouself wees sonder die wysheid van vele ander wat om jou is en voor jou geleef het. Deur versigtig te luiste en deur veel te lees, ook die geestelike voorouers se geskrifte, kan ‘n mens dieper verstaan opbou oor die geestelike weg. Die blootstelling aan en belangstelling in die kennis van ander is van fundamentele belang vir ‘n mens se eie geestelike vorming, omvorming en vordering.

Die Gees werk ook deur die wysheid van ander. Baie van ons geestelike ervaringe is gebou op die blootstelling wat ons deur ons geestelike erfenis gekry het.

‘n Mens moenie die rede onderskat nie. Die Gees heilig en werk daardeur. 

Spiritualiteit is dus nie irrasioneel nie. Daarom is meditasie van deurslaggewende belang daarin  


Blog Archive