Saturday, January 25, 2014

Die wonder van en verwondering oor God se herskeppende liefde. Oor transformasie in herskepping (3).


Die opwinding omdat God mense nie opgee wanneer hulle ontrou aan God raak nie, word soveel sterker as ‘n mens begin nadink hoedat God sulke mense weer naderbring na God toe.

Herskepping, noem ‘n mens dit: God wat die mens geskep het en toegesien het hoe die mens ontrou raak, skep nuwe moontlikhede vir die mens.

Die mens kan weer tot die paradys terugkeer. God bring die mens weer terug. Dit gebeur wanneer God die mens herschep.

Tog is die herskepping meer spesiaal en anders as die skepping. 

Die herskepping is spesiaal omdat dit nie maar ‘n gebeurtenis is waardeur die mens word wat hy of sy altyd was nie. Iets intenser gebeur: God herskep die mens beter as ooit tevore. Dit is asof God die eerste skepping oortref wanneer God mense uit hul ontrouheid gaan haal.

Juis daarom is die transformasie in herskepping so opwindend. Verstom kyk mense toe hoedat hul, ten spyte van ontrouheid, meer word as wat hulle ooit was en nader aan God kom as wat hulle ooit tevore ervaar het.

God herstel nie maar net die mens se situasie wat dit was voordat die mens die verhouding met God vernietig of verwaarloos het nie.

Dit is asof die liefdesverhouding met God tot nuwe hoogtes gevoer word.

Dit is asof die oorwinning oor die kwaad, die afskeid van die ontrouheid, ‘n ruimte skep waarin die mens op ‘n spesiale manier nuut gemaak kan word.

Wanneer mense ‘n nuwe verhouding met God ervaar, is daar altyd die gevoel dat hierdie tweede kans onverdiend gekom het. Steeds weer sê mense dit is pure genade dat hulle tot dieper insig gekom het, dat hulle ‘n ommekeer gemaak het en dat hulle ‘n spesiale liefdesband met God ervaar.

Dit is nie iets waartoe mense uit hulself kom nie. Of iets wat die mens doen nie.

Hulle bely in verwondering: dit is ‘n gawe van God. Om te kan terugkom na die Vader, is nie net ‘n terugkeer nie. Dit is ‘n aankoms in oorvloed, in onvoorstelbare goedheid.

En wie genade ontvang het, leef intenser, mooier en in intiemer as ooit tevore. Nadat die kwaad en die vernietiging uit die mens se lewe gesny is, is daar iets spesiaals aan wie die mens is.


God herskep so dat die mens asemrowend lyk. Die ou paradys is nie bloot herstel nie. Nou is dit ‘n nuwe hemel, ‘n nuwe aarde, wat duisend keer mooier is as die eerste paradys.

Blog Archive