Friday, January 24, 2014

U sien my duisternis... Oor transformasie in herskepping (2)

Transformasie in herskepping, noem Waajiman sy tweede perspektief op transformasie as ‘n sleutel-moment in spiritualiteit.

Waaijman is een van die weinige skrywers wat begryp hoe belangrik dit is dat ‘n mens transformasie inhoudelik moet omskryf. Hy weet ook dat transformasie ‘n veelvlakkige saak is. Daar is vele maniere waarop God die menslike bestaan omvorm, anders maak, verander en radikaal transformeer. ‘n Belangrike een is inderdaad deur die weg van herskepping.

Dit lyk so logies. Maar dink aan die deïsme wat God voorstel as God wat die wêreld aan die gang gesit het en nou loop die wêreld op sy eie stoom verder terwyl God onbetrokke is.

Spiritualiteit het nie ‘n deïstiese godsbeeld nie.

Trouens, die teendeel is waar: God bly, t.s.v die menslike neiging om sy eie kop te volg, betrokke. Die liefde, gekrenk deur ontrouheid, is goddelik in sy voortdurende voortgang en in sy begeerte om die mens van ontrou tot trou te bring.

Kortliks beteken die transformasie in herskepping dat die wonder van die menslike bestaan, herken in die transformasie in skepping, deur die menslike leefwyse ontsier word. Dit gebeur wanneer mense hul eie weg volg, en nie meer die beeld van God reflekteer nie. In die menslike bestaan is daar naamlik vele “afgode” – daardie eindige, konkrete, “gode” wat ‘n mens van God af wegneem en ‘n wig indryf tussen mens en God. Gevolglik word mense behep met hulself. Hulle bestaan word op hulself ingestel. Die grootste afgod word die mens self.

Die gevolg hiervan kan vernietigend wees.

Hulle word bewus daarvan dat God se teenwoordigheid in hul lewens nouliks of glad nie meer beleef word nie. Vervreemding tree onwillekeurig in: afgodery, verknogtheid aan die nie-goddelike bring ontnugtering, onsekerheid, verdraaide behoeftes.

Mense wat op hulself ingestel is, sien nie meer vir God raak nie. Hulle God word vermenslik, word ‘n afgod. In Bybelse tye het die profete, bewus van God se heiligheid, goedheid en soewereiniteit, met groot minagting gepraat van mense wat dinge aanbid wat uit hout, klip, yster en ander materiële dinge gemaak is.

God is nie meer die Lewende, wat ‘n liefdesverhouding met die mens aanknoop en onderhou nie. 

God word ‘n idee, ‘n abstraksie, ‘n energie, ‘n voorwerp, ‘n stuk beton. Swaar, neerdrukkend, verdrukkend, verwronge, gedistansieerd, ‘n bedreiging, ‘n tien gebooie. God is dan ook die slimme, die groot Intelligensie, die Wysheid, asof ‘n mens in al hierdie idee’s rus en vertroue kan vind.

So word alles wat in die skepping gegee word deur God wat in liefde die mens as ‘n ewebeeld vir God uit niks tot stand bring, word een of ander tyd gedeformeer en vervorm.

Nog altyd dus, was daar in die geskiedenis die groot dinamiek van goed en kwaad. Wat bring die mens om sy/haar goddelike bestemming te herken en na te jaag? Want die mens het ‘n neiging tot die kwaad, tot ongehoorsaamheid, om vir verleiding tot beter-weet in te gee.

Een van die beroemdste beelde in spiritualiteit is die beeld van die twee weë: die lewensreis van die mens bereik telkens ‘n vurk in die pad. Die een pad lei na God. Die ander een neem die mens weg van God.

Juis daarom is spiritualiteit ‘n proses: die mens moet gedurig weer die donkerte in sy innerlike herken.

Soms is die proses swaar, en mense sien dit dikwels as ‘n stryd.

Maar daar sit ‘n stuk wonder en bevryding in. Die menslike bestaan is nie ‘n stuk noodlot nie, asof die mens aan die kwaad oorhandig is nie.

Daar is ‘n uitweg, ander moontlikhede. Die wonder van die nimmereindigende liefde, wat, teen alle kwaad in, nooit opgee nie.

Om dan, met vreugde, met ‘n sonore loflied, ‘n aanbiddende halleluja, te kan sing oor die ánder weg tot die lig wat tog nog bestaan – gegee as ‘n reis ondanks en ten spyte van die innerlike donkerte wat verstikkend ‘n mens se lewe in ‘n houvas gekry het.

God herskep gedurig, onherroeplik verbind daartoe deur die Liefde.






Blog Archive