Monday, January 20, 2014

Wat is transformasie? (1)

In een rigting binne spiritualiteit word veral aandag gegee aan die transformatiewe aard daarvan. 

Spiritualiteit word dan verstaan in terme van 'n verhouding van God met die mens wat transformatief is en wat die mens voortdurend in 'n proses omvorm.

Transformasie lyk 'n maklike woord. Dit gaan om verandering, omvorming en vernuwing. 

Maar in werklikheid is transformasie 'n veelvlakkige gebeurtenis. 

Daar is 'n oervorm van transformasie wat wys op die goddelike vorming van die mens. Ek vind hierdie perspektief besonder boeiend, veral omdat dit die wonder van mens-wees beklemtoon. Waaijman praat byvoorbeeld van transformasie in skepping. Deur die mens te skep, ken God aan die mens 'n bestaan toe wat voorheen nie daar was nie. Uit niks, uit nie-menswees bring God die mens tot stand. Die mens word van niks tot mens getransformeer.

Hieruit word 'n mens al gekonfronteer met die baie spesiale aard van die menslike bestaan. Dit is 'n gawe wat God aan mense skenk as iets wat hulle voorheen nie besit of gehad het nie. Daarom moet die menslike bestaan gekoester en bewonder word. 

Hoe dikwels dink 'n mens hieroor: die menslike bestaan is al self iets waaroor 'n mens in verwondering voor God kan staan. 

Daar is nog vier ander perspektiewe op transformasie. Om omvorm te word, is soos 'n diamant met vele opbrekende strale van kleur. 

Elkeen van hierdie vyf dimensies bring 'n mens tot dieperwordende geestelike insig. 

Terselfdertyd illustreer dit die besondere verhouding tussen spiritualiteit en teologie, insig en verstaan. Die geestelike weg lewer telkens verrassende nuwe insigte op. Deur elkeen te bedink in hulle volle implikasies, groei 'n mens dieper in die verwondering oor die kosbaarheid van lewe as geestelike gawe.


Blog Archive