Thursday, January 16, 2014

Gloed van God. Ikone en simbole




In Forenc en Christel Toth se pragtige boek oor Russiese Ikone (Bekking, 2004) bespreek hulle ‘n besondere Russiese ikoon uit hulle versameling.

Dit is ‘n ikoon wat Christus Pantokrator (Alleenheerser) in sy glorie uitbeeld.

Dit is die simboliek in hulle beskrywing van die ikoon wat my boei.  

Hulle verduideliking van die ikoon (uit Nederlands vertaal) lui:

Christus sit op die troon as heerser van die hemelryk. Sy gesig is sereen. Sy oë volg die kyker waar die kyker ook al voor die ikoon staan. Hy tel die regterhand op in ‘n seënende gebaar.

Die twee vingers wat in die lug opsteek, simboliseer die goddelike en menslike natuur van Christus.

Sy drie gevoude vingers simboliseer die goddelike triniteit.

In die ou Romeinse senaat was die opgehefde hand ‘n simbool dat iemand die reg het op ‘n spreekbeurt. Hy is aan die woord. Net so is Christus die Woord.

In die linkerhand hou Christus die Bybel wat oopgeslaan is by Matteus 11:28: “Kom na my toe almal wat vermoeid en belas is en ek sal julle rus gee.”

Die koninklike klere van Christus straal ‘n goue lig uit. Goud simboliseer die gloed van die Heilige Gees.

Rooi simboliseer goddelikheid en word afgewissel met groen as kleur vir menslikheid. Die groen sirkel simboliseer die ewige en oneindige.

Die rooi vierkantsvorm is die simbool van die aardse en eindige. In die vier hoeke van die vorm is die tekens van die vier evangeliste. Matteus is ‘n engel, Markus ‘n leeu, Johannes ‘n adelaar en Lukas ‘n stier.

In die hart van die kyker wat met hierdie kennis voor die ikoon staan, broei vele gedagtes. In die noue verweefdheid wat in die verhouding van God en mens na vore kom, merk die kyker met troos hoe die heerlikheid van God die menslike lewe deurdring en in stand hou. Maar die ikoon is terselfdertyd ‘n heenwysing na die rol van die Skrif in spiritualiteit: wanneer ‘n mens voor die ikoon staan, is die heilige geskrifte die konstante gespreksvennoot. Die gloed van die Heilige Gees spoel oor tot hulle wat kyk en oop is vir wat die Skrif oor eeue heen in die sprekers en kunstenaars van alle tye wakker gemaak het.

Blog Archive