Friday, February 28, 2014

Hulle bid voor elke groot, nasionale sportwedstryd.


In vandag se NYT is daar ‘n berig oor een van 141 grootste sportspanne in die V.S.A. wat hulle byeenkomste met gebed laat begin.
(Dink: Stormers of die Haaie laat voor hul groot wedstryde ‘n geestelike 'n gebed doen.)
Geestelikes uit verskillende tradisies kry 30 sekondes van stilte terwyl die ligte in die stadium verdof word, waartydens hulle kan bid.
Geen ander span in die hele Amerika volg die gebruik nie.
Dan, vir wie die storie van Amerikaanse sportbyeenkomste ken, begin die girls in stywe, mini-rokkies so groot soos ‘n oogklap, hoog skop, die oordonderende entertainment trek los en die skare raak mal. 
Die gebed word deel van sport, soos oor die hele wêreld – in al sy heftigheid, omstredenheid, opwinding en aanhitsing.
In Amerika, waar kerk en staat uitmekaar gehou word, is die gebruik duidelik, volgens die koerant, ‘n berig werd. Veral omdat dit nie "normaal" is nie.
Hoe dink 'n mens hieroor? 
Ek lees die berig met belangstelling, want die normale giftigheid oor enige vermening van godsdiens en die sekulêre lewe, ontbreek daarin. Trouens, die berig is versigtig, byna neutraal en sonder aanhitsing. 
En, nog interessanter, daar is net vyf lesersreaksies. Soms kan berigte in dieselfde koerant honderde reaksies uitlok.
Lesers voel blykbaar nie sterk hieroor nie. 
Die artikel vertel meer oor die opvallende impak wat die gebruik het – ook net wat toeskouergetalle betref. 
Dit ontstel mense of groepe nie eintlik nie. Trouens, niemand in die deel van die land gee eintlik om nie, want verreweg die meeste is aktief in en ondersteunend van godsdiens.
Die impak op gelowige mense is blykbaar sterk. Die geestelike wat die gebed doen, laat gewoonlik heel opgewonde sy of haar groep. Dit is vir hom/haar 'n groot eer. Om by so ‘n groot wedstryd te kan optree, is sensasioneel. Mense sien jou op televisie, en ‘n reuse-skare luister in stilte na jou.
Horde’s mense uit die geestelike se kerk, gemeente of geweste koop dan kaartjies. Hulle wil die optrede voor ‘n beroemde span en by ‘n groot wedstryd self gaan kyk. Hulle wil hul pastor steun. 
En, opvallend, hulle gaan in die toekoms weer terug.
Dit maak dus sin vir die span om deur sulke gebede ‘n stroompie ondersteuners te werf. Bywoning vir die wedstryd en vir toekomstige wedstryde baat sekerlik daarby…
Die gebed word met mooi woorde regverdig. Die organiseerders noem die 30 sekondes “n tyd van nadenke.” Hulle dink godsdiens is belangrik vir hul ondersteuners en reken dat mense wat beswaar maak, verreweg in die minderheid is.
Maar sulke gebede, blyk uit die berig, gebeur ook nie sommer nie. Die teks van die gebed word voor die tyd opgetjek. Die biddende geestelike se gebed word versigtig nagegaan.
Die artikel gee 'n paar boeiende gebede weer. Sommige is mooi en netjies, teologies aanvaarbaar en gebalanseerd: ‘n Rooms-Katolieke priester bid dat God met die skare sal wees, die spelers sal bystaan om goed te speel met die nodige sportiewe gesindheid en tot vervulling van hul spesiale gawes. God word hier nie tot handlanger van die tuisspan gemaak wat die span moet laat wen nie.
Ander, meer opswepende gebede bly nie vergete nie: een van die bidders het, oorweldig deur die grootheid van die oomblik, triomfantelik gebid: “Satan, hou jou hande van hierdie span af. Dit is ‘n beroemde span.”
In nog ‘n gebed het organiseerders die bidder gevra om ‘n beampte wat aan kanker dood is, te onthou. Dit het tot die volgende gebed aanleiding gegee:
"God, saam met alle onderteuners dink ons aan Greg wat Maandag gesterf het. Ons bid dat sy vrou, familie en vriende U teenwoordigheid sal ervaar in die tyd van rou wat hulle beleef. Seën elkeen van ons op U manier. Mag ons geïnspireer word deur die mens se potensiaal om te presteeer, deur die gawes van sportmense en deur die gees van samehorigheid wat ons beleef onder die spelers, die beamptes en op die paviljoene.”
Duidelik geraak deur die gebed, het die hele skare soos een mens Amen gesê.
Iemand anders onthou ‘n gebed: “Help ons as bewonderaars om die spelers te waardeer en te ondersteun. Wees vanmiddag met ons almal. Hou ons veilig. Hou ons altyd in die palm van U hand.”
Ek het nie veel gedagtes hieroor nie. Ek wonder hoe sou Stormer-ondersteuners of Blou-Bulle manne daaroor voel.
Sulke gebede kan soms presies die teenoorgestelde bereik as wat dit beoog. Ek onthou hoe ek met teensin na vroom gebede geluister het wat ‘n busmaatskappy alle passasiers aan die begin van die reis laat saambid het. Net om die hele reis te ly onder ‘n nagmerrie-rit van swak diens. Skaam-skaam, ook, omdat godsdiens bygesleep is.
Ek kan ook dink dat daar mense is wat afgesit sal wees deur vroom gebede by ‘n geleentheid waar uiterste kompetisie, belediging van opponente en skeidsregters, vloekende, dronk toeskouers, vulgêre vermaak en gierige winsmakery aan die orde is.
Hoe dan? 
Die vraag is nie óf nie. Vir my is die vraag eerder: hóé dit gedoen word. Veel sal afhang van die gemeenskap, die span, die omgewing, die kultuur van die geleentheid en, veral van die wysheid van die bidder.

Thursday, February 27, 2014

Aan eie lyf... Wat dryf 'n mens tot ontferming?



Vanaand is daar ‘n berig oor Belgiese jongmense wat ‘n week organiseer teen boeliery.

As deel van die week maak die televisie ‘n opname: ‘n Groep kinders reël ‘n toneeltjie op ‘n Belgiese stasie waar drie seuns ‘n ander seun boelie terwyl klompe mense verbyloop.

Dit lyk werklik, maar dit is ‘n toneeltjie om mense se reaksie te toets.

Miskien is die resultaat nie onverwags nie. Niemand help die seun nie.

Totdat ‘n jong meisie om die draai kom, in een vinnige kyk die situasie opsom en in ‘n sekonde, asof in ‘n refleks, op die drie afstorm.

Wat makeer julle?, raas sy met hulle. Dink julle julle is braaf? Hou dadelik op daarmee.

Die drie antwoord dat hulle vriende van die seun is en dat dit nie so erg is nie. Haar reaksie is: hulle is walglike vriende.

Intussen rol die kamera’s en die filmpie word oor die televisie vertoon. Miljoene kykers sien hoe mense verbyloop en een enkele jong meisie alleen dapper is om die geboelie stop te sit. Die kameraploeg voer ook ‘n onderhoud met die meisie waarin sy vertel wat haar so sterk laat optree het.

Maar niemand het die meisie se naam gevra nie. Die kykers wil almal weet wie sy is. België gons: haar foto verskyn op die netwerke en beroepe word gedoen dat haar vriende haar moet identifiseer sodat die televisie met haar ‘n onderhoud kan voer.

Uiteindelik kry hulle haar naam.  Die kamera-ploeg klop aan die deur en die meisie maak die deur oop. Sy het ‘n sterk persoonlikheid, blyk dit dadelik. Sy lag oor die blomme wat die kamera-mense vir haar gee om dankie te sê.

Ek kan nie dink, sê sy, dat ‘n ophef oor my gemaak word nie. Eintlik behoort almal so te reageer en nie net een mens nie.

Wat ek gedoen het, behoort vanselfsprekend te wees.

Sy som die situasie presies op: van die honderde mense is daar net een wat durf het. En, om alles te kroon, word sy besing asof sy ‘n heldedaad gedoen het.

En dit terwyl ‘n mens verwag dat elkeen van die mense wat verby die boelies gestap het, die menslikheid sou gehad het om dieselfde te doen as wat sy gedoen het.

Hier is die berig:

Wie is de dappere jongedame die woensdag in een undercoverreportage van 'Volt' op Eén hartverwarmend reageerde op een jongen die publiekelijk gepest werd?

De makers van 'Volt' wilden haar graag bedanken voor haar moedige interventie, maar ze waren vergeten haar naam te vragen. Een oproep op tv en een korte zoekactie later, slaagde deredactie.be erin haar aan de lijn te krijgen. Het meisje heet Elzemarijn Daniëls en deze namiddag zette 'Volt'-presentator Kobe Ilsen haar letterlijk in de bloemetjes.

Elzemarijn Daniëls studeert in Gent, maar ze woont in Antwerpen. Waarom had zij wel de moed om in de bres te springen voor de gepeste jongen? 'Ingaan tegen pesten zou eigenlijk vanzelfsprekend moeten zijn', aldus Elzemarijn.

Vind-ik-leuk
Heel wat mensen bewonderen haar reactie, want het filmpje van de undercoverreportage ging ook meteen viraal: de post op Facebook van deredactie.be zit op 1.700 likes en heeft tot nu toe 107.000 mensen bereikt. En intussen is het filmpje ruim 45.000 keer gestart op deredactie.be en Eén samen.



Wat maak mense dapper? Wat laat mense, wonder ek, in so 'n situasie, uitreik na hulle wat veronreg word?

Die meisie vertel tydens die onderhoud dat sy met die slagoffer kon identifiseer omdat haar broer ook geboelie is.

Ek besef: wanneer 'n mens self verontregting aan eie lyf gevoel het, kom ontferming vanself. 
 

Hier is die skakel na die film:

http://deredactie.be/cm/vrtnieuws/videozone/Gezienoptv/MV_140226_GOT_ReddendeEngel?playlist=7.39638

Wednesday, February 26, 2014

Weet jy wat jy vra? Om te verlang na 'n hart wat luister.


“Gee my ‘n luisterende hart,” bid Salomo volgens 1 Konings 3:9.

Dit is vir die jong koning die belangrikste ding wat ‘n mens sou wou hê. Hy het nie behoeftes en begeertes om baie met God te praat nie. Hy vra van God die “hart” om te kan “luister.”

Dit is opvallend vir mense wat so reg staan om gedurig met God te wil praat.

Godsdiens misvorm mense tot praters wat nie kan ophou om vir God te vertel wat hulle alles wil hê nie.

Godsdiens mismaak mense ook om gedurig dinge na hulle sin te wil hê en te verstaan. Gee vir my, sou Salomo kon sê, tog al die antwoord op my vrae en leer my alles wat ek graag moet weet.

Die begeerte na ‘n luisterende hart het te doen met veel meer as om te verstaan. Die brein is hier nie op die spel nie.

Die mens vra dus ‘n sekere soort “hart” – ‘n ervaring wat te doen het met die belangrikste deel van die menslike bestaan. Dit is ‘n begeerte wat uit die dieptes van jou binnekant opkom. Hier, waar niemand kan kom nie, waar jy verskriklik alleen is, in die plek waar jy alleen sien, hoor en bestaan – op die stil, kernplek, wil jy iemand wees wat kan “luister.”

Die versoek van Salomo word gedryf deur ‘n innerlike self-kennis.

Die versoek  is om te kan luister na God. Hierdie innerlike kreet roep dat God daar sal woon waar die mens op sy alleenste en eerlikste is.

Want die mens wat sy of haar innerlike ken, weet dat dit ‘n oop, leë ruimte is waar baie klanke eindeloos kan bly eggo.

Laat ek, wanneer ek in al my naaktheid, voor die volle waarheid van my bestaan verkeer, laat my dan iemand wees wie se hart aan God verpand is. Ek vra om nie aan myself uitgelewer te wees nie. Of op myself ingestel te wees nie. Nie te verdrink in die klanke en klanke nie.

Laat my tog vir U hê om te hoor.  Dit is ‘n begeerte wat van diep in ‘n mens opkom na ‘n uitreiking van God.

Die mens wil nie alleen wees nie, selfs nie in die paradys nie.

Daar moenie eers ‘n pouse wees nie, nie ‘n stilte nie. Klanke van God se stem moet bly vloei en ‘n mens vul, ryk en vol maak, van binne uit .

Salomo, ironies, het sekerlik om elke hoek en draai met God se dinge te doen gehad. Priesters en profete was daar in oormaat in sy tyd. Die woorde in 1 Konings 3:9 veronderstel dit ook: mense is godsdienstig. Hulle hoor God se stem dikwels.

Maar dit is nog lank nie om na God te luister nie.

‘n Mens wil luister om te hoor hoe word jy geroer in die leegte van jou bestaan deur die rykheid van wat God wil gee. Dit is nie net om oor God te kan hoor nie. Dit is om God met jou te hoor praat.

Dit is ‘n opvallende gebed wat die verlange na ander weerspieël: Salomo weet ‘n mens kan nie op jou eie bestaan nie. Wat jou lewe vul, is die Stem van die ander, die stem wat van buite tot jou kom. ‘n Mens se lewe is sinvol wanneer dit opgeneem is in ‘n verhouding, wanneer ‘n mens Iemand naby jou het wat jou erken, herken, verken en beken.

Dit boeiende is dat ‘n mens iewers weet hoe God se stem lewe skep. God het gepraat en daar was lewe. God roep en mense word nuut.

Maar dit is nie altyd so maklik om in daardie rykdom in te leef nie. Geraas, eie gepraat, self-besigwees, verdring daardie subtiele stem van die lewe.

‘n Mens moet leer om te kan luister. Jy moet vra daarvoor. ‘n Mens moet daarom bid.

Eers dan word die wonder van die stem hoorbaar, groei dit, gryp dit jou lewe in besit, wil jy meer hê.

‘n Luisterende hart is ‘n enorme gawe wat alles kan verander.

Tuesday, February 25, 2014

Slag daardie hart wat dink hy luister! Oor die verarming van 'n ryk teks.


Wat is mooier as die gebed: “Gee my ‘n luisterende hart”!

Die Afrikaanse vertaling van die Bybel het 1 Konings 3:9 in 1953 só vertaal:

Gee dus aan u kneg ’n opmerksame hart om reg te spreek oor u volk, om tussen goed en kwaad te onderskei, want wie sou hierdie talryke volk van U kan regeer?

Maar in 1983 het ‘n nuwe vertaler dit anders aangebied en het die luisterende hart onder die logika van die moderne tyd in die slag gebly:

Gee my die gehoorsaamheid aan U dat ek u volk reg sal regeer en in alles insig sal hê, want wie kan uit homself hierdie groot volk van U regeer!”

Ook “Die Bybel vir almal” gee die oorsponklike vertaling so weer:

U moet my help om gehoorsaam te wees aan U sodat ek reg kan regeer oor u volk en sodat ek kan weet wat reg is en wat verkeerd is. Niemand kan oor hierdie belangrike volk van U regeer as U hom nie help nie.”


Die gebed om ‘n luisterende hart is deel van ‘n pragtige storie. Dit vertel hoe die Here in ‘n nag aan Salomo verskyn het en vir hom ‘n blanko tjek gegee het: “Jy mag vir My enige iets vra, en Ek sal dit vir jou gee.”

Wonderlike belofte. Die leser hou hul asem op.

Wat gaan Salomo vra?

Die ou vertalng vertel dat Salomo gebid het vir ‘n “opmerksame” hart. Die ander twee vertalings het dit verander na ‘n versoek om gehoorsaam te wees.

Salomo is besig om met God te gesels. Hy onderwerp hom aan God, veral omdat hy baie bewus is van die groot taak wat op hom wag. Hy is, sê hy in vers 7: “baie jonk.”

Salomo maak God bly. In vers 8 kom dit na vore. God sê hy het nie ‘n lang lewe of rykdom of wraak teen sy vyande gevra nie.

So bly is God dat God (volgens vers 11) Salomo se gebed oorvloedig beantwoord: Hy sal wysheid en verstand ontvang soos niemand voor en na hom nie.

Salomo vra ‘n lusiterende hart en ontvang uitermate wysheid.

In die Bybel, skryf Cachia, kry ons die gebed om ‘n luisterende hart veral in die wysheidsboeke. Iemand wat na God luister, is ‘n wyse mens. Dit is iemand wat op die Here wag, wat na die Here luister, wat by die plek van die Here wag om te hoor wat God te sê het (Spreuke 8:34, 23:19; 22:17).

Mense wat nie na God luister nie, is hardkoppig, self-gesentreerd en vol van hulleself.

Wie na God luister, word regverdig (Jes. 51:7; Eseg. 44:5). Wie soek om met die hart die wil van die Here te leer ken, sal gou agterkom wanneer hulle lewe afwyk van God se wil.

Om ‘n luisterende hart te hê is om doelgerig en bewustelik oop te wees vir God vanuit die sentrum van ‘n mens se bestaan. So ‘n mens soek dat God hom of haar sal vorm in die diepste kante van sy of haar bestaan. Dit is nie maar net kennis en verstaan nie. Dit raak alle aspekte van die mens se lewe. Dit gaan om God ten volle lief te hê, met siel, hart, verstand en wil.

Dit is wat Salomo van God vra. En as hy dit kry, weet hy, sal hy ‘n goeie koning wees wat regverdig oor sy onderdane regeer. ‘n Luisterende hart is ‘n hart wat ook omgee vir ander.

Hoe, tog, verdwerg hierdie geestelike insig die 1983 se flou poging om dit weer te gee as “maak my gehoorsaam.”  

Monday, February 24, 2014

Wanneer digters oor transformasie praat...




Die Duitse digter, Rainer Maria Rilke, het dikwels oor God geskryf. Hy het God ‘n berg genoem waarteen ‘n mens alleen op jou eie opklim en afklim, om dan te verdwaal.

Vir hom is God bo alle begrip. Geen mens kan enige houvas op God hê nie. Mense ken God nie meer nie. 

Maar digters kan mense weer aan God bekendstel.

Rilke was ‘n diepsinnige digter wat veral die verborge, dieper werklikheid gesoek en besing het.

Hy is veral bekend vir sy beroemde gedig oor die torso-beeld van Apollo wat hy in die Loevre Museum in Parys gesien het.

Hy is oorweldig deur die beeld.

Soveel so dat hy een van die beroemdste gedigte in Duits geskryf het.

Die sonnet (hier in Engels vertaal deur Sarah Stutt) lui:

Apollo's Archaic Torso
We cannot know his incredible head,
where the eyes ripened like apples,
yet his torso still glows like a candelabrum,
from which his gaze, however dimmed,

still persists and gleams. If this were not so,
the bow of his breast could not blind you,
nor could a smile, steered by the gentle curve
of his loins, glide to the centre of procreation.


And this stone would seem disfigured and stunted,
the shoulders descending into nothing,
unable to glisten like a predator's pelt,

or burst out from its confines and radiate
like a star: for there is no angle from which
it cannot see you. You have to change your life.


(Looser translation)
We will never know his magnificent head,
the ebb and flow of his youth -
an orchard of ripening fruit,
yet his fire has not diminished,

incandescent light radiates
from his torso, and in the curve
of his loins, a smile turns
towards the centre of creation.


Or else this body would be disfigured -
a lump of rock with no vision,
unable to glisten like a lion's mane.

It would not burst out of its skin
like a star: for its searing gaze
penetrates your soul, the way you live.


In die gedig werk Rilke meesterlik met teenstellings: die kyker sien die beeld, maar kan nie sy gesig, sy oë en ledemate sien nie.  ‘n Mens sal nooit die beeld se gesig kan sien nie.

Maar die beeld is deurtrek met helder lig wat daaruit straal en wat die kyker tref asof die beeld na hom/haar staar.

Die beeld “sien” dus die kyker, dring die kyker se binneste in en skroei ‘n mens met sy skoonheid.

‘n Mens sien die gloed in die beeld en die absolute skoonheid waarmee die liggaam deur die kunstenaar gevorm is.

Jy besef dit is nie maar net ‘n stuk klip, ‘n stuk lewelose materiaal nie. Die lewelose materiaal waaruit die beeld gemaak is, het ‘n skepping geword wat deurdring is met lewe, waarvan die lig soos ‘n ster skyn en met ‘n penetrerende kyk jou siel klief.

Dit raak jou, verander jou, maak van jou ‘n ander mens.

Wat jy sien, is oorweldigend, transformatief. Jy kan alleen maar, in ekstase, in digterlike taal praat oor wat met jou gebeur as jy voor die beeld staan en in sy greep vasgevang word.

Deur weg te kyk van ‘n mens self, deur die skoonheid om jou te sien, raak jy bewus van die Grotere. En dit verander ‘n mens se lewe. Jy is nooit weer dieselfde nie.

Transformasie.






Sunday, February 23, 2014

Wanneer lyding en vreugde 'n mens se lewe vorm. Oor 'n merkwaardige skildery.




Die bekende Franse kunstenaar, Garouste, skilder in hierdie skildery wat in 1995-1996 gemaak is, ‘n man wat op reis is sonder skoene en met ‘n sak onder sy arm, terwyl hy met sy regterhand beduie. Veral opvallend is die duifnes op sy kop met duiwe wat daarop vlieg. Daar is ook ‘n tweede persoon op die skildery. Hy het ‘n stok in die hand. Op die agtergrond val iemand uit ‘n boom toe hy probeer het om ‘n nes daaruit te haal.

‘n Mens moet die skilder en sy lewe ken, om die volle impak van die skildery te waardeer. Garouste was godsdienstig en is byvoorbeeld gevra om ook werke vir kerke te maak, maar hy was ook iemand wat die kunsgeskiedenis goed geken het en wat bewondering vir sy uitstekende tegnieke geniet het.

Mense wat kuns ken en hierdie skildery sien, sal byvoorbeeld dink aan die skildery wat die beroemdste Franse realis (19e eeus), Gustave Courbet in 1854 geskilder het, waarin hy self gegroet word deur twee bekendes. 



Hy staan met ‘n stok in die hand en ‘n rugsak met sy skilder-instrumente regs op die skildery en sy twee kennisse staan links. Die man in die groen is Courbet se beskermheer, wat met die duur koets uit die stad en ‘n bediende agterna, vir Courbet groet terwyl hy op pad is om in die platteland te gaan skilder. Courbet, weet ons vandag, was besonder krities oor die rykes van die stad wat deur die Industriële Revolusie op die rug van baie armes skatte vergader het en ‘n misrabele lewe gehad het. Hy wil nie met die lewensstyl geassosieer word nie. Die platteland, waar hy werk, ken nie daardie soort van vulgariteit nie. En hy, die skilder, is deel van daardie ruimte. Hy staan op gelyke voet met sy beskermheer, die ryk stadsmens. Sy hele houding, sy agteroorgebuigde, trotse kop bevestig dit. Hy is deel van ‘n ruimte wat nie gekontamineer is deur die korrupsie van die stadswêreld nie. Die skildery het dus met ‘n etiese, sensitiewe en politieke tema te doen.

 Garouste het hierdie beroemde skildery van Courbet oorgeteken met indrukwekkende tegniek en vorm. Sy skildery is meer gelaaid as Courbet s’n. Op die agtergrond is ‘n man wat ‘n nes uit die boom haal in ‘n wrede daad en wat daarvoor betaal deurdat hy uit die boom val.

Die ongewone duif op die man in die voorgrond se kop in Garouste se skildery is duidelik sterk simbolies. Daar is ‘n teenstelling wat met hom gebeur en wat op die agtergrond aan die gang is. Die twee tonele word teenoor mekaar gestel om ‘n besondere boodskap uit te druk: by die man op die voorgrond word duiwe-neste nie beroof en vernietig nie. Op sy kop is duiwe besig met ‘n voedingproses en word lewe gegee. In sy omgewing word lewe gekoester en gevoed.

Die skildery is geïnspireer deur Deuteronomium 22:6: As jy op pad ’n voëlnes kry in een of ander boom of op die grond, met klein voëltjies of eiers, terwyl die moeder op die klein voëltjies of op die eiers sit, mag jy die moeder nie saam met die kleintjies wegneem nie. Die man op die agtergrond ignoreer dit en word daarvoor gestraf.

In ‘n artikel in Speling skryf Daan van Speybroeck hoedat die skildery hom geïnspireer het. Hy noem dat Garouste in sy outobiografie vertel van die psigotiese aanvalle wat hy sedert sy 28e jaar gekry het en wat hom laat dink het dat die nes op sy kop ‘n soort doringkroon is. In die nes op sy kop is duifies wat van hulle ma kos kry. Hier kry ‘n mens dan ‘n kombinasie van twee tema’s: daar is ‘n doringkroon, maar daar is ook ‘n duif. Daar word vernietig (in die agtergrond) en gevoed (in die nes). Daar is lyding, maar daar is ook verlossing. Dit, weer, laat ‘n mens aan die die dood en opstanding van Jesus dink, wat veral deur die duif as Heilige Gees-simbool gesuggereeer word.

Maar daar is meer in die skildery, skryf Speybroeck: Die man met die rugsak maak ‘n vriendelike gebaar met sy een hand, maar klou met die ander hand aan die sak vas. Die sak vertel dat hy ‘n wandelaar is. Hy is sonder skoene,  maar hy is ook iemand wat deur die simbool van die nes as doringkroon swaar kry en ly. In ‘n sekere sin is hy soos Jesus: ‘n Christus-figuur wat ‘n rondswerwende prediker was.

Speybroeck dink die skildery worstel met die verskil tussen Ou en Nuwe Testament, tussen die Jodedom en die Christendom. Dit vertel iets van ‘n persoonlike worsteling van die kunstenaar. Garouste se pa het homself verryk deur in die oorlog Franse Jode se besittings wat in beslag geneem is, te verkoop. En tog was sy pa ook met ‘n Joodse vrou getroud. Dit het by Garouste ‘n innerlike spanning veroorsaak, wat in hierdie skildery ook na vore kom. Want die wandelaar het hom laat dink aan die rondreisende figure in die Ou Testament wat in barre omstandighede getrek het en dan in die aande moes kamp opslaan. Dan het hulle gewyde verhale vertel. Kaalvoet, moeg, maar getrou het hulle dus in die aande oor God bly praat. In die latere geskiedenis het Christene smalende aanmerkings oor hierdie Joodse figure gemaak. Maar, dink Garouste: Anders as Jesus wat darem ‘n oorblyplek gehad het, het die Jode van die ou bedeling bitter swaar gehad in hulle godsdienstige ervaring. Hulle was meer direk, meer intens bewus van God se teenwoordigheid. Dit lyk asof Garouste met die skildery ‘n nuwe, ander, meer simpatieke houding teenoor die Jodedom wou inneem.

Tog is daar ook meer as wat Speybroeck skryf. In ‘n ander bespreking word vertel dat Garouste gesê het die wandelaar het self nie nes gemaak nie. Hy is op pad. Hy, so is vertel, reis na ‘n nes in die see en na ‘n nes in die hemel. Hy verwag ‘n opstanding. Hy het ‘n nessie met ‘n duif daarop, wat hom gelukkig maak – soos Deuteronomium 22:6 belowe. Hy wys die pad aan: luister na wat God vra. Die wandelaar laat die duifies toe om op sy kop in hul nessie te bly. Maar dan gebeur die uitsonderlike: die ma-duif kom aangevlieg om haar duifies te voed. En dit laat ‘n mens weer dink aan die duif wat met ‘n groen blaar na Noag se ark terugkeer om te bewys dat die vloed verby is. Of, ook, opvallend, aan die Heilige Gees wat as ‘n duif neerdaal om die aankoms van verlossing te simboliseer….


Saturday, February 22, 2014

Die oorlog wat nog 300 jaar gaan duur.


Vanmiddag het die BBC ‘n program oor die groeiende koffiebedryf in Viëtnam.

Die verslaggewer, Simon Reeve, ‘n boeiende verteller,  reis deur verskillende plekke in die land om te ondersoek met watter rasse skrede die Viëtnamese nou koffie plant en oes. Hulle doen dit in velde wat vrot bestook is deur Amerikaanse bomme van tot 1500 kilogram. In die velde lê daar nog horde’s van hierdie bomme en mense sterf nog steeds of word ernstig deur die bomme beseer. 

Simon Reeve:



Hy land in die diep platteland by ‘n koffieplantasie waar hy ‘n onderhoud voer met ‘n 18jarige seun.

Die seun vertel dat hulle verskriklik arm is. Hulle plant nie meer rys nie, maar maak nou ‘n bietjie geld uit die oes van koffiebone.

Die seun moet met die boerdery vir sy familie sorg.

Hy is duidelik nie meer ‘n agtienjarige seun nie. Hy is ‘n ou man in ‘n jong lyf. Sy gesig is strak. Hy praat terughoudend, selfs met moeite, met die verslaggewer.

Die verslaggewer vra hom wat met hom gebeur het. Hy vertel hoe hy op ‘n stadium in die veld in die plantasie gewerk het. Toe hy hom kry, het die bom afgegaan.

Hy het eers sy bewussyn in die hospitaal herwin. En toe besef dat hy sy voet verloor het.

Die onderhoud eindig waar die seun op sy knieë in die huis inkruip. Hy het nie ‘n kunsbeen waarmee hy kan loop nie.

Hy was nog nie eers gebore toe die Amerikaners hulle bomme op sy land afgegooi het nie. Maar hy is nog steeds in ‘n oorlog gedompel. En dit is veral die armste onder die armes wat onder die bomme deurloop.

Honderduisend mense is sedert die einde van die oorlog 35 jaar gelede deur bomme of granate gedood of beseer. Mense leef in vrees dat hulle enige oomblik deur sulke bomme gedood kan word. Soms is dit trosbomme, wat een na die ander afgaan en verskriklike vernietiging veroorsaak. Ingeligte waarnemers sê dit kan tot 300 jaar duur voordat al die bomme verwyders sal wees.

Oorlog. Die Amerikaners weier nog om die Ooreenkoms op Trosbomme te teken. 106 lande het dit al onderteken.

Friday, February 21, 2014

Met die lelike engel op weg na die Ondeurdringbare




Hierdie is waarskynllik een van die beroemdste skilderye van Paul Klee, ontdek ek verras. Die filosoof Theodor Adorno het dit besit, voordat hy dit aan die ewe bekende skrywer oor mistieke tekste, Gershom Scholem gegee het. Dit hang vandag in ‘n museum in Jerusalem.

Die “nuwe engel” heet die skildery. Die engel, met 'n groot kop, en met twee vlerke wat in die lug deur helder lig opgehou word, staan oopmond. Hy is 'n engel, 'n ongewone figuur. Die kyker kom voor die anderse, die onpeilbare te staan. En die oneindige praat met die kyk vanuit 'n helder lig. 

Paul Klee het steeds weer skilderye van voorwerpe gemaak wat heenwys na diepere, groter betekenis wat ‘n mens nie regtig kan peil nie.

Die engel in hierdie skildery word byvoorbeeld berekend uitgebeeld deur Klee met ‘n groot kop as simbool van wat die engel weet wat niemand anders ken nie. Mense het nie hierdie toegang tot die oneindige wat die engel het nie.

Dit was 'n onderwerp wat hom dikwels besig gehou het. Klee, skryf Logister in ‘n boeiende artikel (Speling 2012/2013), het 52 weergawe’s van ‘n engel geteken – meestal kort voor sy dood. 

Hy teken engele wat nie "mooi" is nie. Sy engele is nie romantiese, sentimentele uitbeeldings van 'n naïewe geloof nie. 

Sy engele is mistiek. Hulle wil die kyker van sy werke aanspoor om kontemplerend, nadenkend, verby al die gewone, alledaagse dinge te kyk en na te dink oor diepere dinge wat vir 'n mens verborge is.

Hy sluit daarmee aan by 'n diepe behoefte wat mense het.

Mense, het hy geskryf, kan nie soos engele vlieg nie – maar hulle probeer desperaat al breek hulle in al die pogings hulle arms en bene. Hulle wil ten alle koste die engele namaak soos hulle die onmoontlike regkry. Mense het nie die verborge insigte wat die engele in hulle reuse-koppe het nie. 

Klee teken byvoorbeeld twee keer ‘n huilende engel. Die engel treur omdat hulle vir die mens die oneindige, ewige, metafisiese kommunikeer, maar mense wil dit nie hê nie. 

Hy wil die engele met hul insig en verstaan kontrasteer met mense wat gedurig aan die beweeg is. Hulle kan nie, anders as die engele, ‘n vaste punt bereik nie. Dit is omdat mense dikwels deur dwaasheid en onvermoë aangedryf. 

Dit is moeilik vir mense om ‘n balans te kry, skryf Logister in sy bespreking van Klee, tussen die banale en die verhewene, tussen tragiek en humor. Tog is daar in mense iets van ‘n ewigheidswaarde is. Daarom teken hy mense met net een vlerk, terwyl sy engele twee vlerke het. Daar is wel iets van 'n engelagtigheid in mense ook.

Mense soek na sin, hulle dink hulle kan alles netjies verklaar. Hulle glo die wêreld en mense om hulle kan helder volgens sommige vaste insigte verduidelik word. 

Tog is dit nie waar nie. Daar is dinge wat verstand te bowe gaan. Die wêreld en ruimte is gedurig aan die beweeg en ontwikkel en ‘n mens kan nie altyd die gebeure peil nie. Elke keer as 'n mens iets wil vasvats, ontglip dit die mens se greep.

Kyk byvoorbeeld na wat om ‘n mens aan die gang is: So ‘n eenvoudige voorwerp soos ‘n voël of ‘n blom kan ‘n mens sien, maar bekyk ‘n mens dit deeglik genoeg? Wanneer ‘n mens dit wel indringend bekyk, sal ‘n mens in verwondering agterkom wat ‘n mens nie regtig in woorde kan beskryf nie. Die dinge is deurtrek met die Verborgene wat ‘n mens maar net kan bewonder. Steeds weer moet ‘n mens ingestel wees om verby die oppervlakkige te kyk na die innerlike wat ‘n mens nie kan peil nie en wat gedurig nuwe dinge oplewer.

In ‘n sekere sin roep hy saam met die Psalmis uit: wat is die mens? Hoe kan ‘n mens dit peil dat God ‘n verhouding met die mens aangaan en in die lewe van die mens teenwoordig is.

Dit is, voorts, vir Klee ‘n hele proses van verinnerliking wat ‘n mens moet deurgaan: alles in die verlede is katastrofies, is sy apokaliptiese siening. ‘n Engel wys na die verlede en die rampsaligheid daarvan. Die engel word in Klee se werk deur die toekoms oorweldig: dit is wat saak maak. Die toekoms is oop, neem ‘n mens vorentoe, weg van die rampsalige, na die ondeurdringbare, onverklaarbare en diepere Verborgene.

Eg mistiek. 

Lees hierdie boeiende artikel oor die verskillende resepsies van Klee se werke, maar ook oor sy bande met bekende filosowe en skrywers oor die mistiek
http://www.haaretz.com/weekend/magazine/walter-benjamin-s-berlin-120-years-on-1.450773. Dit is nuttige materiaal om Logister se artikel aan te vul.

Blog Archive