Wednesday, May 14, 2014

Aangetrokke tot heiligheid


In Lukas 5:27-39 eet Jesus saam met die tollenaar, Levi in sy huis.

Tollenaars was nie hoog geag nie. Hulle is beskou as oneerlike mense wat mense bedrieg het (Lukas 3:13).

Jesus kyk anders na hulle. Hy is die een wat by Levi wil gaan eet. Maar die manier waarop Lukas die verhaal vertel, suggereer dat Levi iemand was wat tot dieper insig gekom het en gesoek het na vergifnis.

Levi nooi 'n groot klomp tollenaars na sy ete (Lukas 5:29). Dit stuit die Fariseërs teen die bors: hulle verwyt Jesus dat hy sosiaal verkeer met tollenaars en sondaars. Hulle kyk na die tollenaars as mense wat 'n onrein lewe voer.

Hulle kan nie glo dat Jesus met sulke mense wil saamwees nie. In hul eie lewens het die Fariseërs nie enige plek nie. Hulle word summier uitgesluit en sosiale kontak met hulle is nie moonlik nie: wie met sondaars omgaan, word self onrein. Hulle sou nie kon offer nie, sou nie die tempel kon binnegaan nie en sou nie hul godsdienstige pligte kon nakom nie. Dit sou van hulle onheilige mense maak.

Hulle sou nooit sulke mense aanvaar nie. Eers as die mense tot bekering kom en van hul onheiligheid en onreinheid gesuiwer word, sou hulle in hul kring toegelaat word.

Jesus antwoord: hy gee nie om om saam met sulke mense te wees nie. Deur na hulle uit te reik, is hy besig om hulle bewus te maak dat daar vir hulle ook 'n plek in God se heilige ruimte is. Sy teenwoordigheid trek hulle nader en maak heiligheid vir hulle aantreklik.

Dit is egte heiligheid: om naby God en soos God te wil wees...



No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive