Thursday, May 01, 2014

So ánders is 'n egter pastor. Oor Paulus die mistagoog.


By tye loop 'n mens binne die Nuwe-Testamentiese wetenskap artikels raak wat 'n boeiende kombinasie van geleerdheid en insig bied, maar wat ook die hart van die praktyk raak.

Een so 'n artikel is reeds in 1986 geskryf deur Wilhelm Wuellner. Hy was 'n spesialis in die retoriek, wat op 'n stadium 'n baie gewilde metode was om Nuwe-Testamentiese boeke mee te lees. Die retoriek veronderstel dat 'n mens, deur te kyk hoe 'n skrywer sekere retoriese tegnieke van antieke woordkunstenaars toepas, nuwe insigte in hul tekste kan opdoen.

Wuellner het graag na Suid-Afrika gekom, want hier het ons ook sterk op die retoriek gewerk. Hy was 'n mens met insig, na wie jy graag wou luister.

Hy noem sy artikel " The function of rhetorical questions in First Corinthians."

Hy maak 'n paar boeiende opmerkings. Hy sê byvoorbeeld dat ons so gewoond is om aan Paulus as teoloog te dink, dat ons vergeet dat hy by uitnemendheid 'n pastor is. Paulus was boonop nie bloot net iemand met 'n netjiese styl waarmee hy sy briewe wou versier het nie. Hy was 'n woordkunstenaar, 'n retorikus, wat sy lesers wou oorreed met goeie argumente om 'n bepaalde lewensstyl te volg. En as 'n mens kyk hoe skryf hy 1 Korintiërs, sien 'n mens hoe hy eintlik nie net met die gemeente in Korinte kommunikeer nie. Hy skryf eintlik aan die hele kerk.

Dit is opvallend, byvoorbeeld, hoe Paulus net in een hoofstuk, 1 Korintiërs 9, twintig vrae vra. Dit is die hoogste getal vrae in 'n Nuwe-Testamentiese hoofstuk.

Waarom is dit opvallend? Vrae kan meer as een funksie hê: 'n vraag kan iemand laat nadink, kan iemand teregwys, of oorreed. Maar Wuellner dink in 1 Korintiërs 9 wil Paulus veral as pastor die kerk bystaan in sy groei tot volwassenheid. Hy wil sy lesers laat erken dat hulle gedrag tot sekere onaanvaarbare insigte lei. Hier het sy vrae dus 'n mistagogiese funksie.

Wuellner bespreek veral 1 Korintiërs 9: in die eerste deel (verse 1-14) praat Paulus oor evangelie-dienaars wat aanspraak kan maak op ondersteuning. Hy is besig om met sy gemeentes 'n gesprek te voer: hulle wil vir hom voorstel hoe om sy bediening in te rig. Hy stel 'n magdom van vrae aan hulle in hierdie verse. Maar uiteindelik wil hy hulle voorstel en hulle beroep op die wet en selfs op die Here, bevraagteken. 

Daar is vir Paulus iets diepers en belangrikers op die spel. Paulus deel nie hulle siening nie. "Ek het van geeneen van hierdie dinge gebruik gemaak nie" (vers 15). Paulus dink anders as hulle. Hy oortuig hulle dat hy eintlik die een is wat met gesag praat. Hulle weet nie regtig die antwoord nie.  Net hy weet.

Paulus breek dus met die sienings van sy opponente. Hy leer anders as wat hulle wil leer. Hy is die een wat met hulle sy ryper insigte wil deel.

Daar is egter 'n tweede saak: In Paulus se tyd was dit gebruik dat vriende vir mekaar sorg. Dit was ondenkbaar dat iemand 'n vriend se geskenk sou weier. Paulus wil egter nie deur die gemeente betaal word nie. Hy weier dus om 'n belangrike gebruik te volg. Hy laat hom nie deur sosiale gebruike inbind nie.

Die laaste opvallende bydrae van Paulus as pastor, het te doen met die belangrike siening van self-waarde. Wanneer 'n mens deel is van 'n sosiale sisteem waarin jou vriende vir jou geskenke gee, het jy 'n goeie self-beeld. Jy is 'n bevoorregte mens.

Paulus se gemeente wou ook sy self-beeld met hulle gawe's opbou. Maar Paulus weier dit. Hy wil nie in daardie magspel berokke raak nie. Hy wil nie bevoorreg wees nie. 

Daarom wil hy nie geskenke aanneem nie. Paulus wil dus op 'n baie radikale manier leef - sonder mag, sonder voorregte, sonder aansprake. Hy is nie net aan vriende nie, maar "aan almal"  diensbaar (vers 19). Hy leef eerder sonder die wet en soos 'n swakke. Hy wil nie verwelklike dinge wen nie, maar soek na die onverwelklike (vers 25).

Paulus is as pastor 'n totaal vrye mens. Hy wil sy gemeente's aanspoor om mag prys te gee, om bevoorregting te vermy en om nie deur sosiale gebruike in te perk word nie.

Vir hom, as mistagoog, is die heel belangrikste dat hy in God se verborge teenwoordigheid leef, vry van enige sosiale dwang. Hy is daarom besig om, al vraende, sy lesers aan te spoor om net soos hy in totale vryheid alleen maar van God se teenwoordigheid te leef.


No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive