Hoe dink mense oor hulleself en watter gevolge het dit vir
hulle lewens?
Die vraag kom by 'n mens op wanneer 'n mens met die Joodse
volk te doen kry: hulle hou vas aan die besnydenis, die Sabbat, die eet van
sekere soort voedsel en aan die offerkultus omdat dit hulle identiteit bepaal.
Deur die besnydenis gee iemand te kenne dat hy 'n Jood is. Deur die Sabbat te
onderhou, word 'n verdere identiteitsmerker vasgehou.
Christene het ook aan hierdie reëls vasgehou. Mettertyd het
hulle nuwe gestalte daaraan gegee: die doop het die besnydenis begin vervang.
Christene het varkvleis geëet en ander reëls oor voedsel begin verontagsaam.
Hulle het ook reinheidsvoorskrifte soos die was van hande begin loslaat. Offers
is nie meer gebring nie.
Maar Christene sweer nie die gedagte van heiligheid en
reinheid af nie. Die doop, byvoorbeeld, reinig 'n mens. Die mens offer gebede
aan God. Belangrik is dit vir hulle om op 'n Sondag die opstanding van Jesus te
gedenk.
Sondag word 'n heilige dag. Die doop word 'n heilige sakrament.
Offerandes beteken om jouself vir ander op te offer.
Nuwe tye, nuwe manier van heiligheid!
Dit is nie alleen net, soos Neyrey beweer, dat Christene
meer oop was en graag die heiden-gelowiges vrye toegang tot die familie van God
wou gee nie.
Deur die nuwe vorme van heiligheid, het hulle hulself
ingestel op God se nuwe dade in Christus. Hulle het besef dat God groot dinge
doen op 'n ander, nuwe manier - 'n geestelike manier. Dit is die tyd van die
Heilige Gees, van aanbid in Gees en in waarheid - in Christus.
Dit beteken die spiritualisering van 'n mens se geloof. Wat
saak maak is nie of 'n mens konkrete, heilige dinge doen nie. Wat saak maak is
of hierdie heilige dinge uit 'n mens se hart opkom en 'n durende effek op 'n
mens se lewe het.
Die nuwe bedeling in Christus is daarom by uitstek 'n
verinnerlikingsbeweging. Dit word 'n tyd waarin 'n mens alles feil het om deel
te word van God se vernuwende beweging.
No comments:
Post a Comment
Note: Only a member of this blog may post a comment.