Heiligheid en skynheiligheid het amper sinonieme geword. Min mense hou van
die woord “heiligheid.”
Dit was eintlik ook so in Jesus se dae. Min mense was beïndruk met die vroom heiliges van hulle tyd.
Maar Jesus het heel ingrypend
gesorg dat die woord heiligheid totaal omvorm word en het daarvan die hart van die evangelie gemaak - 'n woord wat gelowiges met dankbaarheid kon oorneem en hul eie maak.
Dit kom ‘n mens agter uit Markus se evangelie waarin heiligheid ‘n
belangrike woord is.
In ‘n opmerklike verhaal word Jesus deur ‘n onrein gees in ‘n man as “die
Heilige van God” beskryf (Markus 1:24):
Die “onrein” gees skreeu hard: Wat het ons met U te
doen, Jesus van Nasaret? Het U gekom om ons te verdelg? Ek weet goed wie U is;
U is die Heilige van God!”
Hier, gee Markus te kenne, het ons met ‘n verborge saak te doen. Die onrein,
(dus) nie-heilige bose gees weet wat Jesus se eie dissipels nog nie weet nie. Die
bose gees het verborge kennis.
Daarom is sy uitroep ‘n misterie: dit bring ‘n mens voor die onpeilbare.
Onpeilbaar is dit omdat die onrein gees maar te goed weet dat wanneer ‘n
mens oor God praat, praat jy ook van heiligheid. Wie heilig is, ontvang dit van
God.
Die bose gees weet dus dat heiligheid veral van God af kom. Jesus as die
gestuurde een, is ook deur God gesalf tot die Seun van God, tot die Heilige Een.
Daar is ‘n onoorbrugbare kloof tussen God en onreinheid, tussen God en
onheiligheid. Daarom wil die onrein geeste niks met Jesus te doen hê nie. Hulle
weet dat Hy in ‘n allernouste verhouding met God leef – en dus hul vyand is.
Nog onpeibaarder is dit dat die onrein gees weet wat Jesus se heilige,
vroom opponente nie (wil) weet nie. In Markus 3 is Jesus in ‘n strydgesprek met sy
opponente. Hulle beweer – ondenkbaar – dat hy sy wonders deur bose geeste doen.
In Markus 3:30 word hulle argument saamgevat: “Hulle
het gesê: “Hy is van 'n onrein gees besete.”
Onreinheid vertel van ‘n gebrek aan heiligheid. Vir hulle is Jesus
deurtrek met die mag van onreinheid. Trouens sy werke is vir hulle deursuur met
‘n mag van onreinheid en onveiligheid.
Die vromes, die heiliges, sien Jesus as 'n onreine.
Jesus sê daarom vir hulle: “Wie egter teen die Heilige Gees
laster, word tot in ewigheid nie vergewe nie maar bly ewig skuldig aan die
sonde.”
Teenoor hulle “laster” waardeur hulle heiligheid as onreinheid beskryf, staan
Jesus eie getuienis: Hy getuig dat in Hom die gees van heiligheid aan die werk
is. As ‘n mens God se gawe van heiligheid wil herken, moet ‘n mens na Jesus
kyk.
Wat ‘n skok, sou ‘n mens kon sê, is Jesus se woorde vir sy opponente.
Hulle was gewoond daaraan om aan die tempel te dink as ‘n plek van heiligheid.
Hoe nader aan die tempel, hoe nader is ‘n mens aan die heilige. En die wet vra
van hulle allerhande reinheidsvoorskrifte. Hulle moes offer en reg eet, om
“heilig” te kan wees in God se “heiligdom.”
Jesus kom keer dit om: die Heilige
woon en werk in Hom eerder as die tempel. Wat help dit tog dat ‘n mens offer,
sê Jesus, en ‘n mens laat die liefde na en lei dan ‘n onheilige lewe.
Wie naby aan heiligheid wil kom, moet naby aan Jesus wees.
Jesus ken aan heiligheid ‘n nuwe identiteit toe. Hy verplaas heiligheid
van die Tempel as ‘n plek na Homself as die Persoon van heiligheid.
Heiligheid gaan nie om vroom nakoming van reëls nie. Dit gaan om 'n verbintenis met Hom wat goed is en doen.
Nog ondenkbaarder is hoe Jesus heiligheid sien: in die tyd soek Jesus
onrein mense op. Hy eet saam aan dieselfde tafel as sondaars. Hy, die heilige,
gaan sit aan tafel met onrein, onheilige mense wat nie sou kwalifiseer om aan
die tempelkultus deel te neem nie. Hy neem hulle op as lede van God se nuwe volk van heiliges.
Jesus leer: Heiligheid het nie met die nakom van die wet te doen of met
besoek aan die tempel nie. Jy is nie onheilig as jy op die heilige sabbat die
wet oortree nie. Jy is onheilig wanneer jy liefdeloos optree.
Die grootste gebod is immers die gebod van liefde. Wie naby aan Jesus
leef, word heilig, word gehoorsaam aan die groot gebod. Markus 3:35 leer
immers: Elkeen wat die wil van God doen, is my broer en my
suster en my moeder.”
Om heilig te wees, beteken dus om gehoorsaamheid aan te
leer – aan wat Jesus wil. En wie dit doen, word bloedfamilie van Jesus.
Hoe anders is dit alles: van die tempel as die plek van
heiligheid, reis die kerk na Jesus as die Heilige Een. Hulle staan nie meer in
verhouding met ‘n plek, met ‘n ruimte nie. Hulle word opgeneem in ‘n
liefdesverhouding wat op God en op ander gerig is. Dít is heiligheid: om in
hierdie wêreld heilig te wees deur ‘n liefdeslewe. Heiligheid sluit nie uit nie, dit stoot mense nie af nie, veroordeel ander nie. Heiligheid beteken om om te gee.
Op die manier keer Jesus die verstaan van heiligheid
heeltemal op sy kop. Maar maak Jesus dit ook besonder intensief. Heiligheid is
nie maar net om soms in ‘n tempel te gaan offer nie. Dit is om elke oomblik in
dissipelskap tot Jesus te leef, om in die teenwoordigheid van die Heilige te
bestaan. Wie naby Jesus leef, word deel van die gemeenskap van heiliges –
daardie mense wat vir God lief is en vir mekaar omgee.
Heiliges: dít is wat God van mense maak. Wie deel is van
die kerk, word deurtrek met ‘n gees van omgee.
As 'n mens Markus se evangelie lees, kom jy dus agter waarom heiligheid 'n kernwoord van spiritualiteit is.
No comments:
Post a Comment
Note: Only a member of this blog may post a comment.