Dieet het in
Bybelse tye 'n belangrike invloed op godsdiens gehad. Bloot net om met
ongewasde voete vir 'n ete aan te sit, was al 'n oortreding. Hoe 'n mens eet en wat 'n mens nuttig, bepaal
'n mens se godsdienstige reinheid.
Daarom was
mense kwaad dat Jesus met sondaars geëet het: hy het die belangrike reinheidswette
geïgnoreer.
Dit verklaar
waarom Petrus in Handelinge nog geweier het om die onrein diere te eet wat in
'n visioen aan hom verskyn het. As goeie Jood wou hy dieet-gebruike nog nakom.
Wat 'n mens
eet, is deur vele voorskrifte gereël: Joodse gelowiges het byvoorbeeld gesondig
as hulle varkvleis geëet het omdat varkvleis as onrein beskou is. Wie dit eet,
word onrein en kan dan nie sy of haar godsdienstige pligte nakom nie.
In Markus
7:20-23 praat Jesus oor heiligheid en keer die hele saak op sy kop: 'n mens
word nie onrein deur wat 'n mens eet en in jou maag ingaan nie.
Jy word
eerder onrein deur dit wat uit jou hart opkom.
Dit is 'n
boeiende opmerking: die bose bedoeling wat in 'n mens se hart broei, vergiftig
jou hele lewe.
'n Mens kan
dus baie "rein" en "heilig" leef, maar nogtans onrein wees
as 'n mens se hart ver van God af is.
Natuurlik is
Jesus nie onverskillig teenoor die wet nie. Dit
is nie soseer die voorskrifte nie, maar die liefde wat tel. Die geestelike lewe
bestaan nie daaruit om allerhande lyste te maak van wat sonde is of nie sonde
is nie.
Jesus beklemtoon dus dat 'n mens se innerlike ingesteldheid steeds belangrik bly. Die geestelike lewe is veel eerder ingestel daarop om die mens se hart op God te rig.
Die reinheidsvoorskrifte is immers daar om 'n mens in staat te stel om God op die allerbeste manier te dien - met liefde en nie om gedurig te sit en bereken watter wette 'n mens moes nagekom het nie.
No comments:
Post a Comment
Note: Only a member of this blog may post a comment.