Paulus het dikwels en baie in tale gespreek. In 1 Korintiërs 14:18 skryf
hy ondubbelsinnig: “Ek dank my God dat ek meer
in tale spreek as julle almal.”
‘n Mens moet na die 1933
vertaling gaan om die ondubbelsinnigheid raak te sien. In die 1983 vertaling staan
meer duister:
“Ek dank God dat ek meer
ongewone tale of klanke gebruik as julle almal.”
Ander gegewens in die Nuwe
Testament wys ook op die unieke werking van die Gees in Paulus se lewe. Paulus
en sy gemeentes is betrokke by spreek in tale, by gesigte, geestesverrukkinge
en uitsinnige gebede (kyk ook 1 Kor. 14:18; 14-15; 9:1; 15:18; Rom. 8:26;
15:18–19).
In ‘n sekere sin was dit nie
vir mense in daardie tyd ongewoon nie. Die gelowiges in die stad Korinte aan wie Paulus 1 Korintiërs
skryf, woon in ‘n stad wat hoofsaaklik nie-Joodse mense as inwoners gehad het.
In hulle omgewings was ekstatiese verskynsels algemeen. Die persoon wat in tale
praat, is dikwels in ‘n verrukking – onbewus van wat om hulle aangaan.
Lukas praat ook van sulke
ekstatiese gebeurtenisse. Voor ‘n skare van duisende op Pinksterdag val die
Heilige Gees op die apostels en praat hulle in ander tale “soos die Heilige
Gees hulle laat praat het” (Hand.2:4). Dit sou ook later (Hand.10:44-46) in
heidense gebiede gebeur.
Vir gelowiges was hulle
ervaring egter “van die Heilige Gees” en daarom grondliggend anders. Vir hulle was
die werking van die Heilige Gees ‘n besonder opvallende oomblik in hul
geestelike lewe. Dit was die transformasie wat die Gees in hulle lewens bewerk
het wat hulle sou losmaak van hul verlede.
Altyd was hierdie besondere
gebeurtenisse verbind met die hoogtepunt in die geskiedenis van God se mense:
Elke keer as die Heilige Gees mense nuut maak en hul lewens omkeer, ervaar
hulle dit as besonders.
Dit is ‘n heilige ervaring –
‘n ommekeer van hul vorige lewens tot ‘n lewe wat aan God toegewy is. Dit word
gedryf deur die krag van die Heilige Gees, waarmee God opnuut skep.
Die werking van die Heilige
Gees is dus tog anders as die ekstatiese ervaringe in die Griekse wêreld. Dit
bly ‘n “heilige” aksie – iets wat gebeur omdat mense gereinig, gesuiwer en tot
God gebring word.
Daarom kan Paulus krities
wees oor die Geesteservaringe. Hulle kan ‘n gemeente skade aandoen en lei tot
allerhande negatiewe, afbrekende praktyke. Waar hulle liefdeloosheid veroorsaak
en nie die gemeente opbou nie, moet sulke gawes vermy word. Dan is hulle nie
meer heilig nie en werk hulle nie heiligend nie.
Besondere ervaringe van
mense is dus alleen heilig wanneer die die Goddelike liefde dien en mense
aanmekaar bind. Waar dit ontbreek, word alles niks, waardeloos en onheilig (1
Kor. 13:2).
No comments:
Post a Comment
Note: Only a member of this blog may post a comment.